Jy blaai in die argief vir phil webermedalje.

TYD VIR VONKELWYN

Oktober 9, 2017 in Uncategorized

20 Jaar gelede: Ton Vosloo oorhandig die Phil Webermedalje aan my.

Met 2017 volstoom afdraande na die einde toe, tref dit my nogal hoeveel mooi dinge in my lewe vanjaar herdenkings belewe. Kan gerus ‘n bottel goeie Cap Classic vir ‘n vierinkie op die ys sit.

Einde 1997, 20 jaar gelede, het ek nie net die laaste keer in my lewe my kantoordeur in die Naspers-sentrum agter my toegetrek nie, maar het ek en Tokkie ook na Melkbos verhuis – geïnspireerde skuif. Nog ‘n hoogtepunt: by Naspers is ek met sy hoogste eerbewys, die Phil Webermedalje, bekroon vir my “nalatenskap in elke fase van my loopbaan”.

My skool, die Hoër Volkskool, Potchefstroom, het my ook in 1997 by die herdenking van sy 75ste verjaardag met sy eerste spesiale erepenning vir oud-leerlinge vereer. Ek was voorsitter van die Drukmediavereniging van Suid-Afrika. Ons oudste seun, Johan, is getroud met Mariza.

In 1987, 30 jaar gelede, was nie een enkele spitspunt nie. Tog ‘n goeie jaar vir my gewees. Was op my gelukkigste – gesond, geseënd, gevestig as redakteur van Die Volksblad. Ook ‘n lojale Bloemfonteiner met goeie vriende en kollegas. Vreugde geput uit my diens in die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond.

Ek ontvang Volkies se erepenning van Blackie Swart, skoolhoof.

In 1977, 40 jaar gelede, het ek met genoegdoening my sertifikaat ontvang aan die einde van my jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteuit in Cambridge, Massachusetts – dalk die lekkerste, sorgvryste jaar van my lewe.

1 Januarie 1967, 50 jaar gelede, was die eerste dag van my en Tokkie se huwelik van amper 51 jaar. Ons is op 31 Desember 1966 getroud.

Einde 1957, 60 jaar gelede, het ek op ‘n “brose” 16 matriek op Volkies agter die blad gesit. Het darem al geskeer.

In 1947, 70 jaar gelede, is ek as haasbek-sesjarige die eerste keer skool toe: die Diamantveld-laerskool in Kimberley.

Met die groot rol van 7’s in my lewe seker nie snaaks nie dat ek op my volgende verjaardag, op 3 Januarie 2018, 77 sal wees.

Naskrif: Natuurlik is 2017 die jaar van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Uitgewer: Naledi. Prys: R190. Hy is al taamlik wyd in boekwinkels op die rak.

SOET MUSIEK

Desember 12, 2014 in Uncategorized

Bo: Net Hennie van Deventers oweral. Links onder:  Ek en Lizette Human, 'n juweel-P.A. Regs onder: Fred Mouton se skets.

Bo: Net Hennie van Deventers oweral. Links onder: Ek en Lizette Human, ‘n juweel-P.A. Regs onder: Fred Mouton se skets.

Soet musiek in die ore van Hennie van Deventer. So het Ton Vosloo by Naspers se jaarvergadering op 8 Augustus 1997 die voorspoed in die koerantesektor beskryf.

Verskoon maar ek voel daarna om die betrokke paragrafie in sy jaarverslag volledig  hier aan te haal:

In  die geheel het die koerantesektor sy vorige jaar se rekordbydraes met gerief geklop en begroot hy vir ‘n fris styging vanjaar.  Dit is soet musiek in die ore van die sektor se energieke leier, mnr. Hennie van Deventer, en is ‘n groot pluimpie vir hom. Hierdie knap koerantmens wat suksesvolle uitgewer geword het, het aangedui dat hy in hierdie boekjaar die tuig wil neerle. Ons aanvaar dit met spyt, maar met begrip aangesien Mnr. Van Deventer 35 taai en harde jare diens agter die rug het. Dit moet vir hom aangenaam wees om op ‘n hoogtepunt te kan gaan. Hy verdien werklik hoë lof van aandeelhouers en die mediagemeenskap.”

Soete musiek was dit wel dat die koerante die opwaartse kurwe kon volhou nadat ons die vorige jaar die D.P. de Villierstrofee vir die beste prestasie in die groep verower het. En inderdaad heerlik om op so ‘n hoë noot te groet.

Soete musiek vir HvD was ook die woorde van die man wat my net meer as vyf jaar tevore uit my (beskutte) redakteurskantoor gepluk het om die leisels van die Pers se koerante hier in die Kaap te kom vat.

Nog soeter musiek het enkele ure later gewag.  By die tradisionele jaarvergadering-middagete is die Pers se goue Phil Webermedalje aan my oorhandig vir  “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het.”

IMG-003

‘n Verrassing was dit weliswaar nie. Die nuus dat die prys na my toe kom, het Ton my vroeër in Londen telefonies meegedeel.  Toe die telefoontjie lui, was ek en Tokkie voor ‘n pub naby Piccadilly Circus.  Ons is terstond na binne om te vier.  Maar die decorum van die geleentheid en die bewieroking in die commendatio was vir die ontvanger ewe welgevallig as die nuus self. (Op die foto oorhandig Ton Vosloo die medalje aan die dankbare ontvanger.)

Soete musiek was die verdere verloop van die afskeidsproses met etes  (o.m. in Kaapstad, Johannesburg, Bloemfontein, Port Elizabeth, Stellenbosch, Worcester), toesprake, geskenke, vererings, briefies, selfs ‘n goeie Cabernet uit die Breedevallei met die naam Hennie van Deventer op die etiket.

Afskeide, soos begrafnisse, word gekenmerk deur kritieklose bewieroking.  Weens jou afwesigheid by eersgenoemde mis jy natuurlik al die mooi dinge wat or jou kwytgeraak word.  By laasgenoemde is dit anders: jy kan  elke woord opslurp terwyl jy hard probeer om nonchalant en beskeie te lyk!

Laat ek maar erken dat ek nie van sulke soliede stoffasie is dat lof nie vir my lekker is nie.   Vir die erkenning uit die monde van die redakteurs en bestuurders in my span had ek die grootste waardering –  ook vir spesiale gebaartjies soos Drukmedia SA se toekenning van een van sy eerste Genootskappe, en my ou koerant, Die Volksblad, se toekenning van die Bart Zaaimantrofee vir o.m. beginselvastheid, ewewigtigheid en billikheid. (Die koerant het ook ‘n Hennie van Deventertrofee.  Sou seker nie gedeug het om dit vir HvD self te gee nie!)

Die Volksblad se geskenk was ‘n enorme portretskildery deur Charl Marais. Dit hang in my studeerkamer naby die gewaardeerde karikatuur  deur Fred Mouton wat Die Burger my op ‘n ete in die klub Here XVII present gegee het.  Eiekestadnuus van Stellenbosch het my ‘n kis Fleur du Cap-cabernet geskenk wat in die Bergkelder Vinoterque vir my verouder sou word.  Iets het skeefgeloop. Toe ek dit oopmaak, was dit, helaas,  ondrinkbaar suur!

Veertig dae voordat ek op 15 Desember my kantoordeur op die 18de verdieping vir oulaas sou toetrek, het ek ‘n 40-dae-lapelwapen begin dra wat my seun, Johan, aan my geskenk het – heel oorspronklik, Natuurlik gegrond op die “forty days”- tradisie onder dienspligtiges in die weermag.

Op 9 Desember was ek vir oulaas ‘n gasheer by die Media-direksie-ete.  Onder die gaste was twee woonstelmaats uit die begindae in Bloemfontein, Ben van Rensburg en Willie Kühn.  Ook Wiets Beukes, destydse assistent-redakteur,  wat hom oor my ontferm het toe ek as groen studentjie einde 1958 vir vakansiewerk ingeval het, kollegas uit die Beeldjare en my uiters bekwame persoonlike assistent, Lizette Human.

Op my laaste dag op kantoor is in die Pers se eetkamer saam tee gedrink. Op inisiatief van Anet Pienaar (nou mev. Anet Vosloo) is ek verras deur ‘n versameling “Hennie van Deventers” wat my momenteel oorbluf het.  Daar was langes, kortes, dikkes, skrales. Baie selfs met rokke.   Anet het vir elkeen ‘n  mombakkies van my gesig gemaak.

Deur die dag het briefies en boodskappe op my gereën, van kollegas, studentemaats, ‘n Niemanklasmaat, my eie kinders en wie nog. Van Tokkie se ma, Marietjie van Wyk, ‘n allervoortreflikste skoonma, was daar ‘n kaartjie: “Geluk, Hennie, met wat jy bereik het. Ek is trots op jou”.  Ek kry ‘n vogtigheid in die oë as ek dit noem. Ouma Marietjie is verlede jaar net voor haar 99ste oorlede.

Die middag het ek vir regterhand Lizette tot siens en dankie gesê, my laaste persoonlike besittings gevat en die eiekhoutdeur van my kantoor gesluit.  Vir altyd.  Hennie van Deventer se loopbaan was verby.  Bittersoet was daardie besef op daardie oomblik.

Een formaliteit het oorgebly. Op 19 Februarie het die afgetredene ‘n rooi das geknoop en ‘n donker pak aangetrek vir sy afskeidsete in die elegante, koloniale Mount Nelson.  Ons het aangesit vir gerookte salm, peper-beeslende en appeltert, afgesluk met Vergelegen Vin de Provence en Nederburg Baronne.  ‘n Opdragskildery van Tafelberg deur Dale Elliot is aan my oorhandig. Ton het gepraat. Ek het geantwoord – seker te uitvoerig, soos gewoonlik. Lang David de Villiers het immers al gewonder of ek nie darem neig tot te langasem raak nie!

Nog mooi musiek gewees daardie aand in die Mount Nelson, ook in ‘n letterlike sin: die Die Drie Tenore het gesing. Hul liedere het hulle met soveel bruisende entoesiasme aangehef dat Jeff Malherbe, direkteur, dringend versoek het: Sagter asseblief!

Agterop die spyskaart was in my handskrif die volgende gedagte, ter finale afskeid:  “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uiitstekende tydsberekening wees!”

.