Jy blaai in die argief vir eeufees.

LUISTERPOS SOOS MIN

Junie 4, 2018 in Uncategorized

Swerwers in Suidwes.

Vir koerantmense was die Afrikaner-Broederbond (AB) vir ’n belangrike luisterpos – ’n beskrywing van prof. Piet Cillié. Cillié was een van die swaargewigte wat tot die einde lid gebly, getrou die vergaderings van die afdeling Kaapstad bygewoon en op sy kenmerkende vurige manier gesprekke koers help gee het.

Met sy dood het hy aan die afdeling R5 000 nagelaat. Daarmee is geruime tyd elke jaar ’n Piet Cillié-huldigingsaand gehou; ’n mooi aand met goeie kos en wyn en herinneringe.

Die AB is more in sy nuwe gedaante as Afrikanerbond 100 jaar oud. Ek rakel ‘n paar persooonlike herinneringe en anekdotes op oor my dubbele rol van koerantman/Broeerbonder (veral as lid van die Uitvoerende Raad – UR).

Dit het gebeur dat laasgenoemde vertroulikhede te wete kom wat vir eersgenoemde ‘n onweerstaanbare versoeking was om dit in sy koerant te openbaar. ‘n Prima-voorbeeld was ná die FW de Klerk-aankondigings van 2 Februarie 1990 wat die land op die hervormingspad sou plaas waarvoor ook die AB hom so daadwerklik beywer het. Die dubbelslagtigheid het in daardie geval amper in ’n stekelrige turksvy ontaard.

Die Uitvoerende Raad (UR) was agt dae later, Saterdag, 10 Februarie, op Piet Carinus se pragplaas in die distrik Stellenbosch in sitting. ’n Besoek van De Klerk sou die hoofdis wees en is met groot verwagting afgewag. Toe brand hy vas. Die UR-lede was bra bek-af. Gerrit Viljoen wat as impakspeler vir die president moes kom instaan, het ons aanvanklik net laat verstaan dat daar belangrike staatsake is wat voorkeur moet geniet. Later het dit deurgeskemer wat daardie staatsake is. Die aankondiging daardie middag van die dag en datum van Nelson Mandela se vrylating het De Klerk se program omvergegooi.

Maar sesuur, met die UR-lede vasgenael voor die TV vir die SAUK se nuusbulletin, wie stap by die voordeur van die Carinus-woning in? Niemand minder nie as broer FW! Die Man van die Oomblik in lewende lywe, en totaal onverwags. Daardie aand het onvergeetlik geword, met ’n rits heildronke (net Roodeberg en KWV se chenin blanc), opgewonde uitvraery en, as kersie op die koek, ’n oproep uit die Wit Huis vir die president.

“Hou aan vir president Bush, asseblief!” Dit was nie ‘n kort gesprek nie – amper 20 minute as ek my nie misgis nie. Die adrenalien het gevloei. Agterna was De Klerk duidelik in sy skik; opgeruimder as wat ek hom ooit weer gesien het totdat hy die politiek vaarwel geroep het.

Dié Sondag, terug in Bloemfontein, kom sit die duiwel op my skouer en fluister in my oor: dis ’n storie wat darem te goed is om nie geskryf te word nie. Toe gaan neem ek voor die rekenaar plaas. Oor die feit dat dit ’n AB-geleentheid was, is niks gerep nie. Ook oor die naam van die plaas en die identiteit van sy eienaar is ’n sluier getrek. ’n Veilige berig, dag ek.

Dié Maandag is my storie op al die Naspers-koerante se voorblaaie. In senior UR-geledere heers ontsteltenis. Die voorsitter, die uitnemende prof. Peter de Lange, rektor van die RAU, beveel grimmig aan dat ek maar self Tuynhuys toe bel met ’n apologie.

Ek skakel, oorgehaal vir ‘n skrobbering. Maar toe wys De Klerk van watter stoffasie hy is. “Jy was ’n bietjie stout,” berispe hy. “Maar toemaar, geen skade is aangerig nie. Jy hoef nie sleg te slaap nie.” Einde van daardie episode.

Alle wisselwerking was nie so instintief en sonder oorlegpleging nie. In Oktober 1989 is ek en Gerrit Velthuysen van Die Transvaler byvoorbeeld ingesluit in ’n AB-afvaardiging wat met ligte vliegtuie Namibië deurkruis het om die aanstaande vrye verkiesing te monitor. Agtergrondskennis is op verskillende maniere verbreed.

Op die insiggewende inligtingsbesoek het ons vergaderings bygewoon onder meer in Oshakati en Khomasdal. Ons was by die Administrateur-generaal, by die Gebiedsmag, by Swapol, ons is toegespreek deur politici – onder andere Dirk Mudge by wie ek in Windhoek oornag het – leraars en kultuurleiers, en ons het teruggekom met veel groter begrip vir die ingewikkeldhede van daardie wye, wonderlike land.

Vir Volksblad-lesers was die vrug ‘n politieke rubriek deur Willem (eweknie van Die Burger se Dawie) op 20 Oktober 1989 wat op kraakvars eerstehandse waarnemings berus het. Dit was met die goedkeurende medewete van die voorsitter en hoofsekretaris, Naudé Botha, maar sonder enige voorskrif of inspraak van AB-kant. Beste van alles: dit het die koerant self geen sent gekos het. Al was ek daar op die Nasionale Pers se koste sou ek in elk geval aan daardie rubriek net mooi niks verander het nie.

Wat van daardie klandestiene besoekie nie die pers gehaal het nie – seker maar weens goeie gastemaniere – is dat die groepie, wat drie prominente jong Nasionale LV’s ingesluit het, met hul aankoms deur hul gashere op die lughawetjie by Namutoni vergeet is. Hulle moes toe maar voetslaan kamp toe, leeuwệreld ofte nie.

Dink net watter opskudding dit sou wees as Etosha se leeus die spannetjie ongewapende Broers daardie middag agtergekom het! Gelukkig was die maanhare elders geokkupeerd, verveeld of aan die slaap.

’n Binnebaan wat ek via die UR meermale tot voordeel van my koerant of koerante in die algemeen kon benut, was die direkte toegang tot die sogenaamde “Broers in verantwoordelike kringe” (ministers en ander senior politici en amptenare). ’n Uitnodiging na die UR was iets wat geen minister sou versmaai nie; nie eens Pik Botha wat miskien nie die geesdriftigste Broer in die Kabinet was nie.

Dit is daardie binnebaan wat ek in 1988 met ’n opportunistiese slenter uitgebuit het om Zwelakhe Sisulu, broer van Lindiwe en Max en latere direkteur-generaal van die SAUK, uit die tronk te kry vir ’n reünie van Nieman Fellows by die Harvard-universiteit. Negentien maande al. Dit sou beslis ‘n skadu werp op Suid-Afrikaanse deelname aan die groot Nieman-fees, het sy mede-Niemans van hier te lande maar te terdeë besef.

‘n Komitee, waarvan ek lid was, het aan die Regering bly karring, sonder veel welslae. ‘n Openbare protes is selfs in ‘n stadium oorweeg onder aanvoering van twee senior Engelse redakteurs, Richard Steyn en Allister Sparks.

Toe kom besoek die Minister van Polisie, Adriaan Vlok, die UR, en ek vat vinnig die gaping. Ek vertel hom die hele storie, en waarsku dat van Sisulu nog ‘n martelaar gemaak word, soos Steve Biko. Nee, hy ken die Niemans, antwoord Vlok. Gee hom kans om ‘n bietjie te kyk wat gedoen kan word. Twee weke later was Sisulu uit die tronk. Hoewel hy ingeperk is, het die Regering later ook reisdokumente goedgekeur sodat hy na Harvard kon reis.

Toe Sisulu die aand van 5 Mei 1998 by die groot Nieman-dinee in die ornate Memorial Hall onder ‘n gejuig instap, arms triomfantlik omhoog, kon ek kwalik ‘n glimlag verberg oor die AB se rol in die oomblik. Wat Sisulu sou sệ as hy weet dat sy vrylating in ‘n UR-vergadering beklink is, het ek baie gewonder – des te meer nadat hy baas van die SAUK geword het.

OP PAD SAAM MET DIE PERS

November 26, 2014 in Uncategorized

 

Naspers 100 jaar - 'n baie spesiale uitnodiging.

Naspers 100 jaar – ‘n baie spesiale uitnodiging.

Op 18 Desember 1914, in ‘n Victoriaanse huis genaamd Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, het sestien baanbrekers die Nasionale Pers gevorm.

Wat ‘n vooreg om presies een honderd jaar later by die einste plek deel te kan wees van ‘n viering van die trotse maatskappy se ontstaan.  As daar een Desemberuitnodiging is wat ek waarlik troetel, is dit na daardie historiese middagete op Stellenbosch.  Wonder watter das ek sal aansit – in elk geval een van die Pers.

My eie amper 74 jaar – ek betree op 3 Januarie my 75 ste jaar –  is intiem met Naspers verweef. Dis een van die hoekstene van my lewe, soos my vrou, Tokkie; die kinders, Johan en Marisa; my kerk, die NG Kerk; my alma maters, Volkies en Tukkies; my politieke tuiste, die Nasionale Party (tot sy ontbinding); my bank, Volkskas (wat later deur Absa opgeslurp is); my geliefde bosplek, Sabiepark; my stad vir 24 jaar, Bloemfontein, en die Automobiel-Assosiasie (het ‘n 55-jaar-veteraanplakker in die BMW se ruit).

Die foto’s teen my studeerkamermure is bewys daarvan. Dit is Persfoto’s wat oorheers.  My formele loopbaan van 36 jaar by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –is agter glas heel volledig gedokumenteer.

Waar het dit begin?  Wel, begin Januarie 1963 – meer as 50 jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap.  Eintlik kom die verbintenis al langer.

As beurshouer dra ek van 1958 af ‘n Naspers-hoed.  Maar in werklikheid  was al ‘n Volksbladman voordat ek in 1947 sub A toe is – het die koerant plat op my maag voor my oupa se leunstoel in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, gretig deurgeblaai. Met die eeste verskyning van die vrouetydskrif Sarie Marais (nou net Sarie), op 6 Julie 1949, het ek op ‘n doktersbesoek saam met familie een vir ses pennies op straat in Bloemfontein vir my ma gekoop. Dit is een van ‘n hoop ou koerante en tydskrifte wat ek bewaar.

In die 36 jaar as amptenaar van die Pers het ek heelparty historiese momente beleef.  Toe die knoppie gedruk word vir die eerste uitgawe van Beeld was ek, die eerste nuusredakteur van daardie koerant,  by die rolpers in Doornfontein.  Toe die eerste Die Beeld (Sondagblad voor Rapport) verskyn, was ek een van die Bloemfonteinse subsredakteurs wat Saterdagaande uitgehelp het.  By Die Volksblad was ek as redakteur betrokke by die oorskakeling na volkleur en na ‘n oggendkoerant. Gemeenskapskoerante soos Ons Stad is deur my gestig.  Met die koop van City Press en die vervanging van Oosterlig met Die Burger (Oos-Kaap) was ek uitvoerende hoof: koerante van Naspers (nie van Media24, soos soms verkeerdelik beweer word nie – Media24 het toe nog nie bestaan  nie!)

Die verbintenis strek ook al ver verby die einde van my formele loopbaan.  Einde 1997 het ek my kantoordeur as Uitvoerende hoof: koerante van Naspers vir oulaas in die Perssentrum aan die Heerengracht agter my toegetrek. In my aftrede, van einde 1997 af tot nou, het ek egter steeds Nasperser in my bloed gebly.  Ek lees Media24-publikasies sewe dae van die week, skryf af en toe ‘n resensie of ‘n briefie vir publikasie en stuur nog soms ‘n nuuswenkie na die koerante of tydskrifte toe.

Ons praat van ‘n persoonlike verbintenis met die Pers van heelwat meer as die helfte van sy eerste eeu

Onder meer in twee boeke met ‘n outobiografiese strekking, Kroniek van ‘n Koerantman – ‘n persoonlike perspektief op die jare ná 80 (Tarlehoet, 1998) en In Kamera (Protea, 2003), asook in my Ineg-dokumenteversameling (PV 677) en in die eeufeesboek ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad is ‘n hoop van my eie biografiese besonderhede opgeteken.  Dit is ‘n pad wat ek nie weer hier wil bewandel nie.

‘n Boel herinneringe wel egter op. Daaraan sal ek kwaai moet sif want ek is hoegenaamd nie van plan om weer my hand aan ‘n boek te waag nie.  Lesers van HvD se blog sal die skrywer egter vergewe as hy in nostalgiese oomblikke ‘n paar van die herinneringe lukraak gaan ophaal in die volgende paar blogs wat in hierdie ruimte opduik.