Jy blaai in die argief vir krugerwildtuin.

OP DIEREPAAIE

Julie 18, 2016 in Uncategorized

Kinders se leeus.

Kinders se leeus.

Luiperd by die piekniekplek. Die nuus trek soos ‘n veldbrand deur Sabiepark. Skielik wemel dit van eienaars en gaste met kameras en verkykers.

Tot op datum het ons hierdie vakansie drie keer luiperds in die omgewing van ons eie “Leopard Rock” by die piekniekplek gesien. Opwinding nommer een aan die dierefront in die kinders se vakansie was (moontlik) die verskyning van sommere twee luiperds op een slag daar langs die Sabierivier.

Die twee het ‘n ver ent grasieus voor ons verbygestap. Rooibokkies wat op pad was rivier toe, het haastig laat spaander. Soos ‘n rooi gordyn, aldus Tokkie. Die foto van die groot mannetjie op my kamera is danksy Jacob se fermer hand en skerper oog as sy oupa s’n. Die wyfie het deurgaans op die agtergrond gebly. Ons het haar egter ook mooi gesien. Die seuns was in vervoering.

Die eerste een het die dag van die algemene jaarvergadering in die tradisionele markiestent van die oorkant van die rivier in die yl sonnetjie die petalje lê en dophou. Dalk het die reuk van die tradisionele braaivleis, pap en sjeba die ou se aptyt aangewakker.

By piekniekplek.

By piekniekplek.

Die woord “moontlik” tussen hakies voor die nommer-een-etiket is omdat daardie eer dalk in die seuns se boekie aan hul 20 leeus by die N’waswitshaka-watergat behoort. Pragtige foto’s opgelewer: leeus wat in ‘n ry hul dors les.

Dit was die eerste naweek van hul vakansie met hul pa, Brent, hier op ‘n verrassingsbesoek. Oupa en ouma is die oggend nie saam wildtuin toe nie. Toe mis ons ‘n leeu-waarneming van die eerste water. Later, nadat die Claassense reeds weg was, was daar glo ‘n dosyn of wat leeus by en naby die piekniekplek. Die Van Deventers was weer nie op die regte tyd op die regte plek nie.

In die bittere-bittere droogte ry ‘n mens ver ente sonder om veel te sien. Oor olifante, renosters en buffels kan ons egter nie kla nie. Die ou grotes was volop. Naby Afsaal het ons ‘n keer nege renosters by ‘n watergat raakgeloop – die meeste in al die jare. Op pad na die Phabeni was die veld een oggend skielik swart van die buffels – ‘n trop van honderde der honderde.

Renosters bondel by die water.

Renosters bondel by die water.

Die lelikste gesig van die droogte is ongetwyfeld aasvoëls wat mekaar verdring op ‘n kaal karkas. Sulke neerdrukkende toneeltjies is ongelukkig taamlik algemeen op ‘n reis deur die sentrale Krugerwildtuin. Di wit skelette van diere wat dit nie gemaak het nie, le versprei tussen die yl bossies op die kaalgevrete veld.

Veral die arme seekoeie leef swaar. ‘n Mens se hart gaan uit na die ou grotes as julle hang-skouer ver van hul waterwoning sien ronddwaal op soek na ‘n grassie.

Ook vir voëls is die kos minnerig. Ons het ‘n familiegroepie bromvoëls raakgeloop wat met buitengewone verbetenheid ‘n boomstam takel. Iets het klaarblyklik daarin geskuil wat ‘n lekker middaghappie kon word: ‘n sappige slangetjie of ander reptiel, vingerlek-lekker kuikens of voëleietjies, ‘n kolonie goggas of selfs ‘n klein soogdiertjie. Hulle wou daardie begeerlikheid met alle geweld uitkry – eers deur hul snawels diep in die gat af te boor, en toe dit nie werk nie die stam met hul snawels aan te val dat jy net been teen hout hoor klap so tussen die luidrugtige ge-oemf, -oemf deur.

Laat dit maar hoe droog wees – en ek oordryf nie hoe erg dit is nie – maar ‘n wandeling in Sabiepark is nog altyd sielsverkwikkend, al is dit net vir daardie sierlike patrone wat die takke van die bome aan weerskante teen die blou-blou hemel afets. Die piekniekplek is ondanks alles steeds ‘n lushof. Dit word deur Organ voortreflik versorg. Al is die rivier ver van bruisend bly elke besoek ‘n plesier.

Ek is spyt ons het nie meer kere met die kinders daarheen gestap nie. Vasberade om dit vorentoe gereelder te doen!

Tarlehoet se watergatjie het tot op datum, vreemd genoeg, nie veel aftrek gekry nie. Die sebras en wildebeeste – gewoonlik gretige besoekers – slof verby na die voerplekke toe. Hulle drink seker elders. Bobbejane en gebande muishondjies kom wel Tarlehoet se water geniet.
Die nagapies het nie teleur gestel nie. Hoe kon hulle as die seuns soveel moeite doen om die piesang so netjies in kreatiewe patrone vir hulle uit te pak?

‘n Geheiminnige besoeker is die kalant wat Saterdag sy vel van sowat een meter tussen die klinkerbakstene van Tarlehoet se buitemuur by die woonkamer gelaat het – stertjie wapperende in die ligte windjie. Seuns sou sekerlik opgewonde gereageer het.

Bo skryf ek van die seuns se boekie. Thomas het werklik ‘n boekie waarin hy waarnemings getrou opteken. Hy spog al met jare se statistieke en kan in ‘n japtrap vir jou vertel hoeveel diere jy op watter dag op watter roete gesien het.

Christopher het hom ontpop as geesdriftige fotograaf. Boetie Jacob se kamera is na hom aangegee. Hy neem BAIE foto’s en is gedurig besig mt kyk weers. Sy grootste probleem was batterye. Wens ek het statistieke gehou van hoeveel keer op sy kamera se skerm die boodskap geflits is: Change the batteries.

LEEUVANGS X 2

Augustus 20, 2014 in Uncategorized

Die leeuwyfie en sebra nommer twee.

Die leeuwyfie en sebra nommer twee.

Twee-sebras-met-een-vangs-bokveld-toe-laagte. Met die naam sal ek voortaan ‘n leegtetjie naby die skilderagtige Marheya-drinkplek tussen Tshokwane en Satara onthou.

Op pad na Balule het ons Vrydag op die H1-3 ‘n troppie leeus raakgeloop wat sommer twee sebras op een slag platgetrek het. Een karkas was sowat 100 meter van die ander. Ons het op die toneel aangekom sowat 45 minute ná die vangs, is ons deur ‘n toeskouer meegedeel. Die eerste blik was op drie leeus wat in die koelte aan ‘n sebrakarkas lê en vreet. ‘n Paar ander het ‘n entjie agter toe sonnetjie gaan soek.

Gelukkig was die vangs ewe bedagsaam in ‘n leegte sodat die insittendes van die fris klomp motors wat vinnig opgedam het, goed kon sien en foto’s neem.

In dieselfde gees van bedagsaamheid gee ek my goeie plek later aan ‘n laatkommer prys. Toe ek wegtrek, bemerk ek ‘n leeuwyfie in die veld langs my draf. ‘n Entjie kruie ek so saam met haar aan. Toe swenk sy oor die pad en mik vir ‘n bossie teenaan die teer, vlakvoor die Honda verby. Dis daar waar ons toe die tweede sebra gewaar, maag nog nie eens oopgeskeur nie. Dalk nog op die teer platgetrek en soontoe gesleep. Die leeus se oë was seker maar groter as hul mae.

Soos ‘n moeder so opreg het Mevrou Leeu eers ophou eet om eers te gaan seker maak alles is nog in orde by die koskas. So onverwags was haar verskyning op die teer dat ek total onverhoeds betrap was. Tyd om lense om te ruil, was daar nie. Met die lang lens was sy so naby dat sy te groot was vir die skermpie. Die uwe het vinnig die Honda se elektriese ruitknoppie gedruk toe hy daardie spoegbek en slagtande deur die lens sien.

Sebra nommer een - 'n feesmaal.

Sebra nommer een – ‘n feesmaal.

Twee uur later is ‘n vriend by dieselfde leeuvangs kwadraat verby. Wat hy gesien het, was ‘n presiese herhaling van die oggend se gebeure. Ook hy het ‘n ruk die feesmaal dopgehou en toe gesien hoe die wyfie oor die pad draf om sake by sebra nommer twee te gaan monitor. Klaarblyklik het sy die taak ernstig opgeneem!

‘n Kilometer of twee verder het ons ‘n jong leeutjie gekry wat bra verwese tussen twee bome senuweeagtig die wêreld om hom bespied het. Ons glo hy is alleen daar agtergelaat terwyl die volwassenes op die jag uit was. Hoop hy het ‘n lekker karmenaadjie gekry.

Met die terugkomslag Sabiepark toe Maandagoggend het ons agt leeus teenaan die water by Marheya gekry. Jy kon sommer sien hulle is behaaglik trommeldik gevreet. Klaarblyklik dieselfde troppie van Vrydag. Sebra nommer twee was nie meer onder die bos langs die pad nie. Maar toe staan ‘n wyfie gedoriewaar op en begin oor die pad aanslenter die bosse in. Koshuis was waarskynlik intussen tot ‘n meer private eetplek verskuif, en sy het net gou weer gaan seker maak.

Altyd lekker om Olifants se kant toe te ry. Ons het ‘n entjie voor die Nhlanguleni-afdraai die seldsame voorreg beleef om swartwitpense by die water te sien bondel. Digte takke het dit, helaas, onmoontlik genaak om te tel of om foto’s te neem. By een van on sander Balulegangers verneem daar was 20. Wees maar ekstra waaksaam, mense, as julle in daardie kontrei rond ry. Ons het hierdie trotse spogdiere al voorheen naby Tshokwane gekry.

Die tog het onder meer ook drie groot troppe buffels, hope olifante en kameelperde en digte plate sebras en blouwildebeeste opgelewer. Die S1 was, soos altyd, ‘n vreugde. Nie verniet nie, bly dit een van my gunstelingpaaie in die ganse Wildtuin. En Balule? Balule bly bobaas, al is die laagwaterbrug oor die Olifants STEEDS vir verkeer gesluit.

VYF GROTES

Augustus 5, 2014 in Uncategorized

IMG_2900-001Sondagmiddag langs die Sabie

Op my bedkassie in Tarlehoet is Jeff Gordon se 101 Kruger Tales waartoe die uwe ook ‘n uiters beskeie bydrae gelewer het. Ysingwekkende, hartroerende en humoristiese wildtuinverhale in daardie boek. Kry hom – en bekoor almal langs die kampvuur met jou stories.

Op bladsy 327 word amper terloops genoem van ene Sharmeli Ramchander wat in die eerste drie uur van haar eerste besoek die Vyf Grotes raakgeloop het. Nie sommerso nie. Luiperd bekruip wildebees; leeus vreet aan ‘n karkas; dertig olifante storm deur die bos; renoster merk sy gebied reg langs die pad; net die buffels was onaktief – het lui in die gras lê en herkou.

Sharmeli is blykbaar sommer met twee (vyf?) goue lepels in die mond gebore. Maar nou-ja, die gelukgsdodin glimlag op sommige meer as op ander (ook partykeer meer as ander kere). Ekself het darem al op stil dae drie uur gery en kwalik ‘n rooibokkie in die verte gewaar.

 

Sondag op pad kerk toe op die S3

Sondag op pad kerk toe op die S3

Sondag was weer een van daardie gawe uitsonderings. Amper laat gewees vir kerk met vertragingsfaktore soos die twee leeumannetjies op die S3, ‘n renoster op die Doispanepad, asook twee troppe olifante, ‘n luiperd en ‘n trop kameelperde op die Skukuzapad. Waar was die buffels tog, het ek myself afgevra.

Laatmiddag stap ons na ons geliefde piekniekplek toe. Rustiger kan ‘n Sondagmiddag kwalik as daar langs die Sabierivier – boonop, soos Sondag, met twee troppe olifante 100 meter uit mekaar, en grootvoete voor, langs, agter en om die uitkykplekke oor die rivier en die oorkantste oewer.

Bewonder nog die betowerende olifanttonele so, toe: Voila! Hier stap twee “dagghaboys” (ou modderbekoekte bulle wat merendeels in rivierlope woon) uit die bos, en later sommer vir ‘n toegif in die sakkende son verby ‘n klompie olifante op die rivier se oewer. Toe haal die Van D’s darem ‘n Groot-Vyf-dag – ons eerste in ’n taamlike rukkie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, asseblief. Die wildtuin bestaan uit veel-veel meer as die Vyf Grotes, en die algemene gejaag na veral leeus met behulp van krakende tweerigtingradio’s staan hierdie wildtuinliefhebber nie juis aan nie. ‘n Trop swartwitpense sal elke keer vir my ‘n groter prys wees as selfs daardie indrukwekkende kraagmannetjies wat ons oop en bloot op die rivierpad gesien het.

En die tienstuks kameelperde langs die Skukuzapad – een fier kleintjie onder hulle – was, eerlik gesproke, eintlik ‘n mooier toneel as die luiperd wat tussen ‘n dosyn of meer versamelde safarivoertuie en motors soos blits oor die pad geseil het.

Tog – die Vyf Grotes is die Vyf Grotes. Om almal die een na die ander af te tik, bly tog maar ‘n heimlike lekkerte. Ook vir hierdie ou gryse veteraan met hope wildtuinbesoeke agter die blad.

(My storie in Jeff Gordon se boek heet An Astonishing Confluence of Killers en vertel van ‘n episode langs die Salitjepad lank-lank gelede met leeus, ‘n luiperd en ‘n krokodil as hooffigure.)

WILD EN WOES OP STEMDAG

Mei 8, 2014 in Uncategorized

IMG_2109-001Op stemdag, gister 7 Mei 2014, het ek en die gade ons kruisies op Onder-Sabie vir die kleiner partytjie van ons keuse getrek – ‘n gedenkwaardige dag in vele opsigte.

Dit was ‘n japtrap-besigheid. Binne vyf minute was ons in en uit – Tokkie boonop met die komplikasie dat haar ID-boek al langerig gelede in Walvisbaai gesteel is. Ons ontdek toe by die stembus ‘n rybewys is ewe geldig. Niemand het dit vooraf vir ons gesê nie.

Dit was ook ‘n op-die-nippertjie-besigheid. Die Van D’s was die laaste twee wat op Onder-Sabie deur die worsmasjien is. Toe die pak die vriendelike OVK-spannetjie om 11:30 sy skandeerders, stembriewe, stempels en wat nog en laat vat Krokodilbrug toe vir die middagskof daar.

‘n Spesiale bonus van stemdag was die stortvloed olifante wat ons in en om die Sabie raakgeloop het – honderde dalk? Ek en Tokkie het oor die raming van getalle verskil, maar saamgestem dit was die meeste op een dag in ons ervaring. Vir die jeugdige Christopher Claassens (5), ons kuiergas vir die vakansie, was soveel Grootvoete (en klein Grootvoetjies tussenin) allesins merkwaardig. Natuurlik. Glo hy het verlede nag van olifante gedroom.
IMG_2088

 

Op een kol langs die Sabierivier, enkele kilometer suid van die laagwaterbrug, was twee troppe op ‘n hoop: die een hoofsaaklik in die water, die ander al weer beurend teen die wal op na ‘n koel verfrissing op ’n warm Meidag in die wildtuin.

IMG_2097

Net daar kry ons skeef in die pad ‘n polsiebakkie. Sy voorkant is voos geslaan. Lang sleepmerke getuig dat daar vinnig gery is. Lyk of hy teen ‘n muur vasgejaag het, waag Tokkie.

‘n Stewige polisievrou op die toneel verskaf geselserig die ontbrekende inligting. Die botsing was teen ‘n olifant.

En die olifant? Sy wys met ‘n gulle armswaai rivier se kant toe. “He’s there” – klaarblyklik dus ongedeerd tussen sy makkers!

Nadat ons klaar gestem het, is ‘n polisievragmotor by ons verby, waarskynlik om die stukkende bakkie vinnig te gaan verwyder voordat die verleentheid te groot raak.

Op die terugsit op die Onder-Sabiepad, naby die piekniekplek Nkuhlu, beleef ons ‘n ander olifant-insident waaroor ‘n mens kan bespiegel en wonder. Ons sien ‘n trop vinnig oor die pad beweeg soos kenmerkend van olifante is as hulle ‘n pad oorsteek. Toe, asof ‘n swerm bye op hulle losgelaat is, swaai hulle om en peuel weer terug op hul spore by die bosse uit.

Hulle bondel senuweeagtig in die teerpad. Die slurpe swaai in die lug. Die trompetter kom diep uit die keel. Voertuie aan weerskante skakel versigtigheidshalwe oor na trurat.

Hulle het klaarblyklik vir iets geskrik. Sou dit gewees het oor die baie kleintjies in die trop? Sou dit leeus daar in die bos gewees het? En toe hulle na ‘n rukkie op dieselfde plek weer die bos in is: het die leeus toe gewyk? Hoe sal ons ooit weet?

Nietemin, Woensdag 7 Mei sou al alleen om daardie episodetjie kon uitstaan as ‘n spesiale wildtuin-dag.

Amper vergeet so tussen die olifantstories deur. Ja, ek, Tokkie en Christopher het toe ook by die Mugg & Bean op Onder Sabie gaan eet – waarskynlik die skilderagtigste ene wat bestaan, so op die oewer van die Sabie met seekoeie wat brom, voels wat in die lug draai en olifante wat nat uit die water stap.

Ons oordeel: Vyf sterre vir die die voorkoms, diens, spyskaarte en kwaliteit van kos. Ons hamburtgers was in ‘n ander klas as wat Sanparke se eie spyseniering ooit opgetower het. Net vier sterre egter vir waarde vir geld – want de pryse is styf (R50 vir ‘n kinder-burger!).

Maar wees gerus mense, ‘n Mugg & Bean in die wildtuin tas nie die karakter aan nie. Dit bedreig niks. Dis wel ‘n lekker nuwe “afsaal” as jy honger en dors opdaag na ure se wild soek.

(Hoe dit gekom het dat ons op Onder-Sabie gestem het? Wel, dis ‘n ander storie. Skukuza se stembus was in die visier. Daar was die tou so lank – vriend het drie uur moes staan – dat dadelik besluit is om liewer later terug te kom. Toe val die Onder-Sabie-gelukkie in ons skote.)