Jy blaai in die argief vir magnus.

RAPPORT SIEN DIE LIG

April 16, 2019 in Uncategorized

Die Sondagkoerant “Rapport” se “mea culpa” aan sy lesers wat mislei is, die familie van die ontslape oud-minister Magnus Malan en oud-minister Barend du Plessis oor sy hantering van die beklaenswaardige Bird Island-boek en die nare versinsels oor ‘n georganiseerde gevroetel met bruin seuntjies, verteenwoordig ‘n waterskeidingsoomblik sonder weerga in die treurige sage tot dusver. In die mediageskiedenis is so ‘n openbare boetedoening in ‘n koerant se hoofartikel uiters seldsaam.

Na agt maande is die Groot Leuen wat die oud-polisieman wat misdadiger geword het, Mark Minnie, en die oud-joernalis Chris Steyn deur daardie skuldbelydenis en onvoorwaardelike apologie nou grootliks ter ruste gelê. Omtrent net die uitgewer, Tafelberg, en die oorlewende skrywer, Chris Steyn, volhard in hul verdediging van die onverdedigbare boek. Die waarheid haal hulle egter vinnig in.

Uit my binnekennis as koerantredakteur van die mense, die stelsels en die waardes van my era was die aansprake in die boek vir my oombliklik verregaande, absurd en verwerplik. Daarby het ek waarde geheg aan betekenisvolle verklarings soos dié van genl. Constand Viljoen namens die generaals – ‘n stuk getuienis wat deur dese en gene se oorhaastigheid om ou “apartheidsministers” by te kom, tot hul eie nadeel nie na waarde geskat is nie. So is vingers sleg verbrand.

Rapport het op Sondag 4 Augustus 2018 verskyn met die banier-opskrif op sy voorblad: “Magnus Malan was ‘n pedofiel”. Op Vrydag 10 Augustus was my eerste brief oor die onderwerp in die drie Afrikaanse dagblaaie onder die opskrif: “Sulke beswaddering is betreurenswaardig.” Daarna het verskeie briewe uit my pen gevolg, o.m. “Mnr. X het heelwat vrae om te beantwoord”, “Waar staan die Bird Island-ondersoek nou?” , “Vyf spykers in ‘Bird Island’ se doodkis”, en “O gits, kyk nou wat gebeur met Bird Island”.

Uit die geweldige reaksie sedert Sondag van mense oor die hele spektrum – veral van die betrokkenes en hul naastes, uit Weermag-geledere en uit die geledere van ‘n vorige geslag Naspersers – blyk waardering vir daardie briewe en hul rol – hoe klein of groot ookal – in die finale diskreditering van Minnie en Steyn se boek. Vir my as oud-redakteur wat op die nastrewing van die waarheid en geregtigheid ‘n hoë premie plaas, was dit ‘n gewetensaak. My eie reaksie is dat ek goed voel oor wat bereik is.

‘n Diepe dankbaarheid word ervaar dat ek op 78 nog gegun is om my beskeie deeltjie by te dra. Rapport verdien darem ook ‘n kloppie op die skouer vir sy eerlikheid en grootmoedigheid.

Ondanks al die onvriendelike, beledigende en selfs verguisende opmerkings wat oor die afgelope agt maande uit oningeligte oorde teen my opgestapel is, weerhou ek my daarvan om te kraai. Soos Winston Churchill, volstaan ek maar met die woorde: “I have not always been wrong”.

Baie van die reaksie was in die vorm van private telefoonoproepe en e-posse. Ek beskou dit as persoonlik en vertroulik. Ander was in die ope op Facebook en ander webbladsye. Daaruit herhaal ek graag ‘n verteenwoordigende seleksie omdat dit lig werp op wat eerbare mense dink. Die kommentare word geredigeer om embarasserende persoonlike opmerkings ietwat te verdoesel of liefs weg te laat.

As lesers van die blog die versameling nietemin negatief as teken van ‘n gebrek aan nederigheid beoordeel, sal dit my spyt. Vir diegene vra ek by voorbaat om verskoning.

Klaar gepraat. Van hier af stel ek dan ‘n paar ander mense aan die woord:

Barend du Plessis: Ek beleef dit as een van die mooiste dinge wat ek in my lewe kon ervaar. Baie dankie.

Genl. Gert Opperman: Jy was deurgaans ‘n steunpilaar; ek salueer jou, persoonlik en namens die Malan-familie!

Frans du Randt: Van meet af het jy sterk standpunt teen die gewraakte boek ingeneem. Talle van my ex-militêre kollegas en ek het groot waardering vir jou volgehoue standpunt teen die besoedeling van ‘n persoon se nalatenskap vir wie ons baie respek gehad het.

Inus Aucamp: Hennie ook n warm klop op die skouer van my. Omdat ek Magnus goed geken en steeds in noue kontak met Barend is, het die sage my ook erg ontstel.Min dinge kan so vernietigend vir iemand se beeld wees. Dankie vir jou vreeslose optrede.Dalk n onredelike gedagte – moes die redakteur nie oorweeg het om te bedank nie ?

Guy Robertson: Baie geluk oud-persman Hennie van Deventer vir jou volgehoue druk en aandrang op op die waarheid en verantwoordelike joernalistieke beriggewing oor Bird-eiland. Hou aan met skryf, Hennie – solank jy kan sien. Tula Bula.

Tom Moodie: Dankie vir wat jy gedoen het en geluk met n netjiese brief Sondag in Rapport. Maar wat nou van Tafelberg Uitgewers? Gaan hulle skotvry kom? In die finale instansie staan hulle tog Pa vir die korrektheid van die feite in die boek. Gaan hulle die ‘ lastereise’ optel?

Faan Hancke: Ware koerantmant in murg en been. Help om die pilare van die demokrasie regop te hou. Welgedaan!

Theresa Papenfus: Wonderlike brief. Baie dankie Hennie! Wat jy gedoen het, was inderdaad dapper. En reg, uiteraard. Mens is skoon verlig.

Marius Britz: Amper lus om te sê: Oom Hennie was toe al die tyd reg, al het sommiges hom verguis! Dit wys mens dat daar geen plaasvervanger vir ervaring en joernalistieke vernuf is nie!

Erdee van Huyssteen: Ja Hennie daar is nie n plaasvervanger vir deurdagte insig nie. Komplimente aan jou.

Kammie Strydom: Mooi Hennie, ek glo aan die Nederlandse gesegde: ” die leuen hardloop snel , maar die waarheid agterhaal hom wel.”

Peet Simonis: Mense wat geregtigheid en waarheid wil verhef is jou baie dank verskuldig dat jy die lig bly fokus het op die beswaddering wat met Bird Island gepleeg is. Iemand moes die groter wordende hoop getuienis oor die drie manne se onskuld aan die groot klok bly hang en jy het daardie taak op jou geneem. As een van jou oud kollegas bedank ek jou daarvoor – jy laat ons skoner voel oor ons beroep wat deur die publikasie laagtepunt van Bird Island bevuil is.

Ollie Olwagen: Jy het mos van die begin af al die pot akkies ‘n myl ver geruik, Hennie, maar daar was ‘n paar baie slimmes op jou Facebook-blad wat erg “kwaad” was dat ‘n mens die boek kritiseer “sonder om dit eers te lees” (asof dit ‘n mens sou oortuig om die duidelik herkenbare stuk drek te glo). Ek wonder wat sê hulle nou.

Ten slotte: Soos Ollie kan ek ook maar net wonder. Deur sekere mense word sedert Sondag in alle tale geswyg.

HOEKOM SO STIL OOR BIRD ISLAND?

Oktober 18, 2018 in Uncategorized

Twee maande het verstryk sedert die Bird Island-bohaai losgebars het. So eensklaps soos dit op die nasionale agenda verskyn het, het dit in die sand doodgeloop. Is ons wyser as wat ons was?

Klaarblyklik “nee”. Van die “nog onthullings” wat telkemale uit soveel monde belowe is (o.a. deur die uitgewer Tafelberg en die medeskrywer Chris Steyn) het dadels gekom.

Geen maar geen slagoffer van die beweerde wandade is opgespoor nie, ondanks vurige pleidooie en speurtogte (soos dié van wyle Mark Minnie en verslaggeefster Maygene de Wee kort voor sy dood).
Geen krieseltjie getuienis is opgediep wat die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n “pedofielnetwerk” koppel nie, buiten dat hy – met die wete van sy kantoor en gesin! – op ‘n militệre helikopter na Bird Island is vir die opening van ‘n ghwanokaai.
T.o.v. Magnus Malan is geen aks gevorder nie om bewyse te vind vir wat in ‘n kollektiewe reaksie van Weermag-generaals tereg as “kwaadwillige bespiegelings, omstandigheidsgetuienis en verregaande afleidings” afgemaak is.

Sleutelkarakters, die seun wat in die agterlyf geskiet sou gewees het, die dokter agter sy wonderbaarlike herstel en die matrone wat omgekoop sou gewees het om hom in die geheim te versorg, het soos skimme verdamp. Jy hoor van hulle maar jy sien hulle nie.

Sinspelings dat agter Minnie se dood iets meer kon skuil as die klaarblyklike – die wanhoopsdaad van ‘n verwarde siel – het by wilde raaiery gebly. Geen forensiese of ander ondersoek het iets verdags opgelewer nie.

‘n Mens moet dankbaar wees dat die onheuglike sage nou dood soos ‘n mossie is. Dit is egter verontrusend dat die onreg aan onskuldiges skynbaar dan ook maar net begrawe en vergeet word. ‘n Berouvolle apologie vir ‘n kavalieragtige swartsmeerdery is die minste wat van elke betrokene verwag kan word.

(Ek is dankbaar teenoor Volksblad en Netwerk24 vir die plasing van die briefie vanoggend. Hulle het Barend du Plessis en Maygene de Wee se name verwyder. Ek meen egtr dit is ter sake om dit, soos in die oorspronklike brief, hier te behou.)