Jy blaai in die argief vir hnnie van deventer.

LIEWE GEMEENTE

November 16, 2017 in Uncategorized

Wandeling op die strand. Tienie Zeeman en HvD .

Vreemd om ná 25 jaar jou ou gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein te besoek en, ná ‘n gesukkel om tussen al die motors ‘n parkeerplekkie te kry, sommer by die deur in die glimlaggende gesigte van vriende vas te loop: Morné Pretorius van die SAUK en sy mooi vrou, Nicolene.

Dalk ook nie so vreemd nie – van daardie gemeente het ek in die gedenkblad by sy halfeeufees in 2006 geskryf: “Eredienste was soos ‘n byeenkoms van vriende. Jy kon toe oë beduie wie sit waar.” Die formidabele gedenkboek van 300 groot bladsye plus staan op ‘n ereplek in my boekrak. Eer aan die redakteur, ds. Jan Lubbe, vir ‘n magnum opus soos min.

Waaragtig, daar sit ‘n ouer prof. Johan Celliers toe ewe breed in die ouderlingsbank, en buurman Louis Lategan in die diakensbank. Albei banke steeds in die dwarste, soos ons dit leer ken het. Elders in die vol kerk herken ons ook bekendes, soos mev. Kleintjie Richards, weduwee van die gedugte prof. Willem Richards.

In die kerk se nuusblad “Fokus” pryk bekende name uit ons era in die kolom “Siekes tuis of in die hospitaal”: “Oom” Josias Swanepoel (oud-skriba), “oom” Dries van Coller, “oom” Victor Reitz en “oom” Krynauw Cilliers. Geeneen was nog ‘n “oom” in ons tyd nie!

Later lig ds. Johan Marais – deftig getoga soos vanouds – die gemeente van die kansel af in: “Oom” Dries van Coller is oorlede. Hy betuig meegevoel met “tannie” Hedwig. Dries van Coller was ‘n regter. Hedwig (Roets) was ‘n tydgenoot op Tukkies.

Berg-en-dal se kerk.

‘n Vreugde vir Tokkie is Johan Cromhout agter die orrel. Hy is al sedert 2005 orrelis en “laat hom praat”, verklaar sy ingenome. Voor hom het manne soos Chris Heyns en Izak Grové ook murg in die pype van daardie orrel gesit. Selfs die uwe, vals soos ‘n stuk geroeste blik, het hartlik saamgesing (of ten minste probeer).

Van die gemeente se leraars het die Van Deventers hope heerlike herinneringe:

Van ds. Tienie Zeeman, wat, volgens statistieke in die gedenkboek, een jaar amper sy honderdtal met preke behaal het – 98 of so iets. Hy was ‘n ware steunpilaar toe ons seun, Johan, op ses maande in die hospitaal beland het met diabetes mellitus; later ‘n vriend wat in 2000 saam met sy sagte vrou, Marie, op Melkbos kom kuier het, en by wie ons altyd op Witbank aangery het op pad wildtuin toe. In ons gasteboek het hy geskryf: ” ‘n Dag om vir altyd te onthou.”

Van die onpretensieuse ds. Gert Terblanche wat altyd met sy fiets by Ouma Marietjie kom inloer en sommer om die kombuistafel ‘n koppie tee saam geniet het. Lekker gewees om hom, nou afgetree, en sy vrou, Retha, Vrydagmiddag oor ‘n koppie koffie te sien – darem nie om ‘n kombuistafel nie!

Ook van die besadigde ds. Jan Slabbert, verstrooid se moses, maar ‘n man sonder fieterjasies en eweneens ‘n soliede skouer in uitdagende tye. Soos ds. Tienie en mev. Marie is ook ds. Jan al heen. Sy weduwee, Ciela, woon op- Stellenbosch.

Van Berg-en-Dal het ek in die gedenkboek ook geskryf: “Ons verknogtheid aan hierdie gemeente skryf ek toe aan die volgehoue vreugde om te behoort en om tuis te wees in ‘n kerk waarin daar lig en warmte is, ‘n gemeente waarin Sy Lig helder skyn.”

Die waarheid van daardie woorde tref my opnuut terwyl ons die erediens beleef: van die gelukwensing en blomme vir mev. Helena Samuel (vrou van Dave wat ‘n gereelde briefskrywer in Die Volksblad was) op haar verjaardag, deur die preek uit Ester 2 (om met moed te leef in uitdagende tye) en die voorstelling van ‘n formidabele ry nuwe kerkraadslede.

Mev. Samuel en die nuwe kerkraad is apart toegesing: “Laat Heer u seën op haar/hul daal.” Verskeie ander geliefde liedere (almal uit die Liedboek!) is aangehef. Dit alles in 70 minute!

Terloops, hier sing elkeen nog uit sy eie Liedboek, die kosbare kultuurskat van die kerk waarin T.T. Cloete soveel liefde gestort het. Gewese buurvrou Elsie Strauss (ouma van Rolene) het vir ons met ‘n breë glimlag een kom aanbied wat sy op ‘n tafel in die voorportaal gaan haal het. Die gemeente opereer sonder liedbord. Sien ook geen teken van enige ander instrument as die orrel nie.

Ná die diens dink ek aan my tye, eers in die diakenbank, later in die ouderlingebank. Onthou met ‘n glimlag: In Randburg (gemeente Fontainebleau) was ek in 1975 dadelik ouderling. Maar in Berg-en-Dal is ek in 1980 eers weer diaken. Moes eers “harde baard” kry; my “vakleerlingskap” deurgaan as redakteur van die gemeenteblad “Die Fontein”. Tokkie was al wyksleidster, toe gaan ek nog op my rondes met die kollekteboekie, o.a. na Monis Flemming, latere regter-president, en na Dawfré Roode, latere adjunk-rektor.

Sou darem graag gister (15 November) in Bloemfontein wou wees vir die seniors se “braaivleis-ete met slaai en al wat lekker is … ook musiek.”

BLOEDSPOOR VAN ‘N SLAGTER

April 23, 2016 in Uncategorized

1-IMG

Word kolonel Swannell, wrede aanvoerder van die strafkamp op St. Helena, in die fliek Modder en Bloed darem te afskuwelik uitgebeeld? Hoegenaamd nie, betoog ek vanoggend in By (Die Burger), Beeld en Volksblad aan die hand van sy prototipe, luitenant Breaker Morant, se bloedspoor in die Soutpansberg, waar hy in die laaste fase van die ABO vrees en verskrikking gesaai het.

Morant en sy slagtersbende word deur die navorser Charles Leach van Louis Trichard oortuigend met nie minder nie as 35 moorde verbind.

In die artikel word uitvoeriger op Morant se wandade gefokus as in my vorige blog oor die onderwerp.
Kry ongelukkig nie ‘n skakel op Media24 se webblad nie.

Hier, die volledige artikel:

Bring die geweer. Vergeet van die vuurpeleton. Ek jaag sommer self ‘n koeël deur daardie bliksem se harspan.

Met sulke wraakgedagtes stap vele waarskynlik uit die teater ná ‘n vertoning van Sean Else se epiese ABO-fliek Modder en Bloed. Die berekende wreedheid van kolonel Swannell, aanvoerder van die strafkamp op St. Helena, tref ‘n rou senuwee.

Die krygsgevangenes word aan ondenkbare verguising en marteling onderwerp. Die diaboliese Swannell (Grant Swanby) slaan ‘n Boerekommandant pap en dwing hom om ‘n Britse sersant se skoene te lek. Die Boere word met loodsware klippe rondgejaag. Kos en water word weerhou. “Hardekwaste” moet in blik-“doodkiste” in die grond oornag, met Swannell se urine as enigste lafenis vir verskroeide lippe. Met die geringste provokasie word sy pistool uitgepluk.

Aangrypend word uiteenlopende Boere uit verskillende oorde en stande in die aangesig van hierdie beproewings langsamerhand deur die dinamiese Kaapse rebel Willem Morkel (Stian Bam) tot ‘n gedugte eenheid saamgesnoer, wat – simbolies – die Britse oormag op die rugbyveld verslaan in ‘n kritieke wedstryd wat vir ‘n jong Boertjie lewe of dood beteken; en vir Swannell sy uur van waarheid.

Nie voordat Swannell uit sy pad gaan om die Boere te saboteer nie. Hulle moet in stikdonkerte oefen. Die tuisgemaakte rugbybal word flenters geskiet. ‘n Sterspeler word “uitgehaal”, en sy lyk voor die verslae makkers uitgestal.

Vir sleutelkarakters soos Swannell is ikoniese oorlogsfigure gekloon en op St. Helena geplaas. Swannell is uitgeknip sy prototipe, luitenant Henry Harbord (Harry) Morand, alombekend as Breaker, wat in die laaste fase van die oorlog in die Soutpansberg vrees en verskrikking gesaai het. (Katherine Sterndale (Charlotte Salt) is, terloops, pure Emily Hobhouse.)

Word Swannell darem te boos uitgebeeld? Kan werklik soveel kwaadwilligheid, onmenslikheid en nyd in een mens (selfs ‘n Australiër in ‘n Kakie-uniform!) se lyf saamgekoek wees? Die bloedspoor van Morant, sy handperd, Peter Handcock, en die sogenaamde Bushveldt Carbineers verskaf die antwoord.

Die Carbineers was slagters. Ongewapende of siek Boere, bibberend weens koors, is meedoënloos neergevel, soms tot agt op ’n slag. Op weerlose vroue en kinders is roekeloos losgebrand; Die wit vlag is nie ontsien nie. Toevallig (dalk nie so toevallig nie?) het die twee gewetenlose aanvoerders van die Carbineers – asook die oorwig van die ander voorbokke – dieselfde herkoms as Swannell; daardie verre land Doer Onder waar soveel Suid-Afrikaners deesdae ‘n nuwe lewe maak: Oss-Stray-lee-uh, mate!

Swannell en Morant dra eenderse uniforms; hulle trek selfs op mekaar Soos Morant is Swannell snorloos – wat rebelsheid teen Britse militêre tradisie weerspieël. Aan selfbeeld skort dit geeneen. Ná Morant en Handcock se skuldigbevinding aan 12 moorde deur ‘n krygshof, het Morant glo met groot bravade voor die vuurpeloton uitgeroep: “Shoot straight you bastards and don’t make a mess of it.” Dit verg nie hope verbeelding nie om Swannell ewe minagtende sterwenswoorde oor sy dun, siniese lippe te hoor pers.

Die charismatiese Morant is in Brittanje gebore, maar het van sy 19de jaar sy spore op perde- en beesplase in Queensland verdien. Sy bynaam “Breaker” het hy oor sy vaardigheid met perde gekry. In sy eie oë was Australië sy land.

Hier het hy later amper volksheldstatus geniet. In boeke en rolprente is hy as sondebok vir groter Engelse onheilighede of as romantiese kwasi-held uitgebeeld. ‘n Gewilde Australiese rolprent, gegrond op ‘n novelle, The Breaker deur Kit Denton, het in 1980 sy beeld as martelaar internasionaal help uitdra. Drukgroepe het hulle tot in 2011 nog beywer vir ‘n postume kwytskelding deur die Britse regering. Gelukkig was dit abortief.

Sulke ophemeling het ‘n Engelssprekende toergids van Louis Trichardt, Charles Leach, dwars in die krop gesteek. Hy het dit ‘n lewenstaak gemaak om die legende te ontmasker. Ná sewe jaar se navorsing het sy boek, The Legend of Breaker Morant is Dead and Buried: A South African Version of the Bushveldt Carbineers in the Zoutpansberg, May 1901 - April 1902 in 2012, die lig gesien. Die Carbineers se wandade word meedoënloos oopgevlek. Morant se bende word oortuigend aan 35 weersinwekkende moorde verbind.

Hul register van gruweldade is skrikwekkend. In die Mooketsivallei is byvoorbeeld op Boerewaens begin vuur terwyl vroue en kinders se opgeruimde gesels opgeklink het. Twee Grobler-boeties van 14 en ses jaar is in mekaar se arms doodgeskiet. Hul negejarige sussie is ernstig in die nek gewond.

‘n Gewonde jong Boer, Floris Visser, is ná ’n vlugtige verhoor deur ’n boendoehof tereggestel. Hy moes op ’n walletjie op die geweervuur en die koeëls sit en inwag. Toe hy omkantel, is ‘n rewolwerkoeël vir oulaas deur sy kop gejaag.

OP die plaas Ballymore is agt Boere in ‘n bloedbad uitgewis. ’n Onskuldige sendeling, C.H.D. Heese, met al sy “papiere” by hom is in koelen bloede vermoor. Op die buurplaas Sweetwaters is ‘n boer en sy twee seuns doodgeskiet. Swartmense is voor die voet afgemaai.

Leach se onthullings het in Australië aansienlike ongemak veroorsaak. In die Soutpansberg-kontrei is dit toegejuig. Iemand – ironies genoeg, ‘n “blerrie Rooinek-toergids”, in die knipoog-woorde van ‘n vriend, Manie Eloff – het uiteindelik die waarheid uitgegrawe. Ook vir hierdie afstammeling van Boerestryders in die Vrystaat (my Oupa Visser was krygsgevangene op Ceylon) het Leach ‘n gordyn weggeskuif

Die skrikbewind van die Bushveldt Carbineers was voorheen aan my net vaagweg bekend. So vaag, ek was onder die indruk die naam Morant word Meurant gespel. Die naam Peter Handcock sou geen klok lui nie. Toe bring die “Rooinek” ook vir die Boer broodnodige insig. Die nare geskiedenis is in sy geheue gekerf.
Terug by die vraag of iemand werklik so afskuwelik kan wees. Wel, ons vriend Harry Morant was. Hy was selfs afskuweliker as Swannell. En hy was van vlees en bloed. So realisties soos die modder en bloed van oorlog. Die simboliese Swannell se karakter word juis deur Morant se wandade geloofwaardigheid gegee, glo ek.

Dalk moet die talentvolle Sean Else en sy span voorslag-fliekmakers vir ‘n “Modder en Bloed Merk II” Breaker se storie in ‘n draaiboek omskep. Geen erkenning word gevra vir die wenk nie. Miskien net aan die einde op die skerm flits dat hulle die idée op 23 April 2016 in By gekry het!