Jy blaai in die argief vir johan van wyk.

MANNE EN DIE “KWIENS”

Oktober 17, 2017 in Uncategorized

Mej. Wereld van 1990 toring oor die Van Deventers, Hennie en Tokkie.

Dis mos maar van ons mansmense: spog graag oor die mooi meisies wat ons pad gekruis het, en dik meermale nog so ‘n bietjie aan ook. Sing graag, soos Julio Iglesias met sy fluweelstem, van “all the girls I loved before”.

My storie vandag is, helaas,ietwat minder romanties. ‘n Mededeling van oud-Volksbladkollega André Louw uit Riversdal oor sy ontmoeting met ‘n Mej. Wêreld so 50 en ‘n iets jaar gelede jaag my egter geheuebank toe. Ek het immers darem ook ‘n storietjie of twee oor my en die “kwiens”.

Eers André se storie. Hy vertel:

“Peet Simonis (senior verslaggewer) – was my mentor, maar hy het Mej Wêreld van my afgevry.

“Dit was my opdrag direk van Oom Gert Terblanche (nuusredakteur) af om Lesley Langley met haar besoek aan Bloemfontein op te pas. Peet was vrek jaloers en het gesorg dat hy as my senior die ganse tyd ook by is. Uiteindelik het hy haar gevra of hy haar kan soen en n storie daaroor skryf. Sy was heel gewillig en die storie was op die voorblad, as ek reg onthou. ”

My geheue is nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.

Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.

In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder. Die opskrif by die rubriek was: “Verkeerde vriende het Anneline verlei.” Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.

In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa. In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: “To the master of ceremonies, Gina.”

Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?

NASKRIF: Kollega Johan van Wyk het ook ‘n herinnering aan Anneline. Sy het as ‘n bloedjong Mej. Wêreld Bloemfontein besoek en hy, ‘n galante heer soos min, het by ‘n Boet troskie-ete met haar gedans. Klaar gewals, sê sy vir hom: “Dankie oom, dit was lekker.”

Daarvandaan kom dit dat hy altyd in sy rubriek Stop van Myne na homelf verwys het as “oom”.

BLIK VOL KLIPPE

Oktober 3, 2016 in Uncategorized

Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was ‘n Fred-CD in die pos. Toe Tokkie vyf jaar later volg, ditto.

Wat 1941 – my geboortejaar – betref, is oorlog en musiek stalmaats. In die Tweede Wereldoorlog het te midde van al die troostelose ellende musiek gekom wat onvergeetlik geword het.

Op Fred se “CD vir HvD” is Duitse bydraes soos Lilli Marleen (waarskynlik die grootste treffer van die Tweede Wereldoorlog), Mowe, du fliegst in die Heimat en die marslied Erika. Hartsmusiek!

Aan die Geallieerde kant was die Amerikaanse Colonel Bogey van die gewildste marsmusiek (saam met die ewe bekende The Stars and Stripes forever). Op Fred se CD is die Boston Pops se weergawes, albei met die groot Arthur Fiedler as dirigent. Vera Lynn was die “Force’s Favourite”. Van haar is twee nommers op my CD: The White Cliffs of Dover en A Nightingale Sang in Berkeley Square.

Tokkie se CD lê in Sabiepark. Hoekom, weet ek nie. Vir ‘n paragrafie oor musiek van 1946 moes ek op Google staatmaak.

Volgens daardie bron is van die nostalgiese pop-herinneringhe van daardie jaar Nancy (With the Laughing Face) deur Louis Armstrong, Perry Como se They Say It’s Wonderful, Bing Crosby se Aren’t You Glad You’re You, die Ink Spots se To Each His Own en Dinah Shore se Laughing on the Outside. Kennende Fred, sou nie net popliedjies op Tokkie se CD ingesluit gewees het nie, maar nietemin.

Dit bring my by die eintlike rede vir my skrywe: ‘n musiekgebeurtenis in 1946 waarcvan seker nie eens die gedugte Fred sou weet nie. Op 15 Maart 1946 nogal – presies Tokkie se geboortedag – is naamlik ‘n kantate van Arnold van Wyk uitgesaai.

Johan van Wyk vertel daarvan in sy nuwe boek, So is dit nou – nog stories van gister en vandag: hoe in die komponis se geboortekontrei, die Roggeveld, die mense in groot afwagting gesit het om hul kortgolfradio’s, gekoppel aan 6 volt-batterye wat heeldag deur windlaaiers gelaai is.

In een huis was dit nie lank nie voor die oupa opdrag gee: “Draai af die draadloos. Arnold se lawaai is erger as Booi se geraas.” Booi, die stalkneg, het – so lig Johan van Wyk ons in – die gewoonte gehad om ‘n paraffienblik vol klippe te skud om die perde skrik te maak!

Sal nooit weer aan 15 Maart 1946 dink sonder om die mooi anekdote ook te onthou nie.

* Ek en Tokkie het ook ander herinneringe van ons geboortejare as net die musiek. In 1941 is die Perdeberg-wynkelder gestig. Ter ere daarvan was Perdeberg op die tafel met die viering van ons onderskeie bakenverjaardae – 75 en 70 – op 26 Maart vanjaar. Ek was daardie dag geklee in ‘n Jeep-hemp – nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie. Kyk op die etiket. Einste anno 1941. Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.

Tokkie is, soos eld, anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het. Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou – ‘n rooie dalk – nie uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.

SPEKE SING VIR BOEKE

September 13, 2016 in Uncategorized

hvd1

hvd2

My fiets het die pad van die huis na die biblioteek so goed geken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie. So dink ek baie jare terug – na my standerd vyf-jaar (graad 7-jaar) in 1951 op Potchefstroom – in ‘n gesprek met die Oos-Vrystaatse digitale nuusportaal LENS na aanleiding van Nasionale Boekeweek.

LENS het my en paar ander mense uitgevra oor die waarde van lees. Op sy Fb-blad berig LENS soos volg oor ons gesprek:

DIT IS SUID-AFRIKA SE NASIONALE BOEKEWEEK

Die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad in vennootskap met die departement van kuns en kultuur het in 2010 Nasionale Boekeweek gesamentlik geïnisieer. Hierdie veldtog om ’n bewustheid en liefde vir lees te kweek, het gekom nadat ’n studie gevind het dat slegs 14% van Suid-Afrikaners boeke lees en meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse huishoudings (51%) het nie ’n enkele boek in hul huis nie.

LENS het met ‘n paar mense gesels wat al diep spore in die Afrikaanse taal getrap het en hulle uitgevra oor die waarde van lees.

LENS skop af met Hennie van Deventer wat 35 jaar lank in die koerantwese spore gelaat het: 12 jaar as dagbladredakteur (van onder meer Vrystaters se geliefde Die Volksblad) en ses jaar as hoof van Naspers se koerante. In 1997 het sy werkgewer sy hoogste eerbewys aan hom toegeken – die Phil Webermedalje vir volgehoue prestasie. Van Deventer het talle publikasies die lig laat sien en is ‘n gewilde blogger en skrywer.

VRAE AAN HENNIE

Waar het jou liefde vir lees begin en wie of wat het dit geïnspireer?

Die Potchefstroom-biblioteek staan soos ‘n baken in die leesgeskiedenis van die jeugdige Hennie van Deventer. Moenie vra hoe nie, maar in standerd vyf (graad sewe) het ek op ‘n manier sy rakke vol boeke ontdek: Topsy Smith, Casper H. Marais, Edgar Rice Burroughs (vertaal) en daardie klas lekkerleesgoed. My fiets het die pad van die huis af biblioteek toe so goed leer ken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie. In matriek was Paul Gallico se “The Snow Goose” ‘n voorgeskrewe werk. Dit was n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The snow goose in your own words.’ Nogal goeie punte gekry.

Waarom is dit belangrik vir mense en veral kinders om te lees?

Iemand wat nie lees nie, kom voor ‘n toe poort te staan sover dit van die belangrikste elemente van die beskawing betref. Boeke gee vleuels aan die verbeelding, stimuleer denke en verskaf allenoodsaaklike toerusting om ten volle as mens in die samelewing te funksioneer. Dit kweek ‘n liefde vir woorde en verfynde taalgebruik. Dit bevorder ordening van gedagtes en leer jou sinryke kommunikasie. Dit open nuwe horisonte en verryk die gees. (Dit bevorder ook begrip en help selfs met spelling!)

Wat ouers kan doen om kinders in n tyd waar rekenaars, televisie, selfone en ander tegnologie oorheers lief te maak vir lees?

Die e-gogga bied vir almal uitdagings. Vir ouers is die groot uitdaging om kinders die waarde van lees – en die vreugde daarvan – met kreatiewe stimulasie self te leer ontdek. ‘n Groot fout is om ‘n kind te dwing om te lees, of om lees as straf te beskou. “As jy nie nou die TV afsit nie, stuur ek jou kamer toe met ‘n boek!” Ek sou reken ‘n goeie begin is om self te lees en gesien te word dat jy lees. Kry gereeld die koerant, koop boeke en goeie tydskrifte. Praat in die huis oor interessate berigte en artikels. ‘n Pa en ma wat beurte maak met sekere seksies van die koerant het ‘n beter kans om ‘n lesertjie groot te maak as ‘n pa en ma wie se eie vingers op die sleutels van hul slimfone boer.


Is biblioteke nog relevant?

Is dit nog relevant om die beskawing in stand te hou, aan die mensekultuur te bou en die fyner dinge van die gees teen die aanslae van die materialisme te beskut? Hoe sinies moet ‘n mens nie wees nie as jy op hierdie vrae skouerophalend sou antwoord. Biblioteke is al een van die vername pilare van die beskawing genoem. Solank die beskawing relevant is, kan daardie vername stut nooit sy relevansie verloor nie.

Drie gunstelingskrywers?

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg, Johan van Wyk …. Met soveel voorste skrywers uit die Volksblad-stal sal dit ietwat dislojaal wees as ek gunstelingskrywers buite die kring noem. Ek hou van ouer digters en verlustig my aan DJ Opperman se Afrikaanse bloemlesings. Gedigte het my respek laat ontwikkel vir ’n raak woord wat tintel van sêkrag. As joernalis moet ek dit van die bors kry: Ek kan nie sien dat iemand wat nie poësie liefhet, treffende koerantopskrifte kan skryf nie.

Watter boeke lê tans op jou bedkassie?

Ongelukkig lees ek nie boeke in ‘n bondel nie. Op my bedkassie is die Bybel en nooit meer as een sekulere boek nie. Op die oomblik lees ek pligshalwe ‘n polemiese godsdienstige boek deur ‘n halfbroer, Christo Malan. wat al dekades uit Suid-Afrika weg is. Die titel is “Fact Based Faith: No speculation, emotion or tradition. Just fact.” Sodra oud-kollega Johan van Wyk se nuwe boek, “So is dit nou – nog stories van vandag en gister”, op die rak kom, sal dit die boek op my bedkassie word – nie pligshalwe nie maar vir persoonlike plesier

SO IS DIT NOU

Junie 25, 2016 in Uncategorized

Johan van Wyk by sy ou Gold Wing. Hy ry nou 'n Triumph.

Johan van Wyk by sy ou Gold Wing. Hy ry nou ‘n Triumph.

In kollega en vriend Johan van Wyk se eerste boek, So was dit, het hy ‘n buiging na die uwe gemaak vir my rol om hom te bly druk om ‘n boek van sy kostelike (en kosbare) skryfsels op die rak te kry.

Ek het inderdaad al van die 1980’s af met hom daaroor gespook. Ek was toe redakteur van Die Volksblad en hy skrywer van die uiters gewilde rubriek Stop van Myne.

Vir my aanmoediging om ‘n nommer twee te lewer, kan ek seker ook ‘n klein bietjie eer opeis.

IN elk geval. In September gebeur dit. Dan kom Johan van Wyk se opvolgbundel op die rak: So is dit nou.

Op Litnet het ek oor die kleurryke karakter Johan van Wyk allerlei anekdotes opgediep. OOr hoe lekker hy en Anneline Kriel gedans het en so.

Ek vertel ook van die dominee wat langs die oop graf staan toe die grond onder sy voete verkrummel. Hy raap hom op en spring sierlik bo-oor die oop graf na terra firma. Dis wat Johan se skryfwerk vir ons oumense is, bevind ek: ‘n stukkie vaste aarde om na te spring as dit voel of die wereld, in sy woorde, elke oggend met ons gatoorkop slaan.

Die skakel ba die Litnetstorie is: http://www.litnet.co.za/so-is-dit-nou-deur-johan-van-wyk-is-op-pad/

Daaroor skryf Litnet se inhoudsredakteur Naomi Meyer: “Terwyl ek dit geplaas het, het ek besef hoeveel emosie agter hierdie skrywe lê en van watter waarde Johan van Wyk se boek en sy volgende boek sal wees.”

TENT VAN SAMEKOMS

April 1, 2016 in Uncategorized

1-1-IMG_3677
1-27-IMG_4351
Die “Tent van Samekoms” en die tafel waar Johan van Wyk gesit het.

Johan van Wyk is na ons tentfees genooi as vriend en oud-kollega, allermins as werkende joernalis. Toe skryf die ou bokker gedoriewaar ‘n rubriek oor die okkasie. (Die man maak geld uit my!) Lees hier sy storie in vandag se Volksblad:

1-09-IMG_4372

’n Groot, vet paartie in Tent van Samekoms

Deur Johan van Wyk

Die lewe in hierdie verbygaande wêreld, aldus die apostel Paulus, is nie ’n vaste burg met blywende fondamente nie, maar ’n tydelike aardse tentwoning wat mettertyd stof sal word. Maar slaan ’n tent op in jou tuin terwyl jy nog kan en jy skep ’n onthaalplek soos min.

Dis wat my oudkollega Hennie van Deventer, voormalige redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein, later, tot sy aftrede in 1998, koerantehoof van Media24 in Kaapstad, gedoen het om sy 75ste verjaardag, sy vrou, Tokkie, se 70ste en hul 50ste huweliksherdenking op Melkbosstrand hartlik en in styl te vier.

“Three-in-one”, soos die kannetjie met ’n lang, dun snuit geheet het waarmee huisvroue vroeër hul outydse naaimasjiene se ratjies geolie gehou het. ’n Druppeltjie hier, enetjie daar en ’n Singer het weer soos ’n kanarie gesing. Die Briels besing dit in Liewe Moeder. Ek verlang na my ma voor haar Vesta as ek daarna luister.

Toe hy in 1996 ’n huis op Melkbos koop en die enorme grasperk (waarop ek eerder ’n paar melkkoeie en ’n klompie slaggoed sou aanhou) aan die seekant van ’n erf van meer as 1 000 m² aftree, het hy besluit: Hier gaan ek eendag ’n Tent van Samekoms opslaan. Nie ’n trekkerige een met flappende flappe soos die waarin die bittere Vrede van Vereeniging ná die Boereoorlog in 1902 gesluit is nie, maar ’n bielie met vensters en deure. Twintig jaar en ’n hele paar grassnyers later is sy droom bewaarheid.

Net sowel. Toe ’n skraal noordwestewind ’n koue seebries instoot, kon ’n honderd gaste gekoester en beskut by smaakvol gedekte, gemeste tafels aansit. G’n wonder die Midde-Oosterse oliesjeiks verkies ’n tent bo ’n hotel nie.

Toe ek binnestap, het ek, omring deur mooi vroue (’n paar weliswaar op kieries!) en met die see in my ore en ’n glas wyn in die hand, soos ’n sultan gevoel en my selfs verbeel ek is op ’n seilskip in die Arabiese See.

My eie ervaring van tente is minder romanties. Soos die aand op Calvinia toe ou William Pagel van Pagel se beroemde eertydse sirkus sy kop in ’n maanhaar se bek gedruk het. Toe hy van die verskriklike stink asem flou neerslaan, het die gepeupel in die goedkoop sitplekke die leeu met lemoenskille deur die tralies gegooi. Toe my ouers in 1947 by Voëlklip in ’n ronde tent gekamp het, het my pa in die nag oor ’n ankertou gestruikel en ’n skottel met ingelegde kabeljou omgestamp. Die tent het dae lank na kerrievis geruik.

Jare gelede neem ek ons op aanbeveling van my predikant vir “spanbou” op ’n kampeervakansie. Die kinders was gou dikbek en my vrou het ná drie dae nie meer met my gepraat nie. Toe ’n stormwind die gasstofie omwaai en die tentjie aan flarde ruk, was dit die einde van spanbou.

Nie Melkbos se tent nie. Bande met geliefdes en ou vriende is opnuut in hom gesmee

OHOPOHO, HIER KOM “OOM”!

Desember 4, 2014 in Uncategorized

 

IMG-004

 

 

 

 

 


Altyd op die regte plek op die regte tyd omring deur die regte mense … Die Volksblad-redaksie rondom die 90’s.

 

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies.  Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders.  Die era van die “Oom” was ook  ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie.  As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd.  Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys.  Net terloops.

Hoekom die “Oom”?  Johan het vertel: “Ek het een keer net nadat Anneline Kriel Mej. Wêreld geword het op ‘n onthaal van die Troskies met haar gedans. Daarna sê sy toe: ‘Dankie, Oom. Dit was lekker.’ Terselfdertyd het die ‘Óom’ sommer gehelp om die ‘ek’ in die rubriek te systap.”

Johan het al in 1974 begin Stop skryf.  Daarna was hy ‘n tyd lank redakteur in Suidwes waar hy o.m. gemoedere beroer het met ‘n vermaning aan boere om van hul “vet wit gatte” op te staan.  Na ‘n kort(!) loopbaan as redakteur het hy as Stopskrywer teruggekeer.  Uiteindelik het hy in meer as 20 jaar by die 6 000 Stoppe geskryf – byna 19 miljoen woorde.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners.  Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie.  Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende.  Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue!  Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.

Johan vabn Wyk hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Johan van Wyk, hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.  (P.W. Botha, was nie een van sy “fens” nie. Hy het hom ‘n “skarmonkel” genoem.)

Sy tuiste, die “Republiek van Kafferrivier” was nie sommer uit die duim gesuig nie. Hy was inderdaad naby die destydse Kafferrivier ‘n melkboer, en het baie tyd (ook in “kantoorure”) op sy plaas deurgebring. Hy was bitter lief vir sy beeste en die grond maar het minder liefde gehad vir die “volkies” as hulle naweke “suip” en nie in hul babelaas-kondisie in staat was om die koeie te melk nie.

Wel denkbeeldig,  was al sy reise saam met Pik Botha, Nelson Mandela en wie nog die wêreld vol. Nadat hy oor só ‘n reis kamtig saam met Pik Botha na die Verenigde Nasies toe geskryf het, keer oom Christo Groenewald, oud-burgemeester van Bloemfontein, hom voor. “Man, ek’s bly om te sien jy’s terug. Dit was seker taai gewees.”  Johan het hom nie reggehelp nie..

Van sy uitdrukkings het so vasgeslaan dat hulle dadelik uitpop as ek aan hom dink. Elana Meyer, skraal Springbokatleet, het hy as die “tinktinkie met die groen boudjies” beskryf.  Perfekte beeld.  Onthou helder hoe hy altyd “vermom as ‘n potplant” uit die binnekamers kon skryf. En natuurlik sy beroemde “ohopoho”. Nou die dag weer self “ohopoho” uitgeroep oor ‘n ligte mistykie wat ek begaan het.

In 1984 of so had die eksaminators Transvaalse matrieks aan’t skarrel oor die betekenis van dié befaamde Stop-woord. Wat suggereer dit vir hulle, was die vraag in ‘n Afrikaans-vraestel. Skreeunaakse verduidelikings is skoorvoetend gewaag.

JvW se verduideliking: Ohopoho, het ‘n blinkners administrateur van Suidwes, A.J. Werth, moedeloos uitgeroep toe sy kar die soveelste keer in ‘n slaggat beland dat sy po……(dinges) deurstamp.  Toe word sy bestemming sommer Ohopoho … of Opuwa soos dit vandag heet.

Johan se vrye sê het hom by meer as sy redakteur in warm water beland.  ‘n Keer het hy ‘n vername arts en KP-politikus aangeraai: “Hef ‘n bedpan”.  Dié het dit gelees as bedoelende dat hy ‘n liggaamsfunksie moet gaan uitvoer, en het diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelsspreekende regter O. Galgut te oortuig dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel soos “Hef a ding-dong day” of “hef ‘n siegret”.  Aikona. Regter Galgut wou nie byt nie.

Oor kollega Johan van Wyk is ek nie uitgeskryf nie. Maar die blog raak lank. In ‘n sekere sin is die langasem-buiging gelukkig ‘n beskerming om my nie te waag op die glibberige veld van name uitsonder nie.  Karakters was egter volop.  Ek onthou elkeen met behae.

Soos ek my hele span met behae onthou, Sidwell en sy spannetjies bodes inkluis. Ook Grace wat so getrou die tee gemaak het.

Vir Jan Scholtz, ons skrynwerker-joernalis,  ‘n pluimpie dat hy my kantoor so deftig gemaak het met sy stinkhout en Birmese kiaat. Kyk net die foto hieronder. Ander kollegas sal my die spesiale vermelding sekerlik vergun.

vbd1Dan, vir heel oulaas,  ‘n stukkie spog oor ons indrukwekkende galery boekskrywers van daardie era, van wie Johan een was.  Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, voorste spanningstrio in Afrikaans, was gelyktydig kollegas. Dis merkwaardig. Chris Moolman, ook uiters aktief in daardie genre, is weg net voordat ek in 1980 by die voordeur van Voortrekkerstraat 79 ingestap het. Darem nie “omdat” nie!

Iets was in die water wat die mense in Bloemfontein ingekry het, of in die drukkersink wat hulle in Voortrekkerstraat ingeadem het. Ek dink persoonlik die ink-selletjies het hul bloed binnegedring en duisendvoudig vermenigvuldig.  As daardie kollegas hulle raakskeer, moet ‘n mens koes soos die ink in alle rigtings spat!

WARM PLAASBROOD EN VYEJêM

Mei 12, 2013 in Uncategorized

Johan van Wyk, Hennie van Deventer en Tobie Wiese gister by die formele lansering van Johan se blitsverkoper “So was dit” in die Strand.  ‘n 20-stuks Volksbladmense van verskillende generasies was onder die 100 gaste – die oudste Wiets Beukes, wat later redakteur van Die Burger was.  Ek moes die woord voer – wat ek graag gedoen het. Hier is my teks – vir diegene wat die tyd,  krag en inklinasie het.

TWEE debute geskied vandag hier: JvW ná die pleeg van vyf miljoen joernalistieke woorde (aldus Tobie Wiese, gewoonlik betroubare bron) oplaas as outeur van ‘n boek, en HvD as spreker by die loodsing van ‘n boek van  betekenis, boonop ‘n blitsverkoper.  Die tradisie is mos dat net hoog aangeskrewe literatore, uitgewers, ander boek-geleerdes (soms ‘n edele of wat) by sulke deurlugtige okkasies slimmighede kwytraak.

Die begrip blitsverkoper is eintlik te konserwatief. Dis ‘n bielieboek. ‘n Onstuitbare stormram soos die Cheetah-stut Coenie Oosthuysen.  Dit word opgeraap nes vars, warm  plaasbrood en vyejêm by ‘n boerebasaar. (Vyejêm want dit is die lekkerste jêm!)

As ek so oor die gesigte hier heen heen kyk, tref dit my:  “So was dit” is boonop waarskynlik die grootste verenigende faktor sedert die Gupta-debakel.

Dit geval my werklik dat ek, sommer net koerantman, die “biezondere” eer te beurt val om hier die wierook te brand. Skrywer en spreker kom ‘n langerige  pad saam.  ‘n Halfeeu verby.  ‘n Veelbewoë halfeeu –  veral soms! Jy onthou seker ook hoe die kiaatdeur van die redakteur se kantoor soms in die kosyne gerittel het, Johan? 

Desondanks en nieteenstaande: ‘n Feesrede is ver verkieslik bo ‘n lyksrede. Van laasgenoemde het die uwe tot dusver in 2013 ietwat van ‘n oordosis had.  Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Vandag is genadiglik geen memorial service nie.   Ek sien oral wyn, nie macaroni nie.

Niks saai, vervelig of treurig hier nie. Net plesierigheid. Hoop ek kan plesier toevoeg deur ‘n stukkie te lees uit my eie beskeie debuutboekie, “Scoops en Skandes”, wat in 1993 ook by Tafelberg gepubliseer is.  Ek lees uit die hoofstuk “Stop van Syne” – natuurlik n.a.v. die rubriek wat kollega Johan 25 jaar lank by Die Volksblad so weergaloos behartig het.   

As iemand meen ek raak te voor op die wa, het ek my verweer gereed. Oor Johan se eerste roemryke era – noem dit kortweg sy humor-era – is dié hoofstuk na my oordeel steeds ‘n geldige bron as jy die fenomeen Johan van Wyk wil probeer ontrafel.   (Lees uit  “Stop van Syne”.)  

In Scoops is ‘n tweede JvW- hoofstuk, “Hef ‘n bedpan”.  Toemaar, ek gaan nie daaruit lees nie, al is dit, na my oordeel, nogal orraaiterig.  Weens die historiese belang rapporteer ek darem net, en wel met ‘n sekere mate van pyn en onbehae, hoe ek doer in ’82 rond moes voetwerk doen om ‘n dorre, droë regter’ – baie Ingels – met hoogdrawende argumente te prober oortuig: Om vir ‘n dokter “hef ‘n bedpan” toe te voeg, beteken nie jy stuur hom om te gaan “dinges” nie. Nie noodwendig nie, altans.  

My argument was in die volgende trant: Dat “hef ‘n bedpan” in die konteks van Johan se eiesoortige interpolasies (onthou bekendes soos “hef ‘n siegret” en “hef ‘n mietpaai”) nie ongewoon of neerhalend bedoel is nie. ‘n Bedpan was bloot ‘n hospitaal-simbool. Johan kon vir dieselfde prys geskryf het: “Hef ‘n koorspen”. Of:  “hef ‘n stetoskoop.”

Huh? Vir sy edele regter Oscar Galgut, voorsitter van die Persraad, was die “Oom” van Stop se humor Grieks, en die jong redakteur se betoog totaal onindrukwekkend.  Twee maande later het die geaffronteerde dr. Pauw, in opdrag van die regter, sy apologie gekry, wat hy, by nadenke, dalk tog wel verdien het.  

Daardie jare al het kollegas begin praat van ‘n Johan van Wyk-boek. Herman le Roux het gemeen dit sou ‘n “moerse” boek wees.  “Moerse” is ‘n geliefkoosde Herman-woord wat hy selfs in ‘n hoofartikel sou wou gebruik as daar nie ‘n redakteursveto was nie.  Ek het so ‘n boek by Tafelberg aanbeveel. Danie van Niekerk was te vinde. Maar iemand moes sif. Johan self was min lus. Wat van sy melkbeeste?  Iemand anders het na vore gekom nie.  Hoekom nie ek self nie? Het nie juis ‘n waterdigte saak nie. Ek het immers nie melkbeeste gehad nie.

‘n Boek in die 80’s, 90’s sou waarskynlik sterk na die humor-genre oorgehel het. Mettertyd het in Johan se styl van skryf en vertel groter beleënheid ingetree. (“Beleënheid” is, terloops, ‘n woord wat ek neergepen het voordat ek Johan se Skrywersnota gelees het. Daarin lees ek toe hy beskou goeie skryfwerk self ook as ‘n “beleë kuns”, soos – in sy woorde –  “goeie wyn en goeie seks, geslyp deur jare se ervaring en ‘n dwingende begeerte na die onbereikbare”.)

Met die groter beleënheid, het die tintelende Van Wyk-humor (stoutheid?) nie verdof nie. ‘n Nuwe dimensie het egter sy skryfwerk verdiep en verryk.  Die meer beleë Johan van Wyk is een wat steeds met humor, ja, maar ook met deernis en meesleurende nostalgie allerlei hartsverlanges uitstort. Ons vind ‘n aansteeklike hunkering na die dae van windpompe en skuurdanse, na Calvinia en die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate … Ek leen van hierdie woorde op die agterplat. 

Hierdie “vreemde hunkering” – sy eie beskrywing van sy emosies toe hy sy baba die eerste keer vashou – het hom nog by meer lesers aanklank laat vind. Sy bydraes in Landbouweekblad, Weg en Die Burger word  gretig deur ‘n nuwe lojale gevolg verslind. Op Melkbos ruil ons dit onder mekaar uit.

Vroeg in 2011 maak Herman le Roux se indrukwekkende lys van Volksblad-skrywers sy buiging.  Hy bevind 60 Volksbladmense het saam 600 boeke geskryf.  Van hulle is hier teenwoordig.  (Noem Deon Meyer, wat teenwoordig is.  Noem ook C.M. van den Heever, Jaap Steyn,  Chris Karsten, Dot Serfontein, Wille Martin ……..  Verder: Rudie van Rensburg (debuteer  binnekort met “Slagyster”). Johan van Wyk se naam skitter in sy afwesigheid. 

“Dit is mos absurd,” het ons garde opnuut onder mekaar gesels. Ons het half verleë gevoel dat van ons name op ‘n lys is waar ons “enigmatiese” kollega (ek leen ook hierdie nommerpas-woord op die agterplat) so skreiend kortkom.  Ons het opnuut begin rondkyk na daardie ontwykende “iemand” vir die “jop”.  Tobie se naam het sterk opgeduik – ‘n jonger, flukser, skrander oud-kollega (ek wil darem nie sê skranderder nie) met ‘n reputasie van byna oordrewe deeglikheid. Ons het saamgestem: Tobie is die man. ‘n Bonus: Die twee is “biker”-bloedbroers.    In die winter van 2011, as ek reg onthou, het die boek begin spoed optel.  Hoera vir Herman se lysie!

Maar jakkals moet ook sy eie stert prys. Nog ‘n skakel in die ketting, so vlei ek graag myself, was toe ek in daardie tyd Johan se roerende Stop oor ‘n plaasbegrafnis raak-Google. Ek het daardie Stop – op bl. 126 van die boek – vir hom gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?” 
Ek het dit onder kollegas rondgeblits – ook vir Tobie. My kommentaar was dat hierdie hartseer-mooi-rubriek in ‘n kompetisie vir sy mooiste skryfwerk voor sal hardloop, met in die pylvak aan sy skouer die stuk oor sy 85-jarige pa se afskeid van sy geboortgerond  Dit was in Landbouweekblad en is nou die treffende slothoofstuk op bl. 233.

Herman (of dalk Sarel Venter) onthou toe die elegante Zandra het ‘n plakboek van Stop-juwele gemaak, onder meer van briewe aan sy kinders. “Pappa” gee aan “my liefste Boetie” vaderlike advies: ‘n Deugsame vrou is die sout van die aarde …. “veral as haar pa groot grond sonder Landbankverbande het.” “Liefste Boetie” (Kedousie)  is deesdae vlieënier in Hongkong. Sy pa se nuwe bekommernis is dat hy sal vergeet om die Airbus 340 se wiele uit te te laat voordat hy die gevaarte neersit!

“Sussie” word vermaan teen te veel in kuierplekke en op dansbane rinkink, al is “Pappa” nie “danig daarteen nie, want ek het dit self gedoen”.  “Sussie” , Anna-Mart, is nou ma van twee op ‘n wynplaas by die Paarl. Die “ietwat onwillige oupa” (sy woorde) bars van die trots, o.m.   oor die babakamer wat “soos die opslagplek van die leër se kwartiermeester-generaal lyk”. 

‘n Wenk oor die plakboek se bestaan is na Tobie gestuur, wat van toe af  maar geduldig moes kennis neem van ‘n duisternis ander wenke, wense en advies – voorskrifte? – oor wat moet in en wat nie.  Tydgenote het gunstelinge opgediep en aangestuur.  Tobie is met ‘n raamwerk na Tafelberg. “So was dit” was oplaas onstuitbaar op pad –  soos die Oranje-Snel op ‘n epiese nagtelike jaagtog deur die Karoo met ‘n John Waynerige treindrywer wat die pap dik aanmaak agter die deadman’s handle.  Lees als daarvan op bl. 59. 

Van die kantlyn af had ek net ‘n vae idée hoe ontsaglik hard Johan en Tobie gewerk het aan hierdie broodnodige boek waarin soveel liefde gestort is, wat so ‘n groot leemte in Afrikaans vul, en wat soveel vreugde in die harte van soveel van Johan se ou en nuwe “fêns” bring.  
‘n Stuk loutere leesplesier. ‘n “Fantastiese, wonderlike boek”, soos Nicol Stassen van Protea Boekhuis dit noem.  ‘n “Moerse boek” in Herman le Roux se idioom. 

Geluk, Johan, geluk, Tobie (ook vader van die vaardige en waardige Voorwoord), geluk Annie Olivier van Tafelberg. Dis hartskos dié.  In die kloeke Tobie se woorde: Dis “onnabootsbaar”.  Tobie is eenvoudig te puntenerig om die woord uniek te gebruik.

KONSERTINA EN KRUISBANDE

Maart 7, 2013 in Uncategorized

 

Die woord “scoop” het in my lewe nogal ‘n rol gespeel.  By koerante waar ek betrokke was, is “scoops” ywerig gejaag.  Op my eie naam staan ‘n paar lekker “scoops”.  In die titel van my eerste boek wat Tafelberg 20 jaar gelede gepubliseer het, kom die woord “scoop” voor: “Scoops en Skandes”.

Vandag spog ek met ‘n boeke-“scoop”.  My kollega en vriend Johan van Wyk (afgetree in die Strand) se langverwagte boek is op pad – en ekke, hvd, kan hier vir julle “eksklusief” wys hoe lyk die omslag.   Ek beleef dieselfde pure lekkerkry as nog altyd om eerste wees met nuus van betekenis.

 Daardie oom met die konsertina, kruisbande en velskoene  lyk vir my na ‘n gelukkige keuse vir die gesig van  “So was dit – stories van gister en vandag”. Johan self is, by wyse van spreke, ‘n konsertina-en-kruisbande-en-velskoen-man.

 Die nostalgiese hartsverlange  waarmee hy kan skryf oor windpompe, skuurdanse, die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate (ek leen hierdie woorde op die agterplat) is meesleurend. Gooi in die tintelende humor in die man, ‘n element van stoutheid en ‘n meesterlike styl van skryf en vertel, en jy hoef nie verder te soek vir die resep wat hom soveel duisende lojale aanhangers oor die jare besorg het nie.

 By Die Volksblad (Volksblad) waar hy 25 jaar die rubriek Stop van Myne met sy eie,  unieke aanslag behartig het, het dit my altyd beskeie gehou as ek sy statuur in die gemeenskap teen die van dié redakteur opweeg.   Die arme redakteur het sleg tweede gekom!

 Later het hierdie gesoute joernalis in Landbouweekblad, Weg. By en Die Burger hom in nog meer lesers se harte ingegrawe.

 Vreemd genoeg is “So was dit” sy eerste boek.  Ek dink die groot rede is dat hy nie kon “bodder” nie. Vanmelee toe ons by DV aan hom oor ‘n boek begin karring het, was sy melkboerdery by Kafferrivier  belangriker.  Daarna het o.m. sy Honda Goldwing sy tyd in beslag geneem.   

 Ongelukkig het wonderlike rubrieke wat bundeling verdien het, op daardie manier verlore gegaan.  (Hoop  maar die plaasbegrafnis en sy pa se afskeid van sy grond duik op in die bladsye van “So was dit”. )   Maar danksy die vasbyt van mense soos Tobie Wiese  is die Oom (sy alter-ego destyds in DV)  eerlank op die rakke.

 Jacolette Kloppers, joernalis, word op die agterplat aangehaal: “‘n Pragtige boek.  By tye het ek gelê van die lag, ander kere het die trane gevloei.”

 So is dit as ‘n mens Johan van Wyk lees: jy huil en lag. Jy’s nooit verveeld nie.

 Op Melkbos kan hierdie ou nie meer wag vir karakters soos Stefaans-sonder-sokkies, die Beenpense van Draaikraal, ant Hettie Poortjies en Gert Kriedoring nie.  Enigmaties, noem die uitgewer Tafelberg hulle.  Dis waarskynlik ook die beste woord om die outeur mee te beskryf.

 Die enigmatiese Johan van Wyk …. Weet nie of die “”Oom” daarvan gaan hou nie –  hy gaan nie juis  in vir sulke “fensie” beskrywings nie.  Hierdie “fên” dink egter dis ‘n kolskoot-etiket.  

 

Kruger-kosbaarheid

Terwyl by boeke:  Dit was vir my ‘n voorreg om Salomon Joubert se enorme liefdestaak, die historiese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History”, vir die Afrikaanse dagblaaie te kon resenseer.  Resensie by: http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303

Grootse werke oor grote Kruger

www.beeld.com

 Ek meen die treffende aanbieding van Media24 se boekeredakteur, Jo Prins, het reg laat geskied aan Salomon se gedugte boeke.  Ek was werklik ingenome toe by bladsy 9 van Die Burger kom, en is verheug oor die geleentheid om oor sulke boeke van nasionale betekenis ‘n bydrae te kon lewer.

Steeds by boeke:  Griffel was die uitgewer van twee van my laaste boeke, “Byl in my Bos” en “Praat-praat in Tamatiestraat”.  Albei is mooi uitgegee. Daar het dit opgehou.  Oor Marlene Malan se “bloedbad”-berig in Rapport kan hierdie Griffel-outeur helaas maar net byvoeg: Die waarheid oor die Griffel-gruwel is uiteindelik uit.