Jy blaai in die argief vir kollegetehuis.

‘N IENK IN 1958

Januarie 28, 2018 in Uncategorized

By die begin van die nuwe akademiese jaar 2018 aan ons universiteite gaan die gedagtes van hierdie Tukkie-kalwer van 1958 ver terug: na die dae van ienk-wees in die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

Kollegetehuis was toe nog op die hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou. Al die meisies moes daar verbystap klas toe. Spitsvondige kommentare het nie uitgbly oor al die vietse en minder vietse lyfies lyfies wat deur ‘n waarderende gehoor waargeneem is nie.

In Kollege is ’n ienk toentertyd behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons moes gereeld voor die eetsaal (lankal die slagoffer van vooruitgang) in gelid aantree.

Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Sarge Bourke – hier in versiersuiker op ‘n koek.

Dit was die tyd van modderbaddens, die “pil” (’n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” – elkeen ’n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ’n element van weerbarstigheid te tem!

Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk moes maar weet: vir ‘n jaar lank is hy lyfeiene vir ‘n veeleisende senior. Jy het honderde pare sweterige sokkies gewas. Een senior het selfs geverg dat ‘n ienk op ‘n koue wintersoggend vir hom die toiletbril gaan warm sit.

Die arme ienk sou ‘n paar keer moes inpak en trek (met al sy klere, al sy koffers, al sy boeke) en “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot met die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Tot daardie welaangename dag het jy ‘n geel knopie op die bors gedra met die letter “K”. Nogal snaaks gewees toe daar vroeg die jaar een Sondagaand ‘n kerksleep was saam met Asterhof. Daar sit ons toe in Pretoria-Oos se kerkbanke: Kollegeman (K), Asterhoffer (A), Kollegeman (K), Asterhoffer (A) ……

‘n Jaar van enorme nederigheid was dit. Maar ons het oorleef, het seniors geword en op ons beurt die pyn uitgedeel. Hopelik ook die liefde vir Kollege aan ons opvolgers oorgedra.

Van die tradisies het ses dekades bly voortleef, verneem ek dankbaar. Die gelukbringer, Sarge Bourke, ’n beton-polisieman wat by ’n huis in Gezina geskaai is, bestaan steeds. Nuwes tradisies het bygekom. Party bo hierdie begrip. Tye verander.

In Junie trek nege Kollege-tydgenote uit daardie era weer saam in die Orpenkamp in die Krugerwildtuin – ‘n wonderlike tradisie wat nuut posgevat het. Ons sal vir seker ‘n heildronkie of twee geniet op die 60 jaar wat sedert 1958 verloop het.

Helaas sal dit maar met al die skete en so aan sukkel-sukkel gaan om te “haaitjokkelorum, haasbekpatrollum ….”

Deel dit:

MET GRASSNYER DEUR DIE KAROO

Junie 2, 2016 in Uncategorized

O Sole Mio!

O Sole Mio!

My eerste studenteryding was ‘n Peugeot 203 van 1953 – weduwee se motor, goed opgepas. Een aand in 1960 vat ek ‘n aster met ‘n kort opwiprokkie na ‘n tafeltennisoefening toe. Iets – weet nie wat nie – trek my aandag van die pad af. Ek mis die stopstraat op die hoek van Farendenstraat en Kerkstraat, Pretoria met sware gevolge. Peugeot raak gestamp. Peugeot rol.

Aster is in ‘n ambulans hospitaal toe met ‘n beseerde arm. Gelukkig nie te ernstig nie. Die uwe is uit sy bloedgroep geskrik maar ongedeerd. Die onversekerede Peugeot bring egter ‘n eindelose lang tyd deur by ‘n agterjaart-paneelkklopper in Brooklyn iewers, al billike kwotasie beskikbaar. My kar se kleur het daar van ligblou tot donkerblou verander. In vele ander opsigte was dit ook nooit weer dieselfde nie.

Halfpad deur 1961 besluit my besorgde ouers: Die Peugeot se betroubaarheid het helaas ‘n sterk element van twyfelagtigheid ontwikkel. Ek is die naweek op Klerkdsorp en ons is die Saterdagoggend “motor town”. Die “Santa Maria” word ingeruil vir die “Grassnyer” of die “Skoolbus” – albei my studentemaat Pierre le Roux, ‘n bedrewe naamgewer, se kreatiewe skeppings.

Pierre het, terloops, ‘n lykwa ‘n “beentuintaxi” genoem en ‘n ambulans ‘n “aspirant-beentuintaxi”. Maar dis natuurlik nie nou hier ter sake nie.

Die “Grassnyer”/”Skoolbus” was ’n splinternuwe Fiat 500-stasiewa, 62-model, uit die boks, – ’n donkerbloue. Die beroemde Cinquecento met sy 500 c.c.-enjin. Daardier ougat Taljanertjie waaroor in Motors van 2 Junie 2016 met verskuldigde eerbied berig word.

Die Taljanertjie het in 1957 in stram ekonomiese tye sy buiging gemaak en was vinnig ‘n treffer danksy sy kompakte afmetings en ougat voorkoms, herinner Motors aan – die rede vir verkope van 3,5 miljoen.

Vir my was die stasiewaentjie se voorkoms inderdaad ougat. Die pikante stasiewa-lyfie en seilsondakkie het getuig van Italiaanse pizzazz. Die sondakkie was ideaal as jy iets langerigs soos ‘n besem wou inlaai. Of die windjie deur ‘n aster se hare wou laat speel. Sy suinigheid met brandstof was boonop eksieperfeksie vir ‘n studentebegroting.

In die boek, “Tutte le Fiat” (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” ‘n sekere geldigheid verleen.

Die grootste dryfveer vir my keuse was egter niks van bostaande nie. Dit was, om 100 persent eerlik te wees, die enigste nuwe sakpas-motortjie op die vloer op Klerksdorp. Vir die goedkoopste model Mini (wat die alternatief was) sou ons Johannesburg toe moes piekel vir ons aankope. Daarvoor was die gier te onmiddellik.

My nuwe kar had piepklein wieletjies wat gelyk het of dit enige oomblik onder hom kon invou. Toe ek die eerste keer by Kollegetehuis met hom stilhou wou ‘n ander vriend, Cas Jacobs, doodernstig by my weet: “Het jy regtig met die karretjie van Klerksdorp af gery?”

Buiten vir die plesier om die Fiat spottend name te noem, het my vriende nimmereindigende plesier daaruit geput om my motor weg te dra. Dan moes ek plan maak om die kar uit die koshuis se eetsaal te kry, dan was dit ’n hele soektog om ’n geheime wegsteekplek agter digte struike te ontdek. Vir die Van Deventer-ego was dit telkens ’n knou, veral as dit op ’n eerste sleepaand gebeur, of soos die Sondag toe 1962 se joolprinsesse by ons koshuis kom eet het. Ek sou die mooiste enetjie (in my boekie) huis toe vat, maar moes toe eers vrywilligers opvorder om my kar uit die gesellie te karwei.

Die Fiat was betroubaar. In daardie opsig het hy aan sy doel beantwoord. Van een ding kon jy hom nie beskuldig nie: krag. Die toere het vinnig knorrend opgeskiet as jy die 500 c.c.-enjintjie wou aasjaag. Opdraandes was ‘n “uitdaging”, soos die politici deesdae sware beproewings graag noem. Om vragmotors op die grootpad verby te steek, moes jy tande kners en vasbyt.

Een dodelike rit met die Fiat Kaap toe vir my eerste skof as parlementêre verslaggewer in 1964 was my laaste. Die eerste skof het my net gebring van Bloemfontein tot Beaufort-Wes, waar ek in die Wagon Weels oornag het. Die eindelose trek deur die Karoo van Beaufort-Wes na Laingsburg was met die stadige Fiatjie eenvoudig te veel vir vlees en bloed.

Pas in die Kaap aangeland, het ek by my matriekmaat (wyle) Carel Weeber by Trust-bank in Kaapstad om ’n lening gaan aanklop en ’n gebruikte (blou!) 1964-Cortina gekoop – later my en Tokkie se vrykar. In die Cortina het ons gesellige ure deurgebring wanneer ek haar kuiertye by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gaan oppik.

Dis ‘n weer ‘n ander storie.

OOR OF MIS?

Mei 28, 2016 in Uncategorized

hvd0014-8

Johan Bekker, die uwe, Hans Kruger en Pierre le Roux op ‘n donkiekar op Ladsymith op ons 1961-rugbytoer.

Rugby was in my tyd in Kollege (1958 -1962) ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis.
Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In Kollege se folklore is daardie antwoord van my as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: Dit was nie ‘n stukkie flinkdink nie. Ek kon op daardie oomblik aan niks anders dink om te sê nie! Oor of mis, ons is met die beker huis toe.

hvd0014-3

Proppie Goosen – uithaler-skrumskakel.

Die onvergeetlikste rugbymomente het nie altyd op die veld afgespeel nie. Een was die aand ná ‘n belangrike wedstryd in Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie. Vroue met krullers in die hare en sigarette skuins in die mond kom moedig hul plaaslike helde al gillende aan.

‘n Blondine langs die veld trek een van ons senters, wyle Piet (Gandhi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe. Eers toe hy by die koshuis terugkom, vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak — en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

Die nimlike Piet Gandhi sien ‘n keer nie vir ‘n kritieke Fisikatoets kans nie. Hy doen alles in die boek wat nodig is om so siek soos ‘n hond te lyk: kladpapier onder die tong, oordosis purgeermiddel en wat nog. Toe kommandeer hy die (netjieser) kamer van ‘n buurman op en ontbied ‘n ouerige dokter, wat hom deeglik ondersoek en sonder aarseling ‘n doktersertifikaat uitreik.

So ver so goed. Maar die volgende middag staan die dokter vir ‘n onverwagte opvolgbesoek voor die deur. Hy vind die regmatige eienaar van die bed op die naat van sy rug vir ‘n middagslapie. Voordat dié kon protesteer, is die koorspen in sy mond. Perdfris, is die bevinding. “Jy kan maar opstaan. Die medisyne het gehelp.”

Kan om die dood nie onthou of Piet toe gaan skryf het, en met watter gevolge nie.

* Volgende aan die beurt: Kollege se “Boozeklub”.

BRIEFIE UIT ASTERHOF

Mei 15, 2016 in Uncategorized

1-1-IMG_0001

Nagtelike nagtegale. Asterhof sing by Kollege. Dirigent is Denga van der Merwe. Reg voor haar staan Rina Thom.

_______________________

In 1960 kry ek ná klas onder die ruitveër van my blou Peugeot 203 onder ‘n jakarandaboom in Burnettstraat, Hatfield, ‘n klein pastelkleurige koevertjie met my naam op. Die koevertjie blyk die draer te wees van ‘n welriekende boodskap: Hennie, Kom saam met my na Asterhof se “social”, asseblief. Ek was dae op wolkies, want dit was nou vir jou ‘n bekoorlike astertjie daardie.

Van die aand se verrigtinge is my herinneringe ná 56 jaar maar vaag. Ek onthou wel die kussings rondgestrooi op komberse vir leker langbeen sit. ‘n Glasie sjerrie. Dalk twee. Romantiese musiek. Helder laggies. ‘n Oorrompelende gevoel van weldadigheid en knusheid.

Knusheid – dit is waarskynlik die woord wat die verhouding tussen Kollege en Asterhof daardie jare die beste weerspieël.

In my ienkjaar in Kollege, 1958, was een van die eerste aktiwiteite ‘n inter-kerk-sleep. Ons en Asterhof se mooie eerstejaartjies is ‘n Sondagaand in gelid na die Pretroria-Oos-kerk oorkant Loftus (Universiteitsoord het nog nie bestaan nie.) Ons met ons geel knopies op die lapelle van ons splinternuwe kerkpakke en hulle met hulle s’n op hul wit kerkrokke. Op ons s’n was K vir Kollege. Op hulle s’n was A vir Asterhof.

Dit het nogal vir ‘n komieklike situasie gesorg: die Kollege- en die Asterhof-ienks so man-meisie-man-meisie langs mekaar: “K, A, K, A, K, A …!”

Daar was nie net interslepe en “socials” nie. Selfs ‘n kollektiewe ontgroening-seremonie op die grasperk voor die Ou Lettere, langs die ou Kollegetehuis waar ek bevoorreg was om in sy laaste twee jaar as volwaardige koshuis my slegte koshuiskoffie te drink. Die eerstejaars is in twee kolonne opgestel. ‘n Haredekwas tweedejaar in sy nuwe kleurbaadjie het dan met ‘n sterk stem gebulder: Haaitjiekelorrum …. Haasbepaktrollum … maak gereed om te storm…. Regs vorm …. As ons die bevel kry “storm”, moes ons stomme groentjies soos mieliepitte in alle rigtings laat spat, terwyl die seniors hulle dubbel vou.

Dat Kollege en Asterhof gekliek het, was in omstandighede eintlik ‘n logistiese noodwendigheid van die kampus-situasie van destyds.

Net twee koshuise vir vroulike studente het bestaan: die sierlike nuwe Asterhof met, na ons oordeel, die ouliker meisies met die korter, vroliker geblomde rokkies, en die stugger Damestehuis (die Fant). Klaradyn het in my derde jaar bygekom. Vir die mans was daar net Kollege, Sonop (tokkelokkerig en doer ver) en Voortrekker (bra stroewerig). Die fondasies vir die nuwe Kollege op die proefplaas was nog nie eens begin grawe nie. Dat ‘n Taaibos en ander later sou kom, kon niemand raai nie.

Kollegemanne en Asterhoffers was as ‘t ware gedurig in mekaar se gesigte, soos die rugby-uitdrukking lui. As dit tyd was om te serenade was Asterhof ons voorkeurbestemming, en andersom. Ons het saam piekniek gehou en sierwaens gebou. Die manne het vir laasgenoemde ridderlik met hamers en spykers die stellasies getimmer. Die asters het die derduisende kreukelpapier-blommetjies gevou.

As ons op rugbytoere gaan, het die asters ons nommers op ons rugbytruie met naald en garing vasgewerk. Op Lentedag het ons mekaar ondersteun. Sal ek die jaar vergeet – 1961, dink ek – toe Asterhof se asters hulle in periodedrag geklee het en die hoof-item ‘n wedloop teen die koshuis se steil strappe was. Op en af. Kollegemanne was daar in hul menigte. In elkeen se hart die brandende ambisie om te wen. Maar toe hardloop ‘n Dagstudent ons almal stof in ons oë. Nie vreemd nie. Sy naam was Sep Serfontein, een van SA se top-naellopers.

Sep Serfontein wen Asterhof se trappe-wedloop.

Sep Serfontein wen Asterhof se trappe-wedloop.

Een grou Sondagmiddag het ek en my dik vriend Cas Jacobs van Carnarvon – waar die mense nog van van “putse” en “badskamers” gepraat het – buitengewoon verlate en mistroostig gevoel. Ons het ’n yslike bord met die woorde “Hoekie vir eensames” teen die Peugeot – die Santa Maria was sy naam – se voorruit opgeplak en die kar gaan trek op die beste plek waaraan ons kon dink – reg voor Asterhof.

Van die asters wat kom en gaan, het opgeruimd kom dagsê. Toe dit donker word, was ons egter steeds eensaam! Sou ons strategie verkeerd gewees het?

Net een keer wat ek kan onthou, was daar ongemaklikheid tussen Kollege en Asterhof. Van die manne het een laataand lus gekry om die asters se beddens te gaan dop. Op ‘n manier is onwettige toegang verkry. Hulle het die gange ingevaar. Weldra het gilletjies van oral opgeklink. Een Asterhoffer was in trane oor haar koek. Sy sou die volgende dag mondig word. Haar verjaardagkoek het blik en al op die grond beland en die strooptog nie heelhuids oorleef nie. Twee Kollege-HK-lede is weens hul onverantwoordelike betrokkenheid van hul ampte onthef. Spanning was in die lug.

Maar wat, kort daarna kuier die HK’s toe weer, soos altyd, saam by Hatfield se Japies, ‘n lekker kafee op die hoek met heerlike bruismelk en pasteie.

Waarom die herinneringe op ‘n sonnige Sondagmiddag op Melkbos opdiep? Laat ek die geheimpie verklap. Gister weer ‘n briefie uit Asterhof gekry. Op dié gryse ouderdom, ja. Nie ín ‘n koevert of in fyn handskriffie nie. Nie welriekend nie. Saaklike e-pos, soos in die onromantiese era waarin ons nou lewe, die gebruik is.

‘n Asterhoffer, tweede jaar, vra, soos sy dit stel, ‘n GROOT GUNS (net so in hoofletters). Sy skryf o.m.:
“Ek sien oom se post op facebook van oom-hulle se jonger dae en hoe Asterhof Kollege serenade het. Kan oom asb iets op Kollege-tehuis se facebook page skryf van die “verhouding” en die ou tradisies of enigiets wat verband hou met die Asterhof-dames en die Kollege-manne? Dalk as Asterhof die mooiste dames gehad het (natuurlik! – hvd) of die meeste gees (natuurlik! – hvd), ens?

“Ons probeer net meer uitvind van hoe dinge was in die ou dae sodat ons die tradisies kan herstel hier op Tuks …. ”
Vir so ‘n nobele saak doen hierdie oom graag sy ding – sonder ‘n aangehegte faktuur. Hoop maar net die resep van die 60’s is vir die nuwe tyd nog so ietwat relevant.

.

EEU VAN KOLLEGEKULTUUR

September 9, 2015 in Uncategorized

Dire Kollegemanne van 1958 toe die uwe ienk was.

Die Kollegemanne van 1958 toe die uwe ienk was.

My geliefde Kollegetehuis op die Tukkie-proefplaas is hierdie maand 100 jaar oud. Die eeufees word gevier met o.m. ‘n gala-aand op die grasperk voor die Aula. My bydrae uit Melkbos is hierdie verkorte hoofstuk uit my boek In Kamera wat in 2003 deuir Protea gepubliseer is:

Gaudeamus igitur, juvenusdum sumus…

GOUE DAE

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor ontgroening ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong. Kollege-tehuis toe – meer as veertig jaar gelede. Op die Tukkie-kampus is ‘n ienk toentertyd nog behoorlik gedril. Dit was modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk kon ook maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir ‘n veeleisende senior (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!) Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K finaal gewaai — een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-meisie-man-meisie langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

Broekraid teen Voortrekker  voor Kollege uin 1959.

Broekraid teen Voortrekker voor Kollege in 1959.

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus. Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Klop dan in deesdae se eerstejaar-studente ander soort harte? Ek wonder.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”. Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”. Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Modderbad in 1958. Die prominente gesig regs het behoort aan wyle Coen Dreyer, Junior Springbok-gholfspeler.

Modderbad in 1958. Die prominente gesig regs het behoort aan wyle Coen Dreyer, Junior Springbok-gholfspeler.

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het ‘n klompie lede van die boozeklub een aand ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n partytjie by die Fonteine. Die nodige klere is vir hom ingesmokkel en toe die besoektyd tot n einde kom, stap Jas tussen sy besoekers by die deur uit.

In ‘n stadium word hy, bierbeker in die hand, egter deur ‘n uitgelate Kollegeman laaggevat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Op Lentedag het ek my koshuis in die afdeling blommerangskikking verteenwoordig. My oplossing was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die C.H. Rautenbachsaal op te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid.

Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

Die onvergeetlikste rugbymomente het nie altyd op die veld afgespeel nie. Een was die aand ná ‘n belangrike wedstryd in Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie. Vroue met krullers in die hare en sigarette skuins in die mond kom moedig hul plaaslike helde al gillende aan.

‘n Blondine langs die veld trek een van ons manne, Piet (Ghandi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe. Eers toe hy by die koshuis terugkom, vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak — en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In Kollege se folklore is daardie antwoord van my as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: Dit was nie ‘n stukkie flinkdink nie. Ek kon op daardie oomblik aan niks anders dink om te sê nie! Oor of mis, ons is met die beker huis toe.

KO LAT ONS SING …

November 8, 2014 in Uncategorized

Die liedjies wt ons gesing het toe ons nog jonk was.  Van die heel bekendste is liedjies soos You are my sunshine, She’ll be coming round the mountain when se comes,  She stepped into the water and so got her ankles wet  en so aan. Meesal met vindingryk aangepaste woorde.

Herinneringe oor die sentimentele onderwerp is die afgelope paar dae op Facebook opgediep.  Steve Botha het die bal aan die rol gesit. Ek en andere het daar saamgesels.  Wil graag hier uitvoeriger doen. Ek het op FB geskryf:  Dink ek aan liedjies, dink ek dadelik aan my vriend Piet Henning van Louis Trichardt (voorheen Makhado) wat in 1958 met ‘n besonderse liedjieskat van St. John’s College in Johannesburg af in Kollegetehuis. Tuks, opgedaag het.  Ons was saam ienks of eerstejaars.

Liedjieboer Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as Die maan skyn so helder op my p…. en so aan voort  wat ons Wes-Transvalers gesing het as ons van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en, ja, Ventersdorp reis om op die sportveld kragte te meet. (Ons het ook gesing Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus (sic) het nie ‘n vel… en Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink op die maat van Pale Toe – taamlik “voorstedelik en banaal”, in Paula se woorde. )

Daarteenoor het Piet se repertorium gesofistikeerde liedjies soos hierdie ene van St. John’s se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.”  Van Piet se liedjies weerklink soms nog by Tarlehoet as ’n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ’n minder harmonieuse neuriekoor.

Een Piet-lied wat voorleef, The Ball at Kerriemuir, lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less. . . . Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms. My ervaring is dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied egter  uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantlepiece and bouncing off her t**s. Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole.

’n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ’n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.

Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me . . . Later word uitgewei berei met watter moeite elke sort voël  haar eiers lê And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird . . . the ostrich . . . the ooh ah bird. . . . Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net ‘n verligte oe –aaa.

Gaudeamus igitur ….

LEON VISSER – NET EEN SOOS HY

Oktober 2, 2014 in Uncategorized

Leon Visser (regs voor) en sewe van sy kallers van 1958. Voor is Vossie Grey en ekself. Agter staan Giel de Swardt, Piet Henning, Cas Jacobs, Leon Engela en wyle Mornay du Plessis.

Leon Visser (regs voor) en sewe van sy kallers van 1958. Voor is Vossie Grey en ekself. Agter staan Giel de Swardt, Piet Henning, Cas Jacobs, Leon Engela en wyle Mornay du Plessis.

Van die Suid-Kaap tot in Mpumalanga, van die Vrystaat tot in Limpopo – oral is ‘n groepie manne  van so 73, 74  jaar pas weer pynlik  herinner aan die Bybelse woord van “sewentig jaar en as jy baie sterk is tagtig”…

Hulle was die kallers van 1958 in Kollegetehuis op Tukkies.  Hul huisvoorsitter was die minsame, wellewende Leon Visser. wat verlede week in Huis Herfsblaar in Pretoria  oorlede is – ‘n verlies wat ons almal aanraak.  Of enige ander voorsitter van enige universiteitskoshuis al so deur sy eerstejaars bewonder en gerespekteer is soos  hierdie Suidwester deur ons klomp “ienks” twyfel ek sterk.

Ons het Leon leer ken as iemand wat nie juis sy stem verhef nie. Hy was ‘n saggeaarde senior wat nie nodig gehad het om grootmeneer te speel nie. ‘n Afkeurende blik uit daardie vriendelike gesig met die immer teenwoordige glimlag was genoeg om jou die rillings te gee.  Hy het deur voorbeeld gelei en nie deur vrees in te boesem nie.

Leon het later professor in Tukkies se landboufakulteit geword en sy studente – in mikrobiologie, meen ek –  had, soos ons, vir hom net die hoogste agting. So het ek uit verskeie bronne gehoor.

Toe ons rou uit matriek in Kollege opdaag, was die gewraakte ontgroening nog in volle gang. Ons het geel lapelknopies gedra om ons lae status in te vryf,  ons moes styf teen die mure in die gange afsluip, ons moes menere se sokkies was, ons het “waterpaarties” en ‘n “modderbad” deurloop, ons het “die pil” gesluk … ons moes selfs vir een bepaalde meneer op koue oggende die toiletbank gaan warm sit.

Begryp my lugtigheid toe “ienk Van Deventer” sommer in die eerste week al na die huisvoorsiter se kamer ontbied word.  Wat sou ek gesondig het, het ek angstig gewonder.  Maar toe soek “meneer Visser” net ‘n bietjie geselskap: Waar kom ek vandaan, wat kom ek “swot”, wat wil ek word, speel ek rugby, het ek ‘n meisie …

Ek moes koffie maak,  ook ‘n bekertjie vir myself, en het heerlik aan die beskuit  gesmul waarvan hy skynbaar ‘n onuitputlike voorraad uit Suidwes saamgebring het.

Ek moes in my kamer ‘n foto van my meisie gaan haal wat ek op Volkies op Potchefstroom agtergelaat het, en hy het vir my ‘n foto gewys van die mooie Ebbie Visser (korrek) met wie hy later sou trou.  “My meisie is tog mooier as joune!” (By die huisdinee, einde van die jaar, is van Leon afskeid geneem met die volgende versie:  Leon Visser – die baas van ons huis- is met ‘n astertjie, Ebbie, gekys. ‘As ons tweetjies trou, se hierdie man, verwissel my vroulief nie eens van ‘n van!’)

Daardie aand het  Leon Visser my sy lojale slaaf gemaak sonder om my soos sy slaaf te behandel.  Ek sou daarna vir hom deur die vuur loop. Van die vele herinneringe wat ek aan hom het, is dit een wat steeds uitstaan.

My oomblikke van glorie op die rugbyveld was maar min – was ‘n vinnig-rige vleueltjie  maar vrekbang op die verdediging.  Een oomblik van glorie was toe ek vir Kollege drie keer die doellyn oorsteek in ‘n wedstryd teen Buitemuurs – met my direkte teenstander  nogal een van my eie dosente.  By nadenke moet alle eer Leon Visser toekom.  Hy was ‘n ratse skrumskakel en het twee keer vlymskerp steelkant om gebreek.  Ek moes net raakvat en oorsuiker.  Sy lof vir my lopies was egter soet.

Ons groepie Kollegemanne uit daardie era vertroetel al amper 55 jaar  ‘n besonderse hegtheid en gehegtheid,   wat so ses van ons o.m. uitleef deur elke jaar in die primitiewe boskampie Balule in die Krugerwildtuin  saam te trek vir drie dae  van meesleurende nostalgie. Dat Leon Visser ons huisvoorsitter was, dra in my oordeel enorm by tot ons groepskohesie

en ons liefde vir Kollege wat oor die dekades heen ongeblus voortleef.