Jy blaai in die argief vir sarge bourke.

‘N IENK IN 1958

Januarie 28, 2018 in Uncategorized

By die begin van die nuwe akademiese jaar 2018 aan ons universiteite gaan die gedagtes van hierdie Tukkie-kalwer van 1958 ver terug: na die dae van ienk-wees in die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

Kollegetehuis was toe nog op die hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou. Al die meisies moes daar verbystap klas toe. Spitsvondige kommentare het nie uitgbly oor al die vietse en minder vietse lyfies lyfies wat deur ‘n waarderende gehoor waargeneem is nie.

In Kollege is ’n ienk toentertyd behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons moes gereeld voor die eetsaal (lankal die slagoffer van vooruitgang) in gelid aantree.

Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Sarge Bourke – hier in versiersuiker op ‘n koek.

Dit was die tyd van modderbaddens, die “pil” (’n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” – elkeen ’n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ’n element van weerbarstigheid te tem!

Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk moes maar weet: vir ‘n jaar lank is hy lyfeiene vir ‘n veeleisende senior. Jy het honderde pare sweterige sokkies gewas. Een senior het selfs geverg dat ‘n ienk op ‘n koue wintersoggend vir hom die toiletbril gaan warm sit.

Die arme ienk sou ‘n paar keer moes inpak en trek (met al sy klere, al sy koffers, al sy boeke) en “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot met die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Tot daardie welaangename dag het jy ‘n geel knopie op die bors gedra met die letter “K”. Nogal snaaks gewees toe daar vroeg die jaar een Sondagaand ‘n kerksleep was saam met Asterhof. Daar sit ons toe in Pretoria-Oos se kerkbanke: Kollegeman (K), Asterhoffer (A), Kollegeman (K), Asterhoffer (A) ……

‘n Jaar van enorme nederigheid was dit. Maar ons het oorleef, het seniors geword en op ons beurt die pyn uitgedeel. Hopelik ook die liefde vir Kollege aan ons opvolgers oorgedra.

Van die tradisies het ses dekades bly voortleef, verneem ek dankbaar. Die gelukbringer, Sarge Bourke, ’n beton-polisieman wat by ’n huis in Gezina geskaai is, bestaan steeds. Nuwes tradisies het bygekom. Party bo hierdie begrip. Tye verander.

In Junie trek nege Kollege-tydgenote uit daardie era weer saam in die Orpenkamp in die Krugerwildtuin – ‘n wonderlike tradisie wat nuut posgevat het. Ons sal vir seker ‘n heildronkie of twee geniet op die 60 jaar wat sedert 1958 verloop het.

Helaas sal dit maar met al die skete en so aan sukkel-sukkel gaan om te “haaitjokkelorum, haasbekpatrollum ….”

Deel dit:

O KOEK, SARGE BOURKE!

Junie 30, 2017 in Uncategorized

Toe die agt Kollegemanne – kalwers van 1958 en 1959 – die week in die knusse wildtuinkampie Orpen die Kollegelied met dieselfde passie as toentertyd aanhef, kon jy sweer Sarge Bourke was self teenwoordig.

Die besnorde polisieman-gelukbringer was inderdaad – nou nie in sy betongedaante nie, dié weeg iets soos 250 kg – maar spoggerig in versiersuiker op ‘n ontwerperskoek uit die kombuis van bobaas-bakster Kristie Thompson uit Skukuza.

Met die simboliese sny van die koek (meer daaroor later) is Orpen 1 ingelui nadat die span die vorige vyf jaar in Balule, by Olifantskamp, saamgetrek het. ‘n Nuwe tradisie is saam met al die ou en geliefde tradisies gevestig van ‘n koshuis wat, heel gepas, in die jaar van die rebellie in 1914 begin het toe Kollege as derde gebou op die Tuks-kampus verrys het.

Die verhaal van die verbintenis met Sarge Bourke begin in 1942, ‘n driekwarteeu gelede. Kollegemanne het hom lank bespied waar hy in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom, langs ‘n tuinhek op aandag gestaan het: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

Een aand na ‘n mislukte “raid” op Damestehuis (die “Fant”) se gelukbringer is besluit om gekneusde Kollege-ego’s te salf deur ‘n eie gelukbringer te bekom. Die polisieman in Gezina het hom in verbeeldingryke gedagtes opgedring.

Met ‘n Chev-tweesitplekmotor met sy ruim kattebak is die konstabel in die nagtelik ure gaan haal. In doodse stilte is die tuin binnegesluip. Die ongeoorloofde verwydering het voorspoedig verloop hoewel ‘n paar manne effens in die hek vasgesit het. Die nagstilte is weens die onvoorsiene gebeure met allerlei krete en uitroepe versteur. Die eienaars was gelukkig vaste slapers.

Die ou was langer en swaarder as vermoed en die Chev se agterstel het omtrent op die grond gesleep. Ligdag het hy sy intrek in Kollege geneem. Hy het langs die omstrede “bank” voor die hoofgebou (met sy onbelemmerde uitsig op verbygaande asters) ‘n ere-staanplek gevind om van toe af ‘n wakende oog oor die tehuis se inwoners te hou.

Sy geskiedenis het allerlei kinkels. In 1946 is die polisieman – toe al bevorder tot die rang van sersant en weens onbekende redes die van Bourke toegeken – deur die Witsies kom steel. Hy is leedvermakerig op ‘n klein balkon op die eerste verdieping van College House op die Witskampus uitgestal.

In 1950 het vier Kollegemanne besluit: tot hiertoe en nie verder nie. ‘n Omvattende operasie is van stapel laat loop om Sarge Bouke te gaan ontset. Dit het o.m. ingesluit ‘n minder geslaagde fondsinsameling vir petrolgeld en die “leen” van ‘n vriend se pa se ruim Cadillac – danksy die welwillende medewerking van die vriend se liefdevolle moeder. Die Caddie was mooi groot genoeg. Dit kon boonop laat waai as dit moet.

Drie betroubare ienks is opgekommandeer en die sewestuks is oor Wits toe: ses om Sarge Bourke te dra en een om die Witsies se voertuie onkapabel te stel deur die vonkpropdrade uit te trek of die wiele af te blaas.

Die ses is op hul sokkies College House binne. Die deur na die balkon was gelukkig nie gesluit nie en Sarge ook nie deur die Witsies ge-elektrifiseer, soos die legende was nie. Hy is versigtig op handdoeke omgekeer en skuifelend die gang afgedra. Brandasem van moegheid en vrees, is hulle met die gewigtige vrag die trappe af. Die laaste entjie voordeur toe is die ou selfs skouerhoog gedra.

Skielik was daar amper moles. ‘n Baie vaak Witsie verskyn in sy kamerdeur, skynbaar op pad badkamer toe. Een van die Kollegemanne beveel met groot gesag: Go to bed, you Fresher – en hy gehoorsaam. Met hul laaste kragte, maar met pompende adrenalien, kon hulle die waardevolle buit in die Cadillac laai en Pretoria toe laat waai.

Vieruur die Saterdagoggend sit hulle die ou toe in die voorportaal van Kollege neer, maak kringetjie om hom en bulder die Tukkiekreet: A-ra-ra-ratio-Roera! Die kamerdeure vlieg oop. Kollege juig. Sarge Bourke is terug, Sarge Bourke is terug …!

Daar in Ou Kollege op die kampus het ons klomp hom 60 jaar gelede aangetref en altyd aan hom die nodige eer betoon. Toe ons in 1960 Proefplaas toe trek, is hy saam. By die nuwe tuiste het hy allerhande maatjies bygekry. Die “sarges” staan in ‘n gedenkboek van 1985 vyf in ‘n ry!

Maar vir ons generasie is die snorreman soos Bart Nel. Hy is nog hy. Hy leef in ons elkeen se hart. Daarom die koek en die seremonie waarvan ek mettertyd meer hier sal meedeel. Hou hierdie ruimte dop.