Jy blaai in die argief vir joost.

GOODBYE, JOOST!

Februarie 11, 2017 in Uncategorized

‘n Lewendige gesprek is op my Facebookblad aan die gang oor die bloedmin Afrikaans by Joost van der Westhuizen se begrafnisdiens – of liewer “memorial ceremony ” – op Loftus.

Die aanleiding was die opmerking: “Miskien is dit net nodig om party mense daaraan te herinner dat Joost Afrikaans was, en – wil ek waag om te beweer – waarskynlik ook 75% of meer van die mense wat na Loftus gekom het om die laaste eer te bewys.” ‘n Deelnemer aan die gesprek het my beskuldig: “Jy is nou net onnodig moeilik”. ‘n (Jonger) vriend van my het hom dadelik daarby geskaar: “Wragtag, ek kon dit nie beter gestel het nie.”

Albei daardie saamgeselsers is, terloops, Van Rensburgs! My antwoord was: “Oor my taal is ek onbeskaamd moeilik.”

Heelwat steun is darem ook uitgespreek vir die waarneming dat Afrikaans afgeskeep is, tot uit Hong Kong deur ‘n Suid-Afrikaner wat al jare daar woon en met ‘n Chinese vrou getroud is. Die verdelingslyne tussen ondersteuners en kritici loop plek-plek nogal vreemd.

Vir die doeleindes van die blog bepaal ek my hier net by die kritiek. Die kern van die standpunte/ verskonings van die kritici is die volgende:

Joost was ‘n “internasionale legende” met bewonderaars oral in die wêreld;
Britse en Australiese gaste was op Loftus teenwoordig;
Dit was ook ‘n “amptelike staatsbyeenkoms” met “amptelike eerbewys”;
Dit was ‘n “amptelike provinsiale huldeblyk” – die vriende en familie het reeds ‘n eie troosdiens gehou;
Die meeste van die mense wat aan hom hulde gebring het, was nie Afrikaans nie;
Die familie se eie pastoor was ene Neville wat ook maar net in Engels gepraat het;
Dis seker die TV regte wat so bepaal het vir internasionale uitsendings;
Suid-Afrika is ‘n “inklusiewe land”;
Joost het die wêreld vol gereis en sy steun is nie tot Pretoria-Wes of Orania beperk nie.
Die geldigheid van verskeie van die opmerkings kan nie ontken word nie. Dit sou mos gek gewees het om te verwag mnr. Billy Beaumont moet sy hulde deels in Afrikaans betuig!

My opinie is elk geval nie dat die “amptelikheid” van die geleentheid, die omvang van die heldeverering vir Joost of die teenwoordigheid van internasionale gaste in die wind geslaan moes gewees het nie. Maar werklik so oorheersend Engels?

‘n Mens kan maar net hardop wonder wat die geval sou wees as Joost ‘n Fransman sou gewees het en die “amptelike” diens in Parys in die Stadion d’ France gehou is. Sou al die Franse ter wille van die gaste net Engels gepraat het?” Nie soos ek hulle ken nie.

Kan ons nie dit liewer ons uitgangspunt maak om hoflik en bedagsaam teenoor ons gaste en buitelandse bewonderaars te wees maar terselfdertyd ook die behoeftes en verwagtinge van die plaaslike (Afrikaanse) ondersteunersbasis in aanmerking te neem nie?

In die Afrikaanse pers word berig ‘n gejuig het van die paviljoen opgegaan toe Francois Pienaar in Afrikaans verklaar het: “Joost was ‘n Bul, ‘n onverskrokke Blou Bul.” Sou die spontane gejuig dieselfde gewees het as hy in Engels sou gese het: “Joost was a Bull, a fearless Blue Bull”? Dalk wel. Ek twyfel. Na my oordeel was in die toejuiging ook ‘n duidelike taalboodskap.

Op die argument dat dit ‘n “amptelike staatsgeleentheid” en “amptelike provinsiale huldeblyk” was, is die weervraag: Is die staat en die provinsie Gauteng dan eentalig Engels?

Wat die buitelandse gaste betref: sou hulle nie volledig begryp het as aan hulle verduidelik is dat ‘n deel van die diens ter wille van sy herkoms en die karakter van Blou Bul-land in Afrikaans behoort te wees nie? Of sou die trots op en sensitiwiteit teenoor die eie hulle aanstoot gegee het? Dit sou my verbaas het.

As die opdrag van Supersport2 of wie ook al dan was dat alles moet Engels wees, waarom het Francois Pienaar (en glo ook Amor Vittone) kans gesien om ook Afrikaans te praat? Natuurlik omdat die behoefte in hul eie hart was en hulle (korrek) die behoefte in ander harte raakgesien het, glo ek.

Windskewe argumente wat ‘n mens die meeste laat rooi sien, is oor Suid-Afrika as “ïnklusiewe land”, asook “Pretoria-Wes en Orania”.

Volgens die sensus van 2011 is isiZulu die moedertaal van 22.7% van SA se bevolking, gevolg deur isiXhosa op 16%, Afrikaans op 13.5%, Engels op 9,6%, Setswana op 8% en Sesotho op 7.6%.

Op grond waarvan beteken “ïnklusief” in daardie heer se oë dan die uitsluiting van Afrikaans? Hoe “inklusief” is die land dan?

Ten slotte: die verwysing na Pretoria-Wes en Orania is in dieselfde klas die etikettering van Afrikaans voorheen as “kombuistaal”. Dis beledigend en weerspieëlend van ‘n taalsnobisme wat, helaas, lewendiger is as wat baie mense dink. Jammer, ek vir een weier botweg om voor sulke “superieure” Engels-aanbidders kniebuigings te doen.

Diesulkes verdien nie eens die hoflikheid en bedagsaamheid wat ek op Facebook en hierbo teenoor gaste en ‘n internasionale gehoor bepleit het nie.