Jy blaai in die argief vir hennie vandeventer.

MANNE EN DIE “KWIENS”

Oktober 17, 2017 in Uncategorized

Mej. Wereld van 1990 toring oor die Van Deventers, Hennie en Tokkie.

Dis mos maar van ons mansmense: spog graag oor die mooi meisies wat ons pad gekruis het, en dik meermale nog so ‘n bietjie aan ook. Sing graag, soos Julio Iglesias met sy fluweelstem, van “all the girls I loved before”.

My storie vandag is, helaas,ietwat minder romanties. ‘n Mededeling van oud-Volksbladkollega André Louw uit Riversdal oor sy ontmoeting met ‘n Mej. Wêreld so 50 en ‘n iets jaar gelede jaag my egter geheuebank toe. Ek het immers darem ook ‘n storietjie of twee oor my en die “kwiens”.

Eers André se storie. Hy vertel:

“Peet Simonis (senior verslaggewer) – was my mentor, maar hy het Mej Wêreld van my afgevry.

“Dit was my opdrag direk van Oom Gert Terblanche (nuusredakteur) af om Lesley Langley met haar besoek aan Bloemfontein op te pas. Peet was vrek jaloers en het gesorg dat hy as my senior die ganse tyd ook by is. Uiteindelik het hy haar gevra of hy haar kan soen en n storie daaroor skryf. Sy was heel gewillig en die storie was op die voorblad, as ek reg onthou. ”

My geheue is nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.

Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.

In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder. Die opskrif by die rubriek was: “Verkeerde vriende het Anneline verlei.” Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.

In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa. In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: “To the master of ceremonies, Gina.”

Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?

NASKRIF: Kollega Johan van Wyk het ook ‘n herinnering aan Anneline. Sy het as ‘n bloedjong Mej. Wêreld Bloemfontein besoek en hy, ‘n galante heer soos min, het by ‘n Boet troskie-ete met haar gedans. Klaar gewals, sê sy vir hom: “Dankie oom, dit was lekker.”

Daarvandaan kom dit dat hy altyd in sy rubriek Stop van Myne na homelf verwys het as “oom”.

LAATOES UIT MELKBOS

Junie 19, 2017 in Uncategorized

Scoops en skandes – my eerste boek. 24 jaar later kom nou die laaste, Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman..

Douvoordag more as die Kaap nog net begin ontwaak, sal ek en Tokkie op pad wees van Melkbos af lughawe toe. As alles reg verloop, sit ons more-aand by ‘n vuurtjie in Sabiepark. ‘n Vakansie van amper drie maande wag, so plus-minus al ons 50ste vandat Tarlehoet einde 1997 in ons lewens gekom het.

Natuurlik sien ons geweldig uit na die vreugdes van die bos: elke dag se verrassings rondom die huis; sebras se besoeke aan ons watergat; die sy aan sy leef met die natuur in hierdie repie ongerepte Afrika naas die Krugerhek van die wildtuin en die Sabierivier. Ons sien uit na die spesiale ervarings wat maar elke keer opduik en elke bosvakansie as ‘t ware definieer.

Tog kom vanjaar ‘n element in die prentjie wat ons vakansie ietwat anders gaan maak. Die uwe gaan die almanak dophou en selfs die slapies tel. Hy gaan begin haastig raak.

Sê nou weer? Ja, julle het reg gehoor. Die haastigheid het darem ‘n goeie verklaring. Kom September, kom ‘n “laatoesie” van die uwe uit die land – of die wingerd, as jy wil: die uitgewer Naledi publiseer van die 76-jarige ‘n boek wat op hierdie rype ouderdom seker sy laaste sal wees: Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman. Brand ek nie om weer ná ‘n lang onderbreking ‘n boek vars van die pers in my hande te hou nie!

Oor die titel is lank gedink. Laatoes het gewen, en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) se woordomskrywing het sowat die deurslag gegee. ‘n Laatoes is, volgens die WAT, vereers ‘n oes wat lank op die land staan en laat in die seisoen ingesamel word. Wat seker in hierdie geval met die HvD-oesie gebeur. ‘n Tweede betekenis is ‘n laatoeswyntjie uit die wynkamer. Hoop maar daar sal lesers wees vir wie Laatoes so ‘n behaaglike leesplesier bring soos ‘n glasie vrugtige laatoes.

Die “kanniedood-koerantman” in die subtitel sal seker nie ‘n verrassing wees vir mense wat Van Deventer ken nie. Kollegas het my inBloemfontein ‘n “kompulsiewe” koerantman genoem weens my “passievolle drif”. Ek glo hulle sal maklik van “kompulsief” tot “kanniedood” kan vorder weens my uithou en aanhou vir soveel jare al.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur in die Perssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek ná ses jaar weg van skryf. Soos Sabiepark ekstra genot tot my 20 jaar as afgetredene bygedra het – en bootvaarte! – het die terugkeer tot my eerste liefde, skryf, ook elke dag vir my waarde toegevoeg.

Skryf, skryf, skryf nie net in my blogs en op my eie webblaaie nie. Nie net enkele boekies nie. Maar in die drie Afrikaanse dagblaaie en in Rapport, in tydskrifte soos Huisgenoot, Sawubona en By, ook op Litnet, Netwerk24 en sy eie webblaaie. Uit hierdie laatoes van my is die versameling in die bundel geput.

Van begrafnisse tot feeste; van herdenkings tot bekendstellings; van humor tot ernstige besinnings kom in die versameling aan die bod.

Louis Esterhuizen, tekspraktisyn van Stellenbosch, wys daarop dat dit my in my lewe en loopbaan geluk het om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Oor baie wat ek oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken het; skryf ek in Laatoes. Mense is die oorheersende tema, dan die koerantwese, die natuur, persoonlike dinge – ook my skool- en studentejare – kerk en sport.

Geleentheidstukke is uiteenlopend: van die 50ste herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd tot die 30ste herdenking van Gerrie Coetzee se verowering van die wêreld-swaargewigbokstitel. Ek waag my hand selfs aan rugby. Wonder wat my sportskrywer-kollegas daaroor sal sê!

Ten slotte: maak seblief ‘n merkie op die almanak by September en volg Nataniel se raad een keer: koop tog maar daardie “blerrie boek”!

* Volgende blog kom uit Sabiepark.