Jy blaai in die argief vir ouma met slimfoon.

SAAM IN ‘N BUS

Januarie 31, 2017 in Uncategorized

In langer as sewe uur saamgebondel in ‘n bussie kry die passasiers kans om hul medereisigers vir koddige gewoontes, geite en giere goed deur te kyk.

Op ‘n rit van Kaapstad na George Vrydag het verskeie van die insittendes ‘n mens nogal geboei. Veral drie het ‘n onuitwisbare indruk gemaak: die prima donna met die slimfoon, die tante met die potplant en “Madam Matie”.

Duidelike wenner vir die boeiendste kameevertoning was die prima donna: ‘n blonde jong ouma wie se vingers net stil raak wanneer sy vir kort rukkies indut met haar gepelsde baadjie as kussing. Haar boodskap-bombardement op die seepgladde slimfoon was omvangryk.

Wat eerste van die nuwe passasier getref het, was die dralende, tranerige afskeid van haar dogter en twee opgeskote kleinkinders buite Somerset-Wes waar sy opgeklim het. Eers later sou dit blyk dat heelwat emosie ook opgekrop het oor die bus wat laat was. Sy was ontstoke dat sy “saam met haar kinders in die son” moes staan en wag.

Die bussie het die oggend op die heenreis weens swaar reën en opdammende verkeer al ‘n uur verloor. Daardie verlore uur was rampspoedig. Om in die Stellenbosse spitsverkeer op ‘n Vrydagmiddag verstrik te raak, is nie ‘n wandeling in die park nie. Het seker al 90 minute laat op Somerset-Wes stilgehou.

Jong ouma was net op die bus toe die vingers begin woel. Oor die kwelgeestige inhoud van haar kommunikasies is ek later deur ‘n medepassasier ingelig. Die instrument is naamlik teen so ‘n hoek gehou dat dit as’t ware teen my bron se neus druk.

‘n “Brander” – so het sy dit in opvolgboodskappe genoem – is eers na die eienaar van die busdiens afgeblits om hom in te lig wat sy van die “treurige diens” dink. Die “brander” is daarna ruimskoots met opgewonde vriendinne gedeel. “Reg so”, “vat hulle”, het die vriendinne se goedkeuring teruggestroom.

‘n Vriendin wat nie dadelik geantwoord het nie, is ongeduldig gekonfronteer: “Hoekom is jy so stil? Met wie praat jy so lank?” Ons ouma is duidelik nie ‘n meisie wat ingaan vir pyn nie.

Sommer by Riviersonderend al word ‘n nuwe rede tot ontsteltenis ontdek. Ons hou stil vir verversings en so. Van die toilette af terug bussie toe sien iemand met ‘n skerp oog net een van die kopligte brand. “Seker maar die oggend in die kwaai reën die gees gegee,” gooi die bestuurder wal. “Gelukkig darem net as die lig gedoof word.”

Weer ‘n “brander”. Weer opgevolg met ‘n koor van ondersteuning van welmenende vriendinne. Maar hierdie keer ook ‘n opdrag aan haar man op George: “Kom haal my op Mosselbaai, ek ry nie ‘n tree verder op hierdie bus nie.” Wat hy toe wel gedoen het – weet seker wat goed vir hom is en wat nie.

Jong ouma is in gietende reën met ‘n sierlike sprong na buite. Die res van die reis George toe minus haar was eintlik vervelig – een lig en al.

Maar nie voor nog ‘n stukkie drama kon sy haar ontvlugting-sprong spring nie. Net buite Swellendam keer ‘n grimmige verkeersman die bus voor. “Jou lig is dood”. Wonder bo wonder aanvaar hy die stamelende verduideliking.
Agterna is bespiegel dis die ouma met die slimfoon wat die bestuurder verkla het. As ons afgetrek is, was ons natuurlik vir die nag langs die pad in die reën vasgekeer, sonder iets vir die dors of ‘n plek om te piepie. ‘n Siddergedagte oor wat onbesonnenheid jou in die sak kan bring.

Ook vir onbedagsaamheid wil ek ‘n prys toeken. Hier was dit ‘n kop-aan-kop wedloop tussen die tante met die potplant en Madam Matie.

Laasgenoemde is een van die nuwe generasie Maties wat nie Afrikaans wil praat nie. Selfs Mosselbaai uitgespreek as “Mosselbaai” geval haar nie. “Mozzle Bay”, korruseer sy uit die hoogte.

Die bestuurder van die bussie het haar aangespreek as “young lady”. Dit verklap ‘n verstaanbare element van irritasie, meen ek. Ek sou haar graag as “madam” wou aanspreek. Verbeel haar sy is ene. Het ons waaragtig op Stellenbosch tien minute op haar laat wag. Eers hoeveel selfoonoproepe later, kom sy rustig aan, klim in sonder om boe of ba te sê (wat nog van “ekskuus”!) en strek haar slanke bene met die riempiesandale voor haar uit vir ‘n gemaksugtige res van die reis.

Sy wen die prys in my boekie. Die tante met die potplant is darem net-net geklop. Toe sy in Bellville inklim, korrel sy vinnig waar die beste TWEE sitplekke is: die een vir haar, die ander vir haar potplant. Eers toe sy op Swellendam afklim, kon die uwe en Tokkie gretig van die agterste bankie vorentoe skuif. Toe was hierdie ou man se boude darem al deurgesit op daardie agterwiel, hoor.

Ek kan darem ook ‘n positiewe rapport aan ‘n mede-passasier gee. Dit gaan aan die jong man van Hartenbos wat besef het die uitputting haal ons bestuurder in. Hy was immers al van 06:15 op die pad en moes reën, vragmotors, dooie lig en lastige passsiers trotseer, stomme man.

Toe hy later so aan sy kop begin vat-vat, kon ‘n mens agterkom die moegheid wil-wil hom oorval. Gelukkig sien die Hartenbosser langs hom ook die gevaartekens. Hy trek skielik los en babbel sonder ophou. Knap gedaan, jongeheer.
Ook punte aan die moederlike mevrou in die stoel net agter die bestuurder se stoel. Toe die Hartenbosser op Mosselbaai afklim, grawe sy ‘n bruin kardoesie biltong of iets uit haar handsak en tik die bestuurder op die skouer: “Sit die tussen jou bene neer.” Hy kon kou tot by George waar ons om 10: 30 aangekom het.

Vir die bestuurder was dit nog het einde niet. Hy moes nog terug Mosselbaai toe. Was seker teen middernag eers in die bed. Dan vertel hy hoe geseënd hy nou is ná vorige verblywe in die Vaaldriehoek (“kan nie jou kinders daar grootmaak nie”), Kimberley (“darem te warm”) en Bloemhof (“geen ekonomie”).

Wonder of hy nie ná ‘n uitmergelende 16/17 uur agter die stuurwiel op die Tuinroete na die rustigheid van Bloemhof verlang nie, gebrek aan “ekonomie” of te nie!