Jy blaai in die argief vir ohopoho.

OHOPOHO, HIER KOM “OOM”!

Desember 4, 2014 in Uncategorized

 

IMG-004

 

 

 

 

 


Altyd op die regte plek op die regte tyd omring deur die regte mense … Die Volksblad-redaksie rondom die 90’s.

 

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies.  Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders.  Die era van die “Oom” was ook  ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie.  As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd.  Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys.  Net terloops.

Hoekom die “Oom”?  Johan het vertel: “Ek het een keer net nadat Anneline Kriel Mej. Wêreld geword het op ‘n onthaal van die Troskies met haar gedans. Daarna sê sy toe: ‘Dankie, Oom. Dit was lekker.’ Terselfdertyd het die ‘Óom’ sommer gehelp om die ‘ek’ in die rubriek te systap.”

Johan het al in 1974 begin Stop skryf.  Daarna was hy ‘n tyd lank redakteur in Suidwes waar hy o.m. gemoedere beroer het met ‘n vermaning aan boere om van hul “vet wit gatte” op te staan.  Na ‘n kort(!) loopbaan as redakteur het hy as Stopskrywer teruggekeer.  Uiteindelik het hy in meer as 20 jaar by die 6 000 Stoppe geskryf – byna 19 miljoen woorde.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners.  Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie.  Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende.  Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue!  Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.

Johan vabn Wyk hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Johan van Wyk, hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.  (P.W. Botha, was nie een van sy “fens” nie. Hy het hom ‘n “skarmonkel” genoem.)

Sy tuiste, die “Republiek van Kafferrivier” was nie sommer uit die duim gesuig nie. Hy was inderdaad naby die destydse Kafferrivier ‘n melkboer, en het baie tyd (ook in “kantoorure”) op sy plaas deurgebring. Hy was bitter lief vir sy beeste en die grond maar het minder liefde gehad vir die “volkies” as hulle naweke “suip” en nie in hul babelaas-kondisie in staat was om die koeie te melk nie.

Wel denkbeeldig,  was al sy reise saam met Pik Botha, Nelson Mandela en wie nog die wêreld vol. Nadat hy oor só ‘n reis kamtig saam met Pik Botha na die Verenigde Nasies toe geskryf het, keer oom Christo Groenewald, oud-burgemeester van Bloemfontein, hom voor. “Man, ek’s bly om te sien jy’s terug. Dit was seker taai gewees.”  Johan het hom nie reggehelp nie..

Van sy uitdrukkings het so vasgeslaan dat hulle dadelik uitpop as ek aan hom dink. Elana Meyer, skraal Springbokatleet, het hy as die “tinktinkie met die groen boudjies” beskryf.  Perfekte beeld.  Onthou helder hoe hy altyd “vermom as ‘n potplant” uit die binnekamers kon skryf. En natuurlik sy beroemde “ohopoho”. Nou die dag weer self “ohopoho” uitgeroep oor ‘n ligte mistykie wat ek begaan het.

In 1984 of so had die eksaminators Transvaalse matrieks aan’t skarrel oor die betekenis van dié befaamde Stop-woord. Wat suggereer dit vir hulle, was die vraag in ‘n Afrikaans-vraestel. Skreeunaakse verduidelikings is skoorvoetend gewaag.

JvW se verduideliking: Ohopoho, het ‘n blinkners administrateur van Suidwes, A.J. Werth, moedeloos uitgeroep toe sy kar die soveelste keer in ‘n slaggat beland dat sy po……(dinges) deurstamp.  Toe word sy bestemming sommer Ohopoho … of Opuwa soos dit vandag heet.

Johan se vrye sê het hom by meer as sy redakteur in warm water beland.  ‘n Keer het hy ‘n vername arts en KP-politikus aangeraai: “Hef ‘n bedpan”.  Dié het dit gelees as bedoelende dat hy ‘n liggaamsfunksie moet gaan uitvoer, en het diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelsspreekende regter O. Galgut te oortuig dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel soos “Hef a ding-dong day” of “hef ‘n siegret”.  Aikona. Regter Galgut wou nie byt nie.

Oor kollega Johan van Wyk is ek nie uitgeskryf nie. Maar die blog raak lank. In ‘n sekere sin is die langasem-buiging gelukkig ‘n beskerming om my nie te waag op die glibberige veld van name uitsonder nie.  Karakters was egter volop.  Ek onthou elkeen met behae.

Soos ek my hele span met behae onthou, Sidwell en sy spannetjies bodes inkluis. Ook Grace wat so getrou die tee gemaak het.

Vir Jan Scholtz, ons skrynwerker-joernalis,  ‘n pluimpie dat hy my kantoor so deftig gemaak het met sy stinkhout en Birmese kiaat. Kyk net die foto hieronder. Ander kollegas sal my die spesiale vermelding sekerlik vergun.

vbd1Dan, vir heel oulaas,  ‘n stukkie spog oor ons indrukwekkende galery boekskrywers van daardie era, van wie Johan een was.  Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, voorste spanningstrio in Afrikaans, was gelyktydig kollegas. Dis merkwaardig. Chris Moolman, ook uiters aktief in daardie genre, is weg net voordat ek in 1980 by die voordeur van Voortrekkerstraat 79 ingestap het. Darem nie “omdat” nie!

Iets was in die water wat die mense in Bloemfontein ingekry het, of in die drukkersink wat hulle in Voortrekkerstraat ingeadem het. Ek dink persoonlik die ink-selletjies het hul bloed binnegedring en duisendvoudig vermenigvuldig.  As daardie kollegas hulle raakskeer, moet ‘n mens koes soos die ink in alle rigtings spat!