Jy blaai in die argief vir koerante.

MORE SE KOERANT VANDAG

November 12, 2014 in Uncategorized

'n Veel jonger HvD en Bob Lindsay van Associated Press gesels oor landlyne in Londen in 1974.

‘n Veel jonger HvD en Bob Lindsay van Associated Press gesels oor landlyne in Londen in 1974.

‘n Jong joerrnalis, Anena Burger, verteenwoordig my ou koerant. (Die) Volksblad, in die Noordweste. Op Facebook skryf sy soos volg: “Vanaand was ‘n goeie eerste. Vanaand het ek my storie en foto’s deur Whatsapp Bloemfontein toe gestuur omdat die storm ons sonder krag en behoorlike sein gelos het.”

Die ou man se verstand duisel. Van die tiekieboks, die landlyn en selfs verskillende vorme van padvervoer af tot hedendaagse hipermoderne plat slimfone, tablette en internet wat op die minimum sein kan werk, is omtrent so ver soos ‘n maanreis en nog ‘n entjie.

Ai, die tiekieboks. Dit was doer in die 60’s die vinnigste en betroubaarste manier om jou berig by die tuisbasis te kry. Moet bely toe ek jonk was, het ek nogal vernaam gevoel as ek die gehoorbuis optel en plegtig meedeel: “Perskollekteeroproep na Bloemfontein nommer so-en-so. Dis dringend asseblief”.

Soms was dit selfs nodig om te bel met ‘n sak vol vyfsentstukke. Dan is aan die ander kant ‘n ongeduldige tikster, party so blitsig op die sleutelbord dat hulle jou aanjaag en vererg reageer as jy na woorde tas.

Een by Volksblad, die uiters knap Anda van den Heever, later Le Roux, moes op ‘n dag berigte van Quintus van Rooyen oor die telefoon afneem. Dit het maar gesukkel maar. Quintus wou gedurig veranderinge aanbring soos hy lees. Anda vererg haar toe, vat haar handsak en stap by die deur uit. Sy was later prof. Anda le Roux – in sielkunde of iets.

Die alternatief was die teleks. Jy het jou berigte by die poskantoor gaan ingee en gehoop op die beste. ‘n Keer het Herman le Roux se hele vrag kopie oor ‘n rugbytoets in Nieu-Seeland nie by (Die) Volksblad uitgekom nie maar by ‘n handelaar in gebruikte motors in Welkom. Die teleks het twee nommers verwar. Verslaenheid en frustrasie oweral.

Met ‘n rugbytoets in Bloemfontein is berigte met ‘n toutjie van die hoofpaviljoen af laat sak na waar ‘n motorfietsryer met brullende enjin gereed gestaan het. Hy het dan laat waai na Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) waar die setters gereed gesit het agter hul enorme swart warmloodmasjiene.

‘n Mooi motorfiets-storie is van daardie nuusvrou duisend, die onstuitbare Rykie van Reenen. Met die begrafnis van dr. H.F. Verwoerd het sy, onder geweldige tydsdruk, sonder aarseling in haar begrafnisrok by die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets gespring vir ‘n hellevaart na die helde-akker, met haar begrafnishoedjie op die kop vasgedruk.

Die versending van foto’s was veral ‘n reuse-uitdaging. Die tegnologies gevorderste metode was die landlyn. Die foto is pynlik tydsaam kolletjie vir kolletjie op ‘n poskantoorlyn versend en op ‘n drom anderkant ontvang terwyl die nuusredakteur staan en trippel.

Vir jare had ons koerant nie sy eie landlynmasjien nie. Belangrike landlyne is soms op die tippie nog by die poskantoor gaan oppik. Dan moet jy roer om met jou kosbare vrag betyds by die kantoor te kom. Een dag is geen redaksiemotor beskikbaar nie. Ek ry met ‘n sirkulasie-paneelwa. Haastig terug kantoor toe, sit ek die dem ding in trurat by ‘n verkeerslig. Amper ‘n moles maar die foto was daardie middag op bladsy een.

Daar was ook spoedpos (hoe meer haas hoe minder spoed), vliegtuie en motorvoetuie van verskillende aard.

Met parlementsopenings was een van my take as parlementêre verslaggewer om betyds vir die laaste vlug Bloem toe op die Kaapse lughawe ‘n koevert te besorg met foto’s van die modebewuste vroue van politici. Het sommer ‘n passasier voorgekeer en gevra: Vat tog saam, asseblief. Iemand van (Die) Volksblad sal dit op die lughawe by jou kry. Dan bel ek met die tiekieboks en verduidelik hoe lyk die koerier, sy of haar klere, ens.

‘n Keer kry ek eksklusief die foto’s van ses mense van Sasolburg wat in ‘n motorongeluk by Parys uitgewis is. Sit dit op die sirkulasiepaneelwa, is my opdrag uit Bloemfontein. Ek maak toe so. Die volgende oggend bel die nuusredakleur, Oom Gert Terblanche (nou 92): Boeta, waar’s die foto’s?

Op die paneelwa, Oom Gert. Maar toe slaap daardie paneelwa daardie nag op Kroonstad sonder enigeen se medewete. Neusie verby!

Aijajaja-ja. Wat sou ons gryses nie wou gee vir die luukse van die e-era nie: so vinnig, maklik, doeltreffend. Maar kan kommunikasie selfs nog vinniger, makliker, beter? Die ou man se verstand duisel des te meer oor wat die toekoms dalk kan inhou – selfs ‘n foto van iets voordat dit nog gebeur het! More se koerant vandag!

 

KNIPOOG IN DIE DONKER

November 14, 2013 in Uncategorized

‘n Mens wat nie sy produk adverteer nie, is soos iemand wat in die donker knipoog – net hy weet wat hy doen. Hierdie stukkie wysheid van ‘n advertensie-guru het in my kop vasgesteek.

Deesdae se fliekadvertensies is ‘n voorbeeld van ‘n knipoog in die donker.  Teaters adverteer wel, maar nie juis so dat ‘n mens dit kan agterkom nie.  Die advertensies  word al hoe kleiner, al hoe meer ingeprop en al hoe onleesbaarder – klaarblyklik as besparingsmaatreël.

Sekere owerheidskennisgewings nooi jou uit om dit liefs oor te slaan. Dit herinner aan die fynskrif van ‘n kontrak, en laat jou skepties wonder wat hulle nou weer met watter onheilige motiewe by die publiek wil probeer verbysmokkel.

Om ‘n ding te wil inprop in ‘n lettertipe (font) wat dit vir ‘n groot gros lesers onleesbaar maak, is natuurlik nie nuut nie. In my tyd as redakteur was die perdeblad in elke koerant al ‘n gruwel.  Jy moes brand van perdedrif of ‘n versamelaar van vergrootglase wees om dit te absorbeer.

HvD het gou ‘n reputasie gekry dat hy nie ‘n vriend van die perdeblad was nie. Dit het hom in vele oë as ‘n ignoramus gestempel. Kyk dan hoe wed die mense!  Perderedakteurs – elke koerant het een gehad, soos daar in die ou ou dae selfs tronkredakteurs was wat namens hul base tjoekie toe moes gaan – kon nie glo dat sulke stompsinnigheid agter die masker van redakteurskap kan skuil nie.

Wel, ek rapporteer dankbaar dat peredeblaaie en perderedakteurs nie meer deel van die koerantopset is nie.  “I have not always been wrong”.

Beursblaaie het ook maar in ‘n stadium nie uitgeblink in leesbaarheid nie.  ‘n See van verwarrende, klein kodenaampies en syfers, syfers, syfers het selfs gretige lesers maar taamlik afgeskrik.   Moet erken: latere geslagte se tipograwe het aan die blad wondere gedoen. Lyk aantrekliker, lees makliker in hul moderne gedaante as die Beursblaaie van die 60’s en 70’s.

Maar terug by fliekadvertensies. Kan Ster-Kinekor (en Metro) nie besef hoe hulle hulleself in die voet skiet as hulle so in die donker staan en knipoog nie?  Wonder hoeveel mense bly nie sommer net weg uit frustrasie nie omdat die inligting so onaptytlik opgedis word.  

Die antwoord is tog glashelder duidelik: Koop groter ruimte of benut die klein ruimte beter. ‘n Knap, kreatiewe tipograaf sal wel ‘n plan kan bedink.

En koerante? Hulle behoort geen adverteerder toe te laat om hul advertensiesente so te knyp dat dit lesers die harnas injaag nie. Daar behoort maatstawwe te wees van die kleinste skrif waarin inligting aangebied mag word.  As ‘n dwase adverteerder kleiner wil gaan, sit die voet dan ferm dwars teen sulke misbruik van jul kolomme. As die bedryf kan saamstaam en algemene standaarde afdwing, des te beter.

Hierdie ou glo: As iets die moeite werd is om te plaas, is dit die moeite werd om so te plaas dat dit nie net adverteerders se gewetens salf nie – dit was mos in! – maar ook vir lesers ‘n diens lewer.  Die publiek moet kan sien as julle knipoog, mense – anders: Moenie moeite doen nie!

‘KOERANT-BAAS’

April 2, 2013 in Uncategorized

Volksblad-era, 1980’s

Ontmoet HvD – “koerant-baas”.

 As dit alte vernaam klink, lees liewer verder.  Die waarheid is dat ek nie Media24 oorgeneem het of een van die paddastoel-ponies in daardie stal  aangeskaf het nie.  Nie eens Melkbos se Easi-Ads nie.

 Ek borg net voortaan die woord “koerant” in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) op permanente grondslag.  “Koerant” is nou my woord, net my woord, vir altyd en altyd. Onomkeerbaar. Eksklusief. 

 Oud-kollega Ollie Olwagen meen dit maak my ‘n volwaardige koerant-baas, of nee, eintlik die enigste koerant-baas op aarde. Die woord “koerant”, presies so gespel, kom immers net in Afrikaans voor.  Die naaste eweknie is die Engelse “courant”.

 Tot op hede het ek die woorde “koerant” en “joernalis” by die WAT geborg – maar nie so waterdig nie.  Ander borge kon na willekeur bykom. Iemand kon die woorde selfs wegraap deur meer te betaal.

 Gister het ek (met my vrou duisend se aanmoediging) besluit om die bul by die horings te pak.  Ek  sou opgradeer.

 Koerante was immers my lewe. Ek het 36 jaar vir koerante gewerk: eers by Die Volksblad, toe by Beeld (eerste nuusredakteur), toe weer Volksblad (redakteur vir 12 jaar) en daarna Naspers (uitvoerende hoof: koerante). Media24 is eers later gestig. Eintlik langer as 36 jaar. Van 1958 tot 1962 het ek vyf jaar as beurshouer vakansiewerk by Die Volksblad gedoen.  Op Tukkies was ek in 1961 al redakteur van Die Perdeby.

Ek stuur terstond my geldjies per internet na die WAT se rekening op Stellenbosch, en maak doodseker dat die alleen-borgskap in beton gegiet is. 

 Die heuglike sensasie daarna  kan ek kwalik beskryf.  Ten minste voel ek ek het iets betekenisvols gedoen.  Iets blywends. Iets wat ‘n mens dalk kon verwag het deur ‘n groot koerante-konglomeraat soos Media24 gedoen kon gewees het, Gedoen behoort te gewees het.  

 Maar ek is dankbaar vir die gaping om dit namens hulle tekandoen – vir plus-minus die prys van ‘n bootvaart na Walvisbaai en Lüderitz.   Dié genotvolle ervaring had ek pas.  Maar die onbetwiste baas van ‘n woord was ek nog nooit. Boonop so ‘n dierbare woord. 

 Kyk, die dag as ek begrawe word, wil ek graag in die eerste instansie as trotse koerantman begrawe word.  As koerantman in hart en niere wat sy loopbaanboek, “Kroniek van Koerantman”, afgesluit het met die woorde uit die hart: “Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie”.

 As eksklusiewe borg van die woord “koerant” hys ek daardie vlag.. Hier staan ek.  By die koerant, soos ek dit ken. Laat “Het daghet digitaal” maar sy vlerke sprei. Laat allerlei “apps” aangelap word. Laat die sosiale media maar al hoe dieper op die tradisionele koerant se lewensruimte invreet.   Aan HvD en sy woord in die WAT sal dit niks doen nie.

 Selfs as die dag sou aanbreek dat die woord “koerant” net in die verlede tyd geskryf word – wanneer eendag in die verre verskiet, wonder ek – sal MY woord in die WAT bly. Dit sal MYNE bly.  

 Selfs as ek al lank in mynisge-kis is langs die NGK Melkbos (disnisnommer 11, vir dié wat wil weet), sal dit leef en oorleef.  

 Koerant. HvD. Ons hoort mos saam. Ek en my passie. Nou is ons. Vir altyd.