Jy blaai in die argief vir laatoes.

KORREL VIR KORREL

Oktober 20, 2017 in Uncategorized

Ek pluk as’t ware die stories uit die wingerde waardeur ek gewandel het. Die mooi uitdrukking kom uit die Soutpanbergse streekblad Die Zoutpansberger in ‘n netjiese resensie deur die redakteur Anton van Zyl van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” – die eerste oor “Laatoes” na my wete

Van Zyl skryf “Laatoes” is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet moet word. Hier volg sy resensie:

Veteraan-joernalis Hennie van Deventer se nuutste boek het pas verskyn en te midde van die dosyne staaltjies, is daar ook ‘n paar vertellinge vanuit die Soutpansberg.

Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood koerantman, is pas deur Naledi Uitgewers vrygestel. Dit is Van Deventer se 18de boek, wat volg op treffers soos Scoops en Skandes (1993), Kronieke van ‘n koerantman (1998), Mayafudi (2005) en Spore in die bos: Swerftog van ‘n olifant (2012).

In Laatoes pluk Van Deventer as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. Die staaltjies is nie noodwendig nuut nie, maar eerder ‘n vars vermengsel met Van Deventer se unieke vertelgeur.

Die boek begin met die hartseer van die dood van die “prins van syfermense”, Eric Wiese. Dié 81-jarige voormalige finansiële direkteur van Naspers is in Augustus vanjaar buite sy huis in Kaapstad vermoor. Dit is een van die persone wat ‘n lang pad saam met Van Deventer in sy joernalistieke loopbaan gestap het.

Van Deventer se oeuvre is egter nie smart nie, en die humor slaan telkens deur in sy beskrywing van mense en selfs die natuur. Sy liefde vir die wildtuin is reeds in verskeie van sy vorige boeke verklaar en in Laatoes kom kuier Sabiepark se luiperd weer. Die humor kom veral uit sy joernalis-dae en sluit ‘n erg amusante hoofstuk oor koerantopskrifte in. Selfs die politiek kom in oënskou, met terugblikke op Hendrik Verwoerd se dood in 1966 en die Soweto opstande tien jaar later.

Nader aan die Soutpansberg is dit egter die gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog wat hervertel word. Uit die boeke van plaaslike historikus Charles Leach ontdek hy weer die storie van konstabel Billy Eagle, die Kanadees-gebore polisieman wat in die Soutpansberg gestasioneer was. In September 1908 word hy tussen Messina en Pontdrif deur leeus oorval. Eagle slaag daarin om na ‘n epiese geveg met een van die leeus die dier dood te maak. Sy beserings was egter van so ‘n aard dat hy kort na sy aankoms by Elim hospitaal oorlede is.

Die rolprent Modder en Bloed is in April 2016 uitgereik en vertel die verhaal van die Bushveldt Carbinneers, onder leiding van Henry “Breaker” Morant en sy handperd, Peter Handcock. Van Deventer som die gruweldade wat teen die einde van die oorlog plaasgevind het pragtig op in die vier-bladsy hoofstuk.

Een van die “soetdruiwe” van Laatoes is sekerlik die hoofstuk wat handel oor John Murray, die Hertog van Atholl, wat vir die grootste deel van sy lewe op Haenertsburg in Limpopo gewoon het. Die 12de Hertog van Atholl is natuurlik sy seun, Bruce Murray, wat steeds op Louis Trichardt woon.

Van Deventer se boek is deels nostalgie, deels geskiedenis, maar grotendeels gaan dit oor menswees. Waar die humor deurslaan, is dit telkens met deernis. Dit is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet kan word, sonder dat daar ‘n volgorde voorgeskryf word oor hoe hierdie “laat oes” geniet moet word.

Laatoes is beskikbaar by die meeste boekwinkels. Dit kan ook direk bestel word by Naledi: http://naledi.online

KANNIEDOOD-KOERANTMAN

Augustus 31, 2017 in Uncategorized

Hierdie Hennie van Deventer-ou moes beslis ‘n koerantman gewees het” – kollega Sarel Venter se kommentaar ná ‘n vinnige koekeloer na die omslag van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”.

Sarel is in die omgewing van die kol, maar nie presies daar nie. Vervang asseblief die “moes gewees het” met “moet wees”. Die boodskap van die boek is juis dit: ná 20 jaar van aftrede bly hierdie kanniedood steeds in hart en niere joernalis. Het nou nie meer ‘n koerant om sy “passievolle drif” (kollegas se formulering) uit te woed nie; woed hom dus maar uit in koerante en tydskrifte, op webblaaie en in blogs (en boeke!).

In die 55 hoofstukke en die 275 bladsye van “Laatoes” is ‘n seleksie uit gepleegde joernalistiek sedert einde 1997 –nogal ‘n aansienlike massa materiaal.

Hope kykies word in talle hoofstukke gebied in my loopbaan van 36 jaar by koerante – van my kennismaking met “Die Volksblad” as kleuter aan Oupa Visser se voete tot my eerste besoek, nou anderdag eers, aan die imposante Mediasentrum in Johannesburg, waarvoor ek dekades gelede die grond uitgesoek het.

Die boek is egter geen biografie nie. Verre daarvandaan. Dis eweseer ‘n boek oor mense as ‘n boek oor die perswese en koerante. In minstens 20 van die 55 hoofstukke word op mense gefokus: van die grootste van groot kokkedore tot kollegas met wie ek by koerante en later in die hoofkantoor van die Pers skouer aan skouer gewerk het.

Louis Esterhuizen stel dit in sy voorwoord (‘n voorwoord “om van te droom”) vir my mooi: “In Hennie van Deventer se loopbaan en lewe het dit hom geluk om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Hulle het hy oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken; iemand wat nou oor hulle en hul wedervaringe kan skryf as ’n ouer, waarderende skrywer wat sterk onder die indruk staan van die verbygaande aard van dinge.”

Uit Pers-geledere sluit dit persoonlikhede in soos Piet Cillié, Ton Vosloo, Eric Wiese – pas so redeloos in sy eie huis in Kaapstad vermoor – Johannes Grosskopf, Alf Ries, Johan van Wyk, Jan Scholtz, Ben van Rensburg, Fred Schnetler, Pirow Bekker en heelparty andere. Allerlei geheimpies word verklap.

Op die lys van “buitemense” is onder andere Pik Botha (hier in die ongewone rol van kortverhaalskrywer, smeulend van passie); ds. Okkie Raubenheimer (Afrikaanse Paulus); Gustav Hoexter (gulste gasheer in Sabiepark); Wynand Mouton (ware aristokraat); Barnie Human (motormagnaat), John Murray (halsstarrige Suid-Afrikaner op wie die hertogdom van Atholl geval het) en W.D. Kotzé (aardse skrywer uit die Kalahari).

Dit het my nie net geluk om in my loopbaan met sulke indrukwekkende mense paaie te kruis nie, maar om by van die grootste koerantstories van die era ten nouste betrokke te wees. In “Laatoes” is ‘n hoofstuk oor die skokkende moord op dr. HF Verwoerd en die asemrowende eerste hartoorplanting deur prof. Chris Barnard. Besoek saam die boeiende Hartmuseum.

Sabiepark, my geliefde bostoevlug, en die Krugerwildtuin lewer ook heelwat stof. Ek skryf oor luiperds, ratels, gevegte met leeus, natuurboeke van groot waarde en betekenis …. En van bosmense van hoë stoffasie.

Die kerk en kerkmense , die geskiedenis en die politiek word aangeroer. Ek skryf oor ‘n kerkbasaar wat met ‘n “skiet-gebed” geopen word en van “boerematriek” by ds. Beyers Naudè in 1957.

My sportskrywervriende sal dalk skeef opkyk, maar ek takel sport: rugby en boks – Hennie Muller (my rugbyheld), Gerrie Coetzee en Kallie Knoetze (die twee Boerseun-swaargewigte).

My liefde vir motors kom in meer as een hoofstuk na vore. Hoekom is my registrasienommer TY 24 WP, al is ek ‘n Bul?

Op persoonlike vlak, is hoofstukke oor spesiale mense na aan my, salige vakansies (Buffelsbaai en die Queen Mary2), Kollegetehuis op Tukkies en Harvard waar ek die voorreg gehad het om 40 jaar gelede Nieman Fellow te wees. Ek verplaas ons matriekklas van 1957 op Potch-Volkies in die moderne tyd en bespiegel, tong in die kies, oor hoe ons klomp by ‘n “Plett Rage” sou rinkink het. Wie sou dalk ‘n T-hempie laat waai het?

Van die hoofstuk-titels in die boek is: LIEWE BLIKSEMS (oor ratels), OTJIE MET ’N CV, DIE SOOL EN DIE KOUS (oor lekker koerantopskrifte), ELKE OGGEND GATOORKOP (Johan van Wyk), KAALBAS EN STRIKDAS, VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN, VERMOMDE ENGELTJIE (Piet Cillié) en PROFEET IN ROOI PAJAMAS Alf Ries).

Dit verklap hopelik dat hierdie “lewensverslag” (Louis E se woord) geen stroewe, formele boek is nie – nee, sterk informeel, hoor, met ‘n goeie skeut humor en selfs stoutigheidjies plek-plek.

Hoop maar die resep werk vir die leser. Laat weet gerus.

•“Laatoes” is binnekort by boekwinkels op die rakke. Kan nou reeds bestel word by Naledi: http://naledi.online/

LAATOES UIT MELKBOS

Junie 19, 2017 in Uncategorized

Scoops en skandes – my eerste boek. 24 jaar later kom nou die laaste, Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman..

Douvoordag more as die Kaap nog net begin ontwaak, sal ek en Tokkie op pad wees van Melkbos af lughawe toe. As alles reg verloop, sit ons more-aand by ‘n vuurtjie in Sabiepark. ‘n Vakansie van amper drie maande wag, so plus-minus al ons 50ste vandat Tarlehoet einde 1997 in ons lewens gekom het.

Natuurlik sien ons geweldig uit na die vreugdes van die bos: elke dag se verrassings rondom die huis; sebras se besoeke aan ons watergat; die sy aan sy leef met die natuur in hierdie repie ongerepte Afrika naas die Krugerhek van die wildtuin en die Sabierivier. Ons sien uit na die spesiale ervarings wat maar elke keer opduik en elke bosvakansie as ‘t ware definieer.

Tog kom vanjaar ‘n element in die prentjie wat ons vakansie ietwat anders gaan maak. Die uwe gaan die almanak dophou en selfs die slapies tel. Hy gaan begin haastig raak.

Sê nou weer? Ja, julle het reg gehoor. Die haastigheid het darem ‘n goeie verklaring. Kom September, kom ‘n “laatoesie” van die uwe uit die land – of die wingerd, as jy wil: die uitgewer Naledi publiseer van die 76-jarige ‘n boek wat op hierdie rype ouderdom seker sy laaste sal wees: Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman. Brand ek nie om weer ná ‘n lang onderbreking ‘n boek vars van die pers in my hande te hou nie!

Oor die titel is lank gedink. Laatoes het gewen, en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) se woordomskrywing het sowat die deurslag gegee. ‘n Laatoes is, volgens die WAT, vereers ‘n oes wat lank op die land staan en laat in die seisoen ingesamel word. Wat seker in hierdie geval met die HvD-oesie gebeur. ‘n Tweede betekenis is ‘n laatoeswyntjie uit die wynkamer. Hoop maar daar sal lesers wees vir wie Laatoes so ‘n behaaglike leesplesier bring soos ‘n glasie vrugtige laatoes.

Die “kanniedood-koerantman” in die subtitel sal seker nie ‘n verrassing wees vir mense wat Van Deventer ken nie. Kollegas het my inBloemfontein ‘n “kompulsiewe” koerantman genoem weens my “passievolle drif”. Ek glo hulle sal maklik van “kompulsief” tot “kanniedood” kan vorder weens my uithou en aanhou vir soveel jare al.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur in die Perssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek ná ses jaar weg van skryf. Soos Sabiepark ekstra genot tot my 20 jaar as afgetredene bygedra het – en bootvaarte! – het die terugkeer tot my eerste liefde, skryf, ook elke dag vir my waarde toegevoeg.

Skryf, skryf, skryf nie net in my blogs en op my eie webblaaie nie. Nie net enkele boekies nie. Maar in die drie Afrikaanse dagblaaie en in Rapport, in tydskrifte soos Huisgenoot, Sawubona en By, ook op Litnet, Netwerk24 en sy eie webblaaie. Uit hierdie laatoes van my is die versameling in die bundel geput.

Van begrafnisse tot feeste; van herdenkings tot bekendstellings; van humor tot ernstige besinnings kom in die versameling aan die bod.

Louis Esterhuizen, tekspraktisyn van Stellenbosch, wys daarop dat dit my in my lewe en loopbaan geluk het om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Oor baie wat ek oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken het; skryf ek in Laatoes. Mense is die oorheersende tema, dan die koerantwese, die natuur, persoonlike dinge – ook my skool- en studentejare – kerk en sport.

Geleentheidstukke is uiteenlopend: van die 50ste herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd tot die 30ste herdenking van Gerrie Coetzee se verowering van die wêreld-swaargewigbokstitel. Ek waag my hand selfs aan rugby. Wonder wat my sportskrywer-kollegas daaroor sal sê!

Ten slotte: maak seblief ‘n merkie op die almanak by September en volg Nataniel se raad een keer: koop tog maar daardie “blerrie boek”!

* Volgende blog kom uit Sabiepark.