Jy blaai in die argief vir koerante.

YSKASTE VIR ESKIMO’S

September 30, 2018 in Uncategorized

Johann Kriegler se verwyt teen Ton Vosloo kom daarop neer dat Naspers nie yskaste aan Eskimo’s probeer verkoop het nie. Hy verwag dat ons super-verligte koerante moes uitgee in ‘n tydperk toe super-verligtheid tot ‘n baie klein puntjie van die leserspiramide beperk was. Noem sy resensie in vanoggend se Rapport dus spitsvondig, indringend, deeglik, slim, enigiets; dis ongelukkig net te onrealisties om deur my geslag koerantmense ernstig opgeneem te word.

Selfs die Engelstalige mark van die turbulente 80’s bewys my punt oor die uitdagende politieke klimaat waarin koerante hul werk moes doen. Die Rand Daily Mail, vlagskip van politieke super-verligtheid, het in 1985 met reuse-verliese soos ‘n klip gesink. Nie Naspers met sy beweerde hansie-my-kneg-gesindheid jeens die Nasionale Party nie, maar die giftige anti-regerings-persgroep SAAN (SA Associated Newspapers) kon, ondanks top-joernaliste, professionaliteit van die produk, internasionale status en geldelike rugsteun deur mynreuse soos Anglo American, nie die Mail langer laat werk nie.

By sy heengaan het die bekende politieke kommentator Patrick Laurence die RDM in Amerika so besing: “For the past 25 years the Mail has opposed apartheid and championed the right of South Africa’s subordinate blacks to participation in the lawmaking process, to social and economic justice, and to equality of opportunity.” Inderdaad. Niemand kan fout vind met mnr. Laurence se grafskrif nie. Maar toe was juis daardie super-verligte “opposition to apartheid” en “championing of rights of subordinate blacks” in die finale instansie sy ondergang – dit was eenvoudig net te prematuur. Selfs die Engelse mark was nie vir sy soort voorpos-politiek ryp nie.

Kom ons kyk nou na die Afrikaanse mark. Hier maak Vrye Weekblad in 1988, drie jaar nadat die RDM daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad. Hy doen plek-plek uitstekende werk met deurvorsende ondersoekende joernalistiek, soos die onthulling van Vlakplaas (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe politieke aanslag verower verreweg nie die mark nie. In 1993, na net vyf stormagtige jare, word ook sy hortjies gegrendel – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie ingesteldheid se dag nou aangebreek het.

Hoekom? Natuurlik was daar duur hofsake en ander struikelblokke. Maar die een harde waarheid staan soos ‘n paal bo water: dat Vrye Weekblad net te ver verwyder van die gewone Afrikaanse leser was om volhoubaar te wees. Idealisme het dalk polsend in sy are gepomp; maar nooit die lewensbloed van elke koerant nie, naamlik lesers en adverteerders. Sy sirkulasie het by iets soos 11 000 vasgeval, dalk 13 000. Te min, te min.

Vrye Weekblad het ons hoofstroomkoerante graag gekoggel. Maar wat doen Naspers toe (en nogal op my advies)? In sy finale oorlewingstryd word ‘n senior oud-amptenaar, wyle Jan Prins, na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt met raad en daad te gaan ondersteun. Die Pers het al die koste gedra en Jan hom boonop ‘n salaris betaal. Selfs sy pogings kon die finale gordyn egter nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad noodgedwonge 1993 sy deure sluit.Te prematuur vir sy mark, soos die RDM agt jaar tevore vir sy mark te prematuur was.

Die Jan- Prins-geskiedenis is nie wyd bekend nie. Max du Preez, vader van Vrye Weekblad, hou ook niks daarvan dat dit op die lappe kom nie. Toe ek die Pers se diskrete hulp enkele jare gelede in ‘n brief in “By” onthul, was Du Preez so gesteurd dat hy my in ‘n volblad-artikel in dieselfde publikasie van ‘n kant af geloop het. Ondanks sy beskuldigings oor hoe ‘n vrot redakteur ek dan was, het Die Volksblad in my redakteurskap nie ondergegaan soos Vrye Weekblad in syne nie. Maar dit daar gelaat.

‘n Werklikheid van daardie tyd wat kritici van Afrikaanse koerante gerieflik vergeet, is die opkoms van sterk regse weerstand teen politieke hervorming in deursnee-Afrikaner-geledere. Kom ons neem die goeie ou Vrystaat as voorbeeld waar die politieke ewewig in ‘n stadium op ‘n mespunt was.

“Swart Woensdag”. So het ‘n politieke rubriekskrywer 6 September 1989 gedoop. Dit was die dag toe die Konserwatiewe Party ampertjies die Vrystaat ingepalm het. In ‘n ontnugterende swaai van ses persent na regs het die KP ses uit 14 setels verower. ‘n Sewende was in die weegskaal weens ‘n dispuut. Iemand, wie weet ek nie, het na die uitslag met galgehumor verklaar die Vrystaatse parlementere koukus van die NP kon daarna, baie gerieflik, sommer in ‘n telefoonhokkie vergader!

Teen 1991 het dit nog slegter gegaan. In daardie jaar is in Ladybrand en Virginia in tussenverkiesings verpletterende nederlae gely. Die KP het ook in munisipale tussenverkiesings suksesse ingeryg.

Wat was dan aan die gang? In my oë was dit ‘n klaarblyklike ‘n vingerwysing dat weerstand teen die FW-de Klerk-koers (en amper des te meer die koers van Die Volksblad) in die Vrystaat dieper gewortel was as wat vriend of vyand ooit besef het. Hoe iemand hierdie verharding in gesindhede kan rym met hul versugting vir heroïeser hervormingspolitiek is vir hierdie oud-redakteur raaiselagtig. Tensy ons die pad van die RDM en die Vrye Weeblad wou gaan.

Ek sou nog kon vertel van nagtelike doodsdreigemente, viktimiserings en selfs fisieke aanrandings uit regse oorde op koerantmense, net omdat hulle hul werk doen. Dalk is dit die stof vir ‘n volgende blog.

Ten slotte dan:

Die volle waarheid oor Naspers se totale rol in die politieke omwentelinge van die 90’s moet nog geboekstaaf word. Ons koerante het hulle onderskei met beriggewing en rigtinggewende kommentaar, meen ek. Ook op bestuursvlak is uit ons pad gegaan om na nuwe leidsliede uit te reik. Welwillende kontak is met die here Mandela, Mbeki en andere bewerkstellig.

Teen die vroeë 90’s al is ingesien dat op die mediatoneel veranderinge sou moes kom. Hoe groter die verskeidenheid stemme, des te beter sou dit wees vir die nuwe demokrasie. Met dié insig is City Press (met sy sterk ANC-oriëntasie) uitgebou tot winsgewendheid en het die Pers teen groot koste ‘n reeks koerante gemik op die agtergeblewe gemeenskappe tot volwaardige onderneminkies help uitbou.

‘n Reeks gemeenskapskoerante is op die been gebring, plek-plek ook met swart mede-eienaarskap. Alternatiewe koerante (soos South in Kaapstad) is teen tegmoetkomende tariewe gedruk en versprei. Ruim hulp is verleen aan die Independent Media Diversity Trust om opkomende onafhanklike blaaie te finansier. Daar is nie gevra wie gehelp word en watter standpunte hulle bevorder nie. Steun is toegesê aan Allister Sparks se Institute for the Advancement of Journalism om ‘n nuwe generasie joernaliste vir ‘n nuwe generasie media op te lei.

In hierdie konteks, feit vir feit naspeurbaar in betroubare bronne, dink ek werklik nie Naspers verdien sulke verwyte soos dié van Johann Kriegler nie.

PERS EN POLITIEK : ‘N TERUGBLIK

September 9, 2018 in Uncategorized

Wyse woorde van die hoogs bekroonde historikus Herman Giliomee in vandag se Weekliks in Rapport: “Die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis (is) om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.”

Amper 30 jaar gelede, op 5 Julie 1989, het pres, P.W. Botha in sy bastion, Tuynhuis, die ANC-leier, Nelson Mandela – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik ontvang. Ondanks alle vorige protestasies en kwalifikasies – die ANC-leier se afswering van geweld onder meer – het die Nasionale Party-leier begin praat met die ANC.

Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel; agt jaar voor die ontmoeting in Tuynhuys, sewe jaar voordat Niël Barnard, hoof van Nasionale Intelligensie, se eerste, aanknopende gesprek met Mandela in Pollsmoor, en amper ‘n dekade voordat die internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 as aanstaande president uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.

Vosloo se baanbrekende kopskuif het Botha destyds met afgryse laat sidder. Hierdie verrassende oproep uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom het my, wat een van sy adjudante was, self ietwat onkant gevang, moet ek bely. Later sou ek telkens weer daaroor wonder: Hoe sou die geskiedenis kon verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare nie daardeur gewen word nie?

Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante ontkiem het. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.

‘n Gedugte arsenaal ideologiese wette het nog die toekomspad versper. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal – twee van hulle, Die Burger en Die Volksblad, nogal amptelike mondstukke van die NP – egter in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om hierdie ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.

En gee hom die eer: dr. Wimpie de Klerk, redakteur van Die Transvaler, die noordelike mondstuk van die party, het in hierdie opsig, in selfs dalk nog moeiliker omstandighede as sy kollegas van die Nasionale Pers, ook sy kant gebring.

Al van die tweede helte van die 70’s af, maar veral in die 80’s , is die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, toenemend krities onder die loep geneem.

Skermutselings tussen pers en party het gevolglik taamlik gereeld begin voorkom – soms skerp en bitter. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld, waar hy Ton Vosloo opgevolg het, was veral in die spervuur oor sy rondborstigheid. Oor die Groepssgebiedewet het hy bv. pront verklaar: “Skrap dit”. Ook oor Nelson Mandela het hy nie doekies omgedraai nie: “Die tyd het aangebreek om hom uit die tronk vry te laat.“

Onder sy kollegas het sy waagmoed vir Wepener die naam “Ysterman” verwerf. In Tuynhuys was daar egter met elke nuwe Wepener-sarsie beroering. Dit is hoe die naam “Kruithuis” destyds ontstaan het!

Later moes die damwal bars. Een na die ander hoeksteen-wet van apartheid is geskrap, onder meer ook die gehate Paswette. Toe hulle in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menigte wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is. Ook die hoofartikels daaroor word in argiewe bewaar.

Oor die verbod in 1988 op sir Richard Attenborough se omstrede rolprent “Cry Freedom” (oor die aktivis Steve Biko wat in 1977 in polisie-aanhouding dood is) was die Naspers-dagblaaie almal afkeurend. Premier Botha was erg gesteurd. Sy wens wat hy direk aan Ton Vosloo, toe besturende direkteur, oorgedra het, was: redakteurs moet hom bel en hom waarsku as ons van hom verskil en hom in ons koerante gaan pak. Die antwoord was eenparig: jammer, daarvoor sien ons nie kans nie!

Dit was die jaar waarin Botha later na joernaliste in die algemeen as “lunsrieme” sou verwys.

Koerante het nie net kritiseer nie, maar het ook kreatief en opbouend saamgedink, en dikwels op die voorpunt gedink, oor boustene vir die toekoms. Al verkennende is berge versit. Een pragtige voorbeeld van hoe ‘n koerant met sy skeppende denke as ‘t ware ‘n katalisator in die Groot Mirakel van Suid-Afrika geword het, is deur pres, Nelson Mandela aan sy tafelgenote onthul toe hy op 9 Oktober 1997 ‘n middagete tot sy eer by Naspers in Kaapstad bygewoon het.

Ton Vosloo, voorsitter, Koos Bekker, besturende direkteur, Boetie van Zyl en Niel van Heerden, direkteure, en Conrad Sidego, Khulu Sibiya en Zelda Jongbloed van Naspers is aan tafel vergas op ‘n boeiende relaas oor hoe ‘n Dawie-rubriek oor groepregte in 1989 in die gesprek tussen die NP en die ANC vir ‘n deurbraak gesorg het. Die rubriek is geskryf deur Wiets Beukes, wat toe redakteur was. Hy het Piet Cillié opgevolg.

Dawie se standpunt was dat oor wette soos die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe “ingrypend herbesin” moet word, omdat ‘n nuwe Grondwet “kleurblind” moet wees.

Die gedwonge klassifikasie van mense was een van die “onhoudbare erfenisse van die ou apartheid”, het hy betoog. Die “groep-gedagte (sal) in die eerste plek van alle dwang en diskriminasie gestroop moet word”. Groepvorming sou “bevry” moet word om spontaan plaas te vind, en een van die “basiese regte van die mens” sou herstel moes word: “Dat elke mens die reg het om vryelik te assosieer en self te besluit by watter groep hy sy heil wil soek.”

Mandela het, volgens hom, in een van hul eerste ontmoetings F.W. de Klerk se aandag op die rubriek gevestig. De Klerk het onmiddellik positief gereageer: “Nou ja, as Dawie so sȇ, sal ek vir my mense sȇ ons kan dit (daardie groepwette) maar los.” Daardie antwoord het Mandela verheug. Hy het aan sy topstruktuur gaan rapporteer: “Met die man sal ons kan saamwerk.” Daarna het sake begin vlot.

Die partymondstuk-status tot diep in die jare tagtig van Die Burger, Die Volksblad en die heengegane Die Transvaler, was histories verantwoorbaar deur ‘n gemeenskaplike oer-herkoms uit die breë Afrikaans-Nasionale beweging in jare van platgeslaanheid. Dit is na my wete nooit amptelik geformuleer nie. Geen “kontrak”, geen voorskrif, selfs geen verwagting is aan my gestel toe ek redakteur van Die Volksblad geword het nie. Geen dusdanige dokument is, sover ek weet, ooit aan enige ander Naspers-redakteur gegee nie. Maar dat dit tot vandag suspisies voed oor waar die Afrikaanse koerante in die legkaart van die apartheidsera inpas, moet geredelik erken word.

Dalk verstaanbaar, as jy uit ‘n hoek van onbegrip kyk, word koerante verdink dat hulle weens hul partybande, formeel of informeel, soos dit in die geval van Beeld en Rapport was, gevangenes van die Nasionale Party was, en daarom outomaties ook stoere kampvegters vir die status quo.

Toenemend is by koerante besef dat die ongemaklike verbintenis nie kon voortduur nie. In 1988 het Ebbe Dommisse, redakteur van Die Burger, toe die bul by die horings gepak. Op sy inisiatief is by die Kaaplandse kongrs van die NP ‘n besluit geneem om die ou koppeling te laat vaar. In die Vrystaat is geen besluit ooit geneem nie. Die gebruik om jaarliks by die NP-kongres die koerant as party-mondstuk te herbenoem, het eenvoudig in onbruik verval. In Transvaal was geen amptelike mondstuk oor nie nadat Die Transvaler se vlerke in 1983 geknip is en hy in sak en net ‘n Pretoriase koerant moes word.

Met die Dommisse-inisiatief is ‘n proses voltrek wat in die middle van die jare 80 momentum begin kry het namate die gekompliseerdheid van die landspolitiek ou bindinge al hoe meer onder druk geplaas het.

Oor hierdie aspekte van die geskiedenis word om die een of ander rede ‘n sluier getrek asof ‘n onwilligheid bestaan om die verlede onbevange te bekyk en ewewigtig te beoordeel. Dit is ten seerste te betreur omdat wanpersepsies oor die rol van die Afrikaanse koerante, en veral redakteurs, helaas, deur die verspreiende onkunde gedy.

Met die onheuglike Magnus Malan-sage het sulke wanpersepsies weer uitgeborrel. Ou vooroordele is afgestof. In die kaalvuis-debat oor die omstrede Bird-Island-boek het beskuldigings rondgevlieg, soms in heel onelegante fraserings. Die kerksake-kommentator Jean Oosthuizen het bv. in ‘n Facebook-inskrywing die volgende kwytgeraak: dat van ‘n bepaalde Afrikaanse redakteur in die era van Magnus Malan en Barend du Plessis tog bekend is dat hy in die NP “se ali ingekruip” was.

Noodwendig ontbreek die ruimte om in ‘n enkele koerant-artikel op al die dimensies van ‘n gekompliseerde verhouding in ‘n gekompliseerde tyd in te gaan. Die rol van die Afrikaanse koerant in die politieke oorgang is in elk geval eerder ‘n navorsingstaak vir historici. In die gemoed van hierdie oud-redakteur van die jare 1980 tot 1992 leef egter geen skuldgevoelens oor in watter deel van wie se anatomie hy dan ingekruip sou gewees het nie.

MEDIA EN WAARHEID

Augustus 20, 2018 in Uncategorized

Een gevolg van die Magnus-sage is dat oud-kollegas uit ‘n vorige era by die koerante weer ‘n slag druk met mekaar gesels. E-posse vlieg. Die verontwaardiging oor die afgelope twee weke se media-sirkus loop hoog.

Dit druis in teen alle joernalistieke etiek om ongetoetste dinge as die waarheid op te dis, word onder mekaar gesệ. Verder: ‘n boek soos “Seuns van Bird-eiland” moes nooit by ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verskyn het nie – bepaald nie voordat ‘n baie beter saak vir die waarheid daarvan uitgemaak kan word nie.

Oor een ding is die meeste dit roerend eens: dat die karaktermoord op Magnus Malan (en die ongenoemde Barend du Plessis) op ten minste uiters wankelende gronde, of, waarskynliker, op totale valse gronde gepleeg word. In ons era, met al sy en ook ons eie gebreke, was so ‘n media-malligheid ondenkbaar.

Verregaande bewerings van die aard sou eenvoudig nooit gepubliseer gewees het nie, nie in my koerant Die Volksblad nie, nie in Die Burger nie, nie in Beeld nie, nie in Rapport nie, ook nie in ‘n boek by Tafelberg-uitgewers nie. Dit sệ ek onomwonde.

Vaste formules en etiekreëls het bestaan om besluite oor sulke sensitiewe stories te neem:

Wie is die bronne?

Hoeveel bronne is daar en klop hul stories?

Bestaan enige bewyse wat op vaste pote staan?

Wat sệ die benadeelde party (audi ad alteram partem)?

M.a.w. hoe seker is ons dat ons die waarheid beet het en nie ons lesers op hol jag met ‘n spookasemstorie nie?

Die gangbare joernalistike etiek van die dag word geïllustreer deur hierdie mooi storie van kollega Johann Holzapfel (die nimlike Appel), destyds, van 1974 af, saam met my een van die pioniers by Beeld:

In die jare 80 was daar stories in omloop oor Alan Boesak se vurige buite-egtelike romanse. Die veiliheidspolisie het hom dopgehou en ‘n mikrofoon in ‘n hotelkamer geplant. ‘n Intieme onderonsie tussen die twee is op band opgeneem. Dis later aan die media gelek, onder meer ook by Beeld.

Die redaksie was onseker wat om met die kompromitterende band te doen. Eenparig is besluit: dit is die saak vir die redakteur, wat toe Willem Wepener was. Hy het vir Ton Vosloo opgevolg.

Wepener het ook geluister en hom gruwelik vererg. Oor sy dooie liggaam! Dit is “dirt disguised as uplift”.

Later het hy ‘n hoofartikel oor die petalje geskryf met die strekking dat ook in die politiek sekere grense nie oorgesteek mag word nie – speel die bal… nie die man nie.

“Dirt disguised as uplift” – die beskrywing pas die Magnus-storie soos ‘n handskoen. Boonop ontbreek die getuienis wat in die Boesak-geval bo alle twyfel was.

In welke mate die sosiale media vir die hele vervlakking in die openbare diskoers verantwoordelik is, kan ‘n mens bespiegel. Ek meen hul bydrae is is geweldig. Die koorsagtige gegons op die internet skep bepaald ‘n losse mediaklimaat wat ons nie geken het nie.

Ten tweede moet dit in alle billikheid gestel word dat nie alle redakteurs ewe entoesiasties aan die jag op Malan (en Du Plessis) deelneem nie. Party staan tog ietwat tru maar bevind hulle in ‘n onbenydenswaardige posisie in die lig van die verwagtinge van opgesweepte Jong Turke in hul redaksies en leserskorpse wie se wrewel in die ou bestel hoog loop.

Vir daardie mense is sulke veldtogte klaarblyklik ‘n soort ontvlugtingsdwelm uit daardie era se onheile – al saal hulle ‘n wilde perd op en is al hul saal en toom so skromelik ontoereikend soos in hierdie geval.

Hoe stop ‘n mens dit? Die gedagte van ‘n volledige, onafhanklike ondersoek word geopper. Dit klink aantreklik, maar dan is die vraag steeds: wie gaan die ondersoek inisieer en wie gaan die byna bomenslike vermag om ‘n bevinding te maak wat naastenby almal oortuig?

Dalk is ek onrealisties maar my hoop is tog ook op die verantwoordelike mense in die media: dat hulle al hoe meer sal herbesin soos Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Sondag voel-voel die pad vir so ‘n herbesinning begin oopmaak het.

Die waarheid moet uiteindelik seëvier. Daaroor moet ons tog almal saamstem.

KAMERA-KATASTROFES

April 21, 2018 in Uncategorized

Die rampspoedige vlug SA 228 wat op 20 April 1968, gister 50 jaar gelede, met opstyging onder meer weens foutiewe flap-verstellings by Windhoek in die grond geboor het, herinner aan een van die groot kamera-katastrofes in die Suid-Afrikaanse koerantgeskiedenis.

Die Boeing 707-344C, genaamd Pretoria, het 118 mense aan boord gehad van wie net vyf oorleef het. Die ramp het ‘n Saterdagnag net na midddernag gebeur. Dit was die land se grootste lugramp tot op datum – Die Helderberg-ramp was jare later – en die land se koerante het die Sondag omtrent almal vliegtuie gehuur om verslaggewers en fotograwe na die toneel te haas. Die Transvaler, dagblad van Perskor, was geen uitsondering nie.

Laat die middag het sy span teruggekeer. Daar was nie baie tyd om die foto’s te ontwikkel nie. Toe die nuusredakteur angstig begin raak, sit hy af donkerkamer toe om te gaan kyk wat dan aangaan. Hy vind die arme fotograaf hande in die hare.

Geeneen van sy foto’s het uitgekom nie. Of lig in die kamera, of iets anders, maar daar was geen enkele bruikbare opname nie.

‘n Soortgelyke stel is deur ‘n fotograaf van Die Burger afgetrap toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom.

Die eerste Burgerfotograaf was verstommend gou op die toneel. Helaas, met ‘n kamera sonder film!

Omstreeks dieselfde tyd is ‘n Volksbladfotograaf in Bloemfontein op eie versoek in ‘n Lugmagvliegtuig so vasgegespe dat hy amper halflyf kon uithang om dramatiese foto’s van ‘n massa- valskermsprong van die Valskermbataljon te neem.

Na al die moeite is agterna dieselfde ontdekking gedoen – geen film nie.

Oor sulke katastrofes kan ‘n mens nie glimlag nie. Waaroor ‘n glimlag egter nie uit sy plek sal wees nie, is die bokkerop wat Jean du Plessis van Die Burger oorgekom het toe hy by Tuynhuys retireer-retireer ‘n foto van die nuwe president van doerie tyd, mnr. Nelson Mandela, wou neem. Toe Du Plessis nog so agteruit korrel vat, haak sy voet aan die rand van ‘n groot visdam. Hy val kaplaks tussen die verbaasde koivisse, kamera en al.

‘n Galante pres. Mandela het kom hand gee om die sopnat fotograaf op vaste bodem te kry. Die toneeltjie illustreer die uwe se boek Flaters & Kraters.

Nog ‘n ligte storietjie van ‘n kameraman is van wyle Jasper Kroese, ook van Die Burger, wat op ‘n Saterdagmiddag op Nuweland langs die kantlyn af nael om by te wees wanneer die vleuel in die hoek druk – toe gee die vleuel die bal na Kroese uit, wat dit netjies vasvat.

Teenwoordigheid van gees noem ‘n mens dit.

VOORBLADNUUS

April 18, 2018 in Uncategorized

Saam met my koerant word ‘n hand geskrewe briefie by my huis afgelewer met ‘n onheilspellende mededeling oor ‘n aanval deur vier gewapende mans om 03:50 die oggend.

Die egpaar wat ons koerante aflewer, word amper self voorbladnuus. Hulle en hul tweelingdogters is op hul ronde in die nagdonker met messe toegetakel. Almal het baie seergeky. Die tweeling is met drie meswonde elk in die hospitaal opgeneem.

Die vriendelike versoek word deur hulle gerig dat huiseienaars die omgewing so helder verlig as moontlik – d…ie boosdoeners skuil agter posbusse, struike en bome, en hardloop, in swart geklee, handeviervoet rond “soos honde”.

Die lewe daarbuite het, ook vir ons getroue koerantaflewerars baie gevaarlik geword!

Die slagoffers van die betrokke aanval waarsku dat hulle by donker huise koerante of tydskrifte net op die plaveilsel voor motorhuise of oor die hek of heining gegooi word, indien versoek. Dit is verstaanbaar.

Hierdie mense lewer ‘n uiters waardevolle diens wat dikwels as vanselfsprekend aanvaar word, Kom, mense, kom ons neem kennis van die slegte ervaring en bewys ‘n bietjie bedagsaamheid deur vir die afleweraars lig te maak waar ons verkies dat ons leesgoed besorg word terwyl ons soggens nog ‘n laaste slapie inkry.

KOPKRAP OOR KOPPE

November 29, 2016 in Uncategorized

Die kuns van die kopskrywer (skrywer van opskrifte) is selfs groter as wat dit dalk lyk. Die uitdaging is nie net om ‘n treffende opskrif te skryf nie. Nee, dit moet, kom wat wil, in ‘n bepaalde ruimte inpas.

Sonder om te tegnies te raak: Des te groter die lettertipe en des te minder die kolomme, des te moeiliker word jou taak om in ‘n paar woorde die essensie raak te vat. Dit is die eis wat die bladplanner aan jou stel, en jy moet eenvoudig sien en kom klaar. Dis al.

My briljante oud-kollega Ollie Olwagen herinner n.a.v. my storie in Die Burger en ‘n vorige blog oor gevatte koppe aan ‘n stoepie (berig onder op die blad was ‘n stoepie genoem, nogal verbeeldingryk, dink ek) jare gelede op Die Volksblad se voorblad toe daar absoluut slegs plek was vir ‘n kort eenreëlkop vir prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering totaal toegegooi was onder die blomme:
Dit was ” ‘n Blom-Fonteyn”.

My vermoede is dat dit ‘n Ollie-kop was. Niemand kon vir hom kers vashou nie. Hy is later by Huisgenoot vereer met die Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk die enigste bekroning in sy soort.

Sou graag ‘n hele lys Ollie-koppe hier wou plaas. Hy is egter maar ‘n beskeie man. Kollega André Brink onthou darem vinnig uit die vuis uit twee:

Ene L. Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.

Moshe Dayan, bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”.

Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf.

Lesers het lekker saam gesels oor die opskrifte-storie. Isabel Cilliers – oud-joernalis wat ‘n biblioteek-professor geword het – het Saterdag die ene op die voorblad van Die Burger raakgesien: “Swart Vrydag: kopers van hul trollie af”. Ja, dit was netjies, Isabel.

In die tyd dat Doom in Suid-Afrika so in die nuus is, herinner oud-kollega Tom Ferreira my aan die opskrif in ‘n koerant in Engeland nadat ‘n verveelde hondjie in die afwesigheid van die huismense aan Kersgeskenke begin kou het. Een van die geskenke was ‘n spuitkan met ‘n reukweerder. Die einde van die avontuurtjie was ‘n paar vensters wat uitgeblaas is en ‘n bank in vlamme. Die hondjie was ongedeerd.

Die opskrif: “Scooby Doom.”

In die vorige blog gemeld hoe die Engelse taal hom leen tot skitterende opskrifte, soos hierbo. Sonder om ‘n te lang relaas te lewer, gee ek net nog drie voorbeelde van uitmuntendheid.

Toe Michael Foot leier van die Britse Arbeidersparty was, is hy aangewys as voorsitter van ‘n komitee wat oor kernontwapening moes beraadslaag. The Times (‘n ernstige koerant wat nie tyd het vir speletjies nie) kom toe met die onvergeetlike opskrif vorendag: “Foot head arms body”.

Dan was daar ook in die VK die geval waar ‘n aangehoudende in ‘n asiel ‘n skropvrou verkrag en daarna gevlug het. Die pittige (stouterige, as u so verkies) opskrif in die koerant was “Nuts screw washers and bolts.”

Die agterblad behoort tradisioneel aan Sport. Kom ons eindig met ‘n sportkop, met die komplimente van Johannes Wessels, outeur van die berugte “Moedertie Rusland wydsbeen oor die Horing van Afrika”. Hy vertel die dag nadat die All Black Jonah Lomu die drieë teen Wallis ingeryg het, was die opskrif van ‘n Walliese koerant bo sy rugbyverslag: “Jonah devours Wales”.

Saterdag kon dit gewees het: Wales devour frail antelopes!

SLIMKOPPE SE SLIM KOPPE

November 24, 2016 in Uncategorized

the_sun_gotcha

Dit was die week waarin die Doom-doom-inie (Doom-profeet) van Limpopo mense laat proes, die Bokke se vertoning in Florence – Mamma (Bleddie) Mia!*- mense laat stik en die kwessie of Toetie moet tata of nie mense laat gons het.

Die slim koppe (koerantopskrifte) van die slimkop-subredakteurs het self nuus gemaak, is met behae op sosiale media versprei en het herinneringe van koerant-ringkoppe uitgelok oor gedenkwaardige opskrifte deur die jare.

In die laaste kategorie is vreugde o.m. veroorsaak deur ‘n opskrif nadat Gladys Steyn, laaste Sap-kandidaat in die Vrystaat, in ‘n verkiesing uitgeval het. By die koerant sit ‘n subredakteur met diaboliese dubbelsinnigheid die volgende opskrif op die berig: Gladys sit pot mis; hele Vrystaat Nat.

Dubbelsinnigheid – dit is een van die skerpste wapens in die vernuftige kopskrywer se arsenaal.

‘n Konserwatiewe redakteur het spreekwoordelik in sy graankos gestik toe hy in groot swart letters bo ‘n ontleding van Rusland se uitbreidende invloed op die vasteland in sy koerant moet lees: Moedertjie Rusland staan wydsbeen oor die horing van Afrika.

‘n Voorbladopskrif in The Sowetan het gelui: Man found with genitals. Dit het ‘n rubriekskrywer in die Sunday Times laat opmerk: “Om te dink van julle dames het gemeen die spesie het uitgesterf.”

Van genitalië gepraat. wat maak jy van: Kondome vir tronkvoëls?

Oor die menslike anatomie was koerante van ‘n vorige generasie nogal beskroomd. Bedink hoe wenkbroue gewip het oor selfs ‘n taamlike mak voorbladopskrif soos: Ouderling in gat beseer deur latrine. Die besering het werklik gebeur – in ‘n gat. ‘n Ouderling van Lutzville was binne die gat wat hy aan’t grawe was vir ‘n nuwe latrine toe ‘n rukwind die sink-kontrepsie op hom omwaai. Sy ribbes was o.m. gebreek.

Koerante kan self in ‘n gat trap. Die Cape Times wou met die koniklike besoek van 1947 ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring. Op sy voorblad staan die opskrif die goeie mense van Beaufort-Wes het Koning George op hul dorp verwelkom met die kreet: “Hoere, hoere, hoere vir die koning.” Die ontbrekende kappie op die “e” het die stomme Engelse subredakteur sy naam krater laat maak.

Woordspelings is ‘n gewilde tegniek. Idiome word bv. verbeeldingryk omvorm. ‘n Klassieke kop in daardie trant was bo ‘n berig oor die bedenklike kwaliteit van Russiese weermagstewels: Die sool is die kous nie werd nie. Die outeur Eddie du Plessis (lankal saliger) verdien vermelding.

In dieselfde kader (bo ‘n storie oor ‘n dronk treindrywer): Trein ry op twee rye spore na stasie.

‘n Rare pleknaam leen hom tot ‘n lekker opskrif vir ‘n berig oor ‘n kwaai buffel se verwoestingstog op ‘n Suid-Vrystaatse jagplaas: Tweebakkiesdeureenbuffelflentersgestampfontein.

Die bekende WP-kreet Pro-o-o-o-vince! kan, tong in die kies, netjies tot Pro-o-o-o-o-blems! omvorm word.

Bekendes se name kan sorg vir treffers soos: Dis my doedie Di.

Dan moet die drukkersduiwel net nie met die naam kom lol nie. In die dae van warmlood in koerantsetterye is opskrifte in spesiale vormpies uitgepak. Soms is dit verkeerd-om gedoen. Wat op aarde beteken: Erg skitter Dick Brob? Ruil die twee stukke lood om. A-a-a, Dicky Broberg (bekende atleet) skitter!

Engels leen hom nogal tot besonderse opskrifte, soos die enkeles hierbo genoem. ‘n Verrassende een uit die New York Post word ook gereeld aangehaal: Headless body in topless bar.

In Engeland was ‘n beroemde (berugte?) redakteur Kelvin McKenzie. Hy was persoonlik verantwoordelik vir waarskynlik een van die mees omstrede koerantopskrifte van alle tye. In die Falklandoorlog in 1982 het die Britse vloot die Argentynse kruiser Genl. Belgrano tot sink gebring met reuse-lewensverlies. McKenzie se koerant, The Sun, had ‘n enorme opskrif wat net uit een word bestaan het: Gotcha.

Die redakteur het later sy opskrif so verdedig teen kritici wat gemeen het dat hy op onmenslike wyse lewensverlies verheerlik het: “‘Gotcha’ was mine, which I’m very proud about. The fact that the enemy were killed to my mind was a bloody good thing and I’ve never had a moment’s loss of sleep over it.”

Ja, elke kant het twee sake – ook koerantopskrifte. Die een se “sensasie” bly maar die ander se leesgenot.

(* In die dae voordat politieke korrektheid so dwingend was soos vandag, het ‘n waarnemende redakteur van die nimlike Sondagblad – dit was Rapport – tog wel sensitiewe oë laat rek met die een-woord-banieropskrif op die voorblad waarmee ‘n slegte loesing vir die Springbokke opgesom is: K…..pak! Daardie waarnemende redakteur was die gedugte Rykie van Reenen.)

NUUS VAN DIE DAG

Maart 17, 2016 in Uncategorized

2-IMG_3604

1-IMG_3605

3-IMG_3606

Die drukkersink bruis sommer weer vandag in my are. Die politieke lug is vol elektristeit. Almal praat en wonder: Kan Zuma oorleef? Vir koerante is sulke nuusmomente die geleentheid om, soos ons dit in my dae gestel, "skouers oop te maak.

So lyk die voorblaaie van Beeld, Volksblad en Die Burger vanoggend. Laasgenoemde lyk maar vir hierdie leser ietwat doodgewoon en alledaags. Die keuse van die fietsryers as hooffoto is buitengewoon oninsperend, die krieketstorie het bra min om die lyf, en die moleste in 'n Kimberleyse hof was gister al vroeg-vroeg op die internet.

Beeld (waarvan Volksblad vandag 'n blote bloudruk is) het heerlwat meer skop. Net een kyk is nodig om jou te laat besef: Hier is 'n ding! Die oorheersende nuus van die dag oorheers ook in die koerant. Krieket, fietsryers, hofmoleste en sulke klas dingetjies kry nie plek op die voorblad nie.

Dit is hoe dit moet wees as 'n koerant sy lesers se aandag wil trek.

Of die drie koerante se hoofopskrifte die regte keuse was, is oop vir debat. Vir groter trefkrag sou ek gekies het: " Dis nag vir Zuma" of "Gaan Zuma val?", wat Die Burger se plakkaat is.

Dit vat die storie boonop verder as wat reeds gisteraand op die TV-nuus volledig weergegee is. Vir koerante moet varsheid n hul nuushantering altyd ‘n vername oorweging wees, sou ek reken.

Naskrif: As ek en andere te gou opgewonde raak en die politiek maar op die huidige trant van skandaal tot skandaal gaan voortploeter, sal Die Burger se hantering die regte een wees. ‘n Profetiese daad as’t ware. Dan sal hierdie waarnemer moet terugkrabbel vir ‘n vale!)

KOERANTE, QUO VADIS?

November 20, 2015 in Uncategorized

Vreugdevure brand hoog - HvD, Jean le Roux en Ebbe Dpmmisse.

Vreugdevure brand hoog – HvD, Jean le Roux en Ebbe Dommisse.

Naspers se jaarlikse bestuurskonferensie in 1996 op Swakopmund is die Woestynberaad gedoop. Woestyn of te nie, vir die Koerantesektor was 1996 seker sy mooiste blomjaar ooit.

Een kollega na die ander het vorentoe gemarsjeer om prestasiebekers te gaan haal. Uiteindelik is die uwe deur Ton Vosloo na vore geroep. Koerante het ook die heel grote ingepalm, die D.P. de Villierstrofee, vir die beste presteerder in die Pers.

Ons was numero uno. Die kampioen. Die gans wat die goue eiers lê. Ons koerantouens was uitgelate en het tot laat feesgevier.

Die Burger was ons kroonjuweel. Hy het boonop pas die Argus op sirkulasiegebied verbygesteek. Die hoofbestuurder, Jean le Roux, tot barstens in sy skik, het ‘n spesiale koffiebekertjie laat maak om die nuwe status as die Wes-Kaap se grootste dagblad te gedenk.

My bekertjie staan in my studeerkamer op Melkbos, omring deur foto’s teen die mure uit o.m. daardie skitter-era – ‘n era wat, in die woorde van Ton, “in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken sal word as ʼn tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ʼn groot omswaai. ”

Vandag, nie twee dekades later nie, lees ons die pynlike oordeel op Maroelamedia: Die pad graf toe vir koerante lyk geteer.

Die skrif is aan die muur … dit lyk maar donkernag. In daardie trant skryf Org Potgieter n.a.v. nog lelike insinkings op die sirkulasiegrafiek. Beeld kwalifiseer skynbaar nie eens meer nie vir die Frewinkompetisie wat hy ontelbare kere gewen het. Die Burger is net-net bo die afsnylyn. Volksblad is onder 20 000. Rapport is in ‘n skynbaar onstuitbare vryval.

Dis ‘n droewige prentjie – dalk des te meer so vir hierdie trotse borg van die woord “koerant” by die WAT. Om my lewenslange koerante-verbintenis te vier en my passie vir koerante te bevestig, het ek in 2013 met vreugde R5 000 uit my sak geskud vir daardie eer.

WAT

Sou iemand my vra oor ons suksesresep van daardie jare, sou ek vyf faktore uitsonder. Koerante se goue era was danksy soliede produkte; ‘n goeie leierskorps van redakteurs en bestuurders; die status van koerante (en redakteurs) binne die Naspersgroep; die onbeskaamde omarming van Afrikaans wat by Afrikaanse lesers sterk aanklank gevind het, asook die wil om die beste te wees. Standaarde en waardes is nagestreef wat nie ruimte gelaat het vir bv. die joernalistieke populisme wat later in die vorm van ‘n rits poniekoerante ontvou het nie.

Wat het dan verkeerd geloop? Natuurlik was daar die meedoënlose opmars van die nuwe tegnologie, die koms van die sosiale media en nuwe leserspatrone. Natuurlik is onvervangbare senioriteit by koerante prysgegee in die jag na vernuwing. Natuurlik het sekere avontuurlike aanstellings in sleutelposte geboemerang. Natuurlik was daar verkeerde bestuursbesluite. Natuurlik het die Pers het hom, in sy strewe om lesersmarkte uit te brei, laat mislei om vir die voet van die piramide te mik. Natuurlik het Naspers ‘n globale reus geword met belange waarteen die koerante en ander gedukte media maar soos ‘n blertsie voëltjiestrond afsteek.
Ja, die ou waagmoed, inisiatief en visie is steeds lewendig en gesond in die Heerengracht, maar nuut verpak en op ‘n ander terrein. Die fokus het verskuif. Die nuwe fokus bring verstommende sakesukses, maar lei ongelukkig tot verwaarlosing van die arm wat sedert die stigting van die Pers die primêre draer van ‘n idealistiese maatskappy se politiek-maatskaplike ideale was.
Om by die kernrede vir die kreeftegang te kom, sal ‘n omvattende studie verg. Ek sou begin soek by die afkoeling in gesindhede jeens koerante in die top-gestoeltes ten koste van al die digitale verleidelikhede. By die uitskuiwe van koerante tot stiefkind-gestaltes, wat toenemend aan hul eie lot oorgelaat is – met die hande boonop agter die rug vasgebind wanneer die al hoe gedugter nuwe e-mededinger met mening trotseer moes word.
Hierdie oud-stryder is jammerder vir die huidige generasie koerantmense as wat hy kwaad is oor hul gesukkel. Die stomme mense voer al lank ‘n eensame, uitmergelende en ongelyke stryd teen ‘n omvattende aanslag.
Hoe ookal en om watter redes ookal, die koerante staan vandag waar hulle (steierend) staan. Quo vadis? Doodbloei of ‘n ander opsie?
Is verkoop van Media24 nie dalk die antwoord nie, wonder sommige. En ja, ‘n besielde nuwe drywer, Afriforum dalk, ondersteun met die daadkrag, verbeeldingrykheid en kundighede wat ‘n sterk redakteur en ‘n ervare span joernaliste kan bring, kan sekerlik help keer dat Afrikaans, by al sy teenspoede en verliese, ook nog sy koerantarm moet ontbeer.
Maar is dit die eerste prys? Kan Naspers nog Naspers wees sonder ‘n mediabeen? Dan is hy mos nie meer “nas” (nasionaal) nie en ook nie “pers” nie. Uit ‘n sakehoek kan so ‘n herstrukturering dalk aantreklik lyk; vir my sal dit neerkom op ‘n finale breuk met die geskiedenis. Ook op ‘n geestelike vervlakking en verarming van die nuwe kolos. Die bestaan van Media24 met al sy kwinte en kwale gee Naspers immers ‘n unieke kleur en karakter.
Is Naspers dan nie ryk genoeg om sy koerante en beste tydskrifte uit sy agtersak te “red” nie? Natuurlik kan hy dit oor en oor bekostig. Soos die staat Telkom, Eskom of die Suid-Afrikaanse Lugdiens telkens moet inspuitings gee, kan die Pers mos ook sy “noodsaaklike dienste” bly dra. Uit ideologiese, historiese en sentimentele oorwegings. Die wins sal dalk nie dadelik in rand en sent sigbaar wees nie, maar op die langer duur wel in ‘n beter Suid-Afrika vir al sy mense – ‘n lofwaardiger bestaansdoel vir enige maatskappy kry jy nie.

TOEGEVOEGDE WAARDE

April 24, 2015 in Uncategorized

IMG_2214-001

IMG_2215

‘n Koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie.

As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil of die blikkie waarin blikkieskos was nie. Jy draai bevrore vleis daarin toe om dit koud te hou vir lang ritte. Jy vee die hond se plassies daarmee op. Jy voer dit vir’n honger donkie. Jy is te dankbaar oor die beskikbaarheid as jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek.

Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.

In die Suid-Tirooolse vakansiestadjie Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit – ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Op die foto heelbo verdwerg die struktuur vir HvD – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg! Bo is ‘n nabyskoot vir mense wat lus is om daardie Tiroolse vindingrykheid na te aap.