Jy blaai in die argief vir fanie van wyk.

ON-VERGEETLIKE FANIE

Januarie 24, 2017 in Uncategorized

1-IMG_0002

My swaer Fanie van Wyk wat vandag ‘n jaar dood is, het ek by sy gedenkdiens tipeer as:

Vinnige Fanie: In matriek op Bultfontein in die laat 50’s was swaer Fanie van Wyk junior SA kampioen in die 440.

Vergooi Fanie: ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat Fanie klaar was.

Versamel-Fanie: Fanie was versot op sy boeke, veral oor die Anglo-Boere-oorlog, sy bonsais, sy skilderye, sy seëls, sy wyn, sy plate, sy knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ‘n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?

Vrolike Fanie – Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur.

Stand-Vastige Fanie: Sy geloof was rotsvas. Sy kernbegrip van die evangelie was eenvouidg: Jesus het MY lief; Jesus het vir MY sondes aan die kruis gesterf; Jesus kom weer om MY te kom haal. In sy Bybelstudiekring, vir familie en vriende en vir vele ander was sy verduideliking van hierdie waarheid rigtinggewend en inspirerend.

Voorslag-Fanie: Ná sy pa, Kotie, se vroeë dood was Fanie in Hertzogstraat, Bultfontein, die man in die weduwee Marietjie van Wyk se huis. Haar regterhand. Een van sy rits take was om elke dag die koei in die meent te gaan haal en te melk.

Versigtige Fanie: Hy het hoogtes en allerlei ander gevare liefs vermy. Sy hande was sopnat gesweet op ‘n rit om Chapmanspiek.

Gevatte Fanie: Sy kinders het bv. gekla hul pa gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg. Daarop was sy raak antwoord: As hy die bobbejaan hoor boggem, weet hy mos hy’s daar. Wie kan stry?

Vindingryke Fanie. Op ‘n dag moes hy ‘n span “bandiete” (gevangenes) op sy dak oppas terwyl hulle verf. Toe raak die verf op. Fanie het eenvoudig die leer verwyder en met ‘n geruste hart winkel toe gery.

Vurige Fanie: Een nuk was dat hy nogal uitermate opgewonde kon raak. As daardie opgewondenheid uitbars, moes jy koes. Vra maar die tuinman, arme drommel, wat op ‘n Saterdagmiddag sy besproeiing stukkend gespit het.

Vlymskerp Fanie: Toe ek op sy sterbed praat van groet, was sy lakonieke kommentaar: “Groet? Waar gaan julle dan heen?”

Na ‘n jaar: Hoe mis ons nie al hierdie Fanies nie.

Hy was in terugskoue die On-Vergeetlike Fanie.

VERSAMEL-FANIE

Januarie 27, 2016 in Uncategorized

1-1-IMG

Swaer Fanie van Wyk – ons groet hom Vrydag – was ‘n aartsversamelaar. ‘n Ware Versamel-Fanie. Bonsaiboompies was een van sy vele liefdes. As ek vandag vir hom ‘n simboliese bonsaiboompie kon kies, sou dit ‘n waardige boom moet wees, met ‘n enorme klomp takke.

Dalk ‘n miniatuur-“wonderboom” – soos daardie gedugte wildevy van Pretoria wat sy takke oor ‘n gebied van 50m uitsprei. Die uitbeelding van Versamel-Fanie se uitgebreide voorliefdes, belangstellings en kundighede verg so ‘n omvangryke boom.

Fanie se boeke was waarskynlik die naaste aan sy versamelaarshart, veral oor die Anglo-Boere-oorlog. Dalk sy waardevolle skilderye. Hy het o.m. ook seëls versamel – en wyn, en plate, en knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ‘n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?

Maretha het maar altyd probeer om stilletjies die opgegaarde bates tot realistiese vlakke te reduseer. So skenk sy in ‘n stadium ‘n klompie ou boeke vir ‘n kerkbasaar of iets. Fanie val by die boektafel vas en vergaap hom aan al die waardevolle eksemplare waarvan replikas, so dag hy toe nog, ook in sy eie studeerkamer pryk. Tuisgekom, is hy dadelik tot barstens toe voldaan na sy boeke toe. Die gapings verklap dadelik dat Maretha ietwat uitgedun het. Hy was vurig ontstoke. Pure Vurige Fanie.

Fanie het bowenal vriende versamel. Die Vriendelike Fanie het maklik nuwe maats gemaak maar ook die kuns geken om ou vriendskappe in stand te hou. Hy was iemand wat ‘n mens in ‘n goeie sin kan noem ‘n allemansvriend – ‘n mens-mens wat as storieverteller uitgeblink het, met ‘n aansteeklike geesdrif, humor, jovialiteit en lewensvreugde wat dit aktyd lekker gemaak het om in sy geselskap te wees.

Met Fanie se heengaan is die aftree-oord Klaradyn se medisynekas van een van sy belangrikste tonikums beroof, glo ek. Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur. En ‘n gesonde gees kweek mos ‘n gesonde liggaam.

Soos Fanie vir Klaradyn goed was, was Klaradyn darem vir hom ook goed. Nuwe intrekkers het gedurig gesorg vir nuwe gehore wat ontvanklik aan sy lippe gehang het. In sulke omstandighede het swaer Fanie geblom. Hy was ‘n “performer” by uitstek.

Versamel-Fanie. Vriendelike Fanie. Vurige Fanie. On-Vergeetlike Fanie.

TOT SIENS, FANIE

Januarie 25, 2016 in Uncategorized

IMG

My swaer Fanie van Wyk se aardse wedloop is toe Sondagmiddag om 17:15 in die Panorama Medi-Clinic voltooi. Die woorde in 2 Timoteus 4 vers 7 is geskryf of dit vir Fanie bedoel is: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.” Op die foto is hy en my vrou, Tokkie, sy enigste suster, op ‘n besoek aan die Weskuspark. Van die drie Van Wyks van Hertzogstraat 4, Bultfontein, weduwee Marietjie, enigste seun, Fanie, en Tokkie – jare lank ‘n hegte eenheid na die vroeë dood van pa Kotie – is nou net sy oor. Die bos raak leeg.

KAMPIOEN TOT DIE EINDE

Januarie 23, 2016 in Uncategorized

1-1-1-IMG-001

‘n Jaar of vyf voordat ons paaie in die jare 60 gekruis het het, het my swaer Fanie van Wyk, Tokkie se broer, vir allerlei steratlete van stedelike spogskole weggehardloop om die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. Peter Carlstein van St. Andrews in Bloemfontein, latere krieket-Springbok, was een van die gunstelinge wat teen die onbekende Bultfonteiner in die stof gebyt het.

Dat hy so vinnig kon hardloop is glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan se skuld. Die geniepsige meneertjies het hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer dra.

Sic gloria transit mundi. Pas by die huis gekom van die Panorama Medi-Clinic af waar Fanie (77) weens gevorderde longversaking, ondanks die sterkste moontlike suurstof-toediening, swaar en met inspanning asemhaal. Hy sal nie weer ‘n 440 hardloop nie – trouens ook die wedloop van die lewe is sowat vir swaer Fanie verby. Maar met watter genoegdoening kan ek nie hier met alle oortuiging skryf nie: ook in daardie wedloop was hy ‘n kampioen.

(‘n Stuk of ses van Fanie se atletiekrekords staan nou al amper sestig jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein. Hy het een keer die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters aan die ander kant van die veld beland het. Die gewigstoot moes dringend gestaak word terwyl Fanie gooi! Op die foto is hy in sy Vrystaatbaadjie met sy atletiekbekers).