Jy blaai in die argief vir piekniekplek.

KLINK ‘N OTTERMAKLOTTERTJIE!

Augustus 16, 2017 in Uncategorized

Lorinda se otters.

Die Krugerwildtuin bestaan natuurlik uit veel-veel meer as net die Vyf Grotes, algemeen bekend as die Groot Vyf. In van jou beste wildtuin-ervarings figureer soms nie eens een van die grotes nie. Meermale sommer doodgewone ou diertjies soos otters.

In die amper 20 jaar dat ek en Tokkie al Sabiepark toe kom – ons trek nou seker by ons 50ste vakansie hier – het ek al iets soos 15 albums vol foto’s van dieretonele, kuiertjies by kampvure en dies meer. ‘n Foto van otters ontbreek.

Ek sal spreekwoordelik my voortande gee vir ‘n vrolike otterfoto soos die een hierby. Lorinda Steenkamp, amperse buurvrou in Wildevylaan, het die foto Saterdag by die piekniekplek geneem.

Ek sal, terloops, my voortande plus die een of ander premie gee vir ‘n foto van ‘n ietermagog. Anders as otters het ek daardie gedierte nog net in museums gesien. Otters het ek wel al by die piekniekplek gesien, die eerste keer in 2001.

In my Sabiepark-verslagboek nommer drie (nie te verwar met ‘n foto-album nie) het ek op 2 Augustus 2001 die volgende neergepen: “By ons piekniekplek het ons ‘n otter met ‘n vis in sy bek vinnig stroom-af sien swem. ‘n Seekoei se gramskap is duidelik gewek deur die lastige rusverstoorder.”

Niggie Susanet Smith wat by was, het in haar stukkie in dieselfde boek die volgende kwytgeraak wat my laat wonder presies wat sy bedoel het: “Ek hoop net die vis in die otter se bek neem nie later nog onbekende afmetings aan nie.” Ek raai ons vis het, soos die vis in baie vistermanstories, ook al hoe groter geword soos ons vir mense daarvan vertel het.

Nog iets waaroor ek gewonder het, is of Lorinda se otter dalk ‘n kleinding (agter-kleinding?) van ons otter met die vis in sy bek kan wees.

In Riëtte Conradie se heerlike diereboek “Aardwolf tot Ystervark” lees ek ‘n aanhaling wat skynbaar korte mette van daardie teorie maak. “The otters, as a family, are gregarious, affectionate, inquisitive, happy-go-lucky, cheerful, easy-going clowns; roving gypsies of the wild”, skryf Bruce Kinloch.

Swerwer-sigeuners? As mnr. Kinloch se beskrywing in die kol is, is dit seker onwaarskynlik dat een familie 16 jaar lank – die hele leeftyd van die patriarg of matriarg – in dieselfde omgewing sal vertoef.

Maar dan: die Sabierivier soos dit hier voor Sabiepark verbykabbel Mosambiek toe, is nie sommer enige omgewing nie. As ek ‘n otter was, sou ek dit waarskynlik ‘n absolute voorreg geag het om my kinders nêrens anders nie as juis in hierdie idilliese dierehemel groot te maak.

Dis vir my ‘n romantiese ding om te glo die otters wat Lorinda Saterdag afgeneem het, en die otter wat ek in Augustus 2001 voor my sien verbyswem het, dieselfde stamboom het.

Ek drink laat vanmiddag by die piekniekplek een of twee ottermaklottertjies op die gesondheid van ons ottertjies (noem hulle die mustelidae sabiparki). Mag hulle en hul nageslagte nog lank en gelukkig hier in onse waters kerjakker.

Van die Vyf Grotes gepraat:

My en Tokkie se jongste ervaring met die vyf is nogal vermeldenwaardig, meen ek: het al vyf die laaste week by Sabiepark se piekniekplek gesien. In net vier besoeke.

Op 8 Augustus. so teen 13:30, drie van die Grotes gelyktydig gesien: leeu, olifant en buffel. Op 12 Augustus die legendariese luiperd van die kontrei, Vin Diesel, met sy nek soos ‘n vaskopstut, en ‘n dag later, op 13 Augustus, ‘n renoster, sy maag swart van die modder.

Ons het al voorheen die vyf daar gesien, maar in so ;n kort tydsbestek? En in net vier besoeke? Nie eens naastenby nie.

Net die olifant het werklik naby gekom. Een het hom boeglam geskrik toe hy die mense so naby sien. Die ou het verontwaardig, trompetterend en met wapperende ore onder die bruggie waarop ons gestaan het, deurgestorm.

Twee dinge gehad om die aand te vier: die proewe van my boek Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman het vroeer die dag opgedaag.

SUIKERBEKKIE-BOOM

Augustus 2, 2013 in Uncategorized

 

Die opvallende trossies delikate blomme lok ons nader. So ontdek ons die voëlsitboom by die piekniekplek. Op die daad wonder ek en Tokkie waar die naam vandaan kom. Is alle bome dan nie voëlsitbome nie?

In elk geval, die voëlsit, hoewel kleinerig, is sommer ‘n mooi, digte boom.  Weet nie hoekom ons hom voorheen misgekyk het nie.

Naam ofte nie, geniet daardie boom nie juis drukke voëlbesoek op die oomblik nie. Die eer vir die grootste trekpleister hierdie tyd van die jaar kom die koraalboom toe. Die kleed bloedrooi blomme van die k-boom (in vergange tye onder ‘n ander politiek-sleg-inkorrekte k-woord bekend) lok suikerbekkies soos magnete. In tien minute het Tokkie twaalf suikerbekkies van drie soorte daar gewaar.  Hulle sit nie juis nie. Die blitsige blertsies rooi, groen en wit dartel vrolik van blom tot blom.

Moet nog eendag daaraan proe. Daardie pragtige blom van hom moet immers uitermate smaaklik wees. Het al in die einste Sabiepark gesien hoe ‘n lekkerbek-koedoe met ‘n sliert koraalboomblomme in die bek staan.  

Nog ‘n boom-“ontdekking” by die piekniekplek ná al die jare is weens die stuifmeel wat vanuit ‘n ylerige blaredos in ‘n ligte briesie soos ‘n kiesareëntjie neersif. Ons staan nadir, maar dis ‘n BZN – boom sonder naamplaatjie. Tokkie raai dis die een of ander wildesering.  Roux Wilsenach se insiggewende boekie, Ken ons bosveldbome, bring gou die antwoord. Nie sering nie. Karee. Doodgewone, algemene karee.  Tokkie onthou dadelik die karee in hul agterplaas op Bultfontein. Ouma Van Wyk se hoop stronke vir die vuurmaak was in sy gedugte skadu gestapel.

Inheems in die Wildtuin is die karee nie. Aangeplantes kom wel by Pretoriuskop voor. Dit vertel Piet van Wyk in sy beroemde Veldgids. Maar hoe kon iemand van my generasie ‘n karee miskyk? Hoeveel ketties en kleitlatte het nie in die prille jeug hul oorsprong in ‘n karee gehad nie? En die bessietjies? Heel koubaar vir ‘n kind se kake wat nooi ophou roer nie.

Die karee se buurboom, die worsboom waaronder ons Sondag ons frikkadelbroodjies en koue wyn geniet het, begin ook rooi blommetjies gooi.  Die voorlente kom vroeg vanjaar. Sien ons dit dan nie des te meer nie in die knoppiesdorings wat plek-plek al in ‘n liggeel waas langs die Wildtuin se paaie pryk?

Die knoppiesdoring – geliefd by kameelperde ondanks die geniepsige dorings en ‘n bruikbare hout by die kampvuur – noem ek Tarlehoet se “nasionale boom”.  Groot menere gooi langs skaduwees op ons boshuis. Maar ons s’n is altyd ‘n bietjie stadig as dit by blom kom. Wel, ons het darem nog twee weke voor die omdraai Melkbos toe aanbreek.

Hopelik trek die drolpeer ook nog in daardie tyd sy wit bruidsjurk aan (leer die gebruik van die word jurk in hierdie verband by Nederlandse Sabieparkvriende) en die sambokpeul sy helder goudgeel gewaad. In laasgenoemde swaai die “sambokke” van die vorige seisoen nog in die winterwindjie.

Niks anders kan die koms van die lente egter so vroeg so uitbundig aankondig soos die drolpeer en die sambokpeul nie. Glo my.

Drolpeer is nou weer ‘n anderster naam wat ‘n mens nie juis met trosse spierwit blomme (soos ‘n fraaie bruidsjurk) vereenselwig nie.  Maar oor die oorsprong van sulke onvleiende boomname kan ongetwyfeld wonderlike stories vertel word.

 

Dink maar ook aan die gewone bokdrol, die perdepram (daar is ook ‘n kleinperdepram), die perdepis, die snotbessie en die muishondbos!