Jy blaai in die argief vir persgalery.

OUPA VOOR PAALTJIES

Oktober 3, 2017 in Uncategorized

Neville, Daan en HvD met ons pette.

“Hier het Oupa krieket gespeel.” Die brokkie was veral bedoel vir die ore van die 13-jarige tweeling Thomas en Jacob Claassens, aan die vooraand van ‘n driedaagse kriekettoer na Knsyna. Dit is geuiter terwyl die Kaapse Rooi Bus op sy mini-Skiereiland-toer verby Fernwood in Nuweland skommel. Met die detail het Oupa die seuns nie opgesaal nie. Dit hou hy vir sy bloglesers.

Fernwood was die bedrywige parlementêre sportterrein toe die uwe in 1964 en 1965 in die persgalery van die volksraad parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was. Onder die eike in die skadu van Tafelberg was heelparty tennisbane (Connie Mulder was op Saterdagmiddae een van die knap raketswaaiers) en, natuurlik, die skilderagtigste krieketveld wat ek ken.

Hoe dit gekom het, kan ek om die dood nie onthou nie, maar skaars het ek in die persgalery aangeland of ek bevind my saam met twee persgalery-kollegas in die parlementêre span vir ‘n wedstryd op Fernwood. Ons span het ook op plekke soos Groot Drakenstein by die Paarl wedstryde gespeel, maar meesal op Fernwood.

My kollegas was Daan Eksteen en Neville Krige van die SAUK. Parlementariërs in die span was o.a. sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, Ossie-Newton Thompson, LV vir Pinelands, wat later treurig in ‘n vliegongeluk omgekom het en Vause Raw van Durban. John Wiley, latere NP-minister maar toe nog LPR van die VP vir Simonstad, was een van die sterre.

Mense soos sir Div, Ossie Thompson en (meen ek) ook John Wiley het op Oxford of Cambridge in Engeland krieket gespeel. Van hulle was nie meer vandag se kinders nie. Ondanks hul jare was hulle dorings voor die paaltjies.

Die drie persgalerymanne was dalk veral vir ons flinke veldwerk in die span ingesluit.’n Keer het ek my so ingespan om ‘n vangskoot op die diepbygrens raak te vat (ek het!) dat my hemp se agterpant van bo tot onder oopgeskeur het. Ek was ook lief om te duik om vier te probeer afsny.

As aanvangskolwer teen Simonstad het ek wel hier ‘n hoogste loopbaantelling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie! My naam was daardie aand in die Cape Argus Late Sport – die eerste en enigste keer dat ek die sportblaaie van die dagbladpers gehaal het. Vir die grootste deel van my “marathon”-beurt was sir Div my kolfmaat; Groot Div en Klein Div het ons spanmaats ons genoem. Vermoed ons ooreenkomstige snorre het in die naamgeëry nogal ‘n rol gespeel.

Neville was, benewens goeie veldwerker, darem ook ‘n bruikbare snelbouler en Daan ‘n veelsydige speler wat stadige bybreke geboul het.

Middagetes onder die eike met topwyne om die keurigste kouevleis en slaaie mee af te sluk, was gedenkwaardig.

Selfs onvergeetliker as die tyd op die veld of voor die paaltjies was om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike en in die karaktervolle klubhuis politici soos sir Div beter te leer ken; nie net as gedugte kolfvennoot nie, maar as fyn mens en galante gasheer.

‘n Man uit een stuk gewees, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter. Toe kies die Nasionaliste Marais Viljoen. O wel.

Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en die wellewende twee SAUK-kollegas, Neville en Daan (albei al saliger), elk met ‘n krieketpet op. Dit is nie sommerso-pette nie; wel pette van die parlementêre krieketspan, net sonder die wapen van die parlement. Om dit te dra, was ons mediamanne nie beskore nie.

Die pette is oorhandig deur die kaptein van die span, Ossie Newton-Thompson, op ‘n “amptelike” plegtigheid in die parlementêre kroeg. Dit was nogal ‘n grootse gevoel om dit op te sit. Skat ek, Neville en Daan was dalk die enigste drie mediamense wat die eer ooit te beurt geval het. Die pet hang na meer as 50 jaar nog in die woonkamer op Melkbos op ‘n spesiale plekkie.

IN HEILIGE HALLE

Februarie 19, 2016 in Uncategorized

Die ou Volksraad. Dit word deedae o.m. vir opvoedkundighe toere ingespan.

In Januarie 1964, skuins na my 23ste verjaardag, het Alf Ries, politieke beriggewer van die Nasionale Pers, my, ‘n groentjie in die persgalery van die Volksraad, die verhewe plek gaan wys. Ek het klein gevoel toe ek die eerste keer afkyk op die groen banke waar die lede van die kabinet, die speaker en volksraadslede sit.

Elke keer as ek tonele uit die moderne nuwe parlement sien, soos met die rampspoedige sogenaamde staastrede, dink ek aan daardie waardige plek wat twee jaar lank my werplek was. Hoeveel respek het ek nie daarvoor gehad nie.

In my dag des lewens nie gedink tonele kan hom in 'n parlement afspeel soos ons op die skerm sien, en dat leiers so stamelend en onbeholpe kan optree soos die "agbare" Zuma of so onbeskaafd-onbehoorlik soos die ""agbare" Malema nie.

1-aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

…of vir vakbondvergaderings.

As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die formidabele dr. H.F. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die oud-stoker Ben Schoeman, Eben Dönges, Paul Sauer, Hilgard Muller en die opkomende ster, John Vorster – almal in my jong oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, P.W. Botha, het begin aandag trek. In die opposisiebanke was Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die strydvaardige Helen Suzman.

‘n Toespraak van ‘n karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging – altyd op die uitkyk vir ‘n geleentheid om ‘n kwinkslag kwyt te raak – sou ek vir geen geld misloop nie. Op ‘n keer is hy aan die woord. Dr. Jan Moolman (V.P., Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde, ” raas Speaker Henning Klopper van Parys, “die agbare lid moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Blaar Coetzee: “Staan op Jan, as jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”

Groot skrik het gevolg na ‘n HvD-scoop – nogal op Die Burger se plakkaat een Saterdagoggend – oor die onenigheid tussen ‘n Nasionale L.V. van Pretoria, Jan Visse van Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang toe oorgespoel waar ‘n paar geniepsige houe oor en weer gewissel is.

Toe die speaker in die koerant van die opstootjie lees, was hy nie geamuseerd nie Alf Ries ook nie. Drie lesse vir Van Deventer: die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie. Die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ‘t ware met gegrendelde deure. ‘n Jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie. Maar dit was blykbaar in my om gevaarlik te leef.

Scan10079

Drie kollegas met hul pette.

Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en twee SAUK-kollegas, Neville Krige en Daan Eksteen (albei al saliger) , elk met ‘n krieketpet op.

Doodgewone pette was dit allermins. Nee, dit was pette van die parlementêre krieketspan, deur ons drie met kolf en bal – en dalk veral ons flinke veldwerk – verwerf op die skilderagtige veld van die parlementêre klub Fernwood in Nuweland. As aanvangskolwer teen Simonstad het ek hier ‘n hoogste persoonlike telling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie!

Onvergeetliker was egter om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike politici soos die V.P.-leier, sir De Villiers Graaff, beter te leer ken; as gedugte kolfvennoot, fyn mens en galante gasheer. ‘n Man uit een stuk, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter.

Naskrif: Oor Helen Suzman het ek in my boekie Byl in my Bos in ‘n grafskrif o.m. die stelling kwytgeraak dat sy “die eerste vrou was wat ek teen¬gekom het by wie geen onder¬danigheid teenoor mans ¬bestaan het (of geveins is) nie”.
Dit was by terugskoue nie ‘n slim of sensitiewe stelling nie. Onder andere die joernalis Martie Meiring het my in haar resensie van die boek met mening gepak oor die “heel verouderde manlike chauvinisme”.
Wat haar ietwat laat vermurwe het, was my slot¬woorde: “Dit is die Helen Suzman vir wie ek ná haar afsterwe op die eerste dag van 2009 simbolies my eie vlag halfstok laat hang het.” Daarop was Meiring se kommentaar: “Die feministe sal hom genadig wees. Dis immers bekend dat baie van die veral Nasiona¬liste-parlementariërs ook vir eers soos Van Deventer gedink het en later ook hul vlag halfstok vir so ’n vrou sou hang, by wyse van spreke.”