Jy blaai in die argief vir roekelose bestuurders.

AMPER TOE SELF IN DIE KOERANT

Junie 11, 2014 in Uncategorized

‘n Motor, twee motors, ses motors kon opgefrommel, platgevee of saamgesleur gewees het toe die swaar vragwa in ‘n draai op die sopnat  N7 begin swaai, tol, knipmes en rol.

Maar die genade was groot. Die ergste het nie gebeur nie.

In die naaste motor op die pad van die tonne staal wat buite beheer oor die pad ploeg, was ek en Tokkie, asook my jongste broer Cules Malan en sy vrou, Dalene, van Pretoria.  Die hele riller-episode het hom vlakvoor ons oë afgespeel.

So dertig, veertig meter voor ons het die potensiële saaier van dood en verwoesting van die pad geploeg en met tollende wiele in ‘n leegetetjie tot stilstand gekom.  Ons het vinnig bereken dat dit ‘n kwessie van sekondes was.  Net ‘n rapsie vinniger gery of later rem getrap en ons voorland was ‘n gewisse dood.

Aanvanklik was ons sprakeloos. Later het ons uit stukkies en brokkies onthou ‘n legkaart begin bou. Nog later het die besef hoe naby ons aan ons einde was, koue rillings veroorsaak … asook ‘n innige dankbaarheid dat ons leef om die storie te vertel.  Die passasier voor in die vragwa was waarskynlik nie so gelukkig nie.

Die toneel was net honderd meter of wat van die Melkbos-afdraai aan die Malmesbury-kant.  Met die huidige verleggings weens die bou van die brug maak die pad daar ‘n bedrieglike skerp draaitjie.

Die swaar vragwa, ‘n perd, groot bak en sleepwa met ‘n hyskraan op, het klaarblyklik te vinnig op die nat pad die draai probeer vat.  Toe ek skielik stilhou, het Cules opgekyk en opgemerk: Die man ry soos ‘n maniak.  Op daardie het die bak en sleepwa woes begin swaai.

Toe verloor die bestuurder beheer.  Die bak en sleepwa knipmes en kantel om. Die gevaarte ploeg oor die pad direk op ons af. Ons wag soos verskrikte hase. Magteloos.

‘n Finale bollemakiesie het die perd se dak aan die passasierskant so plat soos ‘n pannekoek gevou.   Toe swenk die tuimelende monster van die pad.  Dit ruk  met ‘n plof in die leegtetjie tot stilstand – die hele gevaarte op die naat van sy rug dat jy net tollende wiele sien.

Weet nie wie die meeste geskok was nie: Ons of die bestuurder wat verward by die voorruit uitgepop het en moet saamleef met die wete dat hy roekeloos was.

Agterna soek ‘n mens baie antwoorde. Het ek die regte ding gedoen deur net rem te trap en so ver as moontlik na links te beweeg?  Want as die vragwa bly rol het, was dit gewis bo-oor ons. Maar was daar tyd om iets anders te probeer doen; om in trurat ylings te probeer padgee of selfs ‘n vinnige u-draai te probeer maak?  Weet werklik  nie.

‘n Mens dink oor die implikasies as die verkeer op daardie kritieke stonde rondom daardie draai op die N7 net ietwat anders gerangskik was. Hoeveel motors kon nie dan te pletter geloop gewees het nie?

Die BMW was die naaste en sou eerste in die slag gebly het. Ek sien in my geestesoog net  ‘n patetiese stukkie staal, en voel telkens lus om alles te los en sommer weer ‘n slag in die motorhuis oor die bakwerk van my ryding te gaan streel.

Ek dink aan koerantstorie wat ‘n alternatiewe scenario sou gewees het,  en aan die ironie as die uwe – ewige koerantman – self in so ‘n rampstorie op die voorblad sou geëindig het.

Skielik spoel ‘n spesiale vreugde dan deur my oor een koerantstorie wat nie gerealiseer het nie.