Jy blaai in die argief vir nancy oosthuysen.

HULDE AAN “NANCY O”

November 26, 2019 in Uncategorized

My hulde vandag by die viering van kollega Nancy Oosthuysen se lewe by die Durbanville-gedenkpark:

“Nancy was Jan se vrou Nance, sy was Marina en Elsabe se ma Nancy, sy was Fred se skoonma Nancy, sy was Lexi en Christian se ouma Nancy. Sy was ook die Volksblad-familie se kollega Nancy.  So deel van die koerant, soos ink en papier, soos Nissa Vosloo dit sekuur stel. Opregte waardering dus vir die uitnodiging om haar vandag ook uit hierdie perspektief – die pers-perspektief – met ‘n laaste eresaluut te vereer.

“Hoekom heg ons koerantgarde aan Nancy Oosthuysen soveel waarde? Natuurlik oor ‘n marathon-loopbaan vol onderskeidings.  Sy het net bly inploeg en inploeg, al doer uit die jare 50. Ons eer haar ook vir iets anders: haar magnetiese manier om in almal se harte te kruip. Sy was ons kameraad. ‘n Rotsvaste steunpilaar. ‘n Warm uitreik-mens wat jou altyd sommer net laat voel het: die ondermaanse is darem ‘n gawe plek om te vertoef!

“Nà ‘n skof van meer as 30 jaar se uitblinker-diens onder die Volksblad-sambreel het Nancy in 1996 afgetree. Op 2 Mei 1996 het ek uit die Kaap vir haar in ‘n brief geskryf: “Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie in ‘n warm stoel in die subkantoor nie.” Ek het bygevoeg, en ek haal net twee of drie paragrawe aan (want Nancy was nooit lief vir lang gedermtes en lastige oorlope nie!):

“ ‘Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot sy hoogtes vandag. ‘n Mens wens jy kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (vir die oningewydes: dis opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy  …  (hierdie is belangrik) … ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het.

“‘Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens bied. Ons groet ‘n kollega soos min –  klein van gestalte maar groot van formaat.’

“Amper ‘n kwarteeu het verloop. As ek vandag vir Nancy weer ‘n tot-siens-brief moes skryf, sou ek vrymoedig alles in daardie skrywe van Mei 1996 kon herhaal.   ‘n Sterk naskrif sal egter moet bykom.

“Ja, inderdaad,  Nancy O – my kodenaam vir haar – was knap, dinamies, lojaal, propvol idees, deurgaans hardwerkend, pligsgetrou, kordaat, ferm en verbind tot kwaliteit – “alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag”, soos ek in Media24 aan haar hulde gebring het.  Maar Nancy was meer as net die somtotaal van hierdie lys voortreflikhede.

“Sy was ook ‘n uiters meelewende mens. Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, het haar belangstelling in die koerant en sy mense – háár ander familie  – nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – jonk en oud – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra. Selfs kinders en kleinkinders van kollegas het sy gekoester.

“n Tydgenoot, die letterkundige Jaap Steyn, ‘n verbete vrygesel, het haar in sy boek “Sonkyker” beskryf as “beeldskoon” en “immergroen”.  Die liewe Jaap kon, terloops,  gerus eienskappe soos “sprankelend”, “stralend”, “pikant” en “sjarmant” bygevoeg het, maar uit die lierwe kollega se mond kom, bygesệ, nie dikwels romantiese vleitaal nie.

“Ek leen by hom die beskrywing “immergroen” Nancy was een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid (soms ook ‘n tikkie ondeundheid en parmantigheid!)  dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om vir altyd jonk en fleurig te bly.  Helaas bly daardie geheim onontrafel en ‘n ewige jeug ‘n onbereikbare droom. Die sware dag het onvermydelik aangebreek. Op ouderdom 84 moet ons ons swaargewig-buks vir oulaas groet.

“Verskeie generasies is by hierdie gelentheid verenig daarin dat die vlag in hul harte uit liefde en respek halfstok hang. Dit sal vir lank nie weer vrolik kan wapper nie”.

ONS GROET ONS GENERAALTJIE

November 20, 2019 in Uncategorized

Ons sakformaat-generaaltjie het ons ontval en in die harte van Volksbladmense van verskeie generasies hang die vlag uit liefde en respek vandag halfstok. Nancy Oosthuysen (84) was  fyntjies en kleintjies van postuur. Haar bydrae daarteenoor was enorm. Sy was knap, kordaat, lojaal, hardwerkend, propvol idees  – alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag.

‘n Mens wens jy kon haar loopbaan statisties in perspektief plaas: deur byvoorbeeld hoeveel voorblaaie met impak uit haar skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld sy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel jonger kollegas sy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het. Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld bied van haar diens aan Volksblad.  Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet jy egter maar op aanvoeling staatmaak. Myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van statuur.

Van Nancy – wat  vandag  op 84 oorlede is  – het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas.  Jaap was nie verkeerd nie. Hy het net die tydsduur onderskat.

Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, was sy een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om jonk te bly. Haar belangstelling in die koerant en sy mense – haar mense –  het nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – selfs enkeles wat nou nog in diens is – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra.

Dit was vir die Van Deventers ‘n vreugde om die laaste klompie jare hier in die Kaap die Bloemfonteinse konneksie voort te sit. Ons het altyd in ‘n gees van kollegialiteit lekker saam met die Oosthuysens gekuier en herinneringe oor die goeie ou dae opgediep. Die leemte sal lank ‘n diep seer wees.