Jy blaai in die argief vir die volksblad.

KAN NIE IS DOOD

Julie 19, 2018 in Uncategorized

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Piet Theron, Volksblad-kollega wat op 27 Julie 80 word, se motto is “kan nie is dood” – ‘n rigtingwyser wat by sy ouers gekry het. Van daardie 80 jaar ken ek hom amper 60; het hom in 1960 as 21-jarige in Kollegetehuis by Tukkies leer ken.

Op die lang pad wat ons amper ses dekades saamgestap het, van ons Kollegedae tot ons Volksblad-dae, van jong woonstelmaats tot lewenslange vriende wat tot vandag toe in Bloemfontein, op Melkbos en in Sabiepark graag saamkuier, het hy dit oor en oor bewys: Kan nie is inderdaad dood.

In ‘n geleentheidstuk het ek na Piet verwys as ‘n S-man: ‘n staatmaker oor ‘n breë terrein. Op Tukkies was sy bynaam nie verniet Piet Sportie nie. Hy was nie net self ‘n bruikbare losskakel nie, maar Kollege se toegewyde rugbybaas.
Hy was ook ‘n Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Baie ouens wat later bekend geword het, het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

By Die Volksblad het hy o.m. as Piet Sportredakteur diep spore getrap. Tuis is hy al 50 jaar Piet Saaier. Daar is altyd groente. Sy pampoene is legendaries. Sy amarillas blom feestelik in ‘n reuse-beeskrip wat as blombak. Sy tuin is, in sy woorde, sy gimnasium waar hy kan spit, skoffel, plant, bewerk en oes. Dit is “salf vir sy siel”.
Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk.

Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. Sy sappige steaks bewys sy stoffasie as baasbraaier.

Ná sy aftrede het hy hom as ‘n bedrywige Piet Skrywer ontpop. Hy was redakteur van ‘n insiggewende boek oor die omstrede Belhar-belydenis, en het allerlei hoogs interessante private publikasies op sy kerfstok. As iets hom pla (wat nogal nie ongereeld gebeur nie!) skryf hy aan die koerant. Hy steek bepaald nie sy sentimente onder ‘n maatemmer weg nie! Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer

By nadenke is hy egter dalk eerder ‘n D-man as ‘n S-man.

Piet Donnerwetter sal ek hom liefs nie noem nie, al het die tweemanskap Van Deventer en Theron soms bra sakke growwerige sout saam opgeeet. Ja, ons twee oues het in vuriger dae ons kwota konflik gehad. By twee sulke hardekoppe is dit seker onvermydelik!

Hy is by uitstek Piet Doener. Na ‘n uitnemende loopbaan van 35 jaar het hy afgetree as assistent-redakteur. Hy was ook nuuredakteur en hoofsub. Een van sy kragvertonings as verslaggewer was toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom. Piet het die stories uitgeryg.

In 1988 was hy die eerste wenner van die Hennie van Deventertrofee – ‘n stuk stinkhout in die vorm van ‘n opgerolde Volksblad. Die Laura Rautenbach-skepping word toegeken vir ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif, goeie oordeel en algemene bekwaamheid.

Piet Dienaar noem ek hom vrymoediglik. Hy is ‘n dienaar wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy was op 48 leier-ouderling en was (of is dalk steeds) redakteur van ‘n lewendige kerkblad. Hy was (of is dalk steeds) en voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra

In sy matriekjaar aan Oos-Moot in Pretoria het die Nederlandse voorgeskrewe boek Duikelaartje deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref. ‘n Duikelaartjie is ‘n poppie met lood in die voete, wat telkens regop spring as dit omgestamp word. Einste die vegter Piet. Noem hom gerus ook Piet Duikelaar.

In uitdagende en beproewende omstandighede soos hul onderskeie ernstige operasies en kinder-teenspoede was Piet Petro se anker en omgekeerd. Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was hulle vir hom daar. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was hulle vir hom daar. Toe die jongste, Pieta, na ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was hulle vir hom daar.

Hulle is ook vir vir hul kleinkinders daar – ‘n wonderlike, opofferende oupa en ouma..

Piet is vir Petro ‘n eggenoot duisend. Vir sy kinders is hy ‘n pa duisend. Vir sy kleinkinders is hy ‘n oupa duisend. Vir sy kollegas is hy ‘n kollega duisend. Vir sy vriende is hy ‘n vriend duisend.
Piet is waarlik ‘n man duisend.

LIGTE MISTYKIES AAN NUUSFRONT

Mei 13, 2016 in Uncategorized

‘n Ligte mistykie gewees by Kyknet, meen ‘n Burgerleser, om in sy hoofnuus geen woord te rep oor die sluiting van die N2 weens die ongedurigheid by Grabouw nie. Moet met die beswaarde saamstem. Die Burger staan ongelukkig self agter die deur. Die eerste vier dae van die moleste in Limpopo waarin 24 skole in vlamme opgegaan het, het die koerant daaroor geswyg. Selfs die Washington Post het dit nuuswaardig geag.

Geen koerant, TV-stasie, radiostasie of watter nuusmedium ook al is, helaas, immuun teen foutiewe menslike oordele nie. Meer besluite word dikwels in 24 uur in ‘n redaksiekantoor geneem as in ‘n minister se kantoor in ‘n maand. Nie elke besluit kan suiwer wees nie. My eie koerant, Die Volksblad, het in 1966 daarin geslaag om ‘n storie totaal mis te vat waaroor die wereld in beroering was. Van een van die Beatles het die aanspraak gekom dat daardie groepie mopkop-kitaarspelers uit Liverpool gewilder is as Jesus Christus. Die hoofsubredakteur van Die Volksblad het geoordeel dis godslasterlik, heiligskennis, boos en onpubliseerbaar. Die berig is snippermandjie toe pleks van die voorblad.

Die struikelaar se kop is deeglik gewas. Sy naam was Hennie van Deventer. Van tyd tot tyd moet ‘n mens maar jou eie blapsies onthou. Anders neig jy om soms ietwat selfvoldaan te raak in jou kritiek

ONS MAAK SKOUERS OOP

Desember 2, 2014 in Uncategorized

prentjie

 

 

 

Roosknoppie, Matrieknooi, Joolnooi in ‘n nuusrokkie. Ons het nie geskrik vir skoonheid nie!

‘n “Kompulsiewe koerantman” met “‘n passievolle drif” vir koerante uitgee.  So het kollegas my by my afskeid in 1992 genoem. Dankie vir die heuningkwas, kollegas – as dit as ‘n pluimpie bedoel was en nie dalk as ‘n doringtak nie.

Drif en entoesiasme is vir my onontbeerlike wapens in ‘n redakteur se arsenaal.  My eie is des te meer aangevuur toe ek in 1980 in Bloemfontein aankom en moes hoor in kringe is die bynaam vir Die Volksblad die “Vaal Boertjie”.  Dit was seker nie afkrakend bedoel nie. Hy was inderdaad nog net swart-wit.  Maar daardie etiket het my allermins aangestaan.

Skud die “vaal”-beeld af! Dit was ‘n onmiddellike doelwit.  “Maak die skouers oop met ‘n groot storie.” Die nuwe kultuur wou ek uit die staanspoor vestig. Dit beteken: Bied die groot storie sterk aan – in kolomruimte en met visuele trefkrag. Oor elke uitgawe was die redakteur se kommentaar (kritiek en lof) as daaglikse leesplesier(?) op die kennisgewingbord.  ‘n Stroom gemerkte skeurblaaie is uit my kantoor subkantoor toe.

In daardie 12 jaar was groot nuus soos die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Laingsburgvloedramp, die Vrystaatse vloede van 1988, die Westdene-busramp, die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana;  die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisiemanbankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.

Met die nuwe aanslag is die beeld van “Vaal Boertjie” vinnig vir goed afgeskud , glo ek.  Die aanstelling van die kreatiewe Nols Nieman as hoofsub het ‘n sleutelrol gespeel om die “Boertjie” in ‘n “Fleurige Boerenooientjie” te omskep.

Die vervanging is in 1983 met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë vervang. Dit was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor – natuurlik een waarvoor die redakteur nie eer kan opeis nie.

My skof van 1980 tot 1992 was ‘n tydvak van intense, onstuimige en grensverskuiwende politieke dinamiek.  Dit was die tema van die vorige blog. Maar soos daardie blog afgesluit is: ‘n Redakteur kan nie van politiek alleen leef nie.  Daardie skof was ongetwyfeld ook ‘n tydvak van vernuwing; van intense gemeenskapsbetrokkenheid, asook les bes, van Johan van Wyk se rubriek Stop van Myne wat ikoniese status verwerf het.

Die nuwe fokus op treffende tipografie en verbeeldingryke nuusaanbieding  was nie al vernuwings nie.

Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark omgeskakel. Lesers en adverteerders is met reklame bestook.   Die leuse was: “”Lees vroegdag Die Volksblad en gesels heeldag saam.” Op die radio was ‘n advertensie met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” as inleiding.

Joolskoonhede het die strate ingevaar in fraai nuus(b)rokkies, geskep uit die eerste uitgawe van die vroegdag-Volksblad.  Vir skoonheid is nie in my tyd teruggedeins nie – inderdaad in so ‘n mate dat ons ‘n keer aartskonserwatiewe  van “pornografise neigings” beskuldig is!

Sirkulasie het op die nuwe tydgleuf lewendig gereageer.  Nasionale advertensies het maar ‘n taai kalant gebly. Weens die toespitsing op die kleurkwaliteit wat tydskrifte bied, en ‘n sterker fokus op kleiner, meer afgebakende markte, is dit toenemend van die dgblaaie weggekalwer. Ook die vloei van plaaslike advertensies na media met ‘n goedkoper advertensietarief (gratis tuiskoerante, e.d.m.) het diep in begrotings gekeep.

Koerante is ial hoe meer in ‘n oorlewingstryd gedompel. Redaksies moes kleiner word en weer kleiner word – en die moreel was soms maar pap. Die redakteur moes bly planne maak (soos die vestiging van ‘n eie stal tuiskoerante), bemoedig en aanspoor, al was sy eie moed soms naby sy skoene….

Deur die jare, van lank voor my tyd aF, is vele mooi Volksblad-tradisies gebore. Die Volksblad se vaderskap het hom steeds dieper in lesers se harte laat inkruip, glo ek. Ook op die veld het ek my toegespits.

Ek wil net vlugtig van twee van my witbroodjie-“kinders” vertel: Die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark. Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier. ‘n Glansbrosjure is gepubliseer. Ek kon my verlustig in die verdere lewensverloop van my “matrieknooiens”. ‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het inderdaad geil gegroei.

Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is. Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom. In ‘n stadium was 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons mark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.

Vir die feestelike vyfde verjaardag is o.m. ‘n verjaardagkoek gebak met 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies en 9 kilogram neuter. Heerlik!

Vir Die Volksblad was die kunsmark goud werd. Hoe bereken ‘n koerant die geldwaarde van so ‘n juweel? Ongelukkig het latere redakteurs se lus daarvoor gekwyn. Ná twee dekades van vertroeteling is hierdie sprankelende promosie in die redakteurstermyn van Jonathan Crowther aan die Bloemfonteinse Lions-klub afgestaan.

Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie. Van verwaarlosing het dit verlep …

* In die volgende blog kyk ek terug op die era van my kleurryke kollega Johan van Wyk en ander Volksbladders.

GOEIE OU LAPPIES

Oktober 15, 2014 in Uncategorized

LappiesMy inskrywing op Facebook vandag:

“Lappies Labuschagne, kleurryke hooffotograaf van Die Volksblad vir dekades, is vandag ‘n rype 80. Geluk, Lappies. Goeie dag vir jou. Mag die 80-baken ‘n lewensblye skof inlui.

“Ek dink vandag terug aan baie wonderlike herinneringe uit die lang tyd toe jy as hooffotograaf met jou betroubare ou Graphic soveel skitterende foto’s geneem het. Elkeen wat jy op my lessenaar kom plaas het, het altyd die onmiskenbare Lappies-stempel van voortrefklkheid en kwaliteit gedra. Lappies sluit hom vandag aan by ‘n formidabele span 80-ers uit ou Volksblad-geledere op Herman le Roux se lys.

“Op die foto is Lappies en die uwe in ‘n joviale oomblik by sy afskeid.”

‘n Bewoë herinnering rakende my vrou, Tokkie, uit die dae van ‘n jong Hennie van Deventer as waarnemende nuusredakteur en Lappies Labuschagne as hooffotograaf, soos opgeteken in In Kamera (Protea, 2003):

“Voor die Groot Dag (ons troudag)  — op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, op haar  tuisdorp Bultfontein —  veroorsaak ‘n foto (wat ongelukkig nêrens in ‘n album behoue gebly het nie) vir ‘n hele opskudding. Ek neem waar as nuusredakteur van Die Volksblad en stuur die hooffotograaf, Lappies Labuschagne, om vir die voorblad ‘n foto te gaan neem van ‘n paar mooi onderwyseresse wat na die aanbreek van die vakansie nog puntestate en rapporte afrond. Dit is al amper te laat toe hy die foto voor my neersit: so tegnies perfek soos al Lappies se foto’s.

“Maar krisis, wie is een van die drie op die foto? Niemand minder nie as die waarnemende nuusredakteur se verloofde! Daarvoor het ek nie kans gesien nie — ek was darem nie meer so voortvarend soos toe ek in 1961 al om die derde uitgawe ‘n foto van my destydse droomnooi in Die Perdeby laat pronk het nie!

“‘n Alternatiewe foto van enige betekenis was nie beskikbaar nie. Ek gryp toe maar een van ‘n buitelandse foto-agentskap wat al dae in die in-mandjie gelê het: twee meisies in sjoebroekies wat op lere staan en met lang besems ‘n olifant se rug was — ek meen in San Diego se dieretuin.

“Swak Piketberg! Tussen my en Lappies het harde woorde geval (‘n eufemisme) en Tokkie is streng vermaan: as jy voortaan ‘n persfotograaf sien, maak dat jy wegkom!”

‘N MAN VIR O-DAG!

Maart 28, 2013 in Uncategorized

FOTO EEN: ‘n Glasie op die eerste Saterdagponie. HvD (redakteur) en die span agter daardie poging: Herman le Roux, assistent-redakteur, Nols Nieman, hoofsubredakteur, en Chris Karsten (ja die skrywer), nuusredakteur.

  Niks wat  jou so energiek in ou foto’s laat indolwe as die heengaan van mense met wie jy  ‘n paar sakke sout saam opgeëet het nie. So ‘n mens is vanoggend oorlede: Nols Nieman, wat as hoofsubredakteur een van my regterhande by Die Volksblad (nou Volksblad) in die jare 80 was.

 Ek het die kreatiewe Nols uit Port Elizabeth laat terughaal omdat ek uit alle oorde gehoor het hoe ‘n voorslag hy was.  Die Volksblad het juis daardie tyd behoefte gehad aan ‘n kookwater-hoofsub (die man in die voorste linie wat die koerant aanmekaarsit). Ons had die beeld van “die vaal Boertjie” wat ek as nuwe redakteur vasbeslote was om af te skud.

 Saam het ek en Nols in ‘n goue dekade heelparty goue dae gedeel:  o.m.  die eerste Volksblad in volkleur in 1983, die eerste Saterdagponie in 1985 en die grote, die eerste oggend-Volksblad op Maandag 4 Maart 1991…  

Laasgenoemde was ná ‘n aanloop van maande se beplanning en weke van reklame waarby Nols ook sterk betrokke was. Nadat sowat 40 000 lisensieplakkers, 5 000 sonpette, T-hemde, nuwe voertuig- en kafeeplakkers, 23 000 reklameplakkate, 83 radio-reklameflitse, berig op berig, foto op foto, banier op banier en advertensie op advertensie die voordele van ‘n oggendkoerant aan lesers uitgespel het, het D-dag – eintlik O-dag – aangebreek; uit die staanspoor ‘n uiters geslaagde sprong in die duister.   

O-dag! HvD, Nols Nieman en Philip van Rensburg, nuusredakteur

Aan die Van Deventer-Nieman-kombinasie dink ek ook in ander opsigte met welbehae. Ons het skouer aan skouer gewerk in vele groot en gedenkwaardige nuusgebeure wat spesiale hantering op die voorblad geverg het. Daardie era het o.m. opgelewer die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Vrystaatse vloedramp van 1988, die Westdene-busramp, die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.

 Al hierdie stories het hulle tot sterk aanbieding geleen. Die meeste van daardie voorblaaie het deur die meesterhand van Nols Nieman gegaan.  Hulle was treffers. Ek was tevrede dat Die Volksblad die beeldjie van “vaal Boertjie” vir goed afgeskud het. 

 Laat my erkentlik wees: Die vervanging van die rolpers met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë in 1983 was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor.  Daarvoor durf ‘n redakteur nie eer opeis nie (hy het darem deeglik gekerm!).  Maar die aanstelling van Nols het ook ‘n vername rol gespeel. Dit was my troefkaart.    

 Aanbieding het onder Nols vinnig ingrypend verander. Met enkele uitsonderings kon ons koerant gou op tipografiese gebied met die grotes saamgesels.  Hy kon nuus hard slaan. Daarom dat ek hom vanoggend op Facebook beskryf het as DIE hoofsub van sy era. Geen kwessie daaroor nie.

 Ek skryf verder: “Sy treffer-ontwerpe was passievol, sterk visueel en verbeeldingryk. Geen koerant was vir hom maar net nog ‘n uitgawe of sommer ‘n roetine-joppie nie. Elkeen was ‘n nuwe uitdaging wat hy met kenmerkende Nols-deeglikheid aangedurf het.

 “Aansteeklik was sy entoesiasme en sy kinderlike opgewondenheid oor ‘n kloppie op die skouer – waarvan hy baie gekry het, geeneen onverdiend nie.

 “Nols se lojaliteit was vir my persoonlik waardevol en ons (te ongereelde) kontak oor die laaste 20 jaar nadat ek uitBloemfonteinweg is, altyd verfrissend.

 Nols was nog nie eens sestig nie, as ek reg onthou. Die Byl is die laaste ruk helaas erg bedrywig in ons bos. En daardie bos is vandag sommer heelwat kaler nadat hierdie gedugte boom in Bloemfontein gevel is.

 (Naskrif: Philip van Rensburg wat nuusredakteur was met die oorskakeling na die oggendgleuf (foto 2), en sy vrou, Nance, se dogter Helen trou Saterdag op Brittaniabaai.  Terwyl ek treur oor Nols, deel ek hierdie naweek ook in Philip – oud-kollega en al geruime tyd boonop Sabieparkmaat – se vreugde.)