Jy blaai in die argief vir hennie vn deventer.

STORIE WAT DIE TERT VAT

November 6, 2017 in Uncategorized

Wanneer Volksblad-veterane van vorige dekades die naweek in Bloemfontein saamtrek, gaan sekerlik goed nostalgies geraak word. ‘n Traantjie of twee sal dalk op ‘n wang verskyn. Die klomp gaan ook lekker lag – dis gewis.

As ek moet raai, sou ek reken van die luimigste anekdotes in tafelgesprekke in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum waarskynlik sal handel oor al die kleurryke karakters wat deur die jare op die koerant se betaalstaat was: salaries eccentrics, het Lord Thomson of Fleet joernaliste mos so ietwat neerbuigend genoem.

Een van die “salaried eccentrics” in my dae was fotograaf Willem van der Walt. Mooi Willem, het sommige hom genoem; Lelike Willem ander. Hoe ookal, Willem (Mooi of Lelik) of sou jy nooit kon beskuldig dat hy die toonbeeld van afgerondheid was nie.

Ek en hy was op ‘n keer op ‘n sending na Sasol. Verveeld deur my gesprek met ‘n paar Sasol-hoës, onderbreek hy uit die bloute met: “Haai, lyk hy nie vir julle ook nes ou sir De Villiers Graaff nie? ” Hy was nie die eerste wat ‘n beweerde ooreenkoms in voorkoms raakgesien het nie. In die parlementêre krieketspan in 1965 was sir Div bekend as Big Div en ek as Small Div.

‘n Asder keer het ons die Kovssie-tamboernnooientjies gaan afneem. Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”

Die Willem-storie vat die koek vat, is ‘n storie oor terte.

Hy en ‘n kollega is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling. Weer boei die gesprek Willem hoegenaamd nie.

“Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?”

Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!

(Uit: Scoops en Skandes, Tafelberg 1993)

KESE-KOEKEDOOR

Augustus 13, 2016 in Uncategorized

As jy kan lag met ‘n traan, is die omgekeerde seker ook moontlik – jy kan grens met ‘n grininik.

Laasgenoemde verskynsel is nogal eie aan Sabiepark. Eienaars sal wurgend vertel van hul jongste onplesierigheid met bobbejane. Net as jy voel om saam in trane uit te bars, breek die slagoffer se humorsin deur.

Diep sugte van pyn word dan opgevolg deur ‘n skouerophaling van gelatenheid en dalk ‘n spitsvondige kommentaartjie van berusting.

Nie alle lede van die spesie “homo sapiens” is ewe lankmoedig en genaakbaar nie. Dit verg ‘n pakket van deugde om byvoorbeeld nog ‘n lughartigheidjie te kan pleeg as die sekelsterte jou domein binnedring, al jou breekgoed (en nog ‘n paar onbreekbaarhede op die koop toe) breek, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn vlek, jou biltong uit jou bakkie skaai, ‘n gat deur jou grasdak dolwe, onder jou duvet inkruip en jou bed omskep in ‘n ablusieblok (‘n vorige blog: Kees in die kooi) of in bloedige somerweer in jou swembadjie kom afkoel – ‘n morsigheid as jy ooit een gesien het.

Die uwe moet bely hy sukkel om in sulke tergende situasies selfbeheersing te behou. Hy bewonder vriende soos Kapous Mouton van “Vreklekker” hier hoër op in Wildevystraat wat in die beproewendste omstandighede met ‘n berustende “ag nou-ja” kan reageer.

Kapous se peperduur nuwe bril is vir ‘n wyle onbewaak op die stoep gelaat. Dit was die laaste sien. Luide “boggems” van oral om die huis het die geheim verklap.

“Ag nou ja”, was Kapous se lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy “Beeld” beter te lees.

Skaars twee maande later was Kapous en Leonora die slagoffers van ‘n klassieke bobbejaan-inval op soek na kos. Elke kas word dan oopgeruk. Agterna is die vloere besaai met stukkende eiers, pap papaja, meel, suiker, koekies, kookolie, verskeurde plastiek en wat nog – natuurlik gemeng met die eie uitwerpsels wat blykbaar deur die stimulasie van sulke vandalisme tienvoudig geaktiveer word.

Net een blik beskuit is die Moutons gespaar. Die deksel was toegeplak. Dit was vyf uur lank se rugbreektaak om orde te skep.

In die Sabiepark-Nuusbrief het Kapous in kleur en geur van die wedervaring vertel . Veral twee opmerkings was vir hierdie leser nogal verrassend.

Vir eers vertel die ou vriend hoe hy in sy geestesoog kon sien hoe ‘n jong knaap ‘n sakkie met mielies gryp. Dan word hy deur ‘n ander gejaag om ook te deel in die fees. Mielies spat in elke rigting.

Maar dan die kersie op die koek: “Ons het die dag maar beskou as ‘n welwillendheidsdag, en uitgereik na ons bosbure wat seker die eerste reg het op die bos. “Lank lewe die bobbejane!”

“Lank lewe die bobbejane” – verbeel jou! Ek gryp sommer die naaste skietding.

Nog iemand met Kapous-inklinasies (grens met ‘n grinnik) is klaarblyklik ds.Theo Danzfuss van Muduni Lodge. Hy vertel op Sabiepark se Facebookblad van ‘n kese-Koekedoor met ‘n kinkel:

“So ‘n tydjie gelede was daar ongeveer 21 bobbejane gelyktydig (yslike groot mannetjies ingesluit) binne in ons huis se woonkamer-kombui. Daar was nie ‘n enkele eier, vrug, koekie, beskuit ens wat hulle nie verslind het nie.

“Het probeer koek bak deur twee dosyn eiers met 5kg sakkie meel plus ‘n pak suiker gegeur met vars pap slap bobbejaanmis te meng. Voordat hulle die mengsel in die oond kon sit, het ek die vertrek binnegekom. Toe ek die kamer binnestorm en met my plakkies op mekaar slaan, het hulle so geskrik dat elkeen ‘n yslike hoop mis agterlaat (bo en behalwe dit wat reeds in hulle koekmengsel was) net waar hy gesit het.

“Onnodig om te sê dit het ons drie dae geneem om huis weer skoon te kry. Moes al die meubels uitdra, en alles met seep en Dettolwater was. Reuk was vir week lank nog in die huis.”

En die liewe dominee maak nog grappies oor ‘n koekresep van meel en bobbejaanmis!

Hy sluit darem af: “Gelukkig het ons skuifdeure voor en agter sodat hulle vinnig agter kon uitgaan toe ek voor inkom, want so klomp bobbejane wat vasgekeer is, is lewensgevaarlik.”

Op die waarskuwing seg ek sela.

HAPOOR STEEK VIR OUMA DOOD

April 22, 2016 in Uncategorized

1-Probus

Presies 50 jaar gelede, op 22 April 1966, om 14:25 steek die hoofsubredakteur van Die Volksblad ‘n Van Rijntjie op en kondig tevrede vir sy kollegas by die subtafel aan: Slag is gelewer. Kort nog een storie vir ‘n goeie voorblad.

Volgende oomblik: Hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het. Kom van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.

Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Ollie Olwagen – die voorslag van ‘n eerste sub aan my regterkant. Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.

Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.

Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.

Ollie, ‘n man van vele talente, later ‘n groot gees by Huisgenoot, het oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot …. In ligsinnige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos diá aangehef.

HvD, Paul Marais en Ollie sing Ollieliedjjies.

HvD, Paul Marais en Ollie sing Ollieliedjjies.

Vanoggend in Die Burger se rubriek “50 jaar gelede” het die Hapoorstorie aan die orde gekom. Dit het my gedagtes op daardie olifantstpore teruggelei.

Die Hapoordam in Addo kry natuurlik sy naam by die legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers en met die Ouma-insident sy naam onuitwisbaar in Addo-folklore ingegrif het. Dit is nou my gunsteling-watergat in Addo, ‘n heerlike olifant-verspiedplek in ‘n park waar die olifante wemel.

Op ons laaste besoek, in 2011, het Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete by die Hapoordam getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto’s hierbo is van groepies wat daar gedrink het. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.

Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.

Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n kinderboekie, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou. Die boek deur Cecilia Olivier en E. Stoffberg het in 1967 by Voortrekkerpers verskyn.