Jy blaai in die argief vir koerantman.

‘VOORKLIMMERS’ IN AB

Julie 2, 2020 in Uncategorized

Die UR (en amptenare) van die laat 80’s op ‘n bosberaad.

Waar die Regering se onderhandelingspan oor ‘n nuwe bedeling in Kempton Park “maar dun” was, kon van die lede van die staatkundige komitee van die Afrikaner-Broederbond daar ‘n verskil gemaak het.

Die mening spreek ek  uit n my terugblikboek op die turbulente 80’s, “Kroniek van ‘n koerantman”, wat deur De Novo Boeke as e-boek geherpubliseer is. De Novo glo dat “Kroniek” 22 jaar na eerste verskyning (in 1998) nog relevant is vir die politieke narratief van die dag.

In my boek word, soos dit destyds op die agterflap gestel is, “die sluier – soos nog nie tevore nie – gelig oor die gisting en intense toekomsdebat in die geledere van die AB”. Dié was natuurlik toe nog ‘n vertroulike organisasie.

‘n Berig oor die herpublikasie verskyn in die jongste nuusbrief van die Afrikanerbond, VOLUME 20, NOMMER 7. Verdere aanhalings kom uit die  berig in die nuusbrief:

“Oud-president Thabo Mbeki het (terwyl hy adjunk-president was) met waardering gepraat oor die rol wat die AB in die transformasie van die land gespeel het. Die AB verdien daarvoor egter nog groter krediet. ,

“Ekself het het 47 jaar gelede, in 1973, lid van die AB geword (lid 12951).. Tydens my redakteurskap in die jare 80 en daarna was ek van 1985 tot 1991 twee termyne lid van die destydse UR (uitvoerende raad) – wat vir my soos ‘n “hegte bergklimspan” was. “Party klim sterker; sommige bly ‘n bietjie agter. Die sterker klimmers wag egter altyd en help die agterosse waar dit nodig is sodat almal die kruin plus-minus gelyk bereik.”

“Die ‘voorklimmers’ van daardie tyd wat na my oordeel ‘n erepenning verdien, was die staatkundige komitee, wat ‘n bloudruk vir die toekoms moes soek. Die lede het hul groot taak met ywer en bekwaamheid verrig.

“Die komitee het nie net die res van die UR aangesteek om skeppend te help saamdink oor fundamentele staatkundige kwessies nie, maar was instrumenteel in die sleutelrol wat die organisasie in die tweede helfte van die jare tagtig gespeel het om sy lede vir ‘n magsprysgawe aan ‘n demokratiese meerderheidsregering voor te berei.“

“Die staatkundige komitee se eerste insiggewende beleidsdokument, Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner, is in 1987 voltooi. ‘n Tweede waarin nader aan die konkrete beweeg is, Konsep-riglyne vir die staatkundige gesprek, het in 1989 gevolg. Jaap Marais van die HNP het glo tussen 60 000 en 80 000 afdrukke van die eerste laat maak om “die blanke volk die gevaar te laat besef”. Volgens hom was die dokument die bewys van ‘n Afrikanergeknoei agter die skerms “om Suid-Afrika onder ‘n swart regering met ‘n swart President te stel”.

“Die tweede dokument was waarskynlik die eerste AB-stuk wat amptelik vertaal en ook deur die nuusagent-skap Sapa aan Engelse koerante versprei is. Die vertaling is in Die Volksblad se kantore gedoen deur Paul Marais, wat later die redakteur was. Hy het ‘n M.A. in Engels.

“Met sy insiatiewe het die AB, volgens my, nie net ver voor die Regering geloop nie, maar was hy ook ente voor elke ander organisasie, insluitende die NG Kerk, om sy lede tot verstandige aanvaarding van nuwe werklikhede te bring.

“Die waarde om so naby die AB-vuur te sit, was nie net van persoonlike aard nie. Die koerant had die voordeel van ‘n skitterende klankbord. Daar was ook ‘n direkte praktiese nut. Vir talle rubrieke en hoofartikels, selfs nuusberigte, is die saadjies in AB-diskussies, AB-dinkskrums en ander AB-byeenkomste gesaai.

“Openhartige gesprekke in die hoofkantoor, Die Eike in Aucklandpark, Johannesburg, met politieke, kerk-, sake-, weermag- en polisieleiers was aan die orde van die dag. ‘n Besoek aan UR was ‘n moet op elke sleutel-mens se program, en ‘n uitnodiging ‘n hoë eer.

“Pres. F.W. de Klerk het kom kuier kort nadat hy die hoofleier geword het, en het die UR-lede in sy vertroue geneem oor doelwitte soos die terugkeer vir Suid-Afrika tot die internasionale gemeenskap met behoud van sy waardigheid. ‘Daarmee het hy nie gras onder sy voete laat groei nie.’

“Kyk ek terug op my jare van AB-skap sedert het ek min twyfel oor die waarde wat dit vir my as mens, as joernalis en uiteindelik as redakteur gehad het. In geen ander forum ‒ buiten in my eie leefwêreld van die koerant, en in die wisselwerking tussen koerant en gemeenskap ‒ kon ek so ingesuig geraak het by die Afrikaner se uitspook van ‘n nuwe lotsbestemming nie.

“Nêrens anders kon uitdagender, prikkelender en stimulerender gedink, gepraat en geredeneer gewees het oor watter bestemming Afrikaners moet najaag en hoe hulle daar moet uitkom nie as binne die Afrikaner-Broederbond nie. “

Bestel “Kroniek van ‘n koerantman” by http://www.denovowebs.co.za/product/kroniek-van-n-koerantman  Prys R70.

Naskrif: “Kroniek” was die eerste boek uit die pen van ‘n Afrikaanse redakteur oor die intense “familierusie” van daardie jare in die aantog tot ‘n nuwe bedeling. So venynig is hervormingsgesindes – wat natuurlik die Afrikaanse koerante ingesluit het – deur weerspanniges toegetakel dat ‘n spitsvondige Engelse persman die “oorlog” selfs beskryf het as ‘n “second Boer war – with Boers on both sides’”.