Jy blaai in die argief vir ienks.

‘N IENK IN 1958

Januarie 28, 2018 in Uncategorized

By die begin van die nuwe akademiese jaar 2018 aan ons universiteite gaan die gedagtes van hierdie Tukkie-kalwer van 1958 ver terug: na die dae van ienk-wees in die “goeie ou dae”, toe ontgroening nog respektabel was.

Kollegetehuis was toe nog op die hoofkampus, ‘n klipgooi van die statige Ou Letteregebou. Al die meisies moes daar verbystap klas toe. Spitsvondige kommentare het nie uitgbly oor al die vietse en minder vietse lyfies lyfies wat deur ‘n waarderende gehoor waargeneem is nie.

In Kollege is ’n ienk toentertyd behoorlik gedril. Letterlik ook. Ons moes gereeld voor die eetsaal (lankal die slagoffer van vooruitgang) in gelid aantree.

Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Sarge Bourke – hier in versiersuiker op ‘n koek.

Dit was die tyd van modderbaddens, die “pil” (’n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” – elkeen ’n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ’n element van weerbarstigheid te tem!

Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk moes maar weet: vir ‘n jaar lank is hy lyfeiene vir ‘n veeleisende senior. Jy het honderde pare sweterige sokkies gewas. Een senior het selfs geverg dat ‘n ienk op ‘n koue wintersoggend vir hom die toiletbril gaan warm sit.

Die arme ienk sou ‘n paar keer moes inpak en trek (met al sy klere, al sy koffers, al sy boeke) en “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot met die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Tot daardie welaangename dag het jy ‘n geel knopie op die bors gedra met die letter “K”. Nogal snaaks gewees toe daar vroeg die jaar een Sondagaand ‘n kerksleep was saam met Asterhof. Daar sit ons toe in Pretoria-Oos se kerkbanke: Kollegeman (K), Asterhoffer (A), Kollegeman (K), Asterhoffer (A) ……

‘n Jaar van enorme nederigheid was dit. Maar ons het oorleef, het seniors geword en op ons beurt die pyn uitgedeel. Hopelik ook die liefde vir Kollege aan ons opvolgers oorgedra.

Van die tradisies het ses dekades bly voortleef, verneem ek dankbaar. Die gelukbringer, Sarge Bourke, ’n beton-polisieman wat by ’n huis in Gezina geskaai is, bestaan steeds. Nuwes tradisies het bygekom. Party bo hierdie begrip. Tye verander.

In Junie trek nege Kollege-tydgenote uit daardie era weer saam in die Orpenkamp in die Krugerwildtuin – ‘n wonderlike tradisie wat nuut posgevat het. Ons sal vir seker ‘n heildronkie of twee geniet op die 60 jaar wat sedert 1958 verloop het.

Helaas sal dit maar met al die skete en so aan sukkel-sukkel gaan om te “haaitjokkelorum, haasbekpatrollum ….”

Deel dit:

GATPAARTIES EN P-PAARTIES

Mei 20, 2016 in Uncategorized

Scan10069

Modderbad

Met die terugdink aan Kollege en Asterhof se dinge in die vorige blog bokspring my gedagtes wild. Dit gee ‘n sprong amper 60 jaar terug. Na die jaar 1958 toe ek, ‘n manhaftige 17-jarige, my as eerstejaar-student aan die deurlugtige Universiteit van Pretoria aan die poorte van die geliefde ou Kollege-tehuis op die kampus aanmeld.

Op daardie geliefde kampus is ‘n ienk toentertyd nog behoorlik gedril. Dit was modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir ‘n veeleisende senior (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!) Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing na die tradisionele modderbad en pil.

Op daardie welaangename dag as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom, het die geel knopie met die K finaal gewaai — een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir sulke komieklike situasies kon sorg soos in die vorige blog beskryf is. Toe Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” kerk toe gehad het en die ienks toe so man-meisie-man-meisie langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

hvd0033
Broek-raid

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus (virt een moes jy selfs in die winter eers die toil;et se bril warm sit!). Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Klop dan in deesdae se eerstejaar-studente ander soort harte? Ek wonder.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”. Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Damestehuis (die Fant) waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.

hvd0014-11

P-paartie

Lentedag was behoorlik ‘n okkasie. Koshuise het op allerlei gebiede meegeding: van musiek tot toutrek. ‘n Senior het my so bekyk en besluit ek lyk na die regte jongelied om die koshuis in die afdeling blommerangskikking te verteenwoordig. My oplossing was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die Klubsaal lop te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid. (Die Rautenbachsaal was toe nog net ‘n visioen.)

Die jaarlikse ienksport was eweneens groot. Die eer van jou koshuis was ook hier op die spel. Die ienks is behoorlik gedril en deur hul passies gesit. By die ienksport moes jy uithaal en wys watter soort murg jy in jou pype het.

Aan elke koshuis is ‘n kleur toegeken.Wat ons kleur in 1958 was, kan ek nie onthou nie. Onthou egter goed die jaar toe Kollege vir sy sonde die kleur pienk toegeken is. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Maar ek loop my storie vooruit. Later vertel ek meer van die latere vreugdejare in Kollege waar ek tot in 1962 welgeluksalig sou vertoef.

(Die blog oorvleuel sterk met een van verlede jaar rondom Kollege se eeufees. Jammer as ek lesers verveel. Maar wat die hart van vol is …..)