Jy blaai in die argief vir leeus in sabiepark.

Julie 28, 2014 in Uncategorized

 

Dikgevrete lummel.

Dikgevrete lummel.

Leeus in die park. Hierdie opskrif by ‘n kennisgewing wat jou by die hek in die hand gestop word, is genoeg om leeukoors in Sabiepark hoog te laat opvlam.
Inkommers word meegedeel dat dit “verkieslik” is en “voorgestel word” dat hulle in die lig van die leeu-aanwesigheid dit liefs nie in die strate sal waag vir ‘n staptog nie.

Toe ons Donderdag van Balule terugkeer ná die derde salige saamtrek van ons groepie veteraan-Kollegemanne kry ons ook die waarskuwing by die hek. Ons was toe al per SMS ingelig. Leeus het weer van die Wildtuin as kant af deur die grens gekom soos hulle periodiek doen.

Hierdie keer was dit vyf: ‘n jong mannetjie en vier wyfies. Eintlik was dit nie totaal onverwags nie. Die vorige aande is rondom Sabiepark gebrul vir ‘n vale en van Awie en Sunet Greeff se stoep kon ‘n maanhaar een oggend die vorige week lank dopgehou word.

Die vyf het ongelukkig nie met vreedsame bedoelinge gekom nie. Sommer dadelik is ‘n jong sebra platgetrek en verslind. Die vangs was naby die hoek van Wildevy en Apiesdoring, ‘n klipgooi van Tarlehoet. Ons sou sweerlik toeskouers van die feesmaal kon wees as ons nie Maandagoggend na Balule vertrek het nie. Dalk het hulle nog in ons watergatjie hul dors kom les!

In die 90’s het ses leeus Sabiepark ‘n keer vyf weke lank beset – die langste in die bestaan van die park, na my wete. Hulle het ‘n pad deur Sabiepark se wild gevreet. Een van die eerste slagoffers was ‘n klein kortgat-kameelperdjie, skaars ‘n maand oud.

Ek en Tokkie het hart vasgehou. Vir so ‘n slagting soos laas had ons geen aptyt nie. Boonop is in die park op die oomblik weer ‘n klein kameelperdjie, wat sweerlik een van die eerste teikens sou wees.

Gelukkig het die bestuur nie gras onder sy voete laat groei nie. Twee wyfies is vinnig-vinnig verdoof en na ander oorde verwyder. Twee ander het op hul eie gekom en gegaan. Net die moedswillige mannetjie het hardnekkig vasgeskop.

Woensdagaand slaan hy toe weer toe: die keer ‘n blouwildebees naby erf 270 aan die rivieroewer – nie ver van die toneel van die eerste vangs nie. Die jongste prooi sou ingespan kon word om hom vas te trek, is geoordeel.

Die gevalle wildebees is aan ‘n boom vasgewoel, en die gewag het begin. Vroeg Saterdagoggend is ta op die toneel betrap, verdoof en ook verwyder. Sabiepark was weer veilig om te stap – tensy jy jou bekommer oor die twee waarvan nie rekenskap gegee kon word nie, natuurlik!

Saterdagmiddag ry ons en ons gaste, Herman en Rina le Roux van Randburg, in Wildevy af piekniekplek se kant toe. By erf 231, Thula Thula, kry ons ‘n dikgevrete hiena heerlik aan’t dut as’t ware op die stoep. Ons flitsende kameras laat die ou ‘n slag half orent kom en ‘n tweede keer heeltemal. Toe laat sak hy weer sy groot kop op sy uitgestrekte pote soos ‘n tevrede hond.

Dit is ongelukkig al fotomateriaal wat hierdie ywerige Canon-entoesias van die leeusage van Julie 2014 kan aanbied. Foto’s bo.

Facebook, 25 Julie
Hennie Van Deventer

Hoe klink dit vir ‘n spyskaart vir Balule?
Aand een: Filet op die kole
Aand twee: Beesstertpotjie
Aand drie: Skaapboud in die Weber
Elke aan boonop ‘n ander kleurkombinasie vir die eenstafel. Ons Kollegemanne is nie van hier nie, hoor!