Jy blaai in die argief vir sabiepark se piekniekplek.

BUFFEL-SKOUSPEL

Augustus 1, 2014 in Uncategorized

Dag van die buffelsWas dit 400 buffels? Dalk ‘n raps minder? Dalk meer? Daaroor kan ‘n mens
redeneer. Dat dit die grootste buffelskouspel in ons nou al amper 2 000 dae
in die bos was, staan vas. Selfs die ervare Solly Sibuyi by die piekniekplek twyfel nie: dit was die grootste trop wat hy nog daar gesien het.

Die buffels het in ‘n lang tou uit die weste aangedrentel. Hulle het geruime tyd in die riete en op die oorkantste oewer van die Sabie gewei. Toe begin die eerstes die rivier oorsteek. ‘n Swart bondel lywe. Ander volg, maar skrik en storm terug. Toe kom die eerstes agterna. Die waters druis en die skuim spat. Hulle vertrap mekaar feitlik om op vaste aarde te kom.

Serengeti – die migrasie van die wildebeeste, se ek en Tokkie gelyk vir mekaar. Albei het spontaan by die vergelyking uitgekom.

Uiteindelik het die buffels iets soos 20 uur by die piekniekplek deurgebring – nie net die grootste trop tot dusver nie, maar boonop die trop wat die langste vertoef het.

Die datum 30 Julie 2014 sal vir altyd in ons boekies as die Dag van die Buffels verewig wees. Die buffels se geleidelike aantog, saambondelende oortog en stormagtige terugtog was die anker van seker een van die vrugbaarste 24-uur-tydperke wat ons nog in Sabiepark beleef het.

Dit het begin met 17 olifante, groot en klein, by die brug voor die Krugerhek. Ons het hulle vroegoggend by die piekniekplek sien verbytou, en toe in die rivier aangetref toe ons gaan kyk na die laaste voorbereidsels vir die volgende dag se inwyding van die gedenkteken vir veldwagters neffens Oom Paul se granietbeeld.

Die middag by die piekniekplek was nie net buffels nie. ‘n Swerm aasvoëls het in die helderblou lug gesirkel. Bokkies het in ‘n eindelose stroom uit die bos gekom om te drink. ‘n Renoster was in die verte op die horison sigbaar.

Die skemeraand se nagapie-plesier op die voorstoep was, soos altyd, ‘n hoogtepunt van die dag. Des te groter was die plesier toe ons later ontdek die ratse klein akrobaatjies het na ‘n lang afwesigheid weer die neste betrek wat Johan meer as tien jaar gelede, ondanks hoogtevrees, teen die nok van die stoepdak vasgewikkel het.

Douvoordag op die 31ste kry ons ‘n buitengewone besoek op die stoep. ‘n Hiëna. Moet erken: een wat vir jou grynslag op jou nugtermaag laat ‘n man se pajamabroek ietwat bewe. Ta het nonchalant die trappies van Wildevy 154 bestyg nadat Tokkie die eerste boeretroos van 31 Julie aangedra het. Hy het aan die swembadseiltjie gelek. Toe draai hy om en loer vir ons met geprikkelde belangstelling deur die ruitglas. ‘n Jaar of ses gelede het vier hiënas my begluur terwyl ek in die agterste lapa my Post Toasties geniet. Die sparretjieheining tussen ons het my destyds veiliger laat voel as die brose gaasdeur.

Daarna skuur die sebras teen Tarlehoet se agterste lapa verby om rustig in ons watergat te kom drink. Die groot vlakvark met die weglêtande meld hom op die werf aan vir ‘n skuur-sessie teen een van die paaltjies by die parkeerplek. Ons wil ry om na die gedoente by die Krugerhek te gaan kyk, maar eers moet Tokkie met dreigemente en klippe die bobbejane verjaag.

By die Krugerhek word ons begroet deur ‘n vreemde toneel. Waar ons al leeus, olifante, wildehonde en ‘n renoster sien loop het, was ‘n miernes van mense. Volop beskerming was darem vir die 400 gaste by die inwyding van die gedenkteken teenwoordig: polisie, militere polisie, gewapende veldwagters en wat nog . Hope noodvoertuie was op die toneel: ‘n ratel, ambulans. ens. Die polisiehelikopter was in die lug. Voertuie was geparkeer in die bosse, tot taamlik diep op die S3-rivierpad. Erger as by die vreeslikste leeutoneel.

‘n Mens moet wonder wat dink eerste besoekers, veral buitelandse besoekers, as hulle die Krugerhek vol verwagting binnery en pleks van diere net wemelende mense sien wat van oral aantou waar hulle langs die paaie en doringbome hul motors, safarivoertuie en busse parkeer het.

Terwyl die makietie koers kry, gaan loer ons by Lake Panic in. Baie seekoeie, baie bosbokkies, baie reiers – ook drie krokodille, ‘n njalabul, ‘n skaars watertrapper, bont visvangertjies wat hul vissies op ‘n tak vlakvoor ons kom afsluk en groot langtone op die lelieblare.

Dan was daar die “verassing na die verassing”. Enkele jare gelede het iemand op die houtblad van die gewilde voëlskuiling by Skukuza uitgekerf: What I saw here you could not even imagine. In daardie selfde hoekie het ons self ‘n verrassing op die lyf geloop. ‘n Familie (drie geslagte) het Oupa se assies op die waters kom strooi. Aandoenlike toneeltjie, al was die kindertjies allermins bedeesd by die gewyde plegtigheid. Darem  ook ongemaklik intiem vir onvrywillige teenwoordiges! Later het ek gaan loer. Die riete se blare was wit van die as.

As jy die 24 uur tot 36 uur sou rek, kan ek ons eerste luiperd van die vakansie byvoeg. Na ‘n luiperdlose eerste 30 dae was sommer twee laatmiddag by die piekniekplek. Ons het egter net die een gesien wat op “Leopard’s RocK” oorkant die rivier ‘n uiltjie knip. Sy maat het hom/haar net voor ons verskyning in die skuiling agter ‘n bossie ingewurm. (hvd)