Jy blaai in die argief vir redakteurs.

PERS EN POLITIEK : ‘N TERUGBLIK

September 9, 2018 in Uncategorized

Wyse woorde van die hoogs bekroonde historikus Herman Giliomee in vandag se Weekliks in Rapport: “Die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis (is) om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.”

Amper 30 jaar gelede, op 5 Julie 1989, het pres, P.W. Botha in sy bastion, Tuynhuis, die ANC-leier, Nelson Mandela – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik ontvang. Ondanks alle vorige protestasies en kwalifikasies – die ANC-leier se afswering van geweld onder meer – het die Nasionale Party-leier begin praat met die ANC.

Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel; agt jaar voor die ontmoeting in Tuynhuys, sewe jaar voordat Niël Barnard, hoof van Nasionale Intelligensie, se eerste, aanknopende gesprek met Mandela in Pollsmoor, en amper ‘n dekade voordat die internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 as aanstaande president uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.

Vosloo se baanbrekende kopskuif het Botha destyds met afgryse laat sidder. Hierdie verrassende oproep uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom het my, wat een van sy adjudante was, self ietwat onkant gevang, moet ek bely. Later sou ek telkens weer daaroor wonder: Hoe sou die geskiedenis kon verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare nie daardeur gewen word nie?

Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante ontkiem het. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.

‘n Gedugte arsenaal ideologiese wette het nog die toekomspad versper. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal – twee van hulle, Die Burger en Die Volksblad, nogal amptelike mondstukke van die NP – egter in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om hierdie ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.

En gee hom die eer: dr. Wimpie de Klerk, redakteur van Die Transvaler, die noordelike mondstuk van die party, het in hierdie opsig, in selfs dalk nog moeiliker omstandighede as sy kollegas van die Nasionale Pers, ook sy kant gebring.

Al van die tweede helte van die 70’s af, maar veral in die 80’s , is die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, toenemend krities onder die loep geneem.

Skermutselings tussen pers en party het gevolglik taamlik gereeld begin voorkom – soms skerp en bitter. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld, waar hy Ton Vosloo opgevolg het, was veral in die spervuur oor sy rondborstigheid. Oor die Groepssgebiedewet het hy bv. pront verklaar: “Skrap dit”. Ook oor Nelson Mandela het hy nie doekies omgedraai nie: “Die tyd het aangebreek om hom uit die tronk vry te laat.“

Onder sy kollegas het sy waagmoed vir Wepener die naam “Ysterman” verwerf. In Tuynhuys was daar egter met elke nuwe Wepener-sarsie beroering. Dit is hoe die naam “Kruithuis” destyds ontstaan het!

Later moes die damwal bars. Een na die ander hoeksteen-wet van apartheid is geskrap, onder meer ook die gehate Paswette. Toe hulle in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menigte wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is. Ook die hoofartikels daaroor word in argiewe bewaar.

Oor die verbod in 1988 op sir Richard Attenborough se omstrede rolprent “Cry Freedom” (oor die aktivis Steve Biko wat in 1977 in polisie-aanhouding dood is) was die Naspers-dagblaaie almal afkeurend. Premier Botha was erg gesteurd. Sy wens wat hy direk aan Ton Vosloo, toe besturende direkteur, oorgedra het, was: redakteurs moet hom bel en hom waarsku as ons van hom verskil en hom in ons koerante gaan pak. Die antwoord was eenparig: jammer, daarvoor sien ons nie kans nie!

Dit was die jaar waarin Botha later na joernaliste in die algemeen as “lunsrieme” sou verwys.

Koerante het nie net kritiseer nie, maar het ook kreatief en opbouend saamgedink, en dikwels op die voorpunt gedink, oor boustene vir die toekoms. Al verkennende is berge versit. Een pragtige voorbeeld van hoe ‘n koerant met sy skeppende denke as ‘t ware ‘n katalisator in die Groot Mirakel van Suid-Afrika geword het, is deur pres, Nelson Mandela aan sy tafelgenote onthul toe hy op 9 Oktober 1997 ‘n middagete tot sy eer by Naspers in Kaapstad bygewoon het.

Ton Vosloo, voorsitter, Koos Bekker, besturende direkteur, Boetie van Zyl en Niel van Heerden, direkteure, en Conrad Sidego, Khulu Sibiya en Zelda Jongbloed van Naspers is aan tafel vergas op ‘n boeiende relaas oor hoe ‘n Dawie-rubriek oor groepregte in 1989 in die gesprek tussen die NP en die ANC vir ‘n deurbraak gesorg het. Die rubriek is geskryf deur Wiets Beukes, wat toe redakteur was. Hy het Piet Cillié opgevolg.

Dawie se standpunt was dat oor wette soos die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe “ingrypend herbesin” moet word, omdat ‘n nuwe Grondwet “kleurblind” moet wees.

Die gedwonge klassifikasie van mense was een van die “onhoudbare erfenisse van die ou apartheid”, het hy betoog. Die “groep-gedagte (sal) in die eerste plek van alle dwang en diskriminasie gestroop moet word”. Groepvorming sou “bevry” moet word om spontaan plaas te vind, en een van die “basiese regte van die mens” sou herstel moes word: “Dat elke mens die reg het om vryelik te assosieer en self te besluit by watter groep hy sy heil wil soek.”

Mandela het, volgens hom, in een van hul eerste ontmoetings F.W. de Klerk se aandag op die rubriek gevestig. De Klerk het onmiddellik positief gereageer: “Nou ja, as Dawie so sȇ, sal ek vir my mense sȇ ons kan dit (daardie groepwette) maar los.” Daardie antwoord het Mandela verheug. Hy het aan sy topstruktuur gaan rapporteer: “Met die man sal ons kan saamwerk.” Daarna het sake begin vlot.

Die partymondstuk-status tot diep in die jare tagtig van Die Burger, Die Volksblad en die heengegane Die Transvaler, was histories verantwoorbaar deur ‘n gemeenskaplike oer-herkoms uit die breë Afrikaans-Nasionale beweging in jare van platgeslaanheid. Dit is na my wete nooit amptelik geformuleer nie. Geen “kontrak”, geen voorskrif, selfs geen verwagting is aan my gestel toe ek redakteur van Die Volksblad geword het nie. Geen dusdanige dokument is, sover ek weet, ooit aan enige ander Naspers-redakteur gegee nie. Maar dat dit tot vandag suspisies voed oor waar die Afrikaanse koerante in die legkaart van die apartheidsera inpas, moet geredelik erken word.

Dalk verstaanbaar, as jy uit ‘n hoek van onbegrip kyk, word koerante verdink dat hulle weens hul partybande, formeel of informeel, soos dit in die geval van Beeld en Rapport was, gevangenes van die Nasionale Party was, en daarom outomaties ook stoere kampvegters vir die status quo.

Toenemend is by koerante besef dat die ongemaklike verbintenis nie kon voortduur nie. In 1988 het Ebbe Dommisse, redakteur van Die Burger, toe die bul by die horings gepak. Op sy inisiatief is by die Kaaplandse kongrs van die NP ‘n besluit geneem om die ou koppeling te laat vaar. In die Vrystaat is geen besluit ooit geneem nie. Die gebruik om jaarliks by die NP-kongres die koerant as party-mondstuk te herbenoem, het eenvoudig in onbruik verval. In Transvaal was geen amptelike mondstuk oor nie nadat Die Transvaler se vlerke in 1983 geknip is en hy in sak en net ‘n Pretoriase koerant moes word.

Met die Dommisse-inisiatief is ‘n proses voltrek wat in die middle van die jare 80 momentum begin kry het namate die gekompliseerdheid van die landspolitiek ou bindinge al hoe meer onder druk geplaas het.

Oor hierdie aspekte van die geskiedenis word om die een of ander rede ‘n sluier getrek asof ‘n onwilligheid bestaan om die verlede onbevange te bekyk en ewewigtig te beoordeel. Dit is ten seerste te betreur omdat wanpersepsies oor die rol van die Afrikaanse koerante, en veral redakteurs, helaas, deur die verspreiende onkunde gedy.

Met die onheuglike Magnus Malan-sage het sulke wanpersepsies weer uitgeborrel. Ou vooroordele is afgestof. In die kaalvuis-debat oor die omstrede Bird-Island-boek het beskuldigings rondgevlieg, soms in heel onelegante fraserings. Die kerksake-kommentator Jean Oosthuizen het bv. in ‘n Facebook-inskrywing die volgende kwytgeraak: dat van ‘n bepaalde Afrikaanse redakteur in die era van Magnus Malan en Barend du Plessis tog bekend is dat hy in die NP “se ali ingekruip” was.

Noodwendig ontbreek die ruimte om in ‘n enkele koerant-artikel op al die dimensies van ‘n gekompliseerde verhouding in ‘n gekompliseerde tyd in te gaan. Die rol van die Afrikaanse koerant in die politieke oorgang is in elk geval eerder ‘n navorsingstaak vir historici. In die gemoed van hierdie oud-redakteur van die jare 1980 tot 1992 leef egter geen skuldgevoelens oor in watter deel van wie se anatomie hy dan ingekruip sou gewees het nie.

GEDAGTES OP GOUE VLEUELS

November 14, 2017 in Uncategorized

SEWE REDAKTEURS – HvD, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Ainsley Moos, Johanna van Eeden, Gert Coetzee (huidige redakteur).

As oudste lewende oud-redakteur van Volksblad (in chronologiese sin) was dit my voorreg om Saterdag by die veterane-saamtrek in Bloemfontein ‘n woordjie te spreek. Met “gedagtes op goue vleuels” het ek hulde gebring aan ONS koerant en ONS kollegas – waarop ons albei onverbloemd trots durf wees. Hier is ‘n uittreksel uit my toesprakie.

Ek vertel graag hoe ek in 1958 as vakansiewerker op Wiets Beukes se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis – in Sewende laan nogal, meen ek – met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak het.. Die simboliek het my later getref: dat my eerste wankelende treë in die joernalistiek ook vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit het: ‘n dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld. Op pad na Bloem luister ek Woensdag na Guiseppe Verdi se magtige koorwerk, Va Pensiero – Gedagtes op goue vleuels. Die simboliek in daardie titel is ewe treffend.

Vele herinneringe aan my eie Volksbladjare gee my gedagtes goue vleuels. Ek bly daaroor skryf en skryf en skryf. Dit is soos die ou M-net-klingel: “The magic continues”. Elkeen beleef vandag opnuut die Volksblad-“magic”, glo ek. Twee kern-elemente van daardie “macic” is (i) ons koerant en (ii) ons kollegas. Op albei kan ons onverbloemd trots wees.

Vir my bors uitstoot oor ons koerant ploeg ek met anderman se kalwers. Ek haak graag aan by drie aanhalings.

Nommer een is op die agterflap van die eeufeesboek, ‘n Lewe van sy eie: dat Volksblad (Die Volksblad, soos die meeste van ons hom geken het) vir derduisende mense ons koerant is, “want oor tien eeue (nou al 11) het Volksblad saam met sy lesers vir sy lesers en namens sy lesers gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, getwyfel, gefouteer, rigting aangedui – geleef.” Min koerante verdien so ‘n getuigskrif.

Nommer twee is die woorde van prof. Peter de Lange, oud-rektor van die RAU en voorsitter van ‘n organisasie wat sommige die horries gee. Sy woorde: “Ek ken geen ander koerant wat so na aan sy lesers leef nie.” Ja, tot in daardie verhewe (klandestiene!) kringe is ons koerant se unieke karakter raakgesien.

Nommer drie is ‘n versie deur Philip de Vos op die spykaart by die Kaapse viering van die Volksblad-eeufees: Maar – Volksblad/ Klim die hoogtes /Deur storms en deur droogtes /Deur oorloë, griep en Runderpes,/bied hy ‘n les vir al die res/en so gaan hy steeds aan en aan/ en hoop om lank nog te bestaan! ‘n Lang, vrugbare en voorspoedige voortbestaan word ons liewe Volksblad seker deur elkeen van ons toegewens.

As ‘n oud-nuusredakteur besef ek “names make news”. Wanneer ek oor kollegas iets sê, gaan ek egter vermy om roem en prestasies by name uit te sonder – selfs van die beroemdstes; en ons het nogal ‘n paar beroemdes in ons geledere. Maar waar trek jy die streep?

Gaan ry maar rond in Langenhovenpark en kyk die straatname, stap deur biblioteke of boekwinkels, gaan lees Hansard – talryke mense wat voorheen op DV se betaalstaat was, is gesiene burgers. Pryswennende skrywers tel jy in dosyne.
Uit 80 se penne het glo al 950 boeke gevloei.

Van die boeke is topverkopers; vind jy prominent uitgestal op internasionale lughawens; word vertaal in dosyne tale; lê in haas elke kinderkamer. Ons skrywers se bydrae tot Afrikaans is ontsaglik. Een (amper paradoksaal, dalk die mees beskeie onder ons) het pas die gesogte en prestigeryke Jan H. Maraisprys verower vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Party kollegas het ver paaie gaan loop – ver-ver buite die Vrystaat, en selfs SA. Gaan soek in Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, België, Afrika – jy sal iemand raakloop wat in Voortrekkkerstraat 79 gewerk het.

‘n Stewige gerf het hul vleuels buite die joernalistiek gesprei. Herman le Roux het vir my ‘n “moerse” lys (sy woorde) gemaak van doktore, professore en ander kokkedore. Daar is parlementslede, prokureurs, boere, offisiere, uitsaaibase, sakelui en bedryfsleiers, skoolhoofde, sielkundiges, kommunikasieghoeroes, spyseniers, ‘n predikant, ‘n narkotiseur, ‘n sepie-akteur, ‘n “Bybelsmokkelaar” (soos hy homself noem), ‘n landdros, een wat die sokker-wêreldbeker help reël het, ‘n “toekomskundige” ….

Het enige joernaliste oorgebly? Inderdaad. In die perswese is Volksbladders se bydrae amper onmeetbaar. Vier Phil Weberwenners, 13 dagbladredakteurs, 15 ander redakteurs, verskeie sportredakteurs, voorste rubriekskrywers en hope sleutelmense kom uit Bloemfontein. Ook vele bekroondes met Veertjies en wat nog.

Vir ontstellend baie van ons kollegas het die finale deadline reeds aangebreek. Saam met die teleks, die Speed-Graphics, die Remingtons, die Corona-Smiths en die kollekteeroproepe uit afgeleefde telefoonhokkies is hulle heen. Ons dink aan hulle met hartseer en dankbaarheid vir vrugbare lewens.
( Die sewe redakteurs van die koerant sedert 1980 was die Vrydag byeen – ‘n geskiedkundige oomblik in die koerante-annale. )

Deel dit:
FacebookTwitterGoogle+PinterestShare

SPOKE TEEN DIE MUUR

April 3, 2013 in Uncategorized

 Van koerante gepraat:  Uit Volksblad-oord is die nuus dat die fotogalery van oud-redakteurs deur die nuwe redakteur, Jo van Eeden, in ere herstel is nadat hulle in ‘n vorige era as “spoke teen die muur” bestempel en onseremonieel verwyder is.

 Vir hierdie ou gryse met ‘n gevoel vir tradisie is dit ‘n heuglike dag.  Die gedagte aan daardie foto’s met hul kollektiewe geskiedenis van langer as ‘n eeu wat iewers lê en stof vergaar, was nogal steurend, indien nie pynlik nie.

  Toe ek in 1980 as redakteur by Die Volksblad instap, het al die oud-redakteurs se foto’s in die redakteur se kantoor gehang.  Toe die gebou in enkele jare later  gemoderniseer word en die redakteur na ‘n deftiger kantoor verhuis, is hulle saam.  My onmiddellike voorganger, SF. (Oom Bart) Zaaiman se foto is dadelik vir die doel geraam. 

 Iewers, Kroniek van ‘n Koerantman of in Kamera, het ek opgeteken watter betekenis daardie foto’s vir my gehad het. Hulle het my laat voel ek behoort; is ‘n skakel in ‘n ketting.  Elke oggend as ek daardie mooi kantoor oopsluit en verby my ry voorgangers stap na die groot lessenaar van Birrmaanse kiaat waar ook mense soos dr. A.J.R. van Rhyn gesit het, was dit ‘n oomblik van besieling vir die eise van die dag.

 In 2004 het Die Volksblad sy eeufees gevier – hy is inderdaad heelwat ouer as Die Burger en die Nasionale Pers. Vyf jaar vroeër was daar ‘n redakteursverwisseling wat in ‘n sekere sin ook ‘n generasieverwisseling was.  Die “spoke teen die muur” is afgehaal en na ‘n minder prominente, agter-die-skerms-bestemming verskuif.

 Om sout in die wonde te vryf, was dit glo die destydse redakteur se vrou wat hieroor die laaste woord had. Sy wou opsluit iets mooi en moderns – Frans Claerhouts, meen ek –  teen haar man se muur hê en biedêm die geskiedenis.  Dit is nou “Adding insult to injury”, soos die Engelse op hul raak manier sê.  

 Skynbaar het daardie eerste verwydering ‘n swerftog ingelui. Sarel Venter, lid van die hoofredaksie in die HvD-era, onthou net die redakteursfoto’s het in die ‘raadskamer’ (pretensieuse beskrywing) gehang nadat dit uit die redakteurskantoor verwyder is.  Skybaar is dit later na die gang verskuif, waar dit nou weer hang.

 Jo van Eeden rapporteer toe sy enkele maande gelede in Bloemfontein aangekom het, het sy op daardie plek ‘n gróót aansteekbord aangetref. Toe hulle dié oplig, lê die stofmerke nog een-een daar teen die muur waar die vorige redakteursfoto’s gehang het!

 Waar die “spoker” in die tussentyd ‘n heenkome gevind het, wil ek liewer nie weet nie.  Waarskynlik iewers in ‘n ou weggooi-boks (Party sal seker dink : maar dis mos die regte plek vir sulke klomp oude-doos-bokkers!) .

 Nietemin, Jo, wat haarself as “seker outyds” bestempel, het die eervolle ding gedoen om die foto’s na die gangmuur terug te bring – ‘n prominente tuiste.  Persoonlik sou ek hulle in die redakteurskantoor verkies, maar nou-ja, ek was maar altyd ietwat ambisieus.  Desondanks:  Van hierdie ou-redakteur aan die huidige: Baie dankie, kollega.  Ek glo ons almal sal die dag ‘n spesiale glimlaggie opsit wanneer dit jou beurt is om jou by ons aan te sluit.  

 Op die foto hierbo hang hulle nou voltallig. In die boonste ry: Hendrik de Graaf, stigter wat die “koerant”op ‘n ossewa van Potchefstroom af Vrystaat toe gebring het, die legendariese A.J.R, van Rhyn,  Otto du Plessis, latere Administrateur van Kaapland,  Hubert Coetzee, latere besturende direkteur van die Pers,  H.H. Dreyer, S.F. Zaaiman en J.H. van Deventer. In die onderste ry: Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther en  Ainsley  Moos.  

 Oor elkeen sou jy heelwat kon skryf: vleiend en onvleiend (hierby sluit ek myself in).  Wyk, Satan!

 Vir my nogal insiggewend is dat my eie skof van 1980 tot 1992 geduur het: 12 jaar.  In die 20 jaar daarna is die huidige redakteur egter reeds die vyfde bekleder. Die onderste ry het in hierdie opsig sy eie dinamiek!

 Van geen historiese betekenis nie, maar dalk tog vermeldenswaardig is dat ek met  Otto du Plessisrylaan huis toe ry op Melkbos, en dat oral nog die tekens is van die oorheersing van die Dreyer-clan in hierdie geweste in die vorige eeu. Melkbos is ver vanBloemfontein– maar die ketting strek waaragtig tot hier!