Jy blaai in die argief vir henni van deventer.

POTJIE MET VARKIES

Januarie 7, 2018 in Uncategorized

Botter sal nie in die twee slapende “skoonhede” se mond smelt nie – so onskuldig lyk hulle. Maar vanoggend vroeg by Tarlehoet was die twee Sabieparkertjies hoof-figure in petalje wat in ‘n taamlike moles kon ontaard het as skoondogter Mariza nie so vinnig met ‘n besem ingegryp het nie.

Die toneel was ons buitetoilet. Johan het die vertrekkie vroeg-vroeg gaan opsoek; met ‘n oop deur. ‘n Oopdeur-beleid t.o/v. buitetoilette is vry algemeen daar in die bos; ‘n mens kan sit en… peins terwyl jy dophou wat dalk verbystap. Toe Johan hom weer kom kry, stap ‘n vlakvarkie egter die beknopte ruimtetjie binne. En o wee, daar klap die deur agter hom toe!

Mariza hoor in die slaapkamer net ‘n benoude uitroep “Mariza, jy moet kom help!”. Toe sy om die hoek van die huis kom, staan die ander varkie voor die deur. Kos haar die besem gaan haal om hom weg te stoot. Toe sy die deur oopmaak, was Johan natuurlik gretig om buite te kom. Hy het vinnig die daad by die wens gevoeg.

Die twee vlakvarke was glad nie gretig om die “verowerde gebied” prys te gee nie. Hulle was vrek nuuskierig oor wat dan agter daardie deur gebeur. Maar ‘n vlakvarklyf kan ook net soveel opwinding op ‘n Sondag voor brekfis vat. Dit was nie lank nie toe strek albei hulle langs die huis uit en snork vir die eerstespan.

TWEE KLEIN KRUKKIES

Januarie 2, 2018 in Uncategorized

Verjaardag-wyntjie.

Die bekende spel Bingo is veral gewild by senior burgers. In die sogenaamde “Bingo Lingo” wat ingewydes in die bekende spel onder mekaar besig, is die getal 77 bekend as die “two little crutches.”

Synde self op die vooraand van my 77ste verjaardag more (Woensdag 3 Januarie) hoop ek maar die “krukke” slaan op die vorm van die 7’s – nie op voorspelde gevolge van die bereiking van so ‘n hoë ouderdom nie.

Hoë ouderdom is 77 inderdaad, lees ek. Op jou 77ste jaar steek jy as’ t ware die grens oor van “‘oud” tot “baie oud. Jy word ‘n Metusaleg. Jy voel aan jou bas al hoe meer die waarheid van skertsende woorde wat ek, nog onervare in sulke sake, jare tevore uit oneerbiedigheid oor die ouderdom gepleeg het (Uit Polisie, Polisie, Ons reënboog is geroof!):

“Elke denkbare kanaal, van nasaal tot urinal, raak verstop of skeef of krom, dis die kruis van ouderdom!”

Ander prikkelende feite oor ouderdom 77 is op Google beskikbaar. Voorbeeld: uit elke 100 00 geboortes leef 64 542 tot daardie ouderdom. Nogal ‘n gewigtige gedagte dat ‘n derde van die kalwers in jou hok al langboompies toe is.

Jy staan darem nie met jou een voet in die graf en die ander op die spreekwoordelike piesangskil nie – wel, nie noodwendig nie. Die lewensverwagting vir ‘n man van 77 is 9,7 teenoor 11,5 vir ‘n vrou. So beweer die mense wat statistieke van sulke sake hou.

‘n Ding kom my op die vooraand van die biezondere verjaardag oor wat ek maar moet verklap.

Ek en Tokkie gaan ry maar my selfoon is skoonveld. Oral gesoek, besluit ek ten einde raad om die selnommer op die landlyn te skakel. Skielik gaan die ding oorverdowend aan’t skel – in my hemp se bosak!

Jy word oud, Hennie, jy word oud!

Oud, bepaald. Van die begrip “stokoud” skram ek egter steeds doelbewus weg. Klink darem nie vleiend nie.

Laat ‘n mens nie te veel oor die onvermydelikheid van stygende jare en die implikasies daarvan tob nie. Konsentreer op die positiewe – dis ook die advies wat ek telkens van my vrou kry.

Altyd bly immers nog stof tot dankbaarheid oor.

Asof ek gerusstelling soek, gaan lees ek toe maar weer ‘n stukkie wysheid oor die ouderdom uit Yesler se operette “Der Lustige Ehemann” (die vrolike eggenoot). Wyle Fred Schnetler het dit op my 60ste vir my gestuur uit die Swartland waar hy afgetree het:

Fein, fein schmeckt uns der Wein wenn man zwanzig ist, und die Liebe.
Fein, fein schmeckt uns der Wein
Wenn man dreissig ist, und auch die Liebe.
Wenn man vierzig ist, man nog gerne kuesst
Sonders wenn man ein sparsam gewesen ist.
Doch wenn man aelter wird, und langsam kaelter wird,
Bleibt allein nur der Wein.

Die vernuftige Fred het dit so “overgeset”:

Fyn, fyn smaak ons die wyn as ‘n mens twintig is, en die liefde.
Fyn, fyn smaak ons die wyn as ons dertig is, en ook die liefde.
As ons veertig is, soen ons nog graag, mits ons ‘n bietjie spaarsaam was.
Maar as ons ouer word, en stadigaan kouer word,
Bly alleen net die wyn.

Maar darem nog die wyn – let wel!

Ná die wyn – daarna ek weet nie. Ek is nog net 77.

ORGAN SE FOTO

Augustus 23, 2017 in Uncategorized

Mense wat Sabiepark se piekniekplek ken, sal seker nie verbaas wees nie dat daardie seer geliefde stukkie grond aan die Sabierivier in my oë die heerlikste werkplek in die land is.

Die man wat daar die septer swaai, Organ Ongeni, se dag kan insluit ‘n leeuvangs vlak voor sy oë, ‘n trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete skielik swart spikkel. Soms kom soek ‘n luiperd sonnetjie of maak dorstige renosters ‘n draai.

Met ‘n kamera wat hy present gekry het, het Organ al ‘n indrukwekkende fotoportefeulje opgebou. Hy het hom in die neem van natuurfoto’s begin verdiep, en verras vriend en vyand met die voortreflike foto’s wat hy so tussen sy ander werksaamhede deur by die piekniekplek neem. Sabiepark se eienaars kan nie genoeg van sy spogfoto’s op hul Sabiepark-webblad kry nie.

Organ Ongeni.

As kind het hy een oog in ‘n spelery met maats verloor. So met die een oog, is hy egter vinnig om elke teken van lewe waar te neem, op ‘n goeie fotohoek te besluit en met ‘n ferm hand te fokus. Daardie ferm hand bied hy vriendelik aan as jou eie hand met die skielike aanblik van ‘n luiperd of ‘n leeu te veel bewe om ‘n goeie foto te neem!

Gister verras Organ my met twee pragtige foto’s op sy kamera: ek en gade Tokkie wat op ‘n gunstelingbankie sit en kyk hoe ‘n stewige teeltrop olifante wat in en langs die Sabierivier paradeer.

In amper 20 jaar het die Van Deventers kosbare Sabieparkfoto’s versamel. Hierdie is van die kosbaarste. Die twee oues op die bankie wat die grootvoete dophou, is treffend simbolies van die oneindige plesier wat die plek ons gee.
Die foto – amper se ek ikoniese foto – gaan beslis ‘n ereplek teen die muur van ons woonkamer by Wildevy 154 vind. Dankie hiervoor, Organ – ek skuld jou, my vriend.

Maar so spesiaal soos die foto vir ons is, is dit nie die enigste rede vir verskuldigde dank aan die piekniekplek se nederige, wellewende en altyd hulpvaardige baas van die plaas nie. Skoondogter, Mariza, het al daaroor geskryf, maar ek wil dit ook graag hier te boek stel dat Organ so goed is vir ons outistiese kleinseun, Migael (10), met sy sware vrag mediese probleme.

Die kombinasie van die rustige Sabierivier plus groot grasperk en gedugte bome) asook die meelewende Organ, self die vader van twee, het klaarblyklik ’n kalmerende invloed op die hiper-aktiewe seun. Hy sal doodgelukkig ure om saam met Organ blare ophark en ander takies verrig, terwyl sy pa, Johan, vir hom eiervrug braai. Vleis is een van die vele kosse wat, helaas, nie vir ou Migael beskore is nie.

In hul omstandighede is Sabiepark, en die piekniekplek, vir hulle ‘n ware toevlug as hulle in die somervakansie ‘n week of twee ‘n wegbreekkans kry. Gereelde uistappies piekniekplek toe is hoog op Migael se voorkeurlys.

“Oorgan is ‘n nederige man met ‘n sagte hart. Migael sien altyd uit om hom te sien. Hy maak altyd tyd vir Migael al is hy daarop gesteld om hard te werk om die piekniekplek so netjies en aantreklik as moontlik te hou,” meen Mariza.

Organ se buitengewone noemnaam kom van sy moeder se liefde vir musiek. Dalk is dit die rede dat hy foto’s neem wat soms ‘n Mozart-kwaliteit het – en dis ‘n pluimpie wat ek werklik bedoel.