Jy blaai in die argief vir hennie bvan deventer.

KUIER-KRONIEK

November 30, 2015 in Uncategorized

1-IMG

Enkele inskrywings op 3 Januarie 1988. Een kom van Johann Strauss, buurman wat die boek geskenk het.

VIR Kersfees 1987 het ek by ons buurman Johann Strauss, oupa van Mej. Wereld, Rolene, ‘n besoekersboek present gekry. Johann was self ‘n besoekersboekman sonder weerga. As ‘n buurvrou gaan aanklop om, by wyse van spreke, ‘n koppietjie suiker te leen, moes sy gou eers skryf.

Op Nuwejaarsdag 1 Januarie 1988 het Tokkie se ma, Ouma Marietjie, die eerste mens geword wat in ons boek geskryf het. Haar adres was toe nog Louisehof, Bultfontein. Sy was 74. In 2013 is sy op amper 99 oorlede.

Vandag het ons omgeblaai na die laaste oop blad. Die boek is feitlik op sy einde. Tussen Ouma se eerste inskrywing en die jongste een, deur kollega George Louw – uitgewer, digter, dramaturg – en sy vrou, Dorette, van Bloubergstrand op 19 November 2015 is letterlik honderde der honderde ander name: kollegas, bure, vriende, familie, skool- en studentemaats, gaste by verjaardae en etes, kennisse. Eminentes en minder eminentes, tot uit Amerika.

Hoeveel al lang boompies toe is, wil ek nie eens begin om te bereken nie.

Ons boek is eerstens ‘n kuier-kroniek. Tweedens ‘n naslaanwerk. Wil jy weet wie was almal op die uwe se 50ste, draf net vinnig boek toe. As jy vinnig wil seker maak hoe spel die of daardie sy/haar naam, die boek bied die antwoord. Watter jaar was broer Christo hier uit Australië? Binne ‘n japtrap weet jy.

Ongelukkig was die ontvangers nie naastenby so stiptelik met hul present-besoekersbork soos die gewer met syne nie. Vele name wat daar moet gewees het, ontbreek. Eenvoudig vergeet om die boek uit te haal. Oupa Malan is een wie se naam nie daar is nie. Hy was op Kersfees 1987 die laaste keer by ons in Bloemfontein – toe al terminaal siek. Ouma Malan, my ma, het gelukkig wel later geskryf: eers op 3 Januarie 1991, my 50ste.

Opvallend kom party name nogal dikwels voor, onder andere dié van Johann en Elsie Strauss. Seker maar morele dwang ervaar om elke keer die boek op te diep as hy by die voor- of agterdeur instap! Hy het waarskynlik die eer verdien om eerste te skryf, maar hy moes vir sy kans wag tot 3 Januarie 1988, my verjaardag. Jammer, Johann.

Ander Bloemfonteinse bure soos Chris en Annette van Rensburg, nou van Kleinmond, tel ook onder die gereeldste besoekers. Ons vier geniet ‘n glasie vonkelwyn en kuier nog graag saam. Is juis die naweek weer op pad Kleinmond toe. En studentemaats soos Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai. Ek en Pierre –’n storieverteller soos min – ken mekaar van 1959 af. Was onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van Kollegetehuis se HK in 1962.

In hierdie kategorie is baie name . Kan onmoontlik nie almal noem nie. Maar elke besoek word ten seerste waardeer – des te meer wanneer dit goeie vriende was waarmee lekker om ‘n vuurtjie of langs die lang tafel in die eetkamer gekuier is.

In 1995 het die boek sy huidige Melkbos-adres gekry. Eerste name in die “Melkbos-afdeling” is dié van kollega Salie de Swardt en sy vrou, Lisa. Hulle is nou Stellenbossers maar was toe nog van Oranjezicht. Salie (SSdeS soos ek hom genoem het) was hoof van tydskrifte toe ek hoof van koerante was. Ons was ook in die 70’s by Beeld kollegas en goeie vriende.

1-IMG-001
Thabo se inskrywing. Let op die adres: Van der Merwestraat, Hillbrow.

Uit die blaaie ons boek skiet een naam na vore: Thabo Mbeki. Hy was op 18 Mei 1995 in Van Schoorstraat, Bloemfontein, ons etegas nadat hy, op my uitnodiging, Bloemfonteinse leiersfigure toegespreek het. Ons het mekaar in Maart 1988 by ‘n konferensie in Londen ontmoet. Vreemd genoeg, het die ANC-voorman en Afrikanerkoerantman van Bloemfontein dadelik ge-kliek. Het nogal goeie vriende geword … vir ‘n ruk.

Die AWB was daardie aand lastig. ‘n Polisie-Saracen het ons na my huis vergesel en op die sypaadjie voor die Strausse geparkeer. Het nogal ‘n opskudding in die buurt veroorsaak, veral by ‘n ander buurman, Wim Brummer, waar ‘n tienerparty in volle gang was. Hulle dag hul harde musiek het die polisie gelok.

Ná die ete het Thabo geskryf: “Very happy to have spent this short time in this happy home. Many thanks.” Vir ‘n latere huishulp in die Kaap, Lidia, wat Vrystaatse wortels en ‘n seun met ANC-konneksies gehad het, was dit te wonderlik vir woorde. Dit het “meneer” sommer ‘n nuwe status in haar oë gegee.

Thabo was verreweg nie ons enigste interessante “gas” met ‘n storie nie. In ‘n volgende blog (dalk blogs) blaai ek verder in die gasteboek rond.

“VERBODE” BOEK

Februarie 7, 2015 in Uncategorized

images
Wyle Andre P. Brink se wonderlike boek van die jare 60 Die Amabassadeur by ‘n vriendin present gekry. Was daardie tyd parlementere verslaggewer in die Kaap, en oor die Paasreses kom my ouers toe kuier – bring, op my versoek, die oulike Bultfonteinse nooi Tokkie van Wyk (nou mev. Tokkie van Deventer) saam. In die woonstel sien Ma die boek, blaai in hom en sien die inskrywing. Goeie moeder ag dit toe gerade om die boek liewer diep weg te steek – nie oor die skrywer of die verhaal nie maar oor die gewer.

 

Het die storie vanoggend n.a.v Brink se dood gister op ‘n vliegtuig op Facebook vertel, en bygevoeg: “As dit gehelp het om onnodige konflik te vermy, is ek dankbaar”.

Theo Venter kom daarop uit Potchefstroom met die volgende vorendag: : “Hennie, jy kan bly wees jou ma het Die  Ambassadeur nie gelees nie! “
Hoekom?
“Dit was my eerste boek in die vroeg sewentigs! Laat my dink aan my eie ouma wat ‘n Mills & Boon vir Kersfees kry op 97. Sy begin dadelik lees en so uur later met hele familie om haar vra sy haar twee skoondogters: “Wat is oral sex?” Chaos in familie en 100% onkunde! Ouma Venter is op 101 oorlede sonder dat iemand haar ooit geantwoord het!”
Kon die versoeking nie weerstaan om toe ook weer die storie van Tokkie en my Bloemfonteinse woonstelmaat Willie Kuhn op te haal nie.
Dit was 1966. Sy was ‘n splinternuwe onderwyseresse, vars uit Bultfontein.
Een aand wou sy in die kombuis van ons woonstel by Willie weet: “Wat beteken ballas?”
Sy het die “vreemde woord” die oggend uit die mond van een van haar standerd-een-seuntjies die eerste keer gehoor. Willie se skamerige maar diplomatiese antwoord: “Stel voor jy vra vir Hennie as julle eers getroud is”.

HOOG IN DIE ALPE

Oktober 19, 2014 in Uncategorized

didierKry uit die bloute hierdie sjarmante foto van ons Franse Balulevriende hoog in die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, Die Franse gesin het in Augustus in daardie primitiewe boskampie naby Olifants in die KNP oornag vriende geword met wie adresse uitgeruil is.

Hulle is Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7).

Hoe sal ek  vergeet van die pikante génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het? Hulle het dit self in die einste Alpe naby hul tuiste gepluk op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het.

Lees ook my blog van 3 September.

Hennie van Deventer se Blog » PLAISIR D’GENEPI, ENS

hennievandeventer.com/hvdblog/?p=6092

    • CachedSep 3, 2014 – Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel.