Jy blaai in die argief vir orpen.

DURENDE VREUGDE

Junie 24, 2018 in Uncategorized

Sestig jaar nadat hulle as onsekere eerstejaars in 1958 opgedaag het by Kollegetehuis – toe nog op Tukkies se hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou – het ‘n groepie veteraan-Kollegemane op ‘n nostalgiese safari van 17 tot 20 Junie in die knusse wildtuinkampie Orpen saamgetrek.

Die agt Kollegemanne van weleer – almal 75-plussers, party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir hul koshuis – het met groot vure en ‘n heildronkie of twee hul liefde vir Kollege betuig. Die stories, slimmighede, anekdotes en kwinksklae uit hul studentejare het van ‘n onuitwisbare kameraderie getuig.

Tussen die heildronkies het die Kollegelied, “Aan het oewer van de Schelftzee”, welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink. Rondom die kampvure het die gedagtes hul loop geneem na die die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

’n “Ienk” (eerstejaar) is behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons 1958-modelle moes gereeld voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Maar toe die ontgroening verby was, het ons behoort. Ons het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.

Daardie verbintenis leef tot vandag. Sewe jaar gelede al, in 2012, is daaruit ‘n eietydse tradisie gebore. Die ses rondawels van die primitiewe Balulekampie, naby Olifants, is vir die eerste veterane-saamtrek gehuur. Van 2012 af tot 2016 was elke winter ‘n Balule-“bosberaad” wat oor drie dae gestrek het.

Dalk die spesiaalste okkasie was in 2015 – Kollege se eeufees. Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.

In 2017 is ons Orpen toe. ‘n Spesiale Kollegekoek is laat bak. Op die gewone wit vanieljekoek in A4-formaat uit baasbakster Kristie Thompson van Skukuza se oond, was die beeltenis van Sarge Bourke, gedugte gelukbringer van Kollege.

Die besnorde polisieman wat 250 kilogram weeg, is in 1942 al deur ‘n vorige generasie waaghalsig geskaai uit ‘n voortuin in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom. Die beeld het langs ‘n tuinhek op aandag gestaan: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

‘n Kamee wat ons van die kennismaking met Orpen nie sal vergeet nie, is die nagtelike besoeke van die kolonie ratels wat kom aas het onder ons wildtuinkos. Twee-twee of alleen het die woelgeeste – met hul formidabele voorkloue van tot 5 cm lank en komplement van 32 dodelike tande – doelgerig en volhardend hul strooptogte op die ys-en koskaste geloods; gewoonlik in die nanag.

‘n Duitse toeris wou glo ná een so ‘n onderonsie weet of die liewe klein “honigdach” op Afrikaans dalk ’n “bliksem” heet. Sy buurman se verontwaardigde krete oor sy verlore biltong was met die b-woordjie deurspek! Die “liewe bliksempies” was vanjaar so bedrywig soo verlede jaar. Een is deur ‘n “akrobatiese” fotograaf afgeneem met ‘n boks Ultra-Mel onder ‘n motor!

By die uiters informele AJV (algemene jaarvergadering) langs twee lekker vuurtjies is gewonder of die jaarlikse heerlikheid volhoubaar is. Die beweeglikheid van die span pioniers is as ‘n moontlike struikelblok geopper. Ons gemiddelde ouderdom is minstens 77. ‘n Mislukte droom is egter verkieslik bo geen droom nie, soos my vrou, Tokkie, tereg herinner. Ons gaan vir seker probeer…

Ek wil byvoeg: Die durendheid van studentevriendskappe is een van die vele onverdiende vreugdes wat in my 77 jaar oor my pad gekom het. Watter voorreg om dit vanjaar weer in Orpen te kon voorsit – boonop vir die viering van ‘n leeftyd van onvergeetlike Kollegemanskap.

O KOEK, SARGE BOURKE!

Junie 30, 2017 in Uncategorized

Toe die agt Kollegemanne – kalwers van 1958 en 1959 – die week in die knusse wildtuinkampie Orpen die Kollegelied met dieselfde passie as toentertyd aanhef, kon jy sweer Sarge Bourke was self teenwoordig.

Die besnorde polisieman-gelukbringer was inderdaad – nou nie in sy betongedaante nie, dié weeg iets soos 250 kg – maar spoggerig in versiersuiker op ‘n ontwerperskoek uit die kombuis van bobaas-bakster Kristie Thompson uit Skukuza.

Met die simboliese sny van die koek (meer daaroor later) is Orpen 1 ingelui nadat die span die vorige vyf jaar in Balule, by Olifantskamp, saamgetrek het. ‘n Nuwe tradisie is saam met al die ou en geliefde tradisies gevestig van ‘n koshuis wat, heel gepas, in die jaar van die rebellie in 1914 begin het toe Kollege as derde gebou op die Tuks-kampus verrys het.

Die verhaal van die verbintenis met Sarge Bourke begin in 1942, ‘n driekwarteeu gelede. Kollegemanne het hom lank bespied waar hy in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom, langs ‘n tuinhek op aandag gestaan het: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

Een aand na ‘n mislukte “raid” op Damestehuis (die “Fant”) se gelukbringer is besluit om gekneusde Kollege-ego’s te salf deur ‘n eie gelukbringer te bekom. Die polisieman in Gezina het hom in verbeeldingryke gedagtes opgedring.

Met ‘n Chev-tweesitplekmotor met sy ruim kattebak is die konstabel in die nagtelik ure gaan haal. In doodse stilte is die tuin binnegesluip. Die ongeoorloofde verwydering het voorspoedig verloop hoewel ‘n paar manne effens in die hek vasgesit het. Die nagstilte is weens die onvoorsiene gebeure met allerlei krete en uitroepe versteur. Die eienaars was gelukkig vaste slapers.

Die ou was langer en swaarder as vermoed en die Chev se agterstel het omtrent op die grond gesleep. Ligdag het hy sy intrek in Kollege geneem. Hy het langs die omstrede “bank” voor die hoofgebou (met sy onbelemmerde uitsig op verbygaande asters) ‘n ere-staanplek gevind om van toe af ‘n wakende oog oor die tehuis se inwoners te hou.

Sy geskiedenis het allerlei kinkels. In 1946 is die polisieman – toe al bevorder tot die rang van sersant en weens onbekende redes die van Bourke toegeken – deur die Witsies kom steel. Hy is leedvermakerig op ‘n klein balkon op die eerste verdieping van College House op die Witskampus uitgestal.

In 1950 het vier Kollegemanne besluit: tot hiertoe en nie verder nie. ‘n Omvattende operasie is van stapel laat loop om Sarge Bouke te gaan ontset. Dit het o.m. ingesluit ‘n minder geslaagde fondsinsameling vir petrolgeld en die “leen” van ‘n vriend se pa se ruim Cadillac – danksy die welwillende medewerking van die vriend se liefdevolle moeder. Die Caddie was mooi groot genoeg. Dit kon boonop laat waai as dit moet.

Drie betroubare ienks is opgekommandeer en die sewestuks is oor Wits toe: ses om Sarge Bourke te dra en een om die Witsies se voertuie onkapabel te stel deur die vonkpropdrade uit te trek of die wiele af te blaas.

Die ses is op hul sokkies College House binne. Die deur na die balkon was gelukkig nie gesluit nie en Sarge ook nie deur die Witsies ge-elektrifiseer, soos die legende was nie. Hy is versigtig op handdoeke omgekeer en skuifelend die gang afgedra. Brandasem van moegheid en vrees, is hulle met die gewigtige vrag die trappe af. Die laaste entjie voordeur toe is die ou selfs skouerhoog gedra.

Skielik was daar amper moles. ‘n Baie vaak Witsie verskyn in sy kamerdeur, skynbaar op pad badkamer toe. Een van die Kollegemanne beveel met groot gesag: Go to bed, you Fresher – en hy gehoorsaam. Met hul laaste kragte, maar met pompende adrenalien, kon hulle die waardevolle buit in die Cadillac laai en Pretoria toe laat waai.

Vieruur die Saterdagoggend sit hulle die ou toe in die voorportaal van Kollege neer, maak kringetjie om hom en bulder die Tukkiekreet: A-ra-ra-ratio-Roera! Die kamerdeure vlieg oop. Kollege juig. Sarge Bourke is terug, Sarge Bourke is terug …!

Daar in Ou Kollege op die kampus het ons klomp hom 60 jaar gelede aangetref en altyd aan hom die nodige eer betoon. Toe ons in 1960 Proefplaas toe trek, is hy saam. By die nuwe tuiste het hy allerhande maatjies bygekry. Die “sarges” staan in ‘n gedenkboek van 1985 vyf in ‘n ry!

Maar vir ons generasie is die snorreman soos Bart Nel. Hy is nog hy. Hy leef in ons elkeen se hart. Daarom die koek en die seremonie waarvan ek mettertyd meer hier sal meedeel. Hou hierdie ruimte dop.

Junie 15, 2017 in Uncategorized

Kollegemanne aan’t kuier.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was behoorlik asof al die maanhare van die kontrei op die Balulekampie aan die Olifantsrivier toesak vir ‘n magtige klimaks om ‘n era af te sluit.

Elke winter sedert 2012, vyf jaar lank, het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis na die ruskampie van die wildtuin opgeruk om ou bande te verstewig. Elkeen van die vyf Balulekuiers was die okkasie vir drie dae se groot ure en dik plesiere om yslike vure; van herinneringe opdiep uit die laat jare 50 en die beginjare 60; stories vertel onder die lowerryke Laeveldbome en by die kampvuur; koningskos maak en hiënas uit die bos kuier.

Vanjaar skuif die Kollege-saamtrek na Orpen.

Balule V se laaste aand was verstaanbaar ietwat nostalgies. Daardie grootse finalé van die konings van die bos het die gordyn op dié gewigtige geleentheid dramaties laat sak. Ironies genoeg, het vegtende hiënas ons eerste nag in Julie 2012 ‘n dawerende voorspel opgelewer. Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie van die vyf jaar was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Selfs die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre. Ook die kikvorse het ophou kik vir die Kollegelied wat tussen die braai van die wors en die tjops rondom die gloeiende kole in die braaidrom uit volle bors onder die Laeveldse naghemel aangehef is: Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam …

Die ses Kollegemanne van weleer – almal tussen 75 en 80 maar met harte wat nog bons vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Sondag 25 Junie begin ‘n nuwe hoofstuk op Orpen. Agt Kollegemanne van daardie era daar trek saam: Vos Grey, Cas Jacobs, Pierre le Roux, Manie Steyn, Proppie Goosen Johan Bekker, Willie Paulsen en die uwe – en ons gades natuurlik. ie Bekkers en die Paulsens maak vanjaar hul buiging. Hoop hulle het die stamina …

Natuurlik sal Aan het oewer van de Schelftzee by ons nuwe tuiste ook opklink. Ek glo ons sal nog rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk.

Trouens, ‘n blink idee het reeds vorm aangeneem. Hou maar die ruimte dop.