Jy blaai in die argief vir niemand fellow.

AAN DIE DIEP KANT

November 27, 2014 in Uncategorized

 

Desktop6

Goue Volksbladdae:  Herman le Roux,  Wiets Beukes en ekselwers in die swembad; Jaap Steyn in die hoofsubstoel, HvD met die koerant; HvD, Paul Marais en Ollie Olwagen raak stuitig.

 

As studentewerker by Die Volksblad is die 20-jarige Hennie van Deventer in 1961 aan die diep kant ingegooi. Ek moes swem dat die water om my ore spat.  Die Goudveldse verteenwoordiger, wyle Willie Coetzee, is met langverlof en die uwe moes waarneem.  Stoksielalleen.

‘n Storie wat in daardie “leerkurwe” uitstaan, is van ‘n stoker op die treine wat sy broer in die voordeur van hul huis met ‘n pistool gepot het oor onbehoorlike attensies aan sy vrou wanneer die stoker nagdiens doen om die pot aan die kook te hou. ‘n Doodskoot in die rug.

Onervare, doodbenoud, het ek aan die ouerhuis se voordeur langs die treinspoor gaan klop. Die treurende moeder het my binnegenooi en koek en tee aangebied.  Toe sy die doel van my besoek meegedeel is, het sy ‘n klomp foto-albums uitgehaal en vir my carte blanche gegee. “Vat wat jy wil”.  Wens ek het ‘n foto gehad van my plat op die vloer, omring deur foto-albums en met ‘n stuk sjokoladekoek in die hand!

Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.

Kollega Herman le Roux vertel die storie wat my dadelik “op die map gesit het”, is deur hom aangedra. Hy het by sy haarkapper gehoor van twee lyke wat omgeruil is.  Die vergissing is kort voor die onderskeie begrafnisse 100 kilometer uit mekaar ontdek. Drama. Lykwaens moes met die oorskotte na hul regte bestemmings jaag terwyl begrafnisgangers die wagtyd somber verwyl.

Die ouers en familie het soos sfinkse geswyg. Maar ek het die storie in Brandfort se kroeg losgewoel. Die kroegman was ‘n begrafnisganger en had die vermoë om ‘n storie in kleur en geur te vertel.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

Maar ek  moes weer aan die diep kant leer swem. My eerste dag in daardie stoel onthou ek as my swartste dag in die joernalistiek.  Die hoofsub het daardie tyd  ‘n uur of twee voor sy kollegas kom inval om solank die kopie vir bepaalde blaaie te sorter. (DV was ‘n middagblad.) Ná ‘n eensame uur het ek besef ek weet nie wat ek doen nie. Toe my voorganger, Jaap Steyn, twee uur later opdaag, was ek in ‘n staat van paniek.  “Jaap, neem oor,” het ek vurig gepleit.  Hy wou nie.

Toe ek wurgend uitkry: “Jaap, vat oor of Die Volksblad verskyn nie vandag nie, het hy die omvang van die krisis besef. Hy het oorgevat. Gebukkend gewerk. Nooit opgekyk nie. Die koerant betyds op straat gehad.  Die volgende oggend was ek terug in die warm stoel.  Sonder hik  het die eerste Volksblad met ‘n HvD-stempel betyds verskyn.

As nuusredakteur van 1967 af kon ek my ses vervullende jare as joernalis ten volle begin slyp. Die aardbewing in die Boland; die eerste maanlanding en Neil Armstrong se onsterflike woorde: “That’s one small step for a man, one giant leap for mankind”; die jintelman-kommunis Bram Fischer se hofsaak en vonnis; Jackie Kennedy se huwelik met Aristoteles Onassis; die Rosenkowitz-sesling; die Groesbeek-moord — dit is groot stories soos dié wat die nuusredakteur moet regvat en raakvat om nie deur mededingers onder die stof geloop te word nie.

In 1974 is ek na die nuwe dagblad Beeld toe as eerste nuusredakteur. Daardie koerant se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar.  Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd.  Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.   Tog was daar donker oomblikke soos die dag toe ‘n meisie op die voorblad pryk met ‘n skamele kostuumpie, as  jy dit so kan noem, waarmee sy by ‘n winkel skaamteloos die prys losgeslaan het vir die klant wat met die minste klere aan haar lyf opgedaag het.  By Beeld was algemene ongelukkigheid.  Ek moes mooi verduidelik die foto was nie die nuusredakteur se keuse nie.   Wie se keuse dit wel was, het nooit uitgekom nie.

Ek het daardie dag reikhalsend terugverlang Volksblad toe – ook weer die dag toe ek ‘n verslaggefster, Petra Pietesre, gestuur het om die Argentynse bokser Victor Galindez, bekend as “Die Dier” te gaan soen voor sy geveg teen SA se Pierre Fourie. Skitterende foto gewees. Maar die vroue in die redaksie was in opstand – diep in hul feministiese siele gekneus. Arme HvD had dit bra hotagter om gemoedere te kalmeer.

In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die wonderlike ervaring het sy eie eise gebring, ook vir my gesin.  Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys.  Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop.  Ek moes bontstaan in ‘n vyandige, liberale omgewing. Ook daardeur is ek enormlik vir latere verantwoordelikhede geslyp.

‘n Jammerte uit ‘n persoonlike en loopbaanhoek is dat ‘n skof in die Londense kantoor weens gesinsomstandighede verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was klaar bespreek toe ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer word.  Pediaters het ons aangeraai om liefs nie in die uitdagende nuwe situasie die vreemde aan te durf nie.     Ook in latere fases van my loopbaan het ek gesinsomstandighede voorrang gegee in my besluite. Ek is nie spyt nie.

Ns. Later skryf ek  oor my terugkeer na Bloemfontein in 1980 – nou as redakteur van daardie gerespekteerde dagblad in die hartland.