Jy blaai in die argief vir kollegas.

AÄRON EN HUR IN EEN

Februarie 3, 2017 in Uncategorized

Die bestuurspan van die Pers in die 90’s. Voor in die middel sit Eric Wiese. Ek staan agter hom. Voor van links is Philip Meyer, Robert Crowther, Eric, Conrad Sidego en George Coetzee. Agter is van links Andrew Marais, Hennie van Deventer, Helgard Raubenheimer en Salie de Swardt.

Die notering van Naspers op die Johannesburgse Effektebeurs toring ongetwyfeld uit as een van die hoogtepunte in die vyf-jaar-skof aan die einde van my loopbaan by die Nasionale Pers.

Sal ek die opwinding vergeet om op die vloer van die Beurs te kon staan toe die klok lui en die verhandeling in Naspers begin? Daardie middag op die Boeing Kaap toe het ek (koerante), Salie de Swardt (tydskrifte) en Andrew Marais (skakelafdeling) die heildronke ingeryg.

Enorme waarde is deur daardie notering vir ‘n groot gros aandeelhouers ontsluit. “Waardelose” sertifikate in kluise het oornag stewiger bankbalanse en selfs welvaart beteken. Vir die uwe met die joernalistieke bloed van drie dekades in sy are was dit egter geen onvermengde seën nie.

Skielik was daar die nuwe uitdaging van intense blootstelling aan finansiele analiste, selfs van oorsee. Van Deventer wat tot die einde maar gesukkel het om van ‘n balansstaat kop of stert uit te maak, moes nou met ‘n vertoon van groot selfversekerdheid die priemende vrae van die kenners hanteer!

Gelukkig was daar iemand soos kollega Eric Wiese om op terug te val. Hierdie nederige gewese finansiele direkteur van die Pers is inderdaad een van die gesiglose helde van sy tyd, nie net weens sy eie formidabele bydraes nie, maar ook in die rol van ‘n Aäron en Hur sommer in een, wat wankelende Mosesse soos ekself se arms moes orent hou.

Sondag vier Eric sy 80ste verjaardag. By die bereiking van die baken kom saam met die voorspelbare strome goeie wense uit alle oorde aan ‘n uitmuntende mens en kollega, uit Melkbos opnuut ook weer ‘n opregte woordjie van dank vir die kokon van bestuursbeskerming wat hy altyd so gewillig aan die minder syferslim kollega gebied het.

Eric se deur oorkant die gang op die 18 verdieping was altyd oop en sy geduld met dom vrae het nie opgeraak nie – nooit so dat jy dit sou agterkom nie in elk geval!

Ek salueer graag vandag een van die mees ewewigtige, besadigde en onversteurbaarste mense wat ek ken.
Het ek gesê onversteurbaar? Wonder darem of die beskrywing ook sou geld vir die stel wat hy en twee kollegas in 1997 op die dorpie Victoria Falls in Zimbabwe afgetrap het – en hul verlee reaksie.

Die bestuurskader van die maatskappy was daar saamgetrek vir die jaarlikse bestuurskonferensie, en die here Wiese, Andrew Marais en Tim du Plessis, destyds nog adjunk-redakteur van Beeld, het afgesit Valle toe om daardie indrukwekkende natuurskouspel in die magtige Zambezi te gaan besigtig.

Skielik is hulle asof vanuit nêrens deur ‘n spannetjie geldsmouse omring. Die bied drie Zimdollars vir R1 aan teenoor die werklike wisselkoers wat sowat 2,3 is. Alle waarskuwings oor die klas aasvoëls vergete, het die vername Pers-leiers – ‘n finansiele direkteur wat hom nie deur die slimste C.A. laat ore aansit het nie, ‘n wêreldwyse skakelhoof en ‘n deurwinterde koerantman – in ‘n oomblik van swakheid geswig.

Hulle besluit toe om elk R100 om te ruil (‘n bedraggie wat toe nog nie te versmaai was nie). Marais sou die transaksie hanteer. Maar net toe hy die geld oorhandig, sê een van die smouse: “Pas op, hier’s die polisie.” Die drie Naspersmanne spring in ‘n stegie in. Toe hulle uitkom, is daar niks. Niks polisie. Niks smouse. Niks R300!

Kollega Eric het darem die teenwoordigheid van gees behou om toe ‘n straatkind hom nader, vir hom ‘n onvergeetlike antwoord te gee: “Nee, ek het klaar die geld vir jou pa gegee!” Die res van ons het ons aan die episode verkneukel!

Eric se antwoord belig ook ‘n ander faset van die man: sy instinktiewe, droë in-die-kol-humor. Nog ‘n insident wat daardie eienskap goed weerspieël, was gekoppel aan sy rotsvaste lojaliteit aan Afrikaans en sy handhawing van sy taal in alle omstandighede.

Veral op sy gereelde heen-en-weer-vlugte Johannesburg toe vir bestuursverpligtinge is Eric se ingesteldheid oor taal telkens uitgedaag met SAL-kajuitpersoneel wat verseg om ‘n woord Afrikaans oor die lippe te neem. Op die betrokke aandvlug weer. Ete word bedien, maar al die aankondigings kom net in Engels.

Eric gaan tot die irritasie van die lugwaardin voort om sy koerant te lees met sy skinkbordjie onoopgevou in die rakkie. Die meisie spreek hom direk aan in Engels maar hy reageer nie. Naderhand pers sy teësinnig oor dun lippe: “Eet u nie, meneer?”

Toe kom dit vintage Wiese: “Ek is nie genooi nie!”

Ek skuld Eric nie geld nie, maar ek wil hom tog net nog ‘n pluimpie gee. Geen ander syferman in my ervaring was so sterk op korrekte taalgebruik ingestel nie. Soos ek by Eric kom aanklop het oor somme, het hy dikwels by my kom aanklop oor taal. Hy doen dit nou nog en jaag my gereeld na Anton Prinsloop se idiomeboek om die betekenis of oorsprong van dié of daardie idioom bo alle twyfel te bepaal.

Die verskil tussen ons is dat ek hom nooit kon vasvra oor somme nie; hy vra my, vervlaks, meermale vas oor taal!