Jy blaai in die argief vir jaarbrief.

JAARBRIEF UIT MELKBOS

Desember 3, 2018 in Uncategorized

Liewe vriende

Desember is hier. Tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand vir die jaar 2018.

Dit kon ‘n jaar van sombere nuus geword het met HvD se onverwagte viervat-hartomleiding en die langerige verblyf in die waakeenheid. Ook met George se verskriklike brande wat as’t ware tot by die voorstoepe van Johan-hulle se huis in Glen Barrie en skooltjie in Denneoord gekom het.

Gelukkig is daardie minder gelukkige dae sonder ernstige letsel by ons verby. Laat ons dus in dankbaarheid op die positiewe konsentreer:

Hier op Melkbos, op George en by Marisa-hulle in Welgemoed gaan dit relatief rustig en voorspoedig. Die foto’s is van gesamentlike kuiers, met die Claassense by Boulders in die Wildtuin en met die Van Deventers by Buffelsjachtrivier, ‘n gerieflike halfweghuis tussen Melkbos en George.

Op George word die uitstekende werk van Mariza se suksesvolle Legacy Centre vir kinders met uitdagings voortreflik deur die gemeenskap ondersteun. Saam met ‘n indrukwekkende lys borge is verskeie ambisieuse projekte geslaagd van stapel laat loop. Johan se trokwas-bedrywighede is vlot op koers, met goeie ontwikkelinge soos ‘n nuwe terrein vir sy Unitrans-kontrak (namens die skooltjie). Migael besorg sy ouers verrassings en vreugde met sy vooruitgang.

In die Kaap gooi Brent kragte in by die Hoerskool Stellenberg waar die tweeling in hul eerste jaar as Stellies al, akademies en andersins, spore getrap het. Hy is ‘n aktiewe lid van die beheerraad. Marisa het ná vele jare tuis ‘n oggendpos losgeslaan wat sy stimulerend vind. Thomas het as leier en skerpskutter-stelskopper ontluik. Hy en Jacob, ‘n gesogte klankman, laat met die bal die paaltjies spat. Kleinboet Christopher is ‘n uitblinker met voordrag en herwinning.

Ek en Tokkie sien uit na ‘n somerbesoek aan Sabiepark, aanvanklik ‘n paar dae alleen saam met die flukse Christopher. Daarna kom die tweeling op hul eerste alleen-vlug, daarna Brent en Marisa. Die swembadjie daar is nuut geverf. Lyk spiekeries. Ons gaan hom behoorlik inwy. Ná Sabiepark gaan ons kennis maak met die MSC Musica op ‘n vaart in Mosambiekse waters. Vaar op die oseane word blykbaar ‘n familieding. Johan en Mariza was pas op die Musica. Die Claassense is geskeduleer vir April.

Die Julievakansie was buitengewoon gedenkwaardig. Drie aande in die private kamp Boulders saam met die Claassense was salig verby. Die tradisionele saamtrek van studentemaats uit die Kollegetehuis-era (nou College met ‘n Engelse C) was, presies 60 jaar ná ons eerste jaar in 1958, ook baie besonders hoewel, helaas, dalk die laaste in huidige vorm. Ons word nie jonger nie.

Vir my en Tokkie was dit ‘n voorreg om verskeie goue bruilofte en groot verjaardae van kollegas en vriende te kon bywoon. In die proses kon ons in Bloemfontein en op haar heimat, Bultfontein, gaan kuier en op my ou Wes-Transvaalse spore terugloop. Welaangename herinneringe. Onvermydelik gebeur dit ook al hoe meer dat ons vriende moet groet. Die jongste was ons dierbare Bloemfonteinse buurvrou vir baie jare, Annette van Rensburg. Sy en Tokkie was baie na aan mekaar.

“Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, dalk my laaste boek, dalk ook nie, het nie juis die boekewêreld aan die brand gesteek nie. Die boek het tog wel vreugdes gebring, soos ‘n uitnodiging na die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), vriendelike resensies soos deur boeke-ghoeroe Danie Botha op Fine Music Radio en Litnet, ‘n besoek aan NALN in Bloemfontein, en ‘n in-diepte-onderhoud met Herman Lategan.

Wat die uwe nogal plesier gegee het, is dat ‘n foto wat ek jare gelede van die Van Bredagesin van bylmoord-faam in Sabiepark geneem het, dwarsoor die voorblad van Die Burger geplaas is – die eerste keer in my koerante-verbintenis sedert 1958 dat so iets die ou man te beurt val.

Tokkie het, ná die onderbreking om (met onderskeiding) heeltydse verpleegster te speel vir haar kranke man, teruggekeer tot haar voltydse aktiwiteite van “manager of works” by Penguin Place en Melkbos-biblioteek se kampioen-leser.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2019.

Hennie & Tokkie

RAPPORT UIT MELKBOS

Desember 8, 2017 in Uncategorized

Tot siens, graad 7!/

Drie bakens in 2017 beklemtoon dat die jare aanstap: Hennie gedenk 60 jaar uit matriek (met ‘n klein maar heuglike reünie op Potchefstroom) asook 20 jaar van aftrede; die oudste kleinkinders, Jacob en Thomas, skud die stof van die laerskool van hul voete.

Ons kyk terug op 2017, weer in dankbaarheid oor al die goedheid en guns.

Twee Sabiepark-kuiers het nog heerlike bosherinneringe bygedra. Dit het ingesluit die Kollegemanne se Orpen 1 na vyf Balules sedert 2012, en ‘n herbesoek aan die boskamp Boulders. Vir die knusse kampie tussen die klipkoppies raak ons net al hoe liewer.

Ons had uiteindelik die voorreg om op die “nuwe”, vergrote Sinfonia te vaar. Die vaart na Walvisbaai was, soos elkeen tot dusver, vir ons seer aangenaam.

In November was ons op ons spore terug Vrystaat toe. ‘n Saamtrek van Volksblad-veterane van die laaste vyf dekades van die vorige eeu het die geleentheid geskep om heelwat ou vriendskapsbande weer op te tel en o.m. ‘n verkwiklike erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal by te woon.

Op ‘n besoek aan Volksblad is ‘n historiese foto van die sewe redakteurs nog in lewe in Hennie se ou kantoor geneem. Nogal versoberend vir hom om daaraan herinner te word dat hy, wat van 1980 tot 1992 die leisels gehou het, chronologies gesproke, die oudste is.

Natuurlik is ons ook op ‘n sentimentele reis Bultfontein toe, Tokkie se heimat. Ons was o.m. by Hertzogstraat 5, haar skool en die begraafplaas waar intussen ‘n steentjie ter ere van Ouma Marietjie op Oupa Kotie se graf aangebring is. Natuurlik was ons by die NG kerk Bultfontein waar die egpaar Van Deventer op 31 Desember 1966 in die eg verbind is.

‘n Ontdekking teen die einde van die jaar was die grootse Bergteater in die Sederberge naby Clanwilliam. Die Kerskonsert teen die agtergrond van verligte rotswande was aangrypend.

Dit was behaaglik om weer ‘n nuwe boek in die hande te hou. “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” het by Naledi verskyn. Dit is HvD se 18de. Resensies tot dusver is heel vriendelik. Ook Kyknet gee aandag.

Nog ‘n vreugde was om uitvoering te gee aan Tokkie se blink ingewing om by die WAT woorde vir die kleinkinders te borg. Drie boomname met ‘n spesiale betekenis vir elkeen is vir die Claassens-kinders uitgesoek: blinkblaar-wag-‘n-bietjie (Jacob), jakkalsbessie (Thomas) en wildevy (Christopher). Op Mariza se wenk, borg ons die woord “spesiaal” vir Migael.

In die Kaapse annale sal 2017 aangeteken staan as ‘n jaar van slepende droogte, kwynende damvlakke, sware waterbeperkings. Te midde van die waternood kon ons tog op ons Kaapse doenlysie ‘n paar dinge aftik. Ons was op die Rooibus Houtbaai toe, het ‘n boeiende besoek gebring aan die Hartmuseum in Groote Schuur, toneel van die epogmakende eerste hartoorplanting 50 jaar gelede, en by die roofvoëlsentrum by Spier ‘n draai gemaak. Op die Desemberprogram is die Kunstekaap (Evita) en die Planetarium.

Met die gesin Claassens nou weer stewig gevestig in Welgemoed, kon ons verskeie van ons Kaapse draaie saam met die seuns geniet.

Met al die kinders gaan dit in die algemeen goed. Die Claassense is gelukkig, ook Brent in sy werk en die kinders in die skool. Al drie het akademies asook op sport- en kultuurgebied presteer. Hulle is met armsvol sertifikate vereer. (Christopher is ook sy klas se papierherwinningskampioen, danksy sy ouma se entoesiastiese bydraes).

Jacob verdien ‘n ekstra klop op die skouer vir sy verowering van die skoolhoof se spesiale toekenning vir voortreflike diens as klank- en beligtingsman. In die commedatio word hy ook vir ander eienskappe hoë lof toegeswaai. As ek hy was, het ek dit geraam en teen my muur gehang vir inspirasie.

Uit George kom ‘n konstante stroom positiewe nuus wat ons trots maak op wat die kinders in uitdagende omstandighede vermag.

Johan se trokwas het oor die afgelope jaar so dinamies uitgebrei dat hy op ‘n drafstap moes byhou. Hy het twee groot kontrakte, met Grain Carriers en Unitrans. Op die Grain Carriersperseel is substansiële konstruksiewerk afgehandel, en met die toevoeging van die Unitranskontrak moes Johan ‘n tweede perseel huur.

Johan en Mariza is diep dankbaar vir die goeie besigheid, al bring die voëlgriepepidemie mee dat van Maandag tot Vrydag amper 24 uur per dag gewerk moet word om silwerskoon vragmotors op die pad te hou.

By Mariza se hartsplek, die Legacy Centre, word ook gewoeker. Agt kinders word nou een-tot-een onderrig gegee. Verbeeldingryke projekte word aangepak. Die sentrum het sedert Augustus 2016 vinnig uitgebrei en geniet merkwaardige ondersteuning van die George-media en -gemeenskap.

Dis aangrypend om te sien met hoeveel liefde die personeel van vyf die kinders bystaan. Mariza-hulle hoop om daardie diens tot meer gesinne te kan uitbrei. Sy, Johan en die hele skooltjie is veral trots op Migael was uitblink in sy perdry en swem!

Ons sluit die jaar af, skaam dat ons dit ooit oor die hart kry om te kla (oor die water, aandeelpryse, allerlei pyne en so).

Wat die nuwe jaar alles inhou, weet ons vanselfsprekend nie. Wat ons wel weet, is dat ons sommer vroeg in die nuwe jaar, op Tokkie se verjaardag op 15 Maart, weer ‘n baken bereik. Ons vier dan ons 20 jaar as Sabieparkers – salige verbintenis. Sou dit graag met ‘n koue wyntjie in die swembadjie wou doen. Weet nog nie of dit moontlik sal wees nie.

Ons sien uit na ‘n paar dae in Sabiepark in Januarie saam met die Van Deventers van George en ‘n vakansietjie in die winter daar saam met die Claassense. In oupa se sak is ‘n bespreking vir Boulders, wat vir die kinders ‘n eerste sal wees.

Op die tweeling wag hul toetrede tot die hoërskool (Hoërskool Stellenberg in Durbanville). Hul nuwe kleurbaadjies hang al in die kas. Ons hou vir hulle styf duim vas vir ‘n vrugbare nuwe fase in hul lewens.
Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.

Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand

‘N GLASIE RENOSTERMELK!

Desember 5, 2013 in Uncategorized

 Die Van Deventyers se jaarlikse Kersbrief uit Melkbos.  Mer die skrywe was die vaart op die Queen Mary 2 einde Januarie nog nie op die horison nie. So vinnig kan dinge verander!

claassens

 

 

 

 

 

 

Jacob, Oupa, Thomas, Ouma, Marisa, Christopher, Brent

vandeventers2

 

 

 

 

 

 

 

Mariza, Sam, Johan, Migael

Desember 2013

Een perspektief op die jaar wat was, is ‘n bederfdrankie uit Ouma se kombuis wat stewig ingegrawe geraak het in die Van Deventer-folklore: “Renostermelk” of “babarenostermelk” vir die minderjariges.  Dit is een van die gawe dinge waarmee die kleinkinders kuiers by Oupa en Ouma assosieer, hetsy op Melkbos of Sabiepark.  

 Die basiese resep is dieselfde: een blikkie kondensmelk en 250 ml. room. Meng en breek ‘n sjokoladestafie (“Flake) in. Al verskil: By die “volwasse” weergawe kom ‘n skeut whisky. Voortreflik! Die resep kom uit ‘n resepteboek van Jacob en Thomas se skool, die Laerskool Welgemoed. Ouma het die resep gaandeweg haar eie gemaak.

 Meng vir julle ‘n groot beker vol renostermelk, vriende  – klein bekers raak te gou leeg! – en drink saam met ons ‘n ryk en lekker heildronk op die ou en nuwe jaar!

 Aan die ernstige kant, het die einde van Ouma Marietjie van Wyk se lang, geseënde en vrugbare lewe aangebreek. Sy is op 10 Maart 2013, minder as ‘n maand voor haar 99ste verjaardag, oorlede. Haar laaste rusplek is ‘n nissie by die NGK Melkbos. ‘n Gedenksteentjie is opgerig op die graf op Bultfontein waar sy  – voordat soveel dinge soveel verander het – aanvanklik bestem was om saam met haar vroeg ontslape man, Kotie, ter ruste gelê te word.

 Hennie het begin Oktober ten einde laaste deurgedruk met die heupvervanging wat drie jaar gelede die eerste keer geskeduleer was.  Danksy die gevorderde Amis-tegniek uit Frankryk was hy vinnig pure perd. Ná drie weke was hy terug op eie voete. Hy stap al ente langs die strand en droom van lekker wandelinge in die bos, piekniekplek toe en terug.

 Tokkie is soos daardie befaamde, onverwoesbare ou Datsun-enjin wat nie ophou ken nie.  Kan darem rapporteer dat sy sorgsaam, dog kwaai, oor HvD se herstel gewaak het. 

 Op George het Johan sy besigheid met welslae in ‘n nuwe baan gestuur, en het Mariza haar ontpop as kranige skrywer van persverklarings, onder meer vir die “Pink Trees for Pauline”-kampanje en Estée Lauder. Haar skoonpa beweer al lank sy is uitgeknip om te skryf. Migael is nou al sewe en geniet sy skooltjie – ondanks die inbreuk op sy speeltyd saam met sy onafskeidbare Labrador Sam. Hy reageer relatief na verwagting op die intensiewe sorg wat sy spesiale omstandighede verg.

 In Welgemoed geniet die gesin Claassens in die algemeen voorspoed, al het Brent klippe gekou met langdurige stakings in die fabrieke onder sy vlerk, wat hy boonop met sy studies moes probeer versoen – hopelik met goeie gevolg.  Marisa ry net kinders rond – na rugby, krieket, atletiek, swem, judo en wat nog.  Die hele gesin trap geesdriftig bergfiets. Die seuns se medaljeversamelings groei …. 

 Sabiepark bly los voor as vakansiebestemming. Ons wintervakansie was ‘n uitgerekte saligheid met hope indrukwekkende olifant-ervarings – ook een skrikwekkende ervaring toe ‘n muur van groot voete op die Onder-Sabie- teerpad onstuitbaar op die Honda’tjie afgestap kom.  Die plan is om in die nuwe jaar ‘n ekstra Aprilvakansie in die bos in te pas. 

 Die vaart Walvisbaai en Lüderitz toe was soos teer – ons lus steeds  meer. Ons het in Maart ‘n kort vaart in die vooruitsig, terwyl ons advertensies fynkam vir hopelik nog ene in die nie te verre toekoms.  Die luilekker lewe op ‘n groot skip met net die oseaan om jou geval ons.  Kort wegbrekies van so twee, drie dae sorg ook vir lekker ervarings in die herfsjare.  Sulke besoekies aan Kaappunt se kontrei , aan die verruklike Franschhoek  en die skone Slanghoekvallei was vanjaar hoogtepunte.

 In Julie behoort die boskampie Balule aan die Olifantsrivier in die Krugerwildtuin weer aan die spannetjie gryse Kollegemanne wat, op Hennie se inisiatief, sedert 2012 al ses rondawels vir ‘n paar nagte huur. Die GROOT kampvure, feestelike braai-etes onder die sterre en genotvolle uitruil van onthou-jy-nog-stories is al stewig as nuwe tradisie gevestig. Net jammer jy moet so vroeg roer as jy ambisies het om Balule voor al die ander aspirante op te raap! 

 Ons sien uit na 2014. Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.

 Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand