Jy blaai in die argief vir rand daily mail.

YSKASTE VIR ESKIMO’S

September 30, 2018 in Uncategorized

Johann Kriegler se verwyt teen Ton Vosloo kom daarop neer dat Naspers nie yskaste aan Eskimo’s probeer verkoop het nie. Hy verwag dat ons super-verligte koerante moes uitgee in ‘n tydperk toe super-verligtheid tot ‘n baie klein puntjie van die leserspiramide beperk was. Noem sy resensie in vanoggend se Rapport dus spitsvondig, indringend, deeglik, slim, enigiets; dis ongelukkig net te onrealisties om deur my geslag koerantmense ernstig opgeneem te word.

Selfs die Engelstalige mark van die turbulente 80’s bewys my punt oor die uitdagende politieke klimaat waarin koerante hul werk moes doen. Die Rand Daily Mail, vlagskip van politieke super-verligtheid, het in 1985 met reuse-verliese soos ‘n klip gesink. Nie Naspers met sy beweerde hansie-my-kneg-gesindheid jeens die Nasionale Party nie, maar die giftige anti-regerings-persgroep SAAN (SA Associated Newspapers) kon, ondanks top-joernaliste, professionaliteit van die produk, internasionale status en geldelike rugsteun deur mynreuse soos Anglo American, nie die Mail langer laat werk nie.

By sy heengaan het die bekende politieke kommentator Patrick Laurence die RDM in Amerika so besing: “For the past 25 years the Mail has opposed apartheid and championed the right of South Africa’s subordinate blacks to participation in the lawmaking process, to social and economic justice, and to equality of opportunity.” Inderdaad. Niemand kan fout vind met mnr. Laurence se grafskrif nie. Maar toe was juis daardie super-verligte “opposition to apartheid” en “championing of rights of subordinate blacks” in die finale instansie sy ondergang – dit was eenvoudig net te prematuur. Selfs die Engelse mark was nie vir sy soort voorpos-politiek ryp nie.

Kom ons kyk nou na die Afrikaanse mark. Hier maak Vrye Weekblad in 1988, drie jaar nadat die RDM daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad. Hy doen plek-plek uitstekende werk met deurvorsende ondersoekende joernalistiek, soos die onthulling van Vlakplaas (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe politieke aanslag verower verreweg nie die mark nie. In 1993, na net vyf stormagtige jare, word ook sy hortjies gegrendel – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie ingesteldheid se dag nou aangebreek het.

Hoekom? Natuurlik was daar duur hofsake en ander struikelblokke. Maar die een harde waarheid staan soos ‘n paal bo water: dat Vrye Weekblad net te ver verwyder van die gewone Afrikaanse leser was om volhoubaar te wees. Idealisme het dalk polsend in sy are gepomp; maar nooit die lewensbloed van elke koerant nie, naamlik lesers en adverteerders. Sy sirkulasie het by iets soos 11 000 vasgeval, dalk 13 000. Te min, te min.

Vrye Weekblad het ons hoofstroomkoerante graag gekoggel. Maar wat doen Naspers toe (en nogal op my advies)? In sy finale oorlewingstryd word ‘n senior oud-amptenaar, wyle Jan Prins, na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt met raad en daad te gaan ondersteun. Die Pers het al die koste gedra en Jan hom boonop ‘n salaris betaal. Selfs sy pogings kon die finale gordyn egter nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad noodgedwonge 1993 sy deure sluit.Te prematuur vir sy mark, soos die RDM agt jaar tevore vir sy mark te prematuur was.

Die Jan- Prins-geskiedenis is nie wyd bekend nie. Max du Preez, vader van Vrye Weekblad, hou ook niks daarvan dat dit op die lappe kom nie. Toe ek die Pers se diskrete hulp enkele jare gelede in ‘n brief in “By” onthul, was Du Preez so gesteurd dat hy my in ‘n volblad-artikel in dieselfde publikasie van ‘n kant af geloop het. Ondanks sy beskuldigings oor hoe ‘n vrot redakteur ek dan was, het Die Volksblad in my redakteurskap nie ondergegaan soos Vrye Weekblad in syne nie. Maar dit daar gelaat.

‘n Werklikheid van daardie tyd wat kritici van Afrikaanse koerante gerieflik vergeet, is die opkoms van sterk regse weerstand teen politieke hervorming in deursnee-Afrikaner-geledere. Kom ons neem die goeie ou Vrystaat as voorbeeld waar die politieke ewewig in ‘n stadium op ‘n mespunt was.

“Swart Woensdag”. So het ‘n politieke rubriekskrywer 6 September 1989 gedoop. Dit was die dag toe die Konserwatiewe Party ampertjies die Vrystaat ingepalm het. In ‘n ontnugterende swaai van ses persent na regs het die KP ses uit 14 setels verower. ‘n Sewende was in die weegskaal weens ‘n dispuut. Iemand, wie weet ek nie, het na die uitslag met galgehumor verklaar die Vrystaatse parlementere koukus van die NP kon daarna, baie gerieflik, sommer in ‘n telefoonhokkie vergader!

Teen 1991 het dit nog slegter gegaan. In daardie jaar is in Ladybrand en Virginia in tussenverkiesings verpletterende nederlae gely. Die KP het ook in munisipale tussenverkiesings suksesse ingeryg.

Wat was dan aan die gang? In my oë was dit ‘n klaarblyklike ‘n vingerwysing dat weerstand teen die FW-de Klerk-koers (en amper des te meer die koers van Die Volksblad) in die Vrystaat dieper gewortel was as wat vriend of vyand ooit besef het. Hoe iemand hierdie verharding in gesindhede kan rym met hul versugting vir heroïeser hervormingspolitiek is vir hierdie oud-redakteur raaiselagtig. Tensy ons die pad van die RDM en die Vrye Weeblad wou gaan.

Ek sou nog kon vertel van nagtelike doodsdreigemente, viktimiserings en selfs fisieke aanrandings uit regse oorde op koerantmense, net omdat hulle hul werk doen. Dalk is dit die stof vir ‘n volgende blog.

Ten slotte dan:

Die volle waarheid oor Naspers se totale rol in die politieke omwentelinge van die 90’s moet nog geboekstaaf word. Ons koerante het hulle onderskei met beriggewing en rigtinggewende kommentaar, meen ek. Ook op bestuursvlak is uit ons pad gegaan om na nuwe leidsliede uit te reik. Welwillende kontak is met die here Mandela, Mbeki en andere bewerkstellig.

Teen die vroeë 90’s al is ingesien dat op die mediatoneel veranderinge sou moes kom. Hoe groter die verskeidenheid stemme, des te beter sou dit wees vir die nuwe demokrasie. Met dié insig is City Press (met sy sterk ANC-oriëntasie) uitgebou tot winsgewendheid en het die Pers teen groot koste ‘n reeks koerante gemik op die agtergeblewe gemeenskappe tot volwaardige onderneminkies help uitbou.

‘n Reeks gemeenskapskoerante is op die been gebring, plek-plek ook met swart mede-eienaarskap. Alternatiewe koerante (soos South in Kaapstad) is teen tegmoetkomende tariewe gedruk en versprei. Ruim hulp is verleen aan die Independent Media Diversity Trust om opkomende onafhanklike blaaie te finansier. Daar is nie gevra wie gehelp word en watter standpunte hulle bevorder nie. Steun is toegesê aan Allister Sparks se Institute for the Advancement of Journalism om ‘n nuwe generasie joernaliste vir ‘n nuwe generasie media op te lei.

In hierdie konteks, feit vir feit naspeurbaar in betroubare bronne, dink ek werklik nie Naspers verdien sulke verwyte soos dié van Johann Kriegler nie.