Jy blaai in die argief vir piepiepot.

SKITTERSKOON UIT DIE (PIEPIE-) POT

Maart 9, 2019 in Uncategorized

Tant Sina Roux, my skoonma se suster, was die robuuste lid van die familie – onder andere die eerste vrou wat op Bultfontein gewaag het om ‘n langbroek (nogal ene met ‘n gulp!) aan te trek en ‘n “rooilissie” wat in die Tweede Wereldoorlog weermagvragmotors bestuur het.

Sy het in ‘n stadium man-alleen geboer en in ander stadiums “perde gespeel” of as heeltydse hengelaar by Umkomaas ‘n lewendige vishandel bedryf. As tronkbewaarder het sy van Suid-Afrika se gevaarlikste vroulike misdadigers opgepas, soos die gifmoordenares Daisy de Melker. Sy was ook aan die stuur van die Sentrale Gevangenis in Pretoria se wasafdeling.

Dit is in laasgenoemde hoedanigheid dat sy my die wasdag-geheimpie van presidentsvrou Marga Diederichs se delikate tee-doilies in die oor gefluister het.

Dr. Nic Diederichs, voorheen minister van finansies, ook bekend as “Mnr. Goud”, was staatspresident van 19 April 1975 tot met sy dood op 21 Augustus 1978. Mev. Marga was bekend as ‘n buitengewoon formidabele, soms taamlik omgekrapte, teenwoordigheid aan die president se sy. Oor haar fyntjiese tee-doilies wat vir vername tee gaste by die staatspresidentwoning, Libertas in Bryntirion, uitgehaal is, was sy uiters begaan.

Die doilies is saam met ander ministeriële wasgoed uit Bryntirion deur vroue in tronkuniforms se hande. Wat die edele dame ontstel het, is haar periodieke verliese aan van die spoggerige lappies. Ondersoek bring toe aan die lig dat dit, helaas. by geleentheid in die dik afvoerpype van die tronk se yslike wastrôe beland. Tant Sina moes dit dan namens haar span ontgeld. Ná vele berispings en roskamme kry Tant Sina ‘n blink ingewing. “Bring julle piepiepotte saam,” word die vroue opdrag gegee.

Van toe af is die doilies apart gewas in die kose van onder die beddens in die tronkselle, sonder verdere risiko – en mev. Marga was tevrede gestel, totaal onbewus van die roete wat die spierwitte, silwerskoon doilies gevolg het tot in die pierings van haar waarderende gaste .

Die doiliestorie kom by my op by die lees van ‘n resensie in die dagblad Die Burger oor die boek “Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers” deur Ockert Geyser, voorheen geskiedenisprofessor en hoof van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. Die boek het by Naledi verskyn. (Ek sien prof. Ockie skryf van Margo Diederichs maar ek het haar as Marga geken.)

Mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was) kon ook omgekrap raak. Ockie Geyser noem haar, amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so vinnig Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.

Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.

‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”. Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) aanvaar.

Die dagblad Die Volksblad, Bloemfonteinse susterskoerant van Die Burger, het op sy beurt ‘n potjie met mev. Mabel Jansen , eggenote van die laaste goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen geloop. Sy had ‘n hekel aan koerantfotograwe wat taks om taks daarin geslaag het om haar met toe oe af te neem. Volgens haar was hulle “onbeholpe”.

Hugo Dreyer, my eerste baas, was nog nuusredakteur, toe op ‘n ampsbesoek aan Bloemfontein na die een of ander swierige sosiale geleentheid weer so ‘n gewraakte foto op sy lessenaar beland. Die stomme man was moedeloos en ongeneë om weer onder die die vlymskerpe tong van die G-G se gade deur te loop.

Hy gee toe die fotograaf opdrag om die foto met sy retoesjeerkwassies te toor. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop soos diè van ‘n lappop. Maar o wee. Nie lank daarnie nie, hier daag sy onder motorfietsbegeleide in Voortrekkerstraat op. Sy wil ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ‘n kloppie op die skouer gee.

Die nuusredakteur het die omvang van sy penarie nie onderskat nie. Hy speel toe vir tyd. “Alte seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Sy was verpletterd toe hy boetvaardig moes rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my om die nus or te dra maar daardie negatief is skoonveld”!

Een van die formidabele vroue van oudsher, mev. Christa van Rensburg, eggenote van Oom Basie van Rensburg. Vrystaatse leier van die NP ‘n paar dekades gelede, het onlangs haar 95ste verjaardag gevier. Wat ‘n dame! Van haar vele bates is ‘n helder verstand, ‘n vonkelende humorsin en ‘n sak vol kostelike anekdotes.

By ‘n Nasionale Party-feesgeleentheid het sy ‘n keer vertel van die grapjas-minister van landbou Hendrik Schoeman wat ná ‘n besoek aan Orania oor sy indrukke uitgevra is. “Daar gaan ook maar bokkerol aan,” was sy antwoord; “die enigste prostituut daar is nog ‘n ‘virgin’”.