Jy blaai in die argief vir olifante.

ORGAN SE FOTO

Augustus 23, 2017 in Uncategorized

Mense wat Sabiepark se piekniekplek ken, sal seker nie verbaas wees nie dat daardie seer geliefde stukkie grond aan die Sabierivier in my oë die heerlikste werkplek in die land is.

Die man wat daar die septer swaai, Organ Ongeni, se dag kan insluit ‘n leeuvangs vlak voor sy oë, ‘n trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete skielik swart spikkel. Soms kom soek ‘n luiperd sonnetjie of maak dorstige renosters ‘n draai.

Met ‘n kamera wat hy present gekry het, het Organ al ‘n indrukwekkende fotoportefeulje opgebou. Hy het hom in die neem van natuurfoto’s begin verdiep, en verras vriend en vyand met die voortreflike foto’s wat hy so tussen sy ander werksaamhede deur by die piekniekplek neem. Sabiepark se eienaars kan nie genoeg van sy spogfoto’s op hul Sabiepark-webblad kry nie.

Organ Ongeni.

As kind het hy een oog in ‘n spelery met maats verloor. So met die een oog, is hy egter vinnig om elke teken van lewe waar te neem, op ‘n goeie fotohoek te besluit en met ‘n ferm hand te fokus. Daardie ferm hand bied hy vriendelik aan as jou eie hand met die skielike aanblik van ‘n luiperd of ‘n leeu te veel bewe om ‘n goeie foto te neem!

Gister verras Organ my met twee pragtige foto’s op sy kamera: ek en gade Tokkie wat op ‘n gunstelingbankie sit en kyk hoe ‘n stewige teeltrop olifante wat in en langs die Sabierivier paradeer.

In amper 20 jaar het die Van Deventers kosbare Sabieparkfoto’s versamel. Hierdie is van die kosbaarste. Die twee oues op die bankie wat die grootvoete dophou, is treffend simbolies van die oneindige plesier wat die plek ons gee.
Die foto – amper se ek ikoniese foto – gaan beslis ‘n ereplek teen die muur van ons woonkamer by Wildevy 154 vind. Dankie hiervoor, Organ – ek skuld jou, my vriend.

Maar so spesiaal soos die foto vir ons is, is dit nie die enigste rede vir verskuldigde dank aan die piekniekplek se nederige, wellewende en altyd hulpvaardige baas van die plaas nie. Skoondogter, Mariza, het al daaroor geskryf, maar ek wil dit ook graag hier te boek stel dat Organ so goed is vir ons outistiese kleinseun, Migael (10), met sy sware vrag mediese probleme.

Die kombinasie van die rustige Sabierivier plus groot grasperk en gedugte bome) asook die meelewende Organ, self die vader van twee, het klaarblyklik ’n kalmerende invloed op die hiper-aktiewe seun. Hy sal doodgelukkig ure om saam met Organ blare ophark en ander takies verrig, terwyl sy pa, Johan, vir hom eiervrug braai. Vleis is een van die vele kosse wat, helaas, nie vir ou Migael beskore is nie.

In hul omstandighede is Sabiepark, en die piekniekplek, vir hulle ‘n ware toevlug as hulle in die somervakansie ‘n week of twee ‘n wegbreekkans kry. Gereelde uistappies piekniekplek toe is hoog op Migael se voorkeurlys.

“Oorgan is ‘n nederige man met ‘n sagte hart. Migael sien altyd uit om hom te sien. Hy maak altyd tyd vir Migael al is hy daarop gesteld om hard te werk om die piekniekplek so netjies en aantreklik as moontlik te hou,” meen Mariza.

Organ se buitengewone noemnaam kom van sy moeder se liefde vir musiek. Dalk is dit die rede dat hy foto’s neem wat soms ‘n Mozart-kwaliteit het – en dis ‘n pluimpie wat ek werklik bedoel.

OLIFANTE OM JOU STOEP

Julie 31, 2016 in Uncategorized

Tokkie by die stukkende vaalrosyntjie teenaan die voorstoep.

Tokkie by die stukkende vaalrosyntjie teenaan die voorstoep.

Nie OP ons stoep nie – genadetjie tog – maar by ons stoep, langs om stoep, teenaan ons stoep – daar het die jongste “anderster stoepstorie” hom verlede nag by Tarlehoet ontvou.

In die vorige blog vertel ek van die hiëna wat enkele dae gelede so skielik langs ons etenstafel opgeduik het. Toe teruggekeer het vir ‘n toegif. In Maart 2015 was dit ‘n luiperd se beurt op die stoep. Bobbejane neem ongemaklik dikwels die stoep op horings. Vlakvarke het ook al kom inloer.

Verlede nag was dit die ou grotes se beurt vir ’n inval. Tekens van die olifante se nagtelike strooptog is vandag oral: gebreekte bome en struike, bolle mis, spore in die sagte sand.

Bolle by die watergat.

Bolle by die watergat.

‘n Frisserige teeltrop het Sabiepark gister binnegedring – ook kleintjies. Hoeveel by Tarlehoet was, weet ek nie. Die verspreide skade en verspreide bolle verklap dit was meer as een. Die variasies in grootte van die mis getuig dit was grotes en kleintjies.

Eerste leidrade was ‘n aanhoudende nagtelike geritsel – as dit die regte woord is vir sulke groot lywe wat om jou huis beweeg. Ek het regop gesit op die bed. Later is ek, gewapen met die sakflitsliggie, skuifdeur toe om te probeer identifiseer wat ek hoor.
Maar die maan trek by laaste kwartier, onthou. Donkermaan is op die drumpel. En daardie flitsliggie moenie met ‘n soeklig verwar word nie. Sonder antwoord of vermoede is ek weer bedwaarts.

Tarlehoet se Olifantsdam.

Tarlehoet se Olifantsdam.

Vanoggend toe ons kerk toe ry, lê ‘n lang tak oor ons motorpad. Tokkie moet uitklim om dit te gaan skuif. (Wonder terloops hoeveel mense in Suid-Afrika – die wêreld trouens – moes vanoggend olifante se gemors uit die weg ruim op pad kerk toe!)

Toe bemerk sy die verflenterde vaalrosyntjie by die ingang – skaars twee meter van die stoep en net vyf meter van die skuifdeur van die gastekamer wat op die stoep uitloop. Die Honda se ligte val ook op vars bolle ‘n hanetreetjie weg.

Eers na kerk kon ons ‘n opname doen. Veral rosyntjiebosse het dit ontgeld. Reg rondom die huis is gebreekte bleekgeel takke wat van hul sappige bas gestroop is. Naby die vooringang is ‘n witrosyntjie uit die grond gepluk en ‘n klein dammetjie uitgedolwe. In die water is die tak van ‘n reuserosyntjie.

Die raasblare wat ‘n vorige keer deurgeloop het, is deur Tokkie en die arbeider Patson weer fatsoen gegee. Olifant se kind het daardie fatsoen doeltreffend verniel.

Agter die huis word ‘n klein appelblaartjie vertroetel wat deur die kinders met ‘n groot lepel daar geplant is. Die opgskote boompie word met ‘n ringmuurtjie van klippe beskerm. ‘n Groot poot is daarop neergesit.

Langs die swembad en by die watergatjie is klaarblyklik deeglik gekuier. Lyk ietwat na ‘n slagveld net twee meter weg van die muurtjie.

In Wildevylaan lê die bolle dik – ons straat lyk omtrent soos Pall Mall in Londen na een van die Engelse se periodieke seremoniële perdeparades.

Altyd rede om dankbaar te wees. Die “French drain” (wat is dit tog nou weer in Afrikaans?), watergat, Tokkie se aalwyne, die lapa’s (voor en agter) se paaltjieheinings en die kinders se dammetjie (met ‘n groot plastiekskottel uitgevoer) is ongedeerd.

Gelukkig ook die duur nuwe swembadseil.

Jare gelede was in Sabiepark ‘n dispuut oor ‘n heining tussen die park en die wildtuin of nie. Ek was pro-heining. Die parkhoof David Zeller was in die ander kamp. Dink net hoe lekker dit sal wees om uit die swembad vir ‘n olifante te sit en kyk, wou hy my oortuig.

Vanoggend het die gedagte by my opgekom hoe onlekker dit sou wees as die olifant in die swembad sou wees en jou met sy klein ogies vanuit jou eie speelplekkie begluur!

OLIFANTE, OLIFANTE, OLIFANTE!

Augustus 12, 2015 in Uncategorized

Op pad na die jaarvergadering.

Op pad na die jaarvergadering.

Om ‘n tema te kry vir ‘n voorlopige “oorsig” van 2015 se wintervakansie is nie moeilik nie. ‘n Mens kan maar net deur die logboekie by die piekniekplek blaai. Dis olifante, olifante, olifante op elke blad.

Plek-plek is tussenin inskrywings oor buffels, luiperds en leeus. Maandagoggend was ons net-net te laat vir ‘n leeujag. Vyf leeus het ‘n buffeltroppie van so 40 of wat bestorm. Die buffels het laat vat Krugerhek se kant toe, die leeus ‘n vaal streep agterna. As daar ‘n vangs was en ons betyds op die toneel aangekom het, het dit dalk my temaliedjie verander. Maar as is verbrande hout.

Hoeveel keer ek en Tokkie self olifant-vertonings beleef het, het ek nie opgeteken nie. Van die begin van die vakansie middel Junie kon jy gereeld by die piekniekplek olifante sien, hoor en selfs ruik. ‘n Keer of wat het dit gevoel of jy net jou hand kan uitsteek en ‘n ou aan die die skurwe slurp beetkry.

Troppe van meer as dertig het gekom en gegaan – ook ‘n hoop kleintjies. Meermale in die goue strale van die son; saam met die eerste skemerkelkies.

By die jaarvergadering op Saterdag 11 Julie het die fotograwe feesgevier. Hulle is op en af langs die heining met hul lang lense en het pragfoto’s geneem van die ou grotes wat deur die vlak water aan die westekant van die piekniekplek die Sabierivier in gelid oorsteek.

Foto’s is veral geneem saam met een nuuskierige ou wat die spulletjie van baie naby kom betrag het. In ‘n stadium gelyk of hy doodluiters op ONS bruggie op pad is na ONS skuiling toe.

Tweelinge is uiters skaars in die olifantgemeenskap, aldus kenners. Ons is redelik oortuig ons het enkele dae later ‘n olifant-tweeling by die piekniekplek sien kaperjol. Die twee spelerige olifantjies het te heerlik in die sand baljaar, in die riete wegkruipertjie gespeel (darem altyd na aan ma se beskermende buik) en in die water geplas. Nes kleingoed met emmertjies en grafies op die strand, meen Tokkie.

1-161-IMG_2757

Hulle is werklik nog piepklein. Die Sabierivier is op die oomblik maar laag. Ons “tweeling” kom egter skaars by die watermark op hul ma se lyf.

Skade het nie uitgebly nie. Die paaltjieheining om die loopgang na die voëlskuiling het onder meer in die slag gebly.

By die huis het Tokkie en Patson ook rede gehad om olifantbesoeke te onthou. Sommer baie bome en boomstruike, veral raasblare, is in die vorige winterbesoek platgestoot. Operasie Opruim het dae geduur. Uiteindelik lyk die werf netjieser en kan die wild weer vryelik hier beweeg.

Koedoes, sebras, vlakvarke, wildebeeste, duikertjies, bosbokkies en bloukuifloeries het gereeld by die watergat hul dors kom les. Een duikertjie lyk of hy aspirasies het om die nuwe Witnek te word. Ons sien hom dikwels. Sy mis lê die wêreld vol.

Die hiënas het, vreemd genoeg, nooit kom gesig wys nie. Wel spore in die sagte sand by die motorpad gesien en elke nag te midde van seekoeie en leeus se luide gebrul en gebrom hul roepe gehoor.

By die ingang in Wildevylaan pryk ‘n nuwe naambord uit hardekool, soos voorheen gemeld. Die oue is nou teen muur bokant die braaiplek op die stoep. Dit is deur die Claassens-seuns gerestoureer. Ons het ook ‘n “tuintjie” by die voordeur aangelê – net ‘n aalwyn of twee, ‘n paar stompe en ‘n dammetjie wat deur die seuns gegrawe is. Die dammetjie is met ‘n plastiekbad permanensie gegee. Die oudste impalalelie het vier blommetjies gestoot – die eerste keer.

In die huis en op die stoep is nuwe foto’ opgesit en oues rondgeskuif.

In die R900 se vuurmaakhout wat aan die begin laat aflewer is, het verskeie groot vure taamlike duike gemaak. Genoeg bly egter oor vir Desember as Johan-hulle kom– hoop ek!

Van hout gepraat. Jacob, Thomas en Christopher het mos elk ‘n renoster uit hardekool present gekry. Vir Migael wag hier ‘n soortgelyke vlakvark, ook kunstig deur Pios gekerf. Tokkie se hardekool-kershouer (‘n geskenk van Marisa en die seuns) word gereeld by etes, ens. ingespan. Verleen lekker atmosfeer.
Die uwe het twee nuwe name geleer: die neddikkie en die liguster. Eersgenoemde is van die tinktinkie-familie. Twee het in die pendoring by die voorstoep rondgespring (waar ook die nagapies elke aand buitengewoon aktief was). Die liguster is ‘n boom. Een staan by Skukuza se winkel. Engels: Transvaal privet.

Sien: Ons kom nie net vir die lekkerte Tarlehoet toe nie. Ook om kennis uit te brei.

(Olifant-ervarings het nie net by die piekniekplek op ons gewag nie. In die wildtuin iets gesien wat lyk doos ‘n droewe begrafnistoneel. ‘n Klompie volwasse olifante staan skynbaar rond hartseer rond en flap die ore om vyf klein olifantjies wat doodstiul tussen hul bene lê. Toe ons ‘n uur later weer verbykom, was almal weg – ook die “lykies”. Was gelukkig net ‘n oggend-siësta-tjie gewees.)

WELKOM IN DIE WILDTUIN!

November 14, 2014 in Uncategorized

 

044

In my boekie “Duisend dae langs die Sabie” raai ek besoekers aan die wildtuin aan om al te begin stadig ry en deeglik rond te kyk die oomblik as hulle op pad na die Krugerhek die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Dis opperste olifantwêreld daardie.

Jy sien die ou grotes op die walle van die rivier, in die riete, in die water, op die brug, as erewag vir Oom Paul rondom sy granietstandbeeld… Hulle waad deur die water, speel, skrum, voer slurpgeselsies of staan sommer vir kwaadgeld rond.

Seekoeie is natuurlik ewe volop. Jy kan ook buffels, leeus, luiperds en selfs renosters by die rivier sien voordat jy by die hek ingaan – ek het al.  Ons ry soms spesiaal brug toe van Sabiepark af om daar te gaan rondkyk.  Dikwels lewer die moeite ‘n rendement op.

Die foto hierbo is ‘n jaar of drie gelede geneem.  Vandeesweek het ek my foto uit die album gehaal, afgestof en vir die wildtuingeesdrigtiges op webwerwe soos Kruger National Park – Best Place on Earth, Kruger National Park Experiences en Kruger National Park History geplaas. FB-vriende soos Jurg Reynders en Lida Pressly het my aan daardie gawe inloerplekke bekend gestel.

Die foto was net op toe die “likes” op almal begin instroom.  Ek onthul nou seker my ongestofiskeerdheid met e-sake maar moet tog bely: My oë was op die skerm vasgenael terwyl die “likes” soos ‘n vuurpyl bly klim. Telkens is Tokkie met haar sompompie nader geroep.  Netnou weer. Toe’s die “likes” vlugvoetig verby 700.  Net op “Best Place” is dit oor 500.

Tot op hede was 100 in die HvD-konteks ‘n baken – iets soos ‘n honderdtal in toetskrieket. Maar 700 – dink nie ek sal in my dag des lewens weer by daarde syfer kom nie.

Vleiende kommentare het nie uitgebly nie. Dit het die ou man se oë des te meer laat blink.  Judith Farrel het byvoorbeeld uit Pretoria laat weet: “Must be so exciting to see them at Oom Paul’s statue when arriving at the gate! Your pic of the big elephant stepping on to the road at the Welcome to Kruger Gate sign must be the winning picture of the year.”

Wenfoto van die jaar – reken net!

Patricia Briotti-Ferreira,  klaarblyklik ‘n Duitse dame, se kommentaar is: “Wow, wie prächtig, ein riesiger Elefant.”

Meer as een het gereken dit kan ‘n goeie reklamefoto vir Sanparke wees. Een van diegene, André Potgieter, skryf: ” Ai Hennie dit kan ‘n puik advertensie word vir KNP. Bravo goeie aksie foto. Net op die regte oomblik afgeneem!”  Hoop ‘n Sanparke-amptenaar met ‘n dik tjekboek neem kennis!

Hoekom sou die reaksie so, vir my altans, oorweldigend wees?

Danie Pretorius van Sanparke meen “dis omdat ons almal wat lief is vir die Krugerwildtuin daardie Welkom-bordjie so goed ken maar nie noodwending met ‘n grootvoet in die voorgrond nie”.  Hy voeg by: “Die tydsberekening van die olifant en die kamera was perfek. Baie uniek!”

Dankie, Danie. Maar ek moes vinnig skiet, ou maat, sommer deur die Honda se voorruit.  Die ou grote was haastig op pad na die oorkant. Het ek geaarsel, was die foto verlore.  Dit is die rede vir die weerkaatsing onder.  Wens ek kon daarvan ontslae raak sonder om die foto so te sny dat die beweging van die voete verlore raak. Verkies egter die beweging bo ‘n weerkaatsingvrye foto.

Ek wil afsluit waar ek begin het: Die geil dierelewe buite die hek.  Dit help natuurlik dat ek en Tokkie weens ons Sabieparkverbintenis ‘n honderd keer of wat per jaar die park binnegaan (vir kerk, inkopies, om pos te gaan haal en nog wat).  Maar regtig: Te veel besoekers ry oor daardie brug met sy vrugbare oes aan wild sonder om links of regs te kyk.

OOM OLIFANT, JOU REUSEDIER

Oktober 5, 2014 in Uncategorized

Op die hoek van Wildevy en Apiesdoring. Ons loop elke dag daar as ons in Sabiepark is.

Op die hoek van Wildevy en Apiesdoring. Ons loop elke dag daar as ons in Sabiepark is. Foto: Kobus Mouton.

Sowat 2 000 kilometer van Sabiepark sit die uwe op Melkbos sy hart en vashou oor die toneel wat hy in Januarie in Sabiepark gaan aantref nadat ‘n trop olifante al vier weke gelede daar ingetrek het, ons bome karnuffel, ons watergate leegdrink en ook ander skades aanrig – wat alles sal ons seker eers later agterkom.

Kyk, ek bewonder olifante. Hierdie enorme diere openbaar verstand, persoonlikheid en ander eienskappe waarmee ek my gemaklik kan vereenselwig. Ongelukkig was die Afrika- olifant egter nie net voor in die ry toe grootte en massa uitgedeel is nie. Hy was ook in ‘n ander opsig voor in die tou: vernielsug.

Uit pure vermakerigheid en ekshibisionisme is hulle soms hartverskeurend moedswillig in hul disrespek vir bome. Dit hou ek teen hulle.  Gelukkig meen kenners darem die karnallies rig nie diep in die bos soveel skade aan as langs die paaie nie.

Dat olifante amok kan maak as hulle werklik hul gewig wil rondgooi, is uit die statistieke duidelik. ‘n Volgroeide bul weeg 5 000 kg tot 6 000 kg en ‘n koei 4 000 kg tot 5 000 kg.   Die massa van daardie oulike pasgebore kalfies wat vroue se se moederhart so steel, is ongeveer 120 kg. Olifante word nie verniet “grootvoete” genoem nie. Die deursnee van die voorpoot se spoor is omtrent 500mm. Geen ander poot kom naby nie.

Hoeveel eet ‘n olifant? Raaiskote wissel tussen 150kg en 300 kg in 24 uur. ‘n Realistiese skatting is so 200 kg per dag. Om soveel te verorber, moet die kakebene roer, hoor. ‘n Olifant vreet bykans 18 uit 24 uur! Hoeveel vloeistof word ingeneem?  Sowat 90 liter per dag. ‘n Dorstige olifant kan egter tot 350 liter op ‘n warm dag wegsit – ‘n taamlike swembad vol! In die somer word gewoonlik vroeg in die oggend of laat in die middag gedrink; in die winter om en by die middel van die dag. Olifante verkies natuurlike watergate waar hulle in die modder kan rol, swem en speel en mekaar kan onderdompel.  Die afwesigheid daarvan in Sabiepark frustreer hulle seker.  Hoop nie hulle haal hul frustrasie op my sement-watergatjie by my Sabieparkwoning, Tarlehoet, uit nie!

Olifante tou verby Arne en Ria Weiland se huis. Foto: Ria Weiland

Olifante tou verby Arne en Ria Weiland se huis. Foto: Ria Weiland

Om my gedagtes af te lei van die potensiële skade, wil ek vandag ook op die positiewe fokus. My eie waarnemings is maar net dié van ‘n doodgewone natuurliefhebber wat bevoorreg was om oor jare honderde der honderde olifante in en om die Krugerwildtuin dop te hou. Die waarnemings het my egter vas oortuig: hulle dink en maak planne.

Ek sou graag nog ‘n kwaliteit byvoeg – humorsin. Van my lekkerste glimlag-ervarings in die bos is te danke aan olifantplatjies wat met hul slurpe waterkanon-waterkanon speel. Veral seekoeie en lui ou buffelbulle, die sogenaamde “dagha boys”, word dan getreiter totdat hulle al proesende die hasepad kies. Iemand (mens of dier) met só ‘n humorsin is nie dom nie!

Waarvoor om dop te hou as jy gelukkig genoeg is om op ‘n kudde olifante (so tien tot 50) af te kom en van die geleentheid werklik ‘n sinryke, verrykende ervaring wil maak?

Ten eerste, sou ek reken, is om die sosiale struktuur te probeer ontrafel. Olifante se sosiale lewe is wesenlik matriargaal en ‘n basiese familiegroep word georganiseer om ‘n volwasse koei en haar kalwers van albei geslagte, of naverwante koeie en hul kalwers. Probeer die matriarg identifiseer en hou dop hoe sy die septer swaai.

Ten tweede, kyk hoe slim kommunikeer die ou grotes met mekaar. Hulle raak aan mekaar, beruik mekaar, krul hul slurpe om mekaar en steek selfs hul slurpe in mekaar se bekke. Hou ook die ore gespits vir ‘n gerammel wat klink of dit met spysvertering te make het. Dit het egter nie. Die klank kom uit die keel en word ingespan om boodskappe aan mekaar oor te dra. Olifante bring voorts ‘n soort “ultrasoniese” klank voor wat mense nie kan hoor nie, maar ander olifante tot twee kilometer ver se ore kan bereik.

Soms weet ‘n mens nie of olifante stoei, speel of sommer net gesels nie. Ek het al foto’s geneem wat ek dan as die begin van ‘n bakleiery vertolk het en dan weer as ‘n teken van sosiale verkeer. Tot vandag toe weet ek nie presies wat ek afgeneem het nie.

Dat baie sterk bande en ‘n buitengewone welwillendheid tussen olifante bestaan,  is egter ‘n feit. ‘n Beseerde dier kan daarop reken dat die die res naby sal bly ter ondersteuning. Jong kalwers word moederlik versorg, ook deur ouer susters en tantes. Dis soms komieklik om te sien hoe outjies sukkel om byvoorbeeld teen ‘n steil wal uit te kom. Die oueres bly egter geduldig en help met ‘n hupstootjie hier en daar om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry.

Jy sou sweer olifante praat en redeneer soos mense. Dit lyk meermale of hulle koppe bymekaar sit en na ‘n vinnige koukus op bepaalde optredes besluit. En as hulle speel, speel hulle met ‘n sorgvrye uitgelatenheid soos mensekinders.

Ek is al beskuldig van antropomorfisme. Na hierdie kroniek sal daardie verwyt seker weer kom – hoe aaklig tog!

‘HYGROMAN’ VAN OLIFANTE

Januarie 18, 2013 in Uncategorized

 

In die opbou tot die groot waters wat nou weer deur nuwe vloede deur die Wildtuin se hoofare – soos die Sabie – gepomp word, het die kwik hemelhoog geklim.

Op 10 Januarie het Sabiepark-eienaar Belinda Gillies op Facebook laat weet om 08:00 was dit op haar termometer reeds 31 grade.  Twaalf uur later, teen 20:00, was dit steeds 35 grade, aldus my nuwe skuilkamera teen die haak-en-steek by ons boshuis se  watergat.

Tot waar die kwik tussen 12:00 en 14:00 opgeskiet het, is ‘n saak vir diskoers.   Dat dit 40-plus was, is redelik seker.  Aanvoelbare temperatuur was volgens allerlei KNP-bronne iets soos 46 grade.

 Nietemin: dit was bloedig warm.  Dalk die warmste dag in Sabiepark in eie heugenis vir hierdie bejaarde ou lyf. Die withelmlaksmanne het met hygende oop bekkies op stoepe lafenis teen die versengende son kom soek. Troupante het op takke langs die pad sit en snak.

 Ons is die oggend met die Claassens-tweeling, Jacob en Thomas, Onder-Sabie toe. Vir ons moeite sien ons toe meer olifante in een oggend as ooit te vore – die noorde van die Wildtuinkangaan slaap.  Op die “dag van die olifante” leer ons toe ook ‘n natuurles:  hoe uiters hittesensitief die arme olifante met hul dik, skurwe velle is.  

 Oral in die benede-Sabie was blinknat olifante in troppe of een-een in die water, wadende, spuitende en plassende.  By die Sunsetdam was vier.  Op die Salitjepad was by haas elke watergat of suiping ‘n modderbad op volle dreef.

 Iets nuut vir hierdie olifant-bewonderaar was die saambondeling van klein gesinsgroepies onder sambreel-doringbome. Hulle staan soos ‘n swart muur in die skaduwee, die ore driftig flappende om hulleself en hul kleintjies af te koel.

 Een kleintjie op die Tshokwanepad was plat teen die grond in die selfgeskepte skaduwee tussen haar mamma se pote.  Ons dag die klein diertjie het aan hitte-uitputting beswyk. Toe bemerk Tokkie ‘n sprankie lewe. Ons sien ook hoe ‘n boetie of sussie, self skaars ‘n klompie bakstene hoog, met die slurp om die neergevelde olifantjie vroetel – duidelik in grote deernis, ter opbeuring.      

‘n Anderster soort ‘hygroman’ speel hom voor ons af.  

Omby Engels ‘n begrip te leen, dring dit op hierdie oggend, 10 Januarie, opnuut tot my deur waaraan die word  “pagiderms”  ontleen word:  die uiterste dik velle van drie tot vier cm sonder sweetgaatjies maar met ontsettend baie senuwee-eindpunte.

 Dis ‘n bloudruk vir hitte-belewenis op ‘n manier wat ons in ons lugversorgde motors nie kan snap nie.  Dit is ook die rede waarom olifante  baie lief vir water is  – om te drink en te speel. Bulle kan tot 200 liter per dag drink.

 Olifante verloor in baie warm weer tot vyf liter per uur – voggies wat broodnodig  is om die dik vel elasties te hou.  Hoe meer water ‘n olifant verloor, des te meer moet hy of sy natuurlik  inneem.

 Diep teue drinkwater wat direk maag toe gaan, word dan aangevul deur stortwater met die slurp op te suig en behaaglik oor die lyf te spuit. So speel hulle onderling, hou hulle aangename en welwillende sosiale verkeer in stand en bly hulle in uitmergelende toestande aan’t lewe.

 Die “dag van die olifante” was inderdaad ‘n dag in die natuur se klaskamer!

 

Naskrif:  Renosters is natuurlik ook “pagiderms” . Tussen Skukuza en Onder-Sabie het ons drie op die teerpad gekry wat duidelik – weens die watermerke en modder op hul lywe  – in die Sabierivier gaan baljaar het.  Gelukkig was geen stroper in sig nie!  

 

.