Jy blaai in die argief vir hennie muller.

BITTER VAN VERLOOR

September 21, 2015 in Uncategorized

Die rugbygogga het my in 1951 gebyt. Ek was 10. In Durban het ek die Natal Daily News verslind vir nuus oor die Springbokproewe. Hendrik Scholtz Vosloo (Hennie Muller), vlieënde agtsteman, was my held. Daar was ook ander helde: Hansie Brewis, Tjol Lategan, Basie van Wyk, Jaap Bekker…

My hart, my lojaliteit en al my jeugdige persepsies van Suid-Afrikaanse onoorwinlikheid is saam met Basil Kenyon en sy span Groot Brittanje toe.

Elke oomblik van elke wedstryd op daardie toer, al 31, het ek voor die radio in ons huis, Botanic Grove 9, voor die radio ingedrink. Ai, wat ‘n genot was dit nie toe ons die arme Skotte met 44-0 op Murrayfield platloop. Onthou, ‘n drie het toe drie getel – nie vyf punte soos nou nie. Met die verloorders is gespot soos met die Springbokke nou.

Die toer-rekord was die allerbeste in die geskiedenis van Springbokrugby – 31 gespeel, 30 gewen, net een verloor.

Daardie verloor was in die tiende toerwedstryd op 10 November 1951 op Twickenham. Teen ‘n uitnodigingspan van die London Counties. Die minute het begin aftik vir die eindfluitjie om te blaas, toe is die Bokke nog 9 -11 agter.

Hierdie jong ondersteuner was rasend. Dis tog onmoontlik. Hoe kan my Bok-helde ooit aan die verloorkant wees! Toe dinge werklik begin reddeloos lyk, het ek wanhopig opgespring, by die voordeur uitgestorm en om die huis gehardloop.

Na die rondte om die huis , het ek gou weer gaan luister hoe sake staan. Daar was ‘n minuut oor. Die telling was steeds 9 – 11. Ek is ‘n tweede keer om die huis. Toe ek inkom. was die slag gelewer. Die Bokke het verloor. Die wenkaptein van die London Counties sou die tradisionele springbokkop ontvang as simbool van sy span se sege.

Saterdagaand wou ek weer om die huis hôl. Was dit werklik moontlik dat die Bok-span (met al sy gebreke en mankemente) teen die Japannertjies kan verloor? Nee, dis tog ondendenkbaar. Maar in die doodsnikke bly hulle op ons doellyn. Die bal skiet vleuel toe en hy rond af.

Francois Louw sit verslae op die groot skerm. Sy stroewe spanmaats se skouers hang. Het ek toe gehôl? Nee, ek het nie. Die ou bene is te stram vir sulke aksie. Ek het maar net stadig uit my stoel orent gekom en die laaste paar druppels uit my botteltjie chenin blanc geskud vir ‘n wrewelrige heildronk op die seëvierende Japanners.

Al is ek lankal van alle illusies van Bok-onoorwinlikheid gestroop, was die verslaenheid nie minder nie as 64 jaar gelede.