Jy blaai in die argief vir mej. wereld.

MANNE EN DIE “KWIENS”

Oktober 17, 2017 in Uncategorized

Mej. Wereld van 1990 toring oor die Van Deventers, Hennie en Tokkie.

Dis mos maar van ons mansmense: spog graag oor die mooi meisies wat ons pad gekruis het, en dik meermale nog so ‘n bietjie aan ook. Sing graag, soos Julio Iglesias met sy fluweelstem, van “all the girls I loved before”.

My storie vandag is, helaas,ietwat minder romanties. ‘n Mededeling van oud-Volksbladkollega André Louw uit Riversdal oor sy ontmoeting met ‘n Mej. Wêreld so 50 en ‘n iets jaar gelede jaag my egter geheuebank toe. Ek het immers darem ook ‘n storietjie of twee oor my en die “kwiens”.

Eers André se storie. Hy vertel:

“Peet Simonis (senior verslaggewer) – was my mentor, maar hy het Mej Wêreld van my afgevry.

“Dit was my opdrag direk van Oom Gert Terblanche (nuusredakteur) af om Lesley Langley met haar besoek aan Bloemfontein op te pas. Peet was vrek jaloers en het gesorg dat hy as my senior die ganse tyd ook by is. Uiteindelik het hy haar gevra of hy haar kan soen en n storie daaroor skryf. Sy was heel gewillig en die storie was op die voorblad, as ek reg onthou. ”

My geheue is nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.

Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.

In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder. Die opskrif by die rubriek was: “Verkeerde vriende het Anneline verlei.” Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.

In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa. In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: “To the master of ceremonies, Gina.”

Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?

NASKRIF: Kollega Johan van Wyk het ook ‘n herinnering aan Anneline. Sy het as ‘n bloedjong Mej. Wêreld Bloemfontein besoek en hy, ‘n galante heer soos min, het by ‘n Boet troskie-ete met haar gedans. Klaar gewals, sê sy vir hom: “Dankie oom, dit was lekker.”

Daarvandaan kom dit dat hy altyd in sy rubriek Stop van Myne na homelf verwys het as “oom”.

MY WeRELD, OU HENNIE!

Desember 15, 2014 in Uncategorized

Rolene Strauss, HvD en Gina Marie Tolleson en die gewraakje opskrif oor Anneline Kriel.

Rolene Strauss, HvD en Gina Marie Tolleson en die gewraakte opskrif oor Anneline Kriel.

‘n Vaderlike gevoel (wel, eerder grootvaderlik, om eerlik te wees) wel by my op by die kroning van die skone Rolene Strauss, mediese student by Kovsies, as Mej. Wêreld.

Met die pragtige meisiekind het die Van Deventers via haar oupa Johann en ouma Elsie Strauss ‘n jarelange buurmanskaplike band.

Johann (let op die dubbel-n – hy is baie gesteld daarop) en Elsie was ons bure oorkant die straat in die dekade 80 in Dan Pienaar, Bloemfontein. Kan getuig haar stamboom is piekfyn.

Oupa Johann was professor in sosiologie aan Kovsies – ‘n kritiese koerantleser met wie ek meermale in debat was, veral oor die politiek van die dag.  Hy had destyds die gewoonte om by elke besoek sy besoekersboek onder jou neus te druk. My en Tokkie se name moet dikwels daarin pryk – veral Tokkie s’n. Sy en die liewe Elsie, ‘n nooi Avis uit Suidwes (nou Namibie), het nogal heelwat oor en weer gekuier.

Johan is later na die Technikon OVS (nou die Sentrale Universiteit van Tegnologie). HY en Elsie woon al jare in die aftree-oord Noorderbloem in Bloemfontein.  Met sy gesondheid gaan dit nie so klopdisselboom nie.

Rolene se pa, Hennie, het as’ t ware voor ons grootgeword. Oulike seun gewees, hoofseun van Sentraal en glibberige eerstespan-senter.  Hennie is dokter op Volksrust, waar hy begin praktiseer het nadat hy by Kovsies klaar geswot het.

‘n Jonger broer, Retief, is ook ‘n dokter – narkotiseur, om die waarheid te se.  Retief is aktief op een van daardie uitreikskepe wat om die wêreld vaar en ‘n helpende hand uitsteek na mense in nood.

Suster, Anize (self ‘n mooie meisiekind) is getroud met Bertie Koetsier, ‘n senior bestuurder in die verpakkingsbedryf.  Sy was my kinders se portuur.

Wonder of buurman Johann nog sal onthou hoe my vrou een oggend in sy arms wakker geword het.  Darem nadat sy in die kombuis flou geval het.  Buurman se hulp is ontbied omdat die uwe, soos amper altyd, op kantoor was besig om koerant uit te gee.

Pen maar hierdie herinneringe hier neer – my geheue is ook nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.

Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is.  In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het.  Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.

In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n uitvoerige onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is).  Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid.  In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder.

Die opskrif by die rubriek was: Verkeerde vriende het Anneline verlei. Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe.  Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.

In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis.  Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het saam met Julia Morley (gisteraand ook weer ‘n sleutelfiguur)  Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het vir hulle ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied.  Die uwe was seremoniemeester, aitsa.

In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon.  Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op.  Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: To the master of ceremonies, Gina.

Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?