Jy blaai in die argief vir kleinkinders.

BOS APPETIT!

Julie 16, 2016 in Uncategorized

"Kers-aand"

“Kers-aand”

Al gehoor van ‘n “kers-aand” in Julie? Wel, kyk na die treffende foto hierbo. Kleinseun Jacob (12) het met ‘n versameling kerse uit Ouma se voorraad die gewone ronde tafeltjie op Tarlehoet se stoep in ‘n feestelikheid omgetower; ‘n eer vir die aand se spyse van die rooster en uit die kombuis – goedkoop papierservetjies ten spyt.

‘n Feestelike verjaardagtafel uit die hart van die bos is op sy beurt deur tweelingbroer, Thomas, vir sy mamma, Marisa, voorberei. Blare van ‘n huilboom, appelblaar, haak en steek en varings; sade van die kierieklapper en sekelbos, rooigras, asook blommetjies van die koraalboom (‘n oulap se rooi), syselbos en die varkoorplakkie is o.m. toegewyd versamel om die regte atmosfeer te skep (Foto 2).

Kyk hoe vrolik brand die feeslanterns op die agtergrond. Die lampolieverbruik – soos die houtverbruik – vir die amper drie weke se boskuier is nie deur oupa bereken nie.

Uit die hart van die bos.

Uit die hart van die bos.

Elke aand se ete was omtrent ‘n ritueel. Met elke aspek het elke seun kranig bygedra – vuurtjie pak, vuurtjie aansteek, tafel dek, slaai maak, vleis braai en ‘n nagereg voortbring. Die mededinging was geweldig. Die selfstandigheid het getref maar het, helaas, ook ‘n negatiewe boodskap uitgedra. Jy het teruggedink aan die eerste vakansies saam in die bos met die seuntjies nog in doeke – en skielik stokoud gevoel.

Veral by die vuurmaak het Christopher (6), die jongste, tot sy reg gekom. Dit was ‘n takie wat hy – tot die irritasie van sy ouer broers – hard probeer het om vir hom af te baken. Rede? “Want.” Vir Christopher spreek daardie een woordjie boekdele. Nie nodig om iets by te voeg nie. Dit is wat hy wil doen en basta.

Agterna is lank gestry oor die verdienste van elke vuur. Hoe hoog die vlamme gelek het, was die deurslaggewende norm vir prestasie!

Vlamme lek hoog.

Vlamme lek hoog.

Die aand van sy ma se verjaardag het Jacob sy slag met sommer drie roosters op ‘n slag op die halwe drom gewys. Die worsie, vark-“rashers” en skaap-“motsjantos” het perfek van die kole gekom. Later het Thomas self ook vleisies op die kole gaargemaak wat niks afsteek nie.

Die drie seuns by Jacob se rooster.

Die drie seuns by Jacob se rooster.

DDie verjaardagmeisie het die trappies na Thomase tafel bestyg deur ‘n erewag van kersies wat hy daar geplaas het. Die drie Claassensboeties het waarlik alle stoppe uitgetrek vir hul ma se verjaardag in die bos

Een aand het Jimmy en Lida Pressly uit Skukuza oorgekom vir ete. Die seuns was die sjefs. ‘n Spsiale slaai met appel, bloukaas en okkerneute (Thomas se spesialiteit) en ‘n peperment-nagereg (Jacob se keuse) is o.m. berei.
Oom Jimmy had vir hul kos op Facebook die hoogste lof: “Gordon Ramsey, Marco-Piere White, Nigella en Jamie Oliver staan terug!”

Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida het die Van Deventers en Claassense vervolgens ‘n proeseltjie gehad van die voetslaan-vreugdes wat die Wildtuin bied. Ons is nou vuur en vlam vir nog.
Darem nie self met dapper en stapper op die diere se spore gaan loop nie. Wel ‘n salige nag diep in die hart van die bos deurgebring in die Napikamp vir voetslaners naby Pretoriuskop. Lieflike uitsigte op die Byamitirivier, gerieflike tente, bedrywige wildlewe, sterre so naby dat jy hulle kan vat, opwindende naggeluide en, natuurlik, ‘n kampvuur om oor huis toe te skryf (waarby Thomas sterk betrokke was). Jimmy is ‘n kampioenbraaier.

Lida het ons met die intrap bederf met wortelkoek en Jimmy se melktert. Oorgenoeg het oorgebly vir ‘n ontbyt duisend vir die seuns – soveel sagter op die verhemelte as die gewone muesli en jogurt.
Die kinders was in hul element. Jacob en Thomas voel sommer grootmeneer na hul eerste nag alleen in ‘n eie tent in die bos. Jimmy en Lida Pressly het ons waarlik alte verskriklik bederf met hierdie manjifieke bosbelewenis. Weet nie hoekom ons so bevoorreg is nie..

Praat van grootmeneer voel. By Sabiepark se jaarvergadering vroeër het ‘n snerpende windjie ons met ons pap en wors (en natuurlik Sabiepark se eie voortreflike sjeba-smoor) onder die laat skuiling soek. Die kinders het beurte gemaak in die voorsitter se stoel. Toe stap die regte voorsitter in. Thomas, wat op daardie oomblik in die stoel was, deel mee hy het hom “boeglam geskrik”.

‘n Eete wat veral Christopher ook nie lig sal vergeet nie was ‘n buffet-brekfis by Cattle Barons op Skukuza. Glo nie ek dik aan nie as ek meen hy was sewe keer terug om ‘n plaatkoekie met goue stroop te gaan haal.
Die hele vakansie het die skaal beskuldigend ongebruik in die hoek van die slaapkamer bly staan.

SPESIALE HOEKIES IN DIE TUIN

Oktober 26, 2015 in Uncategorized

IMG_3631-001

Grenspos in die Sani

Elke tuin het sy spesiale hoekies wat die siel des te meer verkwik. In die Tuinprovinsie Kwazulu-Natal wemel dit van sulke hoekies. Ons kuier in die fraai dorp Hilton was ‘n heerlike ontdekking van die Natalse Middelland tot so ver as die suidelike Drakensberg met sy baie kuierplekkies in die natuurskone Underberg-kontrei.

Ons en die kinders is selfs halfpad die legendariese Sanipas uit tot waar die SA vlag op die grens van die Bergkoninkryk wapper. Ons slaapplek was ‘n sprokieshuisie op pad na die Drakenberg Gardens Hotel met roeibootjies op ‘n dam, perde, ganse en poue.

IMG_3664-001
In die suidelike berg.

Natuurlik het ons die Midmardam gaan verken, waar Jacob die eerste keer lyntjie natgemaak het. Die Howick-waterval is altyd die moeite werd. Die Queen Elizabethpark aan die buitewyke van Pietermaritzburg is ‘n onontdekte juweel. Die landelike toneeltjies met akasiabome en troppe, troppe beeste oral langs die pad is beeldskoon.

‘n Staptog deur Hilton is verfrissend. Die dorp is in die hart van die skilderagtige “Midlands Meander”. Dis die ene berge en dale, groot bome, welige tuine en ‘n amper tasbare rustigheid. Die vernaamste sakesentrum is treffend geleë op die rand van ‘n gruisgat met water, bome, gras en blomme. Die dorpshotel is in klassieke Tudorstyl – sou nie ontuis gewees het nie in die Cotswolds of Sussex.

IMG_3707-001
Ou gruisgroef.

In die hartjie van die dorp is ‘n “Voortrekker Road” . Wat sou ‘n “Voortrekker Road” soek op Hilton met sy Engelse oriëntasie? Die antwoord kry ek op ‘n besoek aan die sogenaamde “World’s View” tussen Hilton en Pietermaritzburg. ‘n Gedenksteen en ‘n netjiese mosaiëk-reliëf verklap ‘n stukkie geskiedenis wat dalk aan vele van Hilton se eie mense van die huidige generasie onbekend is – dat hul dorp vierkant op die Natalse Voortrekkerroete was.

Waens het uit Blaauwkrans, Weenen en elders oor Hilton gekom. By “World’s View”- vroeër bekend as Voortrekkersig – het die Voortrekkers uitgespan om as’t ware die beloofde land voor hulle in te drink. Die panorama van Pietermaritzburg en sy hinterland is indrukwekkend. Later het transportryers en ander pioniers ook die pad gevolg.

IMG_3697-001
Outydse taxi!

Op die mosaiëk-reliëf is ‘n uitbeelding van ‘n kakebeenwa. Christopher het die vreemde gedoente so bekyk en toe vir sy ma, Marisa, gevra: “Dis mos ‘n outydse taxi, né mamma?”

Soos Amerika sy “Ivy league”-universiteite het (Harvard, Yale, Princeton, e.a.) spog die Natalse Middellande met skole in ‘n liga van hul eie. Ek sonder twee uit: Hilton College (glo die duurste skool in Suid-Afrika) en Michaelhouse op die ewe mooi buurdorp Nottingham Road. Die karakter, tradisie en eksklusiwiteit straal uit hul indrukwekkende, lowerryke kampusse met geboue, sportvelde, kapelle, museums en in die geval van Hilton selfs ‘n eie natuurreservaat. Die koshuise sou Stellenbosch eer aandoen.

IMG_3754Hilton College se kampus.

Op pad na Hilton het ek deur Michaelhouse se kampus – ‘n klein plasie – gaan ry … en so verdwaal dat ek moes pad vra. Later het die seuns my op ‘n toer van Hilton College geneem. Asemrowend. Hul eie skool, Laddsworth Primary is ook geensins te versmaai nie, en oupa is trots soos ‘n pou dat Thomas in sy rugbymondering op sy skool se advertensie pryk.

Die Tandemuis het ook ‘n draai kom maak tydens ons kuier in Flamingolaan – sommer twee aande na mekaar. Christopher se eerste wisseltand is deur pa, Brent, met ‘n stuk garing uitgelig. Die volgende aand verrig die kordate kerel die takie sommer self met behulp van ‘n waslap. Vir oupa Hennie en ouma Tokkie nogal ‘n bakengeleentheid gewees. Eerste keer dat ons by is as ‘n kleinkind begin haasbekkkie raak.

IMG_3763-001Word vinnig groot.

Die kuier by die kinders en kleinkinders het woerts verbygevlieg. Die laaste aand, die vooraand van skoonseun, Brent, se verjaardag, het ons in ‘n gewilde Thaise restaurant op die rand van die gruisgroef gaan eet. Die seuns het hulle uitgevat vir die okkasie. Toe besef ‘n mens skielik hoe vinnig hulle groot word. Van links is Thomas, Christopher en Jacob. Thomas en Jacob is 11; Christopher is ses.

BOS KOM TAFEL TOE

Januarie 22, 2015 in Uncategorized

IMG_0425

 

 

 

 

 

 

Die bos in al sy heerlike fasette danksy die kreatiwiteit van ‘n kleinseun saans in tafeltemas weerspieël.  Dit was ‘n nuwe dimensie van ons somervakansie in Sabiepark saam met die drie Claassens-kleinseuns, Jacob en Thomas (10) en Christopher (5).

Thomas het hom onderskei met sy oorspronklikheid en vindingrykheid terwyl sy tweelingbroer, Jacob, en die jonger Christopher hulle meer op die vuurmakery toegespits het. Maar vele hande maak ligte werk.   “Team work” – een van Christopher se handelsmerk-begrippe – was party aande aan die orde van die dag: veral toe die tema die aand “liggies” was, en al wat ‘n lantern, kers of fakkel was, moes brand (foto bo). .

Ouma Tokkie het op die agtergrond gebly, maar deurslaggewende  voorstelle het ook uit daardie oord gekom.  Net Oupa Hennie was aan die tafelfront ‘n nul op ‘n kontrak.

Temas het gewissel van diere tot voëls tot veld tot bos.  Die sebrabreekgoed het hulle goed geleen tot ‘n “sebra-aand”.

IMG_0388

 

 

 

 

 

 

Christopher, Thomas en Jacob by hul “bostafel””.

IMG_0385

 

 

 

 

 

 

 

 

Lantern en kerse, driepootpotjie, blaker en blikbekers sorg vir ‘n bosatmosfeer.   

IMG_0340

 

 

 

 

 

 

 Ons eet op die agterstoep en die tema is voëls.

IMG_0306

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Koedoe, ‘n sebra, ‘n seekoei en ‘n klein renostertjie sorg vir ‘n dieretema.  

IMG_0256

 

 

 

 

 

 

‘n Mens ruik sommer die veld.

IMG_0255

 

 

 

 

 

 

Die hele span by hul “veldtafel”.

IMG_0234

 

 

 

 

 

 

Thomas by sy “sebratafel”.

IMG_0183

 

 

 

 

 

 

Snuifkalbassies en ander goeters uit die veld.

IMG_0206

 

 

 

 

 

 

Op elke servet het Thomas geskryf: Lekker eet. Ek is lief vir jou. 

Ons is lief vir jou ook, Thomas.