Jy blaai in die argief vir magnus malan m.

MEDIA EN WAARHEID

Augustus 20, 2018 in Uncategorized

Een gevolg van die Magnus-sage is dat oud-kollegas uit ‘n vorige era by die koerante weer ‘n slag druk met mekaar gesels. E-posse vlieg. Die verontwaardiging oor die afgelope twee weke se media-sirkus loop hoog.

Dit druis in teen alle joernalistieke etiek om ongetoetste dinge as die waarheid op te dis, word onder mekaar gesệ. Verder: ‘n boek soos “Seuns van Bird-eiland” moes nooit by ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verskyn het nie – bepaald nie voordat ‘n baie beter saak vir die waarheid daarvan uitgemaak kan word nie.

Oor een ding is die meeste dit roerend eens: dat die karaktermoord op Magnus Malan (en die ongenoemde Barend du Plessis) op ten minste uiters wankelende gronde, of, waarskynliker, op totale valse gronde gepleeg word. In ons era, met al sy en ook ons eie gebreke, was so ‘n media-malligheid ondenkbaar.

Verregaande bewerings van die aard sou eenvoudig nooit gepubliseer gewees het nie, nie in my koerant Die Volksblad nie, nie in Die Burger nie, nie in Beeld nie, nie in Rapport nie, ook nie in ‘n boek by Tafelberg-uitgewers nie. Dit sệ ek onomwonde.

Vaste formules en etiekreëls het bestaan om besluite oor sulke sensitiewe stories te neem:

Wie is die bronne?

Hoeveel bronne is daar en klop hul stories?

Bestaan enige bewyse wat op vaste pote staan?

Wat sệ die benadeelde party (audi ad alteram partem)?

M.a.w. hoe seker is ons dat ons die waarheid beet het en nie ons lesers op hol jag met ‘n spookasemstorie nie?

Die gangbare joernalistike etiek van die dag word geïllustreer deur hierdie mooi storie van kollega Johann Holzapfel (die nimlike Appel), destyds, van 1974 af, saam met my een van die pioniers by Beeld:

In die jare 80 was daar stories in omloop oor Alan Boesak se vurige buite-egtelike romanse. Die veiliheidspolisie het hom dopgehou en ‘n mikrofoon in ‘n hotelkamer geplant. ‘n Intieme onderonsie tussen die twee is op band opgeneem. Dis later aan die media gelek, onder meer ook by Beeld.

Die redaksie was onseker wat om met die kompromitterende band te doen. Eenparig is besluit: dit is die saak vir die redakteur, wat toe Willem Wepener was. Hy het vir Ton Vosloo opgevolg.

Wepener het ook geluister en hom gruwelik vererg. Oor sy dooie liggaam! Dit is “dirt disguised as uplift”.

Later het hy ‘n hoofartikel oor die petalje geskryf met die strekking dat ook in die politiek sekere grense nie oorgesteek mag word nie – speel die bal… nie die man nie.

“Dirt disguised as uplift” – die beskrywing pas die Magnus-storie soos ‘n handskoen. Boonop ontbreek die getuienis wat in die Boesak-geval bo alle twyfel was.

In welke mate die sosiale media vir die hele vervlakking in die openbare diskoers verantwoordelik is, kan ‘n mens bespiegel. Ek meen hul bydrae is is geweldig. Die koorsagtige gegons op die internet skep bepaald ‘n losse mediaklimaat wat ons nie geken het nie.

Ten tweede moet dit in alle billikheid gestel word dat nie alle redakteurs ewe entoesiasties aan die jag op Malan (en Du Plessis) deelneem nie. Party staan tog ietwat tru maar bevind hulle in ‘n onbenydenswaardige posisie in die lig van die verwagtinge van opgesweepte Jong Turke in hul redaksies en leserskorpse wie se wrewel in die ou bestel hoog loop.

Vir daardie mense is sulke veldtogte klaarblyklik ‘n soort ontvlugtingsdwelm uit daardie era se onheile – al saal hulle ‘n wilde perd op en is al hul saal en toom so skromelik ontoereikend soos in hierdie geval.

Hoe stop ‘n mens dit? Die gedagte van ‘n volledige, onafhanklike ondersoek word geopper. Dit klink aantreklik, maar dan is die vraag steeds: wie gaan die ondersoek inisieer en wie gaan die byna bomenslike vermag om ‘n bevinding te maak wat naastenby almal oortuig?

Dalk is ek onrealisties maar my hoop is tog ook op die verantwoordelike mense in die media: dat hulle al hoe meer sal herbesin soos Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Sondag voel-voel die pad vir so ‘n herbesinning begin oopmaak het.

Die waarheid moet uiteindelik seëvier. Daaroor moet ons tog almal saamstem.