Jy blaai in die argief vir murrayfield.

EK WAS DAAR!

September 19, 2017 in Uncategorized

In my boek “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedoodkoerantman” hou ek my lyf onder meer rugbyskrywer – Herman le Roux en Frikkie van Rensburg skuif op!

Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel, vertel ek in ‘n hoofstuk oor Murrayfield en daarna.

Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se score, place en drop op Loftus – natuurlik was ek op die paviljoen. Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig, was ek natuurlik een van die voetstampende juigendes op Ellispark.

Ek hou my lyf ook boksskrywer – vertel van smaaklike onderhoude met ons twee bul-swaargewigte van die 70’s, Gerrie “(Seer handjies”) Coetzee en Kallie (“Bek van Boomstraat”) Knoetze. My bokservarings is egter van beperkter omvang as my rugby-ervarings. Net een swaargewig-boksgeveg bygewoon: op Loftus: Gerrie teen “Big John” Tate van Amerika.

Vroeg in 1979 het Gerrie Leon Sprinks in Monaco met ’n tegniese uitklophou verslaan. Verwagtinge was hoog. Maar Tate het ons held op Loftus opgedons.

Oor krieket skryf ek nie in “Laatoes” nie. Wel in Februarie 1970 vyf dae saam met Frikkie van Rensburg langs die die Wanderersveld in Johannesburg gesit toe die Bokke (ja, nog nie Proteas nie) die veelgeroemde Australiërs se neuse met 307 lopies in die derde toets in die grond gevryf het om die reeks te beklink.

Ek onthou wonderlike kolfwerk van Graeme Pollock, Barry Richards en Eddie Barlow. Peter Pollock en Mike Procter se blitsballe was vir die Aussies een te veel.

En atletiek? Een naam staan groot oor my atletiekervarings geskryf: Zola Budd. Hoeveel keer het ek nie die skaam, kaalvoetatleetjie op die Vrystaatstadion wondertye sien opstel in die 80’s nie! Sal darem ook nie vergeet hoe naelloper Sep Serfontein vir Tukkies Dalrymples gewen het nie, o.m. op Coetzenburg.

En ja, ek was in 1952 by die Van Riebeeckfees in Kaapstad op die paviljoen toe meisies soos Nederland se Fannie Blanckers-Koen en ons eie Daphne Hasenjager die baan aan die brand gehôl het.

Voor die radio was my plek nooit leeg as ‘n Suid-Afrikaner boks (kapokgewig Vic Toweel se verowering van die wêreldtitel onder meer) of die Springbokke rugby of krieket speel nie. Selfs vir rofstoei nadergeskuif: Willie Liebenberg teen “Sky High Lee” en daardie snare.

Ai, die nostalgie wil hierdie ou al weer oorweldig.

SPRINGBOKGLORIE

September 18, 2016 in Uncategorized

93318

Ek was 10 jaar oud en in standerd vier (graad ses) aan Port Natal in Durban toe ‘n vlammetjie in my aangesteek is wat ses en ‘n half dekades lustig gebrand het. Daardie vlammetjie begin nou flou raak. Uitbrand is sy voorland, vrees ek.

Ek praat van rugby.

In Julie 1951 is die Springboekproewe op Nuweland gehou vir die kies van ‘n toerspan na Groot-Brittanje en Frankryk. Uit die bloute het ek die berigte in die Natal Daily News begin lees, en meegevoer geraak.

Teen die tyd dat die span aangekondig is, was ek ‘n entoesias. Maak my nou nog in die nag wakker, en ek sal daardie span van Basil Kenyon (later die span van Hennie Muller weens Kenyon se ernstige oogbesering) van die heelagters. Johnny Buchler en Jakkals Keevey tot by die agtstemanne, Muller en Kenyon, aframmel.
Ek kan geen ander span sedertdien so opnoem nie.

Die toer van vier maande het ek getrou gevolg, in die Daily News se kolomme, maar ook oor die radio in ons sitkamer in Botanic Grove in Berea. Elke wedstryd was ek voor die radio vasgenael. Toe my helde in die tiende wedstryd op toer teen die Londense Graafskappe vasval, was ek in trane.

Terwyl die minute aftik en die Graafskapspan hardnekkig aan sy voorsprong van 11-9 vasklou, het ek angsbevange al rondom die huis gehardloop. Na elke rondte het ek net gou kom luister. Dan kry ek weer koers. Die verlies van die simboliese Bok-kop wat destyds tradsioneel aan die eerste wenspan oorhandig is, was hartverskeurend.

Van ’51/’52 se toerspan onthou ek nie net die span se name nie. Ek onthou ook die uitmuntende prestasielys: 32 wedstryde gespeel, 30 gewen, een verloor. Punte vir 562. Punte teen: 162. Ek onthou veral ook die uitmuntende sege van 44-0 oor Skotland op Murrayfield.

Dit was die grootste toetsoorwinning tot op datum. Die onstuitbare Bokke het nie minder nie as nege keer gaan druk. Onthou, ‘n drie was toe inderdaad net ‘n drie; nie ‘n vyf soos nou nie.

Een van die mooi stories wat agterna oor die roemryke sege vertel is, was die een van ‘n Skotse ondersteuner met ‘n yslike roset voor die bors. ‘n Verbygaande tremdrywer sou aan hom gevra het: “Wat was die telling?”
“Ons het met 44 – 0 verloor en ons was vervlaks gelukkig om nul te kry,” was sy spitsvondige antwoord.

Uit daardie toer spruit my lewenslange helderevereing vir Hennie Muller – Hendrik Scholtz Vosloo Muller, die “Windhond”. Was daar al ooit weer ‘n vernietigende agtsteman soos hy?

Nie net Hennie Muller nie, maar elkeen van daardie Bokke het die rugbyvlammetjie in my aangesteek. Self was ek maar ‘n middelmatige speler – derde liga in Pretoria was vir die vinnige maar skytbang vleueltjie die hoogste sport – maar as ondersteuner was ek in die eerste liga.

Agter toetse aan is ek derduisende kilometer per motor of trein. Ek het snags tougestaan vir kaartjies by Loftus en Ellispark. Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel. Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se glorieryke oomblikke op Loftus – natuurlik was ek op die paviljoen. Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig – natuurlik, was ek een van die voetstampende juigendes op Ellispark.

Op hoërskool al was ek so ‘n rugby-verslaafde dat ek in matriek daaroor slae gekry het. Ek en matriekmaat Willie Hartzenberg (later regter Hartzenberg) het uit die koshuis geglip en van Potchefstroom na Klerksdorp geryloop om die eerste span teen Klerksdorp Hoër te gaan ondersteun. Terug, het ons gesukkel om ‘n geleentheid te kry. Johan Claassen, groot Springbokslot, was die onderwyser aan diens in Jack Pauw-koshuis by Volkies. Hy het my en Hartzenberg gelooi.

In Pretoria was ek (Kollege se huisvoorsitter) en wyle Willem van Niekerk (Sonop s’n) van die weinige Tukkies wat weekdae agter Tukkies se tweede span aangery het. Albei van ons was ietwat luidrugtig en vrypostig met ons kommentare. Een middag op die Polisieveld moes dieners ons tussen moerige kollegas deur na veiligheid begelei.

Nodig om nog te vertel? Ek glo nie. Dalk is die punt eerder bereik om ‘n belydenis te maak. ‘n Sware belydenis dat rugby besig is om hierdie entoesias te verloor. Helaas. Die vorige Saterdag toe Adriaan Strauss se span teen die Wallababies vasgeval het, was ek in die Weskuspark om blommetjies te kyk. Net met ‘n halwe oor oor die radio geluister.

Gister, met die slagting van Christchurch, was ek wel voor die kassie. Maar toe die All Blacks die krane begin oopdraai en die Bokke al hoe meer begin steier en vervaard rondtas, het ‘n onbeskryflike afsydigheid my beetgepak. Ek kon nie meer “worry” nie. Trouens – ondenkbaar soos dit klink – wou-wou ek soms iets soos lekkerky, ‘n vreemde soort “schadenfreude”, belewe.

Die vlammetjie wat in 1951 aan die brand gesteek is, flikker waaragtig gevaarlik laag. Die Bokke van ’51/’52 het in my lewe ‘n dimensie gebring wat vir dekades groot vreugde en opwinding gesorg het. Die Bokke van die laaste jaar of drie het daardie ou vlammetjie tot skaars nog ‘n gloeiende kooltjie gereduseer. Die Bokke van 2016 dreig om dit heeltemal te verdoof.

Dis eintlik ‘n verskrilike hartseerding wat besig is om hierdie ou oor te kom. Maar soos hulle op zign goeie Latyn seg: Sic gloria transit mundi. Die ou glorie glip verby. Ek sien dit voor my oë gebeur. Dis pynlik. Maar ek is ook dankbaar ek kon Springbokglorie beleef soos ek wel het.