Jy blaai in die argief vir hennie van deventer.

ONS EIE MOSTERDSAADJIE

November 23, 2017 in Uncategorized

Die gastehuis Komweer in De Jagerstraat, Fichardtpark.

In die Evangelies van Mattheus, Markus en Lukas lees ons van die wonderbaarlike mosterdsaadjie. Nietige saadjie soos dit is, word dit ‘n boom met takke waarin die voëls van die hemel kom nes maak.

Van so ‘n mosterdsaadjie wil ek vandag vertel. Dit is die een waaruit die Volksblad-saamtrek van veterane van twee weke gegroei het. Uit elke windrigting het hulle as ‘t ware in die takke van die boom in Bloemfontein kom nes maak.

Die saadjie was die verskyning op my skerm van ‘n foto wat nie vir my bedoel was nie. Sarel Venter, kollega en vriend van baie jare, het dit en ‘n paar ander in hul huis in Fichardtpark, Bloemfontein, geneem om hul verre kinders in Adelaide, Australië, aan hul ouerhuis te herinner.

Hoekie van die sitkamer.

Toe hy die stuurknoppie op die rekenaar druk, beland dit onverklaarbaar, op digitale kronkelweë wat vir ons generasie se mense vreemd en onverklaarbaar is, ook in die uwe se in-mandjie.

Ek maak ‘n foto oop, herken die omgewing dadelik, en laat weet vir Sarel: “Ek ken daardie plek.” Sy e-pos kom terug: ja, dit is die Venters se sitkamer; “Kom kuier”. Ek, nie links nie: “Wat van ‘n saamtrekkie in Bloemfontein? Ek sal ry.”

Toe ek weer sien, begin die e-posse heen en weer vlieg.

Uiteindelik is 60 plekke op Saterdag 11 November in die Santa Ferestaurant by die Oorlogmuseum gedek. Die Vrydag het ons al begin kuier met ‘n tee (en ‘n glasie vonkelwyn) by Volksblad. Die oudste onder ons was Oom Gert Terblanche (95). Daar was ook kollegas van in die 80. Ons “jongklomp” van in die 70 was volop.

Sarel en Liesbeth Venter.

Die Van Deventers was so bevoorreg dat ons nie net weer met die gasvrye Venters se sitkamer kennis gemaak het nie. Ons was soos konings in die hoof-suite van hul gesellige en gewilde gastehuis in De Jagerstraat, Komweer. Ons het aangesit aan hul gulle tafel. Sarel, Liesbeth en hul jongste dogter Mart-Marie het ons van ‘n kant af bederf.

Die Vrydagaand het die hoofredaksie van my tyd (en ook in die termyn van my opvolger, Johan de Wet), saam in die tuin en om die lang tafel op een van die stoepe van Komweer gekuier.

Die lang tafel op die stoep.

Toe ek die eerste keer vir Sarel laat weet “ek sal ry”, het ek klein gedink: net in terme van so ‘n intieme saamtrekkie soos dié van die Vrydagaand. Maar Sarel het “skouers oopgemaak” (my uitdrukking van destyds om oor te dra dat ons op die voorblad van ons koerant ‘n groot storie moet hard slaan.)

Ongelukkig het ek vergeet met hoeveel veterane Sarel kontak gehad het. Dit was baie. ‘n Klomp sou wat wou gee om ook daar te wees. Afstand, omstandighede, ander verpligtinge en – helaas – ook ouderdom het hulle gestuit.
Maar die mosterdsaadjie het inderdaad geil gegroei. Om in sy takke te vertoef en twee dae in sy koelte deur te bring, was verkwiklik. Dankie, Sarel en Liesbeth.

(Kontakbesonderhede: 051 522 3778, selfoon 083 7090 684, faks: 0866708251 of e-pos: ventersg@mweb.co.za)
Deel dit:

WAAR DIE KOPER BLINK

November 20, 2017 in Uncategorized

Juweel van die Groot Karoo.

Die plek waar die koper altyd blink. So het ek die Krugerwildtuin leer ken. Vandag is dit – na my kennis – eintlik net die Nasionale Karoopark, 12 kilometer van Beaufort-Wes in die hartjie van die Groot Karoo, wat die tradisie voortsit.

Die Karoopark is ‘n juweel in vele opsigte; die harde, ruwe landskap wat prentjiemooi in sagte pastelkleure oorgaan in die laat namiddag; die karaktervolle gewelhuisies; die fassinerende diversiteit van wildlewe, vriendelike personeel wat so mooi Afrikaans praat, die heerlike ontbyte in ‘n deftige eetkamer wat by die tarief ingsluit is. Noem maar op.

Wat waarlik tref, is hoe die krane, ook die brandkrane, in die sonlig skitter. Ook nêrens anders het ek al ‘n gedenkplaat gesien wat so van gereelde versorging getuig nie. Die oomblik as jy by die hoofgebou stilhou, sien jy die glinsterende koperplaat wat op 12 September 1979 deur pres. P.W. Botha onthul is, en ‘n ewe eksieperfeksie brandkraan met een oogoplag.

Aan die feit dat die enorme park die romantiese wegloperleeu Sylvester se tuiste was, word die besoeker op vele maniere herinner. Maar Sylvester behoort tot die verlede tyd; die blink koper – ook die ornamente in die sitkamer – is nog altyd deel van die park se allure. Mag dit altyd ‘n kenmerk bly.

Op ‘n reis na Bloemfontein het ons in die Karoopark oornag; ‘n bietjie te naby aan Kaapstad, ongelukkig, en nog ‘n bietjie te ver van Bloemfontein. Daardie ekstra uurtjie of twee wat jy aan die einde van jou eerste dag op die pad oor het, is egter oor en oor die moeite werd; veral die genotvolle ritte deur die wildryke Lammertjiesleegte (gemsbokke gesien!) en die indrukwekkende Klipspringerspas. Ook die rondkyk in die fossielpark.

Buitendien: hier in die Karoopark wil ‘n mens vroeg jou vuurtjie aansteek. Salig om op jou stoep met ‘n glasie koue wit die sonnetjie op sy geleidelike afwaartse koers te volg en die donker die Nuweveldberge te sien bekruip. Die verskuiwing va die buite-braairoosters stoep toe was ‘n blink ingewing, mense!

Jong groen wingerde.

Vroeër die dag was die Hexriviervallei ‘n fees vir die oog. Ry hom in die herfstyd, hoor jy dikwels. Kan my die kleureskouspel indink. Maar ry hom ook in die helder sonskyn op ‘n Novemberdag as die skilderagtige lappe, lappe wingerd tot doer teen die berge in hul malse jong groen skitter. Jammer oor die informele nedersettings wat weliswaar die prentjie iets bederf, maar daaraan moet ‘n mens maar gewoond raak. Ook jammer dat aftrekplekkies so skaars is. Om elke draai wag ‘n nuwe stukkie skoonheid wat jou na jou kamera wil laat gryp.

Op dag twee van die reis is dit die geel grasvlaktes tussen die donker koppies oral langs die pad tussen Richmond en Colesberg wat die reisiger bekoor. Dan steek jy Colesberg verby. Die laaste skof van 235 kilometer na Bloemfontein breek aan: jou heimat vir twee skofte van 12 jaar elk. Aan die een kant raak jy al hoe haastiger om by jou bestemming te kom; aan die ander wil jy stadig ry en die eiesoortige, oop Suid-Vrystaatse landskap indrink.

Naby Bethulie (Foto: Francois Lotter).

Die padbordjies kom en gaan: Springfontein, die Gariepdam, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Tierpoort (die nuwe politiek korrekte naam) vir kollega Johan van Wyk se ou “Republiek”… elkeen ken ek op ‘n manier, elkeen dra ‘n herinnering, kleiner of groter.

Toe die tuiskoms! Oor die verrukliklike naweek in Bloemfontein het ek voorheen verslag gedoen.

Al wat van die nostalgiese besoek oorgebly het, was die 1 010 kilometer teerpad terug Melkbos toe. Dit ek en ek en Tokkie Maandagoggend om 04:10 aangedurf. Ons het min gestop en ook net vir kort rukkies. Ons het ‘n konstante snelheid gehandhaaf, een oog altyd op die snelheidsmeter. Om 14:20 het ons voor Penguin Place 11 se motohuis stilgehou. Goed gery, het ons vir mekaar gesê.

Hoe bly is ek nie ons het nie die onpersoonlike vliegtuig-opsie gekies nie.

OP TOKKIE SE SPORE

November 18, 2017 in Uncategorized

Hertzogstraat 5.

Amper so warm soos op 31 Desember 1966, ons troudag. So het Bultfontein Sondag 12 November vir ons gevoel. Ons het op Tokkie se spore gaan loop.

Eerste stop op die dorp was dan ook Hertzogstraat 5, jarelange tuiste oorkant die kerk van Tokkie, haar ouer broer, Fanie, en hul legendariese weduwee-ma vir wie almal lief was, “Tannie Marietjie”. In daardie huisie het Tokkie by lamplig of ‘n kers in ‘n emaljeblaker geleer vir matriek in 1963. Die voorhuisie is oorheers deur haar klavier: ‘n Zimmerman. Daarop was sy ‘n klein virtuoos.

By die draad-voorhekkie van die huisie wat intussen taamlik verslete geraak het, het ek Tokkie afgeneem. Dis die hekkie waardeur sy, ‘n brose 20 jaar oud, op haar troudag na die troukar, ‘n boer se Mercedes, gestap het – trourok versigtig opgelig dat die wit soom nie in die rooi Vrystaatse stof sleep nie. Die voordeur van die huis is intussen verskuif.

In die agterplaas, naby die agterdeur, staan ‘n sering wat ek goed onthou. Onder die boom, wat in die vyf dekades sedertdien mooi lyf gekry het, het ons op die voooraand van die bevestiging in die eg braaivleis en waatlemoen geëet. Fanie was die voorslag-braaier. Ná ete het ons vroeg gaan inkruip – ek in die spaarkamer van die buurtannie.

Kerktrappies.

Ons tweede besoekpunt was die kerk oorkant die straat waar die band 51 jaar gelede deur my neef, ds. Bertus du Plessis, gesmee is. Hy is later APK toe. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n stewige siersteengebou met ‘n hoë toring. As aflos-orrelis was Tokkie dikwels in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Ek het my vrou afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het.

Op die parkeerterrein was Sondag teen 12:00 net soveel, dalk selfs meer, motors as op daardie snikhete oujaarsdag by die troue van die Bloemfonteinse koerantman met een van Bultfontein se geliefde dogters. Die rede vir die baie motors het ons verneem by ‘n lidmaat wat in sy bakkie iets kom haal het. Dit was die gereelde gemeente-ete. Op die spyskaart was vis. Die Bultfonteiner – wat vir “Tannie Marietjie”onthou – het net geglimlag toe die Kapenaar met die CA-nommer hom vra hoekom dan nie liewer skaapvleis as vis nie.

Pa se graf.

Oorkant die kerk is die ou begraafplaas. Die plek is pas geskoffel maar lyk nogtans taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak. Sonder te veel moeite spoor Tokkie haar vroeg gestorwe pa, Kotie, se graf op. Dis hy wat haar die bynaam Tokkelossie gegee het, omdat sy so ‘n kortetjie was. Die granietsteen staan genadiglik nog stewig. Op die graf het ‘n jarelange vriendin, eintlik ‘n soort semi-sussie, Pepsi (Drienie) Maritz, ‘n mooi steentjie na die dood van “Tannie Marietjie” op die verre Melkbos op ‘n bed van wit klippies laat aanbring. Pepsi se ouers was boere, en sy het maar so saam met Tokkie in Hertzogstraat 5 grootgeword. Die steentjie is ‘n replika van die een op die nissie by die NG kerk Melkbos.

Ek neem Tokkie by die graf af sodat ‘n mens op albei stene die name kan lees. Daarna gaan soek ons na haar oupa en ouma Van Wyk se grafte. Van haar ouma Van Wyk het sy die naam Susara gekry: Gesina (wat van die Roux’s af kom) Susara. Ouma Roux is begrawe in die “nuwe” begraafplaas aan die Bloemfonteinpad. Om langs daardie besige pad te gaan rus, was ‘n gedagte wat skoonma niks aangestaan het nie!

Die skool.

Tokkie word voorts afgeneem by die groot naambord van die Hoërskool Bultfontein, wat in 1881 gestig is. So lees ek op die bord. In haar tyd was die skool ‘n klipgebou. Van die klipmure steek net hier en daar ‘n stukkie uit tussen die siersteenstrukture wat later bygevoeg is. In die saal, waar Tokkie ‘n geesdriftige volkspeler was – veral versot op die “galop”- het destyds kosbare skilderye gehang, o.m. van Pierneef en Maggie Laubser. Die saal se deur het sommer dag en nag oopgestaan. Ander tye gewees!

Wat opval, is die netjiese skool- en sportterrein. Ek sien nie die plate duwweltjies wat, volgens oorlewering, daarvoor verantwoordelik was dat Fanie so vinnig kon hardloop nie. Hy was die SA onder-19-kampioen in die 440. Die dorp het dalk aan ander fronte agteruitgegaan – van die state is die ene liederlike slaggate – maar die skool bly ‘n sieraad waarop die gemeenskap trots is. Die boere steek hand uit die mou en hand in die beursie om dit so te hou.

Saam met Pepsi (Drienie).

Ons laaste besoek van die kort kuiertjie is by Pepsi se huis in Stofbergstraat teenaan die Ooskerk. Die dorp het minstens drie groot kerke: twee NG en een Gereformeerd. Pepsi het pas afskeid geneem van matriekmaats wat 50 jaar gelede saam met haar in matriek was. Dit was hul reünienaweek. ‘n Bonus van die reünie vir ons is die bordjie heerlike eetgoed wat saam met die koffie voorgesit word.

Die vrou is op haar stukke. Die kwinkslae rol oor haar lippe en haar gul lag weerklink kort-kort. Danksy haar stories – o.m. oor hoe haar tone in ‘n Duitse jacuzzi aan ‘n Duitser se broek gehaak het – groet ons Bultfontein op ‘n vrolike noot; dalk vir oulaas.

‘N NAWEEK IN BLOEMFONTEIN

November 15, 2017 in Uncategorized


Tokkie en Oom Gert (Herman le Roux se foto).

Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.

Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad. Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.

Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.

By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang. Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is. Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.


Ek en Marlene by “Jan se boom”.

‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander. Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.

Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie. Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag. Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.

Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap. Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel. Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71). Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!

Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.
Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg. Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is. Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.

Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie. Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club … Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing. Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.


Tokkie en Meshack.

Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting. Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.

Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het) wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.

“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het. Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.

Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.

GEDAGTES OP GOUE VLEUELS

November 14, 2017 in Uncategorized

SEWE REDAKTEURS – HvD, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Ainsley Moos, Johanna van Eeden, Gert Coetzee (huidige redakteur).

As oudste lewende oud-redakteur van Volksblad (in chronologiese sin) was dit my voorreg om Saterdag by die veterane-saamtrek in Bloemfontein ‘n woordjie te spreek. Met “gedagtes op goue vleuels” het ek hulde gebring aan ONS koerant en ONS kollegas – waarop ons albei onverbloemd trots durf wees. Hier is ‘n uittreksel uit my toesprakie.

Ek vertel graag hoe ek in 1958 as vakansiewerker op Wiets Beukes se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis – in Sewende laan nogal, meen ek – met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak het.. Die simboliek het my later getref: dat my eerste wankelende treë in die joernalistiek ook vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit het: ‘n dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld. Op pad na Bloem luister ek Woensdag na Guiseppe Verdi se magtige koorwerk, Va Pensiero – Gedagtes op goue vleuels. Die simboliek in daardie titel is ewe treffend.

Vele herinneringe aan my eie Volksbladjare gee my gedagtes goue vleuels. Ek bly daaroor skryf en skryf en skryf. Dit is soos die ou M-net-klingel: “The magic continues”. Elkeen beleef vandag opnuut die Volksblad-“magic”, glo ek. Twee kern-elemente van daardie “macic” is (i) ons koerant en (ii) ons kollegas. Op albei kan ons onverbloemd trots wees.

Vir my bors uitstoot oor ons koerant ploeg ek met anderman se kalwers. Ek haak graag aan by drie aanhalings.

Nommer een is op die agterflap van die eeufeesboek, ‘n Lewe van sy eie: dat Volksblad (Die Volksblad, soos die meeste van ons hom geken het) vir derduisende mense ons koerant is, “want oor tien eeue (nou al 11) het Volksblad saam met sy lesers vir sy lesers en namens sy lesers gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, getwyfel, gefouteer, rigting aangedui – geleef.” Min koerante verdien so ‘n getuigskrif.

Nommer twee is die woorde van prof. Peter de Lange, oud-rektor van die RAU en voorsitter van ‘n organisasie wat sommige die horries gee. Sy woorde: “Ek ken geen ander koerant wat so na aan sy lesers leef nie.” Ja, tot in daardie verhewe (klandestiene!) kringe is ons koerant se unieke karakter raakgesien.

Nommer drie is ‘n versie deur Philip de Vos op die spykaart by die Kaapse viering van die Volksblad-eeufees: Maar – Volksblad/ Klim die hoogtes /Deur storms en deur droogtes /Deur oorloë, griep en Runderpes,/bied hy ‘n les vir al die res/en so gaan hy steeds aan en aan/ en hoop om lank nog te bestaan! ‘n Lang, vrugbare en voorspoedige voortbestaan word ons liewe Volksblad seker deur elkeen van ons toegewens.

As ‘n oud-nuusredakteur besef ek “names make news”. Wanneer ek oor kollegas iets sê, gaan ek egter vermy om roem en prestasies by name uit te sonder – selfs van die beroemdstes; en ons het nogal ‘n paar beroemdes in ons geledere. Maar waar trek jy die streep?

Gaan ry maar rond in Langenhovenpark en kyk die straatname, stap deur biblioteke of boekwinkels, gaan lees Hansard – talryke mense wat voorheen op DV se betaalstaat was, is gesiene burgers. Pryswennende skrywers tel jy in dosyne.
Uit 80 se penne het glo al 950 boeke gevloei.

Van die boeke is topverkopers; vind jy prominent uitgestal op internasionale lughawens; word vertaal in dosyne tale; lê in haas elke kinderkamer. Ons skrywers se bydrae tot Afrikaans is ontsaglik. Een (amper paradoksaal, dalk die mees beskeie onder ons) het pas die gesogte en prestigeryke Jan H. Maraisprys verower vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Party kollegas het ver paaie gaan loop – ver-ver buite die Vrystaat, en selfs SA. Gaan soek in Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, België, Afrika – jy sal iemand raakloop wat in Voortrekkkerstraat 79 gewerk het.

‘n Stewige gerf het hul vleuels buite die joernalistiek gesprei. Herman le Roux het vir my ‘n “moerse” lys (sy woorde) gemaak van doktore, professore en ander kokkedore. Daar is parlementslede, prokureurs, boere, offisiere, uitsaaibase, sakelui en bedryfsleiers, skoolhoofde, sielkundiges, kommunikasieghoeroes, spyseniers, ‘n predikant, ‘n narkotiseur, ‘n sepie-akteur, ‘n “Bybelsmokkelaar” (soos hy homself noem), ‘n landdros, een wat die sokker-wêreldbeker help reël het, ‘n “toekomskundige” ….

Het enige joernaliste oorgebly? Inderdaad. In die perswese is Volksbladders se bydrae amper onmeetbaar. Vier Phil Weberwenners, 13 dagbladredakteurs, 15 ander redakteurs, verskeie sportredakteurs, voorste rubriekskrywers en hope sleutelmense kom uit Bloemfontein. Ook vele bekroondes met Veertjies en wat nog.

Vir ontstellend baie van ons kollegas het die finale deadline reeds aangebreek. Saam met die teleks, die Speed-Graphics, die Remingtons, die Corona-Smiths en die kollekteeroproepe uit afgeleefde telefoonhokkies is hulle heen. Ons dink aan hulle met hartseer en dankbaarheid vir vrugbare lewens.
( Die sewe redakteurs van die koerant sedert 1980 was die Vrydag byeen – ‘n geskiedkundige oomblik in die koerante-annale. )

Deel dit:
FacebookTwitterGoogle+PinterestShare

GELUK, PROF. CHRIS!

November 8, 2017 in Uncategorized

Prof. Chris Barnard sou vandag 95 jaar oud gewees het. Oor minder as ‘n maand word sy eerste hartoorplanting gedenk – op 3 Desember 1967 in die Groote Schuurhospitaal in Kaapstad. So amper was dit ‘n 45ste verjaardaggeskenk aan homself. Oor die hartoorplanting skryf ek in “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Hier is ‘n uittreksel.

WEDEROM, PROF. CHRIS!

By ‘n besoek aan die Hartmuseum sowat 50 jaar ná die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967.
*
Suid-Afrika moet deesdae koes, sy ekonomie is “rommel”, en op die rugbyveld word die Groen en Goud opgefrommel. Amper oral gaan dit bra broekskeur. Dreigende donker wolke pak saam.

Ten minste op een belangrike gebied staan sake verfrissend anders, want geen Standard & Poor, Fitch of Moody’s kan die land se mediese “status” afgradeer nie; geen Nieu-Seelandse (of Japanse!) rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie.

‘n Verbluffende deurbraak vir die ganse mediese wetenskap – dit was prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting ter wêreld amper 50 jaar gelede op 3 Desember 1967. Prof. Barnard is wêreldwyd toegejuig en met vererings oorval. Sy roem leef voort; onder meer in die sierlike ou Groote Schuur-hospitaal se “Hart-van-Kaapstad”-museum.

‘n Besoek aan die museum in die indrukwekkende hospitaal met sy deftige koloniale ontwerp, swaar houtdeure en dik vensterrame, laat die hoogdrama van daardie mirakel in die nag van 2 tot 3 Desember 1967 in die naasliggende “Charles Saint”-teaters dinamies herleef.

Die boeiende toer van twee uur begin in die kamer waarheen die skenker, Denise Darvall (25) van Milnerton, op 2 Desember gebring is nadat sy op ‘n gesinsuitstappie saam met haar moeder, Myrtle, net ‘n entjie van die hospitaal in Hoofweg, Observatory, omgery is. ‘n Jaagduiwel het in die twee vroue ingeploeg toe hulle die straat oorsteek om by ‘n geliefkoosde bakkery ‘n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.

Myrtle, die moeder, is op slag gedood. Denise se lewe was aan ‘n draadjie. Sy is weens die slag 40 meter ver geslinger en haar kop het met ‘n geweldige slag die voorwiel van ‘n motor getref. Haar kop- en borsbeserings was ernstig. ‘n Ambulans met loeiende sirenes het met haar na Groote Schuur gejaag.

Enkele ure later, om 21:00 die aand van 2 Desember, het twee onafhanklike dokters haar breindood verklaar. Haar hartverskeurde vader het toestemming gegee dat haar organe vir oorplantings gebruik kon word.

Die laaste besoekpunt van die toer is twee buurteaters: die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag haar hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het (ook ‘n nier vir ‘n 10-jarige bruin seun, Jonathan van Wyk); die tweede waar die beroemde hartdokter self met pionier-chirurgie die swak, siek hart van die ontvanger, dr. Louis Washkansky (54), uit sy borskas verwyder en met die sterk, gesonde hart van die jong vrou vervang het.

Die middernagtelike operasie – waarmee haas ondenkbare mediese grense oorgesteek is – het vier en ‘n driekwart uur geduur.

Die dosyn of wat besoekers op die toer, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, gaan sit op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B vir mediese studente ingeruim is. Om die outentieke operasietafels staan die lewensgetroue beelde van die teaterspanne in hul uniforms om die pasiënt, of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien.

Die masjien was ‘n afskeidsgeskenk van die Universiteit van Minnesota waar Chris Barnard in die jare 50 onder leiding van twee pioniers in die hartsnykunde, Richard Varco en C. Walton Lillehei, die amper onmoontlike vermag het. Hy het sy Ph.D in twee jaar verwerf pleks van die gewone ses.

Alles lyk spookagtig werklik. Jy verbeel jou jy is ‘n toeskouer by die grootse gebeurtenis en jy hoor daardie eerste hartklop.

Almal was momenteel stomgeslaan toe dit gebeur, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo. Toe verbreek Christiaan Neethling Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte: “God, dit gaan werk!” Met daardie woorde het die sendelingseun van Beaufort-Wes die verwondering van al die spanlede verwoord.

Die geleide toer sluit verskeie ander besoekpunte in. Daar word o.m. by “prof. Barnard se kantoor” aangedoen. Die beroemde man in ‘n snyerspak sit agter die lessenaar, telefoon in die hand; só lewensgetrou hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom “goeie dag” te sê nie.

Die 54-jarige Washkansky het 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het. Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste oomblik sterk bly klop. In dieselfde hospitaalkamer waar die Kaapse kruidenier aangesterk het, kom ‘n beeld van die pasiënt half orent in die hospitaalbedjie. Sy regtervoet loer onder die laken uit. ‘n Slapbandkopie van Louis L’Amour lê oop op die beddeken in wat ‘n tipiese hospitaaltoneeltjie is.

Die museum se mure is nie net versier met honderde foto’s en geraamde koerantvoorblaaie wat die groot nuus onder banieropskrifte uitdawer (Die Burger, die Argus en die Cape Times) nie, maar ook met briewe van lof en kritiek; selfs van kinders. Een kind eggo sy pa se woorde dat hy “bokkerol” van prof. Barnard sou dink as hy na Amerika sou padgee.

Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte waaroor destyds vuurwarm gedebatteer was; oor die flambojante wêreldfiguur Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die onversadigbare genot van sy nuwe roem; oor sy liefde vir mooi vroue, oor sy drie egskeidings (Louwtjie, Barbara en Karin), asook sy eensame dood weens ‘n akute asma-aanval op 2 September 2001 in die ouderdom van 78 jaar, in Ciprus, Griekeland. Die geprese arts het heeltemal agtelosig sy asmapompie in sy hotelkamer gelos toe hy swembad toe gaan.

Aan die epiese stuk mediese geskiedenis het ek ‘n persoonlike herinnering. Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad* in Bloemfontein toe stories oor die eerste hartoorplanting per teleks van ons Kaapse susterskoerant, Die Burger, bly instroom. In ‘n meesleurende kopie uit die tikmasjien van Die Burger se hoofverslaggewer, Harry Shaw, het die ongelooflike storie voor my op die hoofsublessenaar ontvou.

Daardie oggend se se voorblad van Die Burger was skitterend. Ek dink ons in die verre Bloemfontein het self ‘n treffende voorblad gehad. Trouens, ek sou dit sonder skroom vir die museum wou aangebied het. Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.

Die vrypostige versie lui soos volg:

Ook maar mens, ook maar lus,
Met dié kort grafskrif,
Sê ons: tot siens, dr. Chris!

SO ONTHOU EK HULLE

November 3, 2017 in Uncategorized

Ons subtafel in die vroeë 60’s. Hoofsub is Jaap Steyn. By hom, staan Wiets Beukes. Dan sit ek (wat Jaap opgevolg het) en Willie Kühn.

UIT VOLKSBLAD VAN VRYDAG 3 NOVEMBER:

Oud-­Volksbladders van die afgelope dekades trek op 10 en 11 November in Bloemfontein vir ’ n reünie saam. Die koerant, sy sy mense en hul dinge word ook in herinnering geroep in ’ n nuwe boek deur oud-redakteur HENNIE VAN DEVENTER (1980 – 1992). Uittreksels verskyn hierby.

Bart Zaaiman, redakteur:

In die kantoor van die respektabele Oom Bart Zaaiman, oud-redakteur, is selde indien ooit sterk taal gebruik.

Op Vrydagaand 22 November 1963 het het uit Dallas, Texas, die skokstorie via Associated Press se kantore begin rol oor die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy. Ek was op kantoor, en gelukkig het die jongeling die teenwoordigheid van gees gehad om Oom Bart, toe senior assistent-redakteur, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” is al wat hy gesê het, en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend.

Die uwe het AP-kopie vertaal: Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Die konserwatiewe Oom Bart het egter afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is soos dit in die koerant gestaan het.

Wiets Beukes, assistent-redakteur en later redakteur van Die Burger:

Op ‘n nippertjie na 60 jaar gelede het ek, kartonkoffertjie in die hand, in die somervakansie van 1958 van Klerksdorp na Bloemfontein geryloop om my eerste van vele skofte vakansiewerk te verrig. Op Wiets Beukes, assistent-redakteur, se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis het ek met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak.

Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is: ‘n borrelende, dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld.

Die minsame vrygesel uit Brandfort was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het. Hy het my in sy silwer Borgward Isabella die redaksiekantoor gaan wys. Veral die teleksmasjiene, die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom, was betowerend. Vir my het die koerantman Wiets ‘n lewenslange rolmodel gebly

Johan van Wyk, skrywer van Stop van Myne:

Johan van Wyk het ‘n kwarteeu lank elke dag Stop van Myne geskryf; ‘n asemrowende 6 000 rubrieke of vier miljoen woorde. Die “Oom” het hy homself genoem. “Hoekom dan “Oom”? Van Wyk het ‘n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: “Dankie, oom. Dit was lekker.”

Johan van Wyk se rubrieke was deurspek met tussenwerpsels soos “hef ‘n siegret” of “hef a ding-dong day”. ‘n Keer het hy ‘n vername arts en politikus van die Konserwatiewe Party (KP) aangeraai: “Hef ‘n bedpan”. Dié het dit letterlik vertolk, sterk aanstoot geneem en diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelssprekende regter O. Galgut te oortuig daar word nie ‘n liggaamsfunksie bedoel nie; dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel. Aikôna. Daaraan wou sy edele nie byt nie.

Jan Scholtz, lid van die hoofredaksie:

In ons bostuiste in Sabiepark en op Melkbos is die balatenskap van die vakman-filosoof Jan Scholtz – – ‘n man met ‘n hartstog vir hout – ver van gering.

Op sy eerste besoek aan Sabiepark het jan vir my ‘n kierie uit sy werkwinkel saamgebring: ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat. Die handvatsel is ‘n ‘n gladde, skitterwit vlakvarktand. Van toe af is ek en my kierie in Sabiepark ‘n onskeibare tweemanskap. In my boshuis is ook ‘n sekelboslampie wat van sy vernuf getuig. Jan het vir die lampie sommer ‘n onopvallende weggooistompie uit my stapel braaihout herwin.

Sy skeppings sluit in ‘n koper-naamplaat van Die Volksblad se ou Albert-rolpers in ‘n ronde houtraam (soos ‘n outydse kollektebordjie) gemonteer, ‘n swaar houtknuppel en ‘n netjiese voorsittershamer.

Ek kon nie sy begrafnis bywoon weens Sabiepark se jaarvergadering. Die kierie is egter saam met my. Dit was my persoonlike klein huldebetuiging. Elke tree wat ek daardie naweek gegee het met die kierie was ‘n herinnering aan Jan en sy onsterflike liefde vir hout.

Piet Theron, lid van die hoofredaksie :

Piet Theron, ‘n studentemaat, was in Kollegetehuis op Tukkies bekend as “Piet Pyne” weens ‘n rits rugbybeserings. In 1999 het sy derde seun, Pieta, op skool ‘n knap rugbyspeler, ‘n ernstige epilepsielyer geword weens ‘n verbroude blindedermoperasie. Dit het aan Piet en Petro ‘n nuwe, veel dieper, betekenis aan daardie bynaam opgedwing. ‘n Pad van pyn het op hulle gewag.

My kollega het uit sy aftrede tot ekonomiese aktiwiteit teruggekeer deur, sonder enige ervaring, Pieta se sweisonderneming volledig oor te neem. Vir die oud-joernalis – self ‘n hartlyer – was die gee van kwotasies en geklouter op steiers met ‘n sweismasjien in sy hande ‘n wildvreemde uitdaging. Maar nood leer bid. Piet het op sy bulhond-manier vasgebyt en ‘n sukses daarvan gemaak.

Ben van Rensburg, bekroonde motorskrywer:

In die skitterende span subredakteurs by Volksblad in die 1960’s was Ben van Rensburg die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder. Van die ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy het onversetlik ‘n taalpuris gebly.

Een bynaam “Bennie Driepond”, het uit sy studentedae op Maties gekom. Tydgenote het hom so uniek soos ‘n driepondnoot geag. ‘n Ander was “Ben Wieletjies”. Dit verklap sy versotheid op motors. Hy het ‘n versameling speelmotortjies besit wat ‘n klein fortuin werd moet wees. In die 1960’s al het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie.


Fred Schnetler, bekroonde motorskrywer en lid van die hoofredaksie
:

Klein Fred Schnetler het verslaaf geraak aan motors nadat sy ouers hom vir sy vyfde verjaardag in 1939 ‘n stel van 12 Tootsietoy-modelkarretjies gegee het. Sy obsessie is gevoed deur ‘n onblusbare leeslus. Hy het ‘n ekspert oor veteraanmotors geword en onder meer ‘n deftige swart 1971 Packard met witwalwiele, sy gunstelingkar, gerestoureer.

Die oorsprong van Fred se liefde vir musiek is moeiliker naspeurbaar. y Hy het tydgenote gedurig verstom het met alles wat hy weet, van Beethoven tot Presley. Vriende het tot kort voor sy dood elk nog van hom op spesiale verjaardae ‘n uitsonderlike geskenk gekry: ‘n CD met musiek van sy of haar geboortejaar. Ek het vir my 70ste verjaarsdag in 2011 ene gekry met 1941 se onvergeetlike musiek wat te midde van al die troostelose ellende in die Tweede Wêreldoorlog geskep is. Dit is ‘n kleinood.

Pirow Bekker, hoofsubredakteur:

Pirow Bekker, oud-hoofsubredakteur, is in my oë die outeur van die beste koerantegedig in Afrikaans. Die tema van “Peins oor ‘n plakkaat is die daaglikse plakkaatskrywery in die kantoor van die senior assistent-redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman wat later lank redakteur was). Jy sien die rysige gestalte van Oom Bart sommer weer voor jou oë as jy Bekker se gedig lees.

Oom Bart is nie maklik tevrede gestel nie. Hy had allerlei voorwaardes oor wat mag en nie mag nie, hoewel hy tog ‘n slag wou waag met die korter woord “dienders” vir polisiemanne. Hy is daaroor deur sy ondergeskiktes geveto.

Oor fatsoenlikheid was hy die hoofwagter op die mure. ‘n Reël waaroor Oom Bart onverbiddelik was maar wat nie juis meer geld nie, veral nie by die wilder ponies nie: “Bly asseblief net bo die nael / op ons bladsy een …” Íets soos “kaalgat dominee” (op ‘n Son-plakkaat) sou hom stuipe gee.

Alf Ries, politieke beriggewer:

Vir Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het Alf Ries in my tyd veral vir een gedenkwaardige scoop gesorg. Die onverwagte verkiesing van ‘n nuwe NP-leier in die plek van PW Botha het in groot geheimhouding plaasgevind.

Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig van FW de Klerk se troonbestyging losgewikkel en daardie middag was dit die voorblad vol. Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Wynand Mouton, koerantverkoper:

Aan Wynand Mouton, rekor van die UV, dink ek graag as semi-“kollega” omdat sy eerste inkomste by Die Volksblad verdien is. Hy was een van die kranigste koerantverkopers. “Nantie se hoek” voor Cuthberts in Bloemfontein se Maitlandstraat was by almal bekend. Geen indringer sou dit daar waag nie.

Miskien is dit weens ‘n band wat in sy era koerantverkopertjie gesmee is, dat hy ‘n vriend van die koerant gebly het toe hy in die top-pos was. Dit kon nie altyd maklik gewees het nie, want die onbesonne streep in elke generasie se studente sorg soms vir sappige nuus. Miskien is dit ook as koerantverkopertjie dat hierdie onpretensieuse mens sy nederigheid geleer het.

As ek oor myself ietsie sou bysit, sou dit die volgende wees:

In die wêreld van die koerant leer ‘n mens allerlei fyn kunsies. Een is vernuftige voetwerk. Só vernuftig dat ek ná 35 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kon sê: Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ‘n raaisel. Nie dat daar nie ʼn paar near misses was nie!

ʼn Moerige setteryvoorman het ʼn moersleutel teen ‘n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig. By Beeld moes wyle Johan Parreira, ‘n bokser, een nag lyfwag speel: teen ʼn bladplakker met ʼn skerp mes in sy hand en moord in sy hart.

Later, in my redakteursdae, glo ek dat PW Botha my ná ‘n verbale aanslag graag fisiek te lyf sou wou gaan oor ‘n verwaanderige ope brief op die voorblad. My ongewaardeerde raad aan hom was dat ‘n afgetredene sy mond oor die politiek moet hou. Gelukkig het 800 km se telefoondraad Bloemfontein en George geskei!

OOK GEMOLESTEER

Oktober 27, 2017 in Uncategorized


Die illustrasie deur Fred Mouton kom uit my humorboekie Oos-Wes, Reismoles! (Human & Rousseau, 1998).

Die woordjie TE verswak dikwels ‘n goeie saak. Dit weet ons mos almal. Verskoon my, dames, maar die kampanje teen mans se aanstootlikhede raak vir hierdie ou man op Melkbos nou TE dik vir ‘n daalder.

Alle simpatie met slagoffers van seksuele molestering in sy verskillende vorme. Sal dit nooit geringskat of goedpraat nie. Maar te veel “slagoffers” spring nou op die wa met stories wat bra karig is.

Skielik onthou ek van die meisiekind wat in die nanag aan my hoteldeur in die Kaap kom klop het met die mededeling: ” I am in the room right next door”. Dan was daar die voorwaartse ene – in Rusland darem – wat my kamernommer gebel het met die inleidende vraag: “You have for me the cigarette?”

Vir my: ‘n kuise, middeljarige, gelukkig getroude man en vader van twee kinders; ouderling in die kerk en also!

Volgens sommige beswaarde vroue se definisies van die molestering wat hulle te beurt geval het, klink dit mos vir my of ek ‘n omgekeerde slagoffer was van hierdie nare maatskaplike verskynsel.

Mensig, die letsels sit seker nou nog aan my brose manlike psige.

Volgende keer – as daar ‘n volgende keer gaan wees – sal ek nie van skrik net bly stamel nie. Ek sal opstaan vir my regte. Watch my!

NOMMER TWEE

Oktober 24, 2017 in Uncategorized

Die liewe Vader behoed dit, maar kom ons veronderstel die gevreesde dag zero breek aan in Maart 2018 of selfs vroeër dat die damme dolleeg raak en die krane opdroog. Skakel ons dan maar net oor na winkelwater om te drink, byt vas en druk deur?

Helaas nie. Drinkwater is immers net een faset van ‘n wydvertakte krisis. Spoeltoilette is, by wyse van spreke, nommer twee op die lys. Winkel-oplossings daarvoor koop jy nie van die rak af nie.

As die rioolstelsel staan, dan staan dit met al die onuitspreeklike gevolge van ophoping, verstopping, verstikking, siektes en epidemies. Al gedink aan hoe supermarkte, winkels en sakesenstrums gaan funksioneer as hul toilette agter slot en grendel is? Geen gerief vir werker of klant. Grootskaalse sluiting van deure lyk na die voorland.

Wat die handel raak, raak mos elke liewe aspek van ons hele bestaan. Dink toeriste byvoorbeeld hulle sal maar net ‘n voorraad water kan saamry Kaap toe? Om waar te kom tuisgaan as hotels, gastehuise, familietuistes of eie vakansiehuise se toilette nie kan spoel nie?

Trek die lyn verder. Hoe sal skole kan oopbly as kinders die hele dag moet knyp? Hoe word bejaardes in tehuise versorg of pasiënte in hospitale? Hoe word brande in informele nedersettings geblus?

Klink miskien soos gruweltonele uit ‘n bangmaak-rolprent, maar al die ellendes kan werklikhede word as ‘n wonderwerk nie gebeur nie of noodplanne nie omvattend genoeg is en dringend genoeg deurgejaag word nie.

Trouens, volgens die gerespekteerde dr. Anthony Turton, voorsitter van Gurumanzi en vorige senior uitvoerende beampte by Bidvest SA Water, in ‘n goed nagevorste dokument bestaan heel resente Suid-Afrikaanse presedente van juis sulke “ondenkbaarhede”: In Port Shepstone moes ‘n skool al sy kinders huis toe stuur en ‘n hospitaal ander heenkomes vir sy pasiënte soek weens waternood; in Braamfontein het ‘n toringgebou verlede jaar afgebrand.

‘n Mens sidder om te dink dat ‘n swart dag kan aanbreek dat die Kaap hierdie selfde klippekoupad begin loop … en loop …en loop.

KORREL VIR KORREL

Oktober 20, 2017 in Uncategorized

Ek pluk as’t ware die stories uit die wingerde waardeur ek gewandel het. Die mooi uitdrukking kom uit die Soutpanbergse streekblad Die Zoutpansberger in ‘n netjiese resensie deur die redakteur Anton van Zyl van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” – die eerste oor “Laatoes” na my wete

Van Zyl skryf “Laatoes” is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet moet word. Hier volg sy resensie:

Veteraan-joernalis Hennie van Deventer se nuutste boek het pas verskyn en te midde van die dosyne staaltjies, is daar ook ‘n paar vertellinge vanuit die Soutpansberg.

Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood koerantman, is pas deur Naledi Uitgewers vrygestel. Dit is Van Deventer se 18de boek, wat volg op treffers soos Scoops en Skandes (1993), Kronieke van ‘n koerantman (1998), Mayafudi (2005) en Spore in die bos: Swerftog van ‘n olifant (2012).

In Laatoes pluk Van Deventer as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. Die staaltjies is nie noodwendig nuut nie, maar eerder ‘n vars vermengsel met Van Deventer se unieke vertelgeur.

Die boek begin met die hartseer van die dood van die “prins van syfermense”, Eric Wiese. Dié 81-jarige voormalige finansiële direkteur van Naspers is in Augustus vanjaar buite sy huis in Kaapstad vermoor. Dit is een van die persone wat ‘n lang pad saam met Van Deventer in sy joernalistieke loopbaan gestap het.

Van Deventer se oeuvre is egter nie smart nie, en die humor slaan telkens deur in sy beskrywing van mense en selfs die natuur. Sy liefde vir die wildtuin is reeds in verskeie van sy vorige boeke verklaar en in Laatoes kom kuier Sabiepark se luiperd weer. Die humor kom veral uit sy joernalis-dae en sluit ‘n erg amusante hoofstuk oor koerantopskrifte in. Selfs die politiek kom in oënskou, met terugblikke op Hendrik Verwoerd se dood in 1966 en die Soweto opstande tien jaar later.

Nader aan die Soutpansberg is dit egter die gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog wat hervertel word. Uit die boeke van plaaslike historikus Charles Leach ontdek hy weer die storie van konstabel Billy Eagle, die Kanadees-gebore polisieman wat in die Soutpansberg gestasioneer was. In September 1908 word hy tussen Messina en Pontdrif deur leeus oorval. Eagle slaag daarin om na ‘n epiese geveg met een van die leeus die dier dood te maak. Sy beserings was egter van so ‘n aard dat hy kort na sy aankoms by Elim hospitaal oorlede is.

Die rolprent Modder en Bloed is in April 2016 uitgereik en vertel die verhaal van die Bushveldt Carbinneers, onder leiding van Henry “Breaker” Morant en sy handperd, Peter Handcock. Van Deventer som die gruweldade wat teen die einde van die oorlog plaasgevind het pragtig op in die vier-bladsy hoofstuk.

Een van die “soetdruiwe” van Laatoes is sekerlik die hoofstuk wat handel oor John Murray, die Hertog van Atholl, wat vir die grootste deel van sy lewe op Haenertsburg in Limpopo gewoon het. Die 12de Hertog van Atholl is natuurlik sy seun, Bruce Murray, wat steeds op Louis Trichardt woon.

Van Deventer se boek is deels nostalgie, deels geskiedenis, maar grotendeels gaan dit oor menswees. Waar die humor deurslaan, is dit telkens met deernis. Dit is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet kan word, sonder dat daar ‘n volgorde voorgeskryf word oor hoe hierdie “laat oes” geniet moet word.

Laatoes is beskikbaar by die meeste boekwinkels. Dit kan ook direk bestel word by Naledi: http://naledi.online