Jy blaai in die argief vir grafsteensangers.

ERNSTIGE SAKE

September 11, 2018 in Uncategorized

Ek het die volgende hekelversie op Facebook geplaas:

Hoop nie ek’s nou
te krassie
maar smaak my
onder Rassie
is ons rugby nie
eens wat dit
onder Snorre
wassie.

Die antwoorde wys: Moenie met rugby spot nie; dis ernstige sake. Die manne het my geantwoord met statistieke en vele insigte oor hoekom Rassie sukkel om sy span aan die wenkant te kry. Daar is gesuggereer: Nou’s jy darem onbillik.

Ek vra toe: “Mense, hoekom so gramstorig, ek voel net ‘n bietjie orig? Dis net ‘n spotversie!” Kon eintlik gvra het: “Mense, hoekom die gramstorigheid oor net ‘n bietjie origheid so tussen al die gorigheid?”

In elk geval, nou weet ek om nie oor rugby ligsinnig te raak nie. Sal my dus weerhou van speelse aanmerkings soos dat die Grafsteensangers dringnd na Wellington ontbied is om die volkslied Saterdag voor die toets “damn sad” te sing.