Jy blaai in die argief vir melkbos.

KLINK ‘N OTTERMAKLOTTERTJIE!

Augustus 16, 2017 in Uncategorized

Lorinda se otters.

Die Krugerwildtuin bestaan natuurlik uit veel-veel meer as net die Vyf Grotes, algemeen bekend as die Groot Vyf. In van jou beste wildtuin-ervarings figureer soms nie eens een van die grotes nie. Meermale sommer doodgewone ou diertjies soos otters.

In die amper 20 jaar dat ek en Tokkie al Sabiepark toe kom – ons trek nou seker by ons 50ste vakansie hier – het ek al iets soos 15 albums vol foto’s van dieretonele, kuiertjies by kampvure en dies meer. ‘n Foto van otters ontbreek.

Ek sal spreekwoordelik my voortande gee vir ‘n vrolike otterfoto soos die een hierby. Lorinda Steenkamp, amperse buurvrou in Wildevylaan, het die foto Saterdag by die piekniekplek geneem.

Ek sal, terloops, my voortande plus die een of ander premie gee vir ‘n foto van ‘n ietermagog. Anders as otters het ek daardie gedierte nog net in museums gesien. Otters het ek wel al by die piekniekplek gesien, die eerste keer in 2001.

In my Sabiepark-verslagboek nommer drie (nie te verwar met ‘n foto-album nie) het ek op 2 Augustus 2001 die volgende neergepen: “By ons piekniekplek het ons ‘n otter met ‘n vis in sy bek vinnig stroom-af sien swem. ‘n Seekoei se gramskap is duidelik gewek deur die lastige rusverstoorder.”

Niggie Susanet Smith wat by was, het in haar stukkie in dieselfde boek die volgende kwytgeraak wat my laat wonder presies wat sy bedoel het: “Ek hoop net die vis in die otter se bek neem nie later nog onbekende afmetings aan nie.” Ek raai ons vis het, soos die vis in baie vistermanstories, ook al hoe groter geword soos ons vir mense daarvan vertel het.

Nog iets waaroor ek gewonder het, is of Lorinda se otter dalk ‘n kleinding (agter-kleinding?) van ons otter met die vis in sy bek kan wees.

In Riëtte Conradie se heerlike diereboek “Aardwolf tot Ystervark” lees ek ‘n aanhaling wat skynbaar korte mette van daardie teorie maak. “The otters, as a family, are gregarious, affectionate, inquisitive, happy-go-lucky, cheerful, easy-going clowns; roving gypsies of the wild”, skryf Bruce Kinloch.

Swerwer-sigeuners? As mnr. Kinloch se beskrywing in die kol is, is dit seker onwaarskynlik dat een familie 16 jaar lank – die hele leeftyd van die patriarg of matriarg – in dieselfde omgewing sal vertoef.

Maar dan: die Sabierivier soos dit hier voor Sabiepark verbykabbel Mosambiek toe, is nie sommer enige omgewing nie. As ek ‘n otter was, sou ek dit waarskynlik ‘n absolute voorreg geag het om my kinders nêrens anders nie as juis in hierdie idilliese dierehemel groot te maak.

Dis vir my ‘n romantiese ding om te glo die otters wat Lorinda Saterdag afgeneem het, en die otter wat ek in Augustus 2001 voor my sien verbyswem het, dieselfde stamboom het.

Ek drink laat vanmiddag by die piekniekplek een of twee ottermaklottertjies op die gesondheid van ons ottertjies (noem hulle die mustelidae sabiparki). Mag hulle en hul nageslagte nog lank en gelukkig hier in onse waters kerjakker.

Van die Vyf Grotes gepraat:

My en Tokkie se jongste ervaring met die vyf is nogal vermeldenwaardig, meen ek: het al vyf die laaste week by Sabiepark se piekniekplek gesien. In net vier besoeke.

Op 8 Augustus. so teen 13:30, drie van die Grotes gelyktydig gesien: leeu, olifant en buffel. Op 12 Augustus die legendariese luiperd van die kontrei, Vin Diesel, met sy nek soos ‘n vaskopstut, en ‘n dag later, op 13 Augustus, ‘n renoster, sy maag swart van die modder.

Ons het al voorheen die vyf daar gesien, maar in so ;n kort tydsbestek? En in net vier besoeke? Nie eens naastenby nie.

Net die olifant het werklik naby gekom. Een het hom boeglam geskrik toe hy die mense so naby sien. Die ou het verontwaardig, trompetterend en met wapperende ore onder die bruggie waarop ons gestaan het, deurgestorm.

Twee dinge gehad om die aand te vier: die proewe van my boek Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman het vroeer die dag opgedaag.

ROTS-BALLERINAS

Augustus 5, 2017 in Uncategorized

Die klein klipspringer is nie om dowe neute nie as die ballerina van die rotse bekend. Die bokkie klouter op die punte van sy hoewe se kloutjies rats tussen die klippers rond. Hou dus gerus maar by ‘n rotsagtige heuweltjie stil. Bekyk die wereld rustig deur ‘n verkyker. Iewers sien jy dalk die profiel van die elegante bokkie met sy growwe, swart gespikkelde, bruingrys pels.

Het wel self al in die Krugerwildtuin een gesien wat stil soos ‘n standbeeld op ‘n padpredikant langs die besige H4-1-teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie staan, asook tweetjies in die middel van die H-10 tussen Onder-Sabie en Tshokwane, naby die Nkumbe-uitkykpunt, waar die uitsig van 180 grade ‘n kameelperd onder op die vlaktes van die Laeveld tot ‘n blote stippeltjie reduseer.

By die seldsame “standbeeldjie” naby Onder-Sabie het ek die oggend my voertuig heen en weer gemaneuvreer om die beste hoek vir ‘n foto te kry. Nie verbasend nie, het algou ‘n ander ryding propvol Wildtuinbesoekers langs my ingetrek. Die bestuurder het sy venster laat sak en hoopvol navraag gedoen: “Wat sien jy?”

Toe ek na die beweginglose klipspringertjie op die padpredikantjie beduie, het die man verontwaardig gesnork. Met ‘n “net nog ‘n blerrie bok” deur stywe lippe gepers, is hy haastig weer vort. Aan daardie insident het die boskamp Boulders se klipspringers my pas op ‘n baie spesiale manier herinner.

Boulders is, soos die naam aandui, tussen koppies met stapels rotse gebou. Sy skouspelagtige braaiplek is trouens teenaan ‘n steil rotswand. Klipspringers doen gereeld daarlangs hul rotsballet. Telkens kom die opgewonde uitroep uit daardie koers: “Klipspringer”. Dan gryp jy jou kamera en laat vat braaiplek se kant toe.

Op my eerste besoek het ek tussen die takke van die seringe deur ‘n paar foto’s van klipspingers gekry, en nou weer op die tweede ook, al is die bokkies taamlik skugter en kies hulle vinnig die hasepad as hulle onraad vermoed.

Laatmiddag op ons laaste dag in die salige kamp gebeur egter ‘n verrassende ding. Drie bokkies verlaat hul skuilplek tussen die rotse en kom in ‘n bospaadjie aangestap in die rigting van die dek waarop almal vergader is om ‘n ogie op die bedrywige watergat te hou.

Woerts, spring hulle op ‘n groterige alleenrots waar almal hulle mooi kan sien. Hulle staan in ‘n netjiese formasie met hul koppies na ons kant toe gedraai, amper asof hulle vir ‘n spanfoto poseer.

Toe gee die voorste enetjie, ‘n rammetjie met fyn horinkies, ‘n frisserige sprong. Dit word dadelik duidelik wat sy bestemming is: die natuurlike klip-voëlbadjie teenaan die die gebou, waar die kleurryke dassievoëls en ‘n nimmereindigende stroom blousysies hul dors kom les, saam met die bloustert-akkedissies en ander resident-gediertetjies.

Klipspringers is nie vreeslik afhanklik van water nie, het ek iewers gelees. Hulle sal wel drink as dit beskikbaar is, soos in rotspoeletjies ná reën. In die nomale gang van sake kom hulle egter goed oor die weg met die vog wat hulle uit hul vegetariese dieet van blare, blomme en vrugte verkry. Maar hier het hulle doelbewus kom drink. Geen twyfel daaroor nie.

Moet darem dan dadelik byvoeg: ek verstaan dit nogal as daardie pikante klip-voëlbadjie by Boulders vir ‘n klipspringer lyk soos ‘n rotspoeletjie ná goeie reën. ‘n Verbeeldingryke hand sit agter die ontwerp.

In elk geval, toe ons oë uitvee, is die eerste enetjie by die water, knak die rug en begin met diep teue die helder water geniet. Die ander twee het stragiese posisies op omringende klippe ingeneem, kompleet soos brandwagte. So kry elkeen ‘n beurt.

Toe die drie rustig in gelid wegstap, dag ek by myself: wat ‘n magiese oomblik! Ons begin dadelik bespiegel hoeveel mense al bevoorreg was om so ‘n intieme kykie in die wêreld van die ingogo (Zoeloe) of ngululu (Tsonga) te kry.

Die wellewende Johnson, veteraan-opsigter by die kamp, sê hy is bewus van die periodieke besoekies van klipspringers by die voëlblad. Klaarblyklik gebeur dit egter nie elke dag nie. Ons belewenis was onteenseglik baie besonders en ‘n yslike voorreg.

Op daardie oomblik beleef ek toe weer die insident op die H4-1 by die “standbeeldjie” helder voor my geestesoog. Ek hoor die gepynigde uitroep van “net weer ‘n blerrie bok”; die klank van frustrasie in daardie ongeduldig kêrel se stem.

En ek verwonder my opnuut aan die garde – nogal aansienlik in volume – vir wie selfs net die piets van ‘n leeustert in die verte groter wildtuin-satisfaksie bring as ‘n unieke ervaring met ‘n lieflike diertjie soos ‘n klipspringer. Ohopoho, soos kollega Johan van Wyk, se kommentaar sou wees.

JUWEEL VAN DIE KRUGER

Augustus 3, 2017 in Uncategorized



Ek wil Boulders ‘n fluweeltoga om die skouers hang en n opgerolde perkamentrol in die hand stop met ‘n akkolade van die hoogste orde: Juweel van die Krugerwildtuin honoris causa.

Pas terug van ‘n tweede besoek, is ek nog te meer in vervoering met die unieke boskamp naby Mopanie as met die ontdekking daarvan verlede jaar. Die aktiwiteit by “bobaas-Boulders” se watergat is weergaloos, glo ek. In die rotse klouter klipspringers. In skeure in die rotse gaan ‘n paar muskejaatkatjies tuis. Die lewendige voëllewe behels gereelde besoeke van kleurryke dassievoëls ‘n gedurige toestroming van blou sysies. Eekhorings en akkedisse kom les hul dors.

Op ‘n manier wil ek my bekoring prakties vergestalt. Skielik kry ek ‘n idee. Teen die muur by die trappies in ons Sabieparkhuis hang ‘n raam met nege foto’s van 20 jaar gelede. Hulle sal moet plek maak. Die raam word nou my Boulder-raam.

Buffelfoto’s sal noodwendig oorheers. Reuse-troppe van 200 of meer het vanjaar weer dorstig om die watergat kom saamdrom: ‘n swart massa. Soos ‘n skildery lyk die aantog uit die bosse in ‘n stofwolk.

Dan die klipspringers. Drie was gereeld in die rotse om die kamp. Die laaste dag betrap ons hulle by die voëlbadjie uit natuurlike rots. Twee staan kiertsregop wag terwyl die derde die ruggie knak om te drink. Die kameras klik aanhoudend,

Tokkie se rugsak met haar voëlboeke en verkyker het onder ‘n muskeljaatkat se skerp tande deurgeloop. Maar die ou het darem rustig vir ‘n foto poseer.

Verlede jaar was die olifante meer en het ook wildehonde kom drink. Daardie foto’s sal uit die argief gaan haal word vir die raam. Vanjaar was die hiënas egter volopper (een was selfs binne die braai-area!), en het ook ‘n mooi troppie koedoes, rooibokkies en vlakvarke die watergat opgesoek. Die foto-aanbod vir my nuwe Bouldersraam word al hoe ruimer en die seleksie al hoe moeiliker!

Boulders se eksklusiewe watergat, die skilderagtige rotskoppies om die kamp en die braaiplek teen ‘n steil rotswand is alles baie, baie spesiaal. Dit bied ‘n natuurervaring uit die boonste rakke. ‘n Bonus is die twee “butlers”, Johnson en Freddie, wat soos skimme teenwoordig is: hulle dek tafel, was skottelgoed, maak die beddens op en dies meer terwyl jy op sagte rusbanke aan jou jenewer of wyntjie teug.

Oor die kamp se naam wil ek ‘n waarneming van verlede jaar herhaal: dit is presies in die kol. Die onomheinde struktuur (ses uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en uitsigstoepe, asook die enorme kuierplek) is omring deur massiewe klipstapels met kremetarte en seringe wat met die ru-heid kontrasteer.

Boulders is ‘n taamlike ent van Sabiepark – iets soos 225 km. Die tog word egter dubbel en dwars beloon. Soek jy nog altyd na dié blinkste juweel van die wildtuin? Jy hoef werklik nie verder as Boulders te soek nie. Ek beveel die plek sonder huiwering by enigiemand aan. Huur die kamp vir ‘n dag of twee. Gaan bederf jouself daar in stilte, vrede en skoonheid soos min.

KOEK, KOEK EN …. KOEK

Julie 4, 2017 in Uncategorized

Vos Grey sny die koek. HvD is die assistent.

Die tradisionele troukoek maak toenemend plek vir allerlei fênsie konstruksies met kolwyntjies, roompoffertjies, sjokoladebolletjies en selfs droëwors ‘n keer in die Bosveld, hoor ek.

Vir die ouer garde is die troukoek egter ‘n ernstige saak. Van die sny daarvan word ‘n seremonie gemaak. ‘n Mens is as ‘t ware nie behoorlik getroud as die koek nie gesny is nie.

Die sny van enige koek – op Engels “cutting of the cake” – bly vir hierdie ou ‘n oomblik van betekenis. By Orpen – by die saamtrek van gryse oud-Kollegemanne – is die koek nie minder nie as drie keer gesny.

Op die koek, ‘n gewone wit vanieljekoek, was die beeltenis van Sarge Bourke, gelukbringer van Tukkies se Kollegetehuis waar ons span van agt in die jare 1958/1959 ingeval het, in A4-formaat. Die koek kom uit baasbakster Kristie Thompson van Skukuza se oond, soos sovele vorige dekoratiewe koeke. Die planne is in Maart al gesmee.

Die eerste, simboliese sny is met grasie behartig deur Vos Grey, wat in die tweede helfte van 1960, in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter wasEerste seremonie. Hy is die oudste lewende oud-voorsitter van Kollege. Die uwe, voorsitter in 1962, het Vos tersyde gestaan. Die oudste en die naasoudste voorsitters so saam by die koek is uit alle hoeke gefotografeer.

Die Kollegekoek was op ‘n wit tafeldoek op ‘n tafel op Orpen se grasperk. Ons koshuismaats en hul gades was vir die plegtige okkasie in ‘n eerbiedige halfmaan op allerlei kampstoele versamel. Vos het ‘n gevleuelde woord gespreek. Orpen 1 het amptelik afgeskop. (Die vorige vyf jaar se saamtrekke was by Balule aan die Olifantsrivier.)
Die koek is nie geproe nie al was die versoeking groot. Uit die kombuisie van huisie nommer vier het immers al die heerlike geure van die aand se skaapskenkel-potjie begin kom. Ons ken die kosmaakvermoëns van Cas en Nella Jacobs!

Tweede sny- eerste proe.

Die volgende oggend is van simboliese sny tot die volgende stap oorgegaan: Cas het op huisie nommer agt, tuiste van die Van Deventers, met ‘n broodmes (vermoed ek) en sy legendariese sin vir presisie stewige stukke koek vir die teenwoordiges gesny. Weer het kameras geflits. Daarna is geproe en saamgestem: die koek was so lekker soos dit mooi was.

Wat van die lekker koek oorgebly het, is die volgende oggend saam via die boomryke S39 (Timbavatipad) al langs die Timbavatirivier af na die Timbavati-piekniekplek. Daar is op gasbraaiers wors gebraai, spek gebak, eiers geroer en die laaste krummeltjies van Kristie se Kollegekoek geniet. Ek het doelgerig gesorg dat die “K” van Kollege na my kant toe kom. Die koek was immers Tokkie se idee.

By die amptelike AJV (algemene jaarvergadering) die laaste middag langs ‘n lekker vuurtjie was almal dit roerend eens dat in die winter van 2018 ‘n Orpen 2 moet plaasvind.Die bekikbaarheid van huisvesting en die beweeglikheid van die span pioniers is al moontlike struikelblokke.

Piekniek by Timbavati

Ons gemiddelde ouderdom is 75 plus. ‘n Mislukte droom is egter verkieslik bo geen droom nie, soos Tokkie tereg herinner.

Vanselfsprekend sal daar weer die een of ander verrassing en simboliese inwyding van ons oues se saamkuier moet wees. Daarvoor, oor na mev. Van Deventer.

(Naskrif: Die teenwoordiges was, in huisievolgorde: (1) Proppie en Lettie Goosen van George, (2) Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai, (3) Manie Steyn van Krugersdorp, (4) Cas en Nella Jacobs van Centurion, (5) Vos en Magdaleen Grey van Ermelo, (6) Johan en Antoinette Bekker van Jacobsdal, (7) Willie en Joan Paulsen van Bloemfontein en (8) Hennie en Tokkie van Deventer van Melkbostrand. Vir die Bekkers en die Paulsens was dit ‘n heuglike kennismaking met die mooi tradisie van Kollege-“bosberade”.)

O KOEK, SARGE BOURKE!

Junie 30, 2017 in Uncategorized

Toe die agt Kollegemanne – kalwers van 1958 en 1959 – die week in die knusse wildtuinkampie Orpen die Kollegelied met dieselfde passie as toentertyd aanhef, kon jy sweer Sarge Bourke was self teenwoordig.

Die besnorde polisieman-gelukbringer was inderdaad – nou nie in sy betongedaante nie, dié weeg iets soos 250 kg – maar spoggerig in versiersuiker op ‘n ontwerperskoek uit die kombuis van bobaas-bakster Kristie Thompson uit Skukuza.

Met die simboliese sny van die koek (meer daaroor later) is Orpen 1 ingelui nadat die span die vorige vyf jaar in Balule, by Olifantskamp, saamgetrek het. ‘n Nuwe tradisie is saam met al die ou en geliefde tradisies gevestig van ‘n koshuis wat, heel gepas, in die jaar van die rebellie in 1914 begin het toe Kollege as derde gebou op die Tuks-kampus verrys het.

Die verhaal van die verbintenis met Sarge Bourke begin in 1942, ‘n driekwarteeu gelede. Kollegemanne het hom lank bespied waar hy in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom, langs ‘n tuinhek op aandag gestaan het: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

Een aand na ‘n mislukte “raid” op Damestehuis (die “Fant”) se gelukbringer is besluit om gekneusde Kollege-ego’s te salf deur ‘n eie gelukbringer te bekom. Die polisieman in Gezina het hom in verbeeldingryke gedagtes opgedring.

Met ‘n Chev-tweesitplekmotor met sy ruim kattebak is die konstabel in die nagtelik ure gaan haal. In doodse stilte is die tuin binnegesluip. Die ongeoorloofde verwydering het voorspoedig verloop hoewel ‘n paar manne effens in die hek vasgesit het. Die nagstilte is weens die onvoorsiene gebeure met allerlei krete en uitroepe versteur. Die eienaars was gelukkig vaste slapers.

Die ou was langer en swaarder as vermoed en die Chev se agterstel het omtrent op die grond gesleep. Ligdag het hy sy intrek in Kollege geneem. Hy het langs die omstrede “bank” voor die hoofgebou (met sy onbelemmerde uitsig op verbygaande asters) ‘n ere-staanplek gevind om van toe af ‘n wakende oog oor die tehuis se inwoners te hou.

Sy geskiedenis het allerlei kinkels. In 1946 is die polisieman – toe al bevorder tot die rang van sersant en weens onbekende redes die van Bourke toegeken – deur die Witsies kom steel. Hy is leedvermakerig op ‘n klein balkon op die eerste verdieping van College House op die Witskampus uitgestal.

In 1950 het vier Kollegemanne besluit: tot hiertoe en nie verder nie. ‘n Omvattende operasie is van stapel laat loop om Sarge Bouke te gaan ontset. Dit het o.m. ingesluit ‘n minder geslaagde fondsinsameling vir petrolgeld en die “leen” van ‘n vriend se pa se ruim Cadillac – danksy die welwillende medewerking van die vriend se liefdevolle moeder. Die Caddie was mooi groot genoeg. Dit kon boonop laat waai as dit moet.

Drie betroubare ienks is opgekommandeer en die sewestuks is oor Wits toe: ses om Sarge Bourke te dra en een om die Witsies se voertuie onkapabel te stel deur die vonkpropdrade uit te trek of die wiele af te blaas.

Die ses is op hul sokkies College House binne. Die deur na die balkon was gelukkig nie gesluit nie en Sarge ook nie deur die Witsies ge-elektrifiseer, soos die legende was nie. Hy is versigtig op handdoeke omgekeer en skuifelend die gang afgedra. Brandasem van moegheid en vrees, is hulle met die gewigtige vrag die trappe af. Die laaste entjie voordeur toe is die ou selfs skouerhoog gedra.

Skielik was daar amper moles. ‘n Baie vaak Witsie verskyn in sy kamerdeur, skynbaar op pad badkamer toe. Een van die Kollegemanne beveel met groot gesag: Go to bed, you Fresher – en hy gehoorsaam. Met hul laaste kragte, maar met pompende adrenalien, kon hulle die waardevolle buit in die Cadillac laai en Pretoria toe laat waai.

Vieruur die Saterdagoggend sit hulle die ou toe in die voorportaal van Kollege neer, maak kringetjie om hom en bulder die Tukkiekreet: A-ra-ra-ratio-Roera! Die kamerdeure vlieg oop. Kollege juig. Sarge Bourke is terug, Sarge Bourke is terug …!

Daar in Ou Kollege op die kampus het ons klomp hom 60 jaar gelede aangetref en altyd aan hom die nodige eer betoon. Toe ons in 1960 Proefplaas toe trek, is hy saam. By die nuwe tuiste het hy allerhande maatjies bygekry. Die “sarges” staan in ‘n gedenkboek van 1985 vyf in ‘n ry!

Maar vir ons generasie is die snorreman soos Bart Nel. Hy is nog hy. Hy leef in ons elkeen se hart. Daarom die koek en die seremonie waarvan ek mettertyd meer hier sal meedeel. Hou hierdie ruimte dop.

LAATOES UIT MELKBOS

Junie 19, 2017 in Uncategorized

Scoops en skandes – my eerste boek. 24 jaar later kom nou die laaste, Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman..

Douvoordag more as die Kaap nog net begin ontwaak, sal ek en Tokkie op pad wees van Melkbos af lughawe toe. As alles reg verloop, sit ons more-aand by ‘n vuurtjie in Sabiepark. ‘n Vakansie van amper drie maande wag, so plus-minus al ons 50ste vandat Tarlehoet einde 1997 in ons lewens gekom het.

Natuurlik sien ons geweldig uit na die vreugdes van die bos: elke dag se verrassings rondom die huis; sebras se besoeke aan ons watergat; die sy aan sy leef met die natuur in hierdie repie ongerepte Afrika naas die Krugerhek van die wildtuin en die Sabierivier. Ons sien uit na die spesiale ervarings wat maar elke keer opduik en elke bosvakansie as ‘t ware definieer.

Tog kom vanjaar ‘n element in die prentjie wat ons vakansie ietwat anders gaan maak. Die uwe gaan die almanak dophou en selfs die slapies tel. Hy gaan begin haastig raak.

Sê nou weer? Ja, julle het reg gehoor. Die haastigheid het darem ‘n goeie verklaring. Kom September, kom ‘n “laatoesie” van die uwe uit die land – of die wingerd, as jy wil: die uitgewer Naledi publiseer van die 76-jarige ‘n boek wat op hierdie rype ouderdom seker sy laaste sal wees: Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman. Brand ek nie om weer ná ‘n lang onderbreking ‘n boek vars van die pers in my hande te hou nie!

Oor die titel is lank gedink. Laatoes het gewen, en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) se woordomskrywing het sowat die deurslag gegee. ‘n Laatoes is, volgens die WAT, vereers ‘n oes wat lank op die land staan en laat in die seisoen ingesamel word. Wat seker in hierdie geval met die HvD-oesie gebeur. ‘n Tweede betekenis is ‘n laatoeswyntjie uit die wynkamer. Hoop maar daar sal lesers wees vir wie Laatoes so ‘n behaaglike leesplesier bring soos ‘n glasie vrugtige laatoes.

Die “kanniedood-koerantman” in die subtitel sal seker nie ‘n verrassing wees vir mense wat Van Deventer ken nie. Kollegas het my inBloemfontein ‘n “kompulsiewe” koerantman genoem weens my “passievolle drif”. Ek glo hulle sal maklik van “kompulsief” tot “kanniedood” kan vorder weens my uithou en aanhou vir soveel jare al.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur in die Perssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek ná ses jaar weg van skryf. Soos Sabiepark ekstra genot tot my 20 jaar as afgetredene bygedra het – en bootvaarte! – het die terugkeer tot my eerste liefde, skryf, ook elke dag vir my waarde toegevoeg.

Skryf, skryf, skryf nie net in my blogs en op my eie webblaaie nie. Nie net enkele boekies nie. Maar in die drie Afrikaanse dagblaaie en in Rapport, in tydskrifte soos Huisgenoot, Sawubona en By, ook op Litnet, Netwerk24 en sy eie webblaaie. Uit hierdie laatoes van my is die versameling in die bundel geput.

Van begrafnisse tot feeste; van herdenkings tot bekendstellings; van humor tot ernstige besinnings kom in die versameling aan die bod.

Louis Esterhuizen, tekspraktisyn van Stellenbosch, wys daarop dat dit my in my lewe en loopbaan geluk het om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Oor baie wat ek oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken het; skryf ek in Laatoes. Mense is die oorheersende tema, dan die koerantwese, die natuur, persoonlike dinge – ook my skool- en studentejare – kerk en sport.

Geleentheidstukke is uiteenlopend: van die 50ste herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd tot die 30ste herdenking van Gerrie Coetzee se verowering van die wêreld-swaargewigbokstitel. Ek waag my hand selfs aan rugby. Wonder wat my sportskrywer-kollegas daaroor sal sê!

Ten slotte: maak seblief ‘n merkie op die almanak by September en volg Nataniel se raad een keer: koop tog maar daardie “blerrie boek”!

* Volgende blog kom uit Sabiepark.

Junie 15, 2017 in Uncategorized

Kollegemanne aan’t kuier.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was behoorlik asof al die maanhare van die kontrei op die Balulekampie aan die Olifantsrivier toesak vir ‘n magtige klimaks om ‘n era af te sluit.

Elke winter sedert 2012, vyf jaar lank, het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis na die ruskampie van die wildtuin opgeruk om ou bande te verstewig. Elkeen van die vyf Balulekuiers was die okkasie vir drie dae se groot ure en dik plesiere om yslike vure; van herinneringe opdiep uit die laat jare 50 en die beginjare 60; stories vertel onder die lowerryke Laeveldbome en by die kampvuur; koningskos maak en hiënas uit die bos kuier.

Vanjaar skuif die Kollege-saamtrek na Orpen.

Balule V se laaste aand was verstaanbaar ietwat nostalgies. Daardie grootse finalé van die konings van die bos het die gordyn op dié gewigtige geleentheid dramaties laat sak. Ironies genoeg, het vegtende hiënas ons eerste nag in Julie 2012 ‘n dawerende voorspel opgelewer. Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie van die vyf jaar was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Selfs die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre. Ook die kikvorse het ophou kik vir die Kollegelied wat tussen die braai van die wors en die tjops rondom die gloeiende kole in die braaidrom uit volle bors onder die Laeveldse naghemel aangehef is: Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam …

Die ses Kollegemanne van weleer – almal tussen 75 en 80 maar met harte wat nog bons vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Sondag 25 Junie begin ‘n nuwe hoofstuk op Orpen. Agt Kollegemanne van daardie era daar trek saam: Vos Grey, Cas Jacobs, Pierre le Roux, Manie Steyn, Proppie Goosen Johan Bekker, Willie Paulsen en die uwe – en ons gades natuurlik. ie Bekkers en die Paulsens maak vanjaar hul buiging. Hoop hulle het die stamina …

Natuurlik sal Aan het oewer van de Schelftzee by ons nuwe tuiste ook opklink. Ek glo ons sal nog rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk.

Trouens, ‘n blink idee het reeds vorm aangeneem. Hou maar die ruimte dop.

‘N HARDEKOOL TUIMEL

Junie 5, 2017 in Uncategorized


Die bos het sy eie broederskap. Dit reik oor alle grense heen as bosmense in die atmosfeer van hul lieflingsplek saamsit om ‘n vuurtjie, en gesels oor die dinge wat hulle na aan die hart lê. Sabiepark het sy eie broederskap, nog hegter weens die gemeenskaplike liefde vir Sabiepark wat ons bind.

Hierdie Sabiepark-broederskap kom veral in krisistye sterk na vore. Van ware Sabieparkers ervaar jy in moeilike omstandighede ‘n grenslose hulpvaardigheid. Sou die Van Deventers byvoorbeeld aanvanklik dom-dom sukkel om ‘n nuwe swembadseil op te sit, kon hulle met vrymoedigheid op Dawie Strydom van Rustig se knoppie druk. Hy sou kom, selfs kort ná ‘n knievervanging, met sy krukke en sy boor, en die probleem al hinkende-pinkende gou-gou oplos.

Gee jou gas-yskas die gees, is daar net een genade: dit moet Nelspruit toe, wat oor die 100 kilometer ver is. Maar dieselfde ruimhartige Dawie het dadelik sy bakkie aangebied. Die laatmiddag met die gesukkel by die aflaaislag kom Anne en Ria Weiland in hul Volvo-stasiewa juis die paadjie tussen die bome deur opgery.

Anne spring dadelik in en help dra. Uiteindelik is die swaar, lomp affêre bo-oor die kombuisblad gelig en op sy plek in die kombuis staangemaak, die vlammetjie aangesteek en die spulletjie aan die gang gesit.

Tyd vir ‘n Chivas, kondig Anne aan in sy sterk Hollandse aksent wat hy, anders as Ria, nooit afgeskud het nie. Gelukkig het ek nog ‘n geskenkbotteltjie van hierdie duur Skotse watertjies in my kabinet. Dis al wat Anne oor sy lippe sou sit.

Hy kon dit bekostig om kieskeurig te wees. Hy het graag vertel hoe hy as Hollander met net sy koffertjie klere en sy koffertjie gereedskap in Suid-Afrika aangekom het. Hy het ‘n baie-baie ryk man geword – o.m. die glas en staal verskaf vir die Johannesburgse Effektebeurs se nuwe gebou in Diagonalstraat en vir Bloemfontein se munisipale “Glaspaleis”. Aan die Wes-Rand het hy ‘n grasdakhuis besit wat vir meer as een Suid-Afrikaanse rolprent gebruik is.

Ek het maar oë toegeknyp en bly skink, want Anne se ruimhartigheid het nie opgehou by fisieke hulp as dit op die help dra aan ‘n yskas aankom nie. In Tarlehoet, ons boshuis, staan verskeie geskenke uit sy hand, diverse goed soos ‘n breë hardebesem en ‘n reeks Chivasblikke waarin ek my sokkies bêre. Hy het dit geniet om te gee.

‘n Keer toe ons slaapplek min raak vir al ons gaste uit Melkbos, bied die Weilands dadelik hul aangename boshuis aan. Vergoeding? “Moet ons nou nie beledig nie.”

Het jy by hom en Ria in Jakkalsbessielaan gaan kuier, was die gasvryheid so ruim soos die hulpvaardigheid. Op hul stoep tussen die boomtoppe het ons heerlik aan Anne se krokette, bitterballen en ander Nederlandse smulhappies weggelê.

Die laaste jare het die gesondheid begin kwel. Daar was ‘n hele paar operasies en siekbeddens. In die tyd het Anne lief geraak vir bootvaarte – nog ‘n gemeenskaplikheid. Hy het sy afkoms verraai deur ‘n taamlik adamante voorkeur uit te oefen vir skepe van die Holland America-lyn, o.m. die MS Rotterdam.

Ongelukkig was die sameloop van omstandighede so dat ons mekaar die laaste ruk al hoe minder in Sabiepark raakgelooop het. Wel mekaar oor en weer bly bel met verjaardae en so. Gister het die onvermydelike SMS gekom: Anne is oorlede. Soos Dawie, die ander lid van die yskas-span, en sovele ander Sabieparkveterane voor hom het die Byl sy pad gekruis.

Nog ‘n Sabieparkse hardekool het getuimel. Die opgeruimde Hollander met al sy stories, sy groot hart en sy liefde vir Sabiepark en die natuur – asook vir Chivas – se plek sal leeg wees. Die wisseling van generasies gaan egter onverpoosd voort. Soos die wisseling van seisoene. Aan daardie werklikheid kan g’n mens ontsnap nie.

MOENIE SO MORS NIE!

Mei 25, 2017 in Uncategorized

Kinders, moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink. So het ons in die dae van my jonkheid gesing. Party het ondeund bygevoeg: Die oumense gooi dit by (in hul brandewyn of hul whiskey).

Die woorde van die tradisionele volkswysie (verwerk deur die Bloemfonteiner M. Casaleggio) is op die oomblik buitengewoon relevant. In die Wes-Kaap behoort elke radiostasie dit elke dag uit te blaker: ‘n Wakkerskud-klingel as’t ware.

Dis natuurlik nie net kinders wat nie in die water moet mors nie. Jongmense, grootmense, oumense eweneens. Die ondenkbare is by ons aan’t gebeur: as dit nie binne 60 dae goed reën nie, gaan ons krane net ‘n laaste drup en ‘n laaste ruk gee … dan kurkdroog staan.

Watertenks sal dan vir ons moet water aanry, word gesê. Van waar af? Niemand weet eintlik nie. Seker maar al die private boorgate annekseer, meen ‘n vriend. Ek weet darem nie of boorgate die katjies deur die water gaan kry nie. Ons eie is ook maar boomskraap.

By “Piet le Roux se plaas” (waarvan ons ook in daardie liedjie sing)? Ai. waar’s daai plaas met die baie reserwes!

Ons moet almal in Vadersnaam ophou om water te mors. Maar my betoog is eintlik oor kinders.

Twee opgeskote meisiekinders speel nou die aand in die Birkenhead-winkelkompleks op Melkbos se badkamer. Hulle draai die krane oop, tap die wasbakke vol en pluk dan weer die proppe uit dat die kosbare water gor-gor in die pyp verdwyn.

Mev. Van D spreek hulle skerp aan. Die twee laat spaander by die deur uit. Later sien ons hulle buite in die gang doelloos ronddwaal. Geen ouer in sig nie. ‘n Gryse moedeloosheid dreig om jou te oorval.

Ek plaas ‘n stukkie op Facebook en Evelyn Visagie reageer dadelik met ‘n skok-mededeling. Daai’s nog niks, sê sy. Weet jy wat by skole aangaan? Kinders druk proppe van toiletpapier in elke wasbak en draai dan die krane groot oop. In die oggend is die skool omtrent onder water.

Dalk is hul houding ook maar soos dié van ‘n lummel wat oorkant ‘n vriendin hier op Melkbos woon. Hy steur hom skynbaar aan geen waterbeperking nie. Die vriendin vat hom aan. Uit die hoogte moet sy hoor: “My pa het geld. Hy kan betaal”!

Dis nou èèrs om van moedeloos te raak.

Laas het ek gewaag dat kinders sommer al in die laerskool meer van seks en kondome leer as van die verantwoordelike benutting van skaars en waardevolle hulpbronne. Nie almal het gedink my opmerking is heeltemal geregverdig nie.

Ek herhaal dit vandag hier met klem en beklemming. Ons waardes, mense. Ons waardes ….

TWEE TAMAAIES IN TANDEM

April 25, 2017 in Uncategorized

Vorstelik in Tafelbaai.

‘n Bruidegom loer nie met ‘n begeerlike oog vir ‘n ander meisie nie.

Jy voel half skuldig, of jy so ‘n nare, ontroue vent is, as jy van die dek van die sierlike vakansieskip die MSC Sinfonia aaneen foto’s van ‘n ander skip neem.

Maar as daardie ander skip nou die Queen Elizabeth is …

Dit was inderdaad: die nimlike nuweling in die Cunard-stal, twaalf dekke hoog en stralend van dieselfde klas en styl as Cunard se vlagskip die Queen Mary. Die Sinfonia en die Queen het op Donderdag 20 April feitlik in tandem na Walvis gevaar.

Ek en Tokkie wou nog altyd met die “nuwe” Sinfonia gaan kennis maak nadat ‘n nuwe middelstuk twee jaar gelede ingevoeg is: meer kajuite, groter speelplek, uitgebreide kuier-ruimtes. Verlede naweek het ons kans gekom.

Uit Bloemfontein het kollega Sarel Venter, ‘n skeepsentoesias soos min, laat weet dat die weelderige Queen Elizabeth, saam in die Kaapse hawe sal wees.

Al van die M1-snelweg af het ons die twee reuse van die oseaan agter mekaar in die hawe sien lê: die wit Sinfonia voor en die donkerblou Queen agter – saam amper 600 meter magistrale skip wat hoog bo die res uittroon. Eersgenoemde is een dek hoër en dra 500 meer passasiers. Laasgenoemde is egter ‘n groter, langer, ruimer en luukser skip. Op sy dekke is die balkonkajuite ingeryg (die Queen het ook ‘n groter bemanning).

Die ideaal sou wees om die twee tamaaie skepe saam op ‘n foto te kry – ‘n geleentheid wat hom seker min voordoen. So ‘n treffer-foto sou egter net uit ‘n hoë gebou of van die seekant moontlik wees. Ek het nêrens een gesien nie.

Toe ons die middag vaar, het die son mooi op die stuurboordkant van die Queen geval. Van Deventer se kamera het bly klik.

Kort na die Sinfonia het die Queen ook hard gefluit en die waters begin klief – dieselfde bestemming: Walvis. Teen nege-uur die Vrydagoggend het Tokkie op dek 8 aan die agterstewe geroep: Hier’s die Queen! Newelagtig het die pragskip aan bakboord begin nader kom. Van Deventer se kamera het weer geklik.

Queen kom verby.

Van nege tot een het die twee skepe teen sowat 30 knope feitlik in tandem gevaar. Die Queen het bly inhaal – treetjie vir treetjie, het dit gelyk. Teen eenuur is die pragskip by die Sinfonia se boeg verby. Die kamera het bly klik.

Met ons aankoms in Walvisbaai was die Queen reeds vasgemeer: ‘n vorstelike prentjie in die helder Namibiaanse oggendlug. Namate die Sinfonia haar by haar staanplek inwoel, het van haar agterstewe ‘n al hoe groter stuk van die Queen sigbaar geword. Die kamera is in die kajuit gaan haal.

Hoe Walvisbaai (en Swakopmund) se infrastruktuur die invloei van amper 5 000 passasiers – 2 600 van die Sinfonia en 2 000 van die Queen – sou hanteer, was ‘n vraag. In die Kaap het die swaar oggendverkeer op die M1 twee dae tevore sleg vasgeval. Maar hoede af vir die Namibiërs. Die tandem-besoek van die twee groot skepe is hanteer of dit die normaalste ding is.

Weer sou ‘n foto van die twee saam die eerste prys wees, maar weer het so ‘n kans hom nie aangebied nie. Nie van naderby nie, in elk geval. Die Queen was om die draai van die Sinfonia as’t ware. Eers van die strandmeer se kant af, met flaminke in die voorgrond, kon jy die twee saam inkry … amper onherkenbare stippeltjies op die horison, helaas.

Walvisbaai.

Maar laat Saterdagmiddag is die Sinfonia eerste weg, verby die Queen in al haar glorie. In die wit kielsog van ons uitvarende skip het die Queen weer ‘n stippeltjie geword, al hoe kleiner en kleiner. Die Queen sou kort daarna vertrek op haar volgende skof van 4 000 km na Mindelo (São Vicente).

Toe die beeld van die Queen te klein word, het ek my Canon in sy sak teruggesit. Die onverwagte bonus van die spesiale foto-ekspedisie was verby. Die tyd het aangebreek om die aansienlike bekoorlikhede van die Sinfonia onbelemmerd te geniet.