Jy blaai in die argief vir melbos.

MEDALJE-TROTS

Augustus 24, 2018 in Uncategorized

In 1984 is die Phil Webermedalje, die Nasionale Pers (nou Naspers) se hoogste bekroning, die eerste keer toegeken: aan adv. Lang Dawid de Villiers, besturende direkteur. Gisteraand op ‘n deftige dinee in die nuwe KIKS2, langs die Perssentrum, is die rgsadviseur David Tudor, wat ek nie geken het nie, met die eer beloon vir sy bydraes oor twee dekades.

In 1997, kort voor my aftrede, het die voorreg my te beurt geval. By ‘n middagete in die destydse Cape Sun se balsaal het Ton Vosloo, voorsitter, die medalje (en wat daarmee saamgaan) aan my ooorhandig. Met gisteraand se spyskaart voor my, en die name van al die wenners tot dusver op die agterblad, het ek opnuut genoegdoening oor my Weberprys van 21 jaar gelede ervaar. Verskoon my asseblief maar die openhartige onbeskeidenheid.

In die commendation is o.m. verklaar: “Vandat hy in Januarie 1963 die eerste keer by Die Volksblad in Bloemfontein as verslaggewer begin werk het, tot en met die bereiking van die hoogste bestuurspos by Nasionale Koerante in 1992, het hy in elke fase van sy loopbaan ‘n nalatenskap gelos waarop hy trots kan wees.”

Daar is gewag gemaak van die geesdrif waarmee ek dinge aanpak; ook dat ek soms “geesdriftig negatief” kon wees oor swak werk of ander frustrasies. Ek meen dit is steeds ‘n eienskap. Van my briewe aan die pers, blogs en inskrywings op Facebook getuig van daardie “negatiewe geesdrif”.

Wat ek nooit sal vergeet nie, is hoe die nuu soor my medalje aan my oorgedra is. Ton Vosloo het my in Londen gebel en oor ditjies en datjies gesels. Ek het geweet die direksie sou die vorige dag oor die Weberprys besluit en dat my naam in die hoed is. Later kon ek dik nie meer hou nie.

“Wie wen die Weberprys?” het ek die voorsitter in die rede geval.

“O aarde,: was sy antwoord. “Dit is eintlik hoekom ek jou gebel het. Geluk, jy is die wenner.”

Gelukkig was ek (en Tokkie wat saam met my was) op daardie oomblik voor ‘n “pub” naby Piccadilly Circus. Ons het dadelik die nuus gaan vier met ‘n pint of twee.

By David se bekroning was die wyn van Weltevreden. Ek het ‘n glasie chardonnay op hom en die Weberprys geklink, en salig weltevrede gevoel.

(Wenners voor my op die lys sluit ook in : Piet Cillié, Willem Wepener, Wiets Beukes en Koos Human. Ná my op die lys is Naspersers soos Ton Vosloo, Jonathan Ball, Ebbe Dommisse en Salie de Swardt. Ook kollega Herman le Roux is op die lys. Dit is vir my lekker dat hy my telkens nog die eer gee dat dit ek was wat die deurslaggewende lansie vir hom gebreek het.)

Foto’s: Ton oorhandig die Phil Webermedalje aan my; die volledige lys wenners op gisteraand se spyskaart.

OOR PW, FW, MADIBA EN THABO

Desember 1, 2014 in Uncategorized

2014_11_28LINKS: Die “ampsmotor” in die jagveld – kyk net hoe lekker lag die kwaai P.W. Botha. REGS BO: ‘n Vriendelike handdruk voor die onvriendelikheid.  REGS ONDER:  Kort hierna het die AWB inmarsjeer ….

Uit die een president se hand het ek in die jagveld ‘n skyfie lemoen geëet.  Oor ‘n ‘n tweede was daar amper perde oor ‘n “stout” berig ná ‘n groot aand en ‘n baie spesiale oproep. ‘n Derde laat my onthou van ‘n ontsettende groot nood. ‘n Vierde se besoek het gemaak dat ‘n geel onlustevoertuig op die sypaadjie oorkant my huis parkeer.

Oor elke president van my era het ek, by die politieke herinneringe, ook persoonlike glimlag-herinnering  uit hul ampstyd of daarvoor.   Die onthou-fonteintjie het begin borrel ná plasing van die foto-collage by ‘n vorige inskrywing, en dese en gene se  reaksie daarop.

Die lemoen-episode was op een van die P.W. Botha-jagtogte elke winter in die Suid-Vrystaat wat deur Botha se boesemvriend Boet Troskie aangebied is. Met dodelike skietvernuf het Botha altyd self ‘n paar bokkies platgetrek.  Daar in die Vrystaatse winterveld, alleen agter ‘n miershoop of langs ‘n knetterende kampvuur, omring deur kollegas soos Chris Heunis, Pik Botha, Barend du Plessis, Kobie Coetsee, Pietie du Plessis en Gene Louw, was hy op sy mees ontspanne.

My storie spruit uit ‘n keer toe die omgeboude V8-jagvoertuig van die wellewende Pieter Jacobs van die plaas Zuurfontein, Fauresmith – bekend as die  “ampsmotor” – met sy oes van die dag tot by sy asse in die modder wegsak. Om hom uit te kry, het gevat aan die klein geselskappie wat saam met Botha die veld ingekoers het.

Terwyl ons so swoeg (en onderlangs swets), skil hy rustig ‘n lemoen. Toe ons die gevaarte eindelik uit die amperse moddergraf het, kry elkeen ‘n skyfie in die mond. Myne kry ek met die spitsvondigheid: “Ons maak nou geskiedenis. Dis die eerste keer dat ‘n koerantman uit my hand eet!” Figuurlik uit sy hand geëet, het ek darem nooit!

Van die F.W. de Klerk onthou ek veral die aand van 11 Februarie 1992 – ná die aankondiging van Nelson Mandela se vrylating. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch. Terwyl die Broers die nuus op die TV-skerm volg, wie stap  in?  Die Man van die Oomblik! Broer FW was genooi maar ons het aanvaar dringende sake hou hom weg. Die atmosfeer was skielik tintelend. Net die beste Roodeberg is geskink.

Later word De Klerk ingelig pres. George Bush soek hom. De Klerk bel terug uit die manjifieke plaasopstal se sitkamer met sy swaar geelhoutbalke. Bush nooi hom na die Wit Huis. Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die gasheer, Piet Carinus, met ‘n bree glimlag mee, maar “moenie bekommerd wees nie; my kantoor sal kom regmaak.” Nee, kap Carinus terug, die geld soek hy nie; net die tjek – as ‘n aandenking.

Die Sondag besluit ek dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek noem nie die AB of die plaas se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was. Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Die Maandag is die vet in die vuur. Die UR is ontsteld. Die president is in die verleentheid gestel. Prof. Peter de Lange, voorsitter, raai aan dat ek Tuynhuys bel.

Wat ek toe dadelik doen. Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n bietjie stout, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie. Ek hoef ook nie te hê nie. Sjoe – noue ontkoming.

Vrydag 9 Oktober 1997 was ‘n dag wat Naspers nie lig sou vergeet nie. Nelson Mandela het kom saam aansit. In die straat en in die voorportaal was ‘n ontvangs soos nog nie daar gesien is nie. Maar toe volg Die Toespraak. ‘n Driftige een, wat in trant en gesindheid veglustiger was as voorheen

Die Afrikanerdom had, volgens die kwaai President, “baie om oor nederig te wees”.Ons koerante is ook skerp gekap oor, wat Madiba genoem het, ” ‘n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie”.

Terwyl Mandela praat en praat, had hierdie arme drommel sy eie persoonlike nood, aangebring deur ‘n jenewertjie vooraf en een of twee glase wit uit Naspers se voortreflike kelder. Ek was aan ‘n tafel in die verste hoek van die deur af, en intens bewus dat om op te staan en uit te stap vir die vertolking van ‘n protesdaad vatbaar sou wees. Al raad was dus maar vasbyt en bene al hoe stywer gekruis bly sit tot die bittereinde –  wat net betyds aangebreek het!

Ses aar tevore, op Vrydagaand 18 Mei 1991, was Thabo Mbeki, wat Mandela later as president sou opvolg, op my uitnodiging in Bloemfontein. Die geleentheid was ‘n unieke, private byeenkoms met Die Volksblad as gasheer. Die senaatsaal van die universiteit was gepak met leidsliede van die Rosestad: politici, NG-moderator, rektore, president van die Vrystaatse rugby-unie en andere.

Terwyl Mbeki praat, swaai die deure oop, en ‘n peloton verslonste AWB’s, sommige kousloos en met velskoene, marsjeer die saal binne. Hulle soek nie “kaffers” op die kampus nie – nog boonop ‘n “Kommunis”! Na ‘n lang onderbreking en uitgerekte onderhandelinge is hulle uit.

Mbeki sou later by my en Tokkie in Van Schoorstraat kom eet. Genl. Tom Erasmus van die SAP, een van die gaste, was nie gerus nie. Hy laat kom toe van sy manne, wat in geel onlustevoertuie opdaag. Hulle vergesel ons na my huis en parkeer oorkant die straat.

By ‘n buurman, dr. Wim Brummer, was sy seun, Tat, aan ‘t partytjie hou.  “O aarde, die musiek is te hard,” was hul eerste gedagte toe die geel SAP-voertuig opdaag. Die volume is dadelik verstel. Verskeie bure het by die polisiebewakers gaan navraag doen. “Wat gaan dan by die Van Deventers aan?” “Kraai van Niekerk eet daar,” was die antwoord. Hoekom juis Kraai, weet ek nie.

 

AMPER TOE SELF IN DIE KOERANT

Junie 11, 2014 in Uncategorized

‘n Motor, twee motors, ses motors kon opgefrommel, platgevee of saamgesleur gewees het toe die swaar vragwa in ‘n draai op die sopnat  N7 begin swaai, tol, knipmes en rol.

Maar die genade was groot. Die ergste het nie gebeur nie.

In die naaste motor op die pad van die tonne staal wat buite beheer oor die pad ploeg, was ek en Tokkie, asook my jongste broer Cules Malan en sy vrou, Dalene, van Pretoria.  Die hele riller-episode het hom vlakvoor ons oë afgespeel.

So dertig, veertig meter voor ons het die potensiële saaier van dood en verwoesting van die pad geploeg en met tollende wiele in ‘n leegetetjie tot stilstand gekom.  Ons het vinnig bereken dat dit ‘n kwessie van sekondes was.  Net ‘n rapsie vinniger gery of later rem getrap en ons voorland was ‘n gewisse dood.

Aanvanklik was ons sprakeloos. Later het ons uit stukkies en brokkies onthou ‘n legkaart begin bou. Nog later het die besef hoe naby ons aan ons einde was, koue rillings veroorsaak … asook ‘n innige dankbaarheid dat ons leef om die storie te vertel.  Die passasier voor in die vragwa was waarskynlik nie so gelukkig nie.

Die toneel was net honderd meter of wat van die Melkbos-afdraai aan die Malmesbury-kant.  Met die huidige verleggings weens die bou van die brug maak die pad daar ‘n bedrieglike skerp draaitjie.

Die swaar vragwa, ‘n perd, groot bak en sleepwa met ‘n hyskraan op, het klaarblyklik te vinnig op die nat pad die draai probeer vat.  Toe ek skielik stilhou, het Cules opgekyk en opgemerk: Die man ry soos ‘n maniak.  Op daardie het die bak en sleepwa woes begin swaai.

Toe verloor die bestuurder beheer.  Die bak en sleepwa knipmes en kantel om. Die gevaarte ploeg oor die pad direk op ons af. Ons wag soos verskrikte hase. Magteloos.

‘n Finale bollemakiesie het die perd se dak aan die passasierskant so plat soos ‘n pannekoek gevou.   Toe swenk die tuimelende monster van die pad.  Dit ruk  met ‘n plof in die leegtetjie tot stilstand – die hele gevaarte op die naat van sy rug dat jy net tollende wiele sien.

Weet nie wie die meeste geskok was nie: Ons of die bestuurder wat verward by die voorruit uitgepop het en moet saamleef met die wete dat hy roekeloos was.

Agterna soek ‘n mens baie antwoorde. Het ek die regte ding gedoen deur net rem te trap en so ver as moontlik na links te beweeg?  Want as die vragwa bly rol het, was dit gewis bo-oor ons. Maar was daar tyd om iets anders te probeer doen; om in trurat ylings te probeer padgee of selfs ‘n vinnige u-draai te probeer maak?  Weet werklik  nie.

‘n Mens dink oor die implikasies as die verkeer op daardie kritieke stonde rondom daardie draai op die N7 net ietwat anders gerangskik was. Hoeveel motors kon nie dan te pletter geloop gewees het nie?

Die BMW was die naaste en sou eerste in die slag gebly het. Ek sien in my geestesoog net  ‘n patetiese stukkie staal, en voel telkens lus om alles te los en sommer weer ‘n slag in die motorhuis oor die bakwerk van my ryding te gaan streel.

Ek dink aan koerantstorie wat ‘n alternatiewe scenario sou gewees het,  en aan die ironie as die uwe – ewige koerantman – self in so ‘n rampstorie op die voorblad sou geëindig het.

Skielik spoel ‘n spesiale vreugde dan deur my oor een koerantstorie wat nie gerealiseer het nie.