Jy blaai in die argief vir honda.

KLIPKOP, KOEBAAI

Julie 31, 2019 in Uncategorized

Die Honda gelaai soos nog nooit. Van links is Christopher, Thomas en Jacob Claassens, die laaimeester.

Seker so ‘n stuk of 60/70 keer in ‘n tydperk van twee dekades het die Honda (‘n 1999-model CR-V) die 500 km tussen OR Tambolughawe en Sabiepark heen en weer kafgedraf. Johannesburg was sy basis vir die Van D’s se bosvakansies. Sy staanplek was by Klipkop Car Care (in jare her bekend as Kempton Car Care).

Die reëling met Klipkop het gewerk. Altyd. Die oomblik as ons ons bagasie in die hande het, het ek op die selfoon laat weet. “Hier’s ons”. Die antwoord was altyd dieselfde: “Reg, Ons stuur hom om”. Dan gaan wag ons buite voor die aankomssaal vir binnelandse vlugte. Enkele minute later sou jy die Honda se neus in die aankomende lughaweverkeer herken.

Daarop kon jy reken. Soos klokslag was hy daar. Betroubare diens op sy beste.

Soos elke ding ‘n einde het, eindig ook daardie era nou. Gister met ‘n effense swaarmoedigheid vir Klipkop laat weet: “CY 7755 kom nie terug nie.” Sy nuwe basis is Nelspruit.

Darem makliker vir ‘n oumens om die 100 kilometer tussen die Kruger-Mpumalanga en Sabiepark af te zirts as om vyf uur lank in kwaai verkeer al die pad via Witbank, Middelburg, “Millies” (waar meermale brandstof laat intap is) Nelspruit, Witrivier en Hazyview agter die stuurwiel te sit – al kos dit ook meer.

Tot dusver kon ons Kulula of Mango vlieg op die hoofroete tussen die Kaap en Johannesburg. Vorentoe raak dit Link op ‘n streeksroete. Nogal ‘n aardige prysverskilletjie!

Vir Klipkop kan ek met vrymoedigheid aanbeveel aan enigiemand wat sy motor in Johannesburg wil laat berg. As jy gemoedrus soek, hier is jou antwoord.

Was ook altyd bereid om die spreekwoordelike “ekstra myl” te stap. ‘n Keer was daar ‘n krisis met ‘n skietding. Die betrokke lugdiens het ‘n absolute verbod. Klipkop is gebel en het vinnig opgedaag om te kom help. Presies hoe, gaan ek nie verklap nie. Netnou lees die Openbare Vervolger my blogs. Haar vinger is juis so op die sneller ….

‘n Keer wou Tokkie Klipkop bel. Sy druk toe die verkeerde nommer. Toe die man sy foon antwoord, vra sy: “Is dit Klipkop?” Die vreemde se spitsvondige antwoord: “Dalk – maar niemand het my nog so genoem ie!”

Die laaste koebaai-reis van OR Tambo af op 20 Junie was gedenkwaardig, soos dit by so ‘n spesiale geleentheid hoort. By ons was die drie Claassen-kleinkinders. Hul bagasie was nie wat ek as beskeie sou beskryf nie. Net Jacob se rugsak met kamerakatoeters het 28 kg geweeg. Elkeen se groot tas was ‘n meneer – so groot soos ‘n doodskis.

“Nooit sal ons daardie spul goed alles in die Honda kry nie. ” Die gedagte het die hele vlug in my kop bly maal.

Tokkie het reeds ‘n Plan B uitgwerk. Sy sou iewers op die lughawe ‘n koerier opspoor.

Maar eer aan Jacob. Hy het nooit getwyfel nie. En, waaragtig, alles is in.

Op Hazyview kon ons nog by Checkers proviand aanskaf. Nog net-net plek gevind vir Tokkie se boks wyn. Maar toe was my kar vol, glo my.

Nietemin, wat ‘n klimaks vir die Klipkop-era.

(Naskrif: Die Honda staan op 235 00 km. Behoort nog lank in diens te wees.)

REGTE KAR VIR PIEKNIEK

November 3, 2016 in Uncategorized

1-kar1
My briefie oor my Sabiepark-Honda in vanoggend se Motors-bylae in Die Burger word hier herhaal. Sou darem uiters dislojaal gewees het aan die Honda as sy trotse baas nie sy stem laat hoor het nie.

Geagte Redakteur

‘n “Netjiese truuk” in die nuwe Mini Countryman is ‘n piekniek-geriefie (tafel of stoel) in die laairuim, lees ek in Motors (Donderdag, 27 Oktober. Terstond trek my hart met ‘n punt na my Honda in die bos: ‘n silwer 1999-model CR-V wat op pad is na 250 000 km – nietemin steeds mooi en rats soos ‘n splinternuwe. ‘n Baanbrekerkar gewees daardie; sy tyd vooruit in vele opsigte.

Amper 20 jaar gelede kon die Honda al met dieselfde “netjiese truuk” spog. Jammer om Mini se seepbel te prik maar die Countrryman is dus ietwat mosterd na die maal.

Soos die Countryman s’n, is die Honda se laairuim die produk van dinkwerk. Grootste bate is piekniektafel – in die vorm van die metaalplaat wat die opening vir die noodwiel bedek. Die noodwiel sit parmantig buite. Wat ‘n heerlike geheime wegsteekplekkie skep dit nie!

Die Honda spog ook met iets anders: ‘n netjiese houer vir twee bottels wyn in die agterste luikflap met bande om die bottels vas te woel. Baie bedagsaam. Jy sou dit kon aanwend as ‘n klein kluis. Niemand gaan raai om agter daardie flappie iets waardevol te gaan soek nie.

Die CR-V spog met nog meer bruikbare hokkies van verskillende formate, maar dis nie my storie nie. Dis oor daai tafel dat ek iets op die hart het. Myne is beslis nie nie net daar as ‘n funksionele noodaaklikheid of vir die mooigeid nie. By pieknieks is hy sy gewig in goud werd.

Die ware Jakob om kos, drank, borde en nog wat op uit te pak. Ontdek gashere skielik ontdek hul pakplek is te min vir al die spys en drank, dan lig hierdie ou eenvoudig nonsjalant die luikdeur . Siedaar nog ‘n tafel. Lekker liggewig, stewig en netjies. Jy moet hul dankbaarheid beleef.

My Hondatafel moes o.m. al dien as rekenaartafel in die veld. Jy vou hom in ‘n japtrap oop., Baie geriefliker om jou drarekenaar op jou skoot te balanseer. Vroutjie Tokkie het my een dag so by my tafel afgeneem, die ene konsentrasie voor die rekenaar. Verduiwels of ek daardie foto kan kry. ‘n Veelsydige kerel dus; weet net nie hoe gemaklik jy gaan sit as jy ‘n stoel van hom wil maak nie.

Maar die stomme Honda! Skaars ‘n jaar of wat later los die besluitnemers in Japan onverklaarbaar hierdie wenresep soos ‘n warm patat. Toe ek weer ‘n CR-V koop, is hy minus die piekniektafel, minus die wyn-wegsteekplek en met die noodwiel verbeeldingloos terug op sy ortodokse plek. Nuttige laaispasie is daarmee heen.

Nou kom die Mini Countryman na ‘n lang vakuum weer met die “netjiese truuk”. Eienaars van nuwer CR-V’s kners op hul tande en ons generasie is opnuut in ons skik met wat ons het.
Hennie van Deventer
Melkbosstrand

Naskrif: Die foto van die laairuim by my brief kom nie van my af nie. Dis nie die Honda daai nie!,