Jy blaai in die argief vir die volksblad in die 80’s.

IN DIE VOORSTE RY

November 29, 2014 in Uncategorized

2014_11_281

 

 

 

 

 

 

 

 

Saam met die groot geeste in die politiek van die 80’s (links bo, regs bo, links onder en regs onder : P.W. Botha, Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Pik Botha en F.W, de Klerk.

Om redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. Dis my eie woorde wat ek aanhaal. Met instemming. In die onstuimige jare 80 het die tempo en intensiteit van die geskiedskrywing ongekende vlakke bereik.

Met my aanstelling is ‘n ou droom vervul. Jare tevore het ek op ‘n vraag van ‘n kollega, Trudi Gey von Pittius, vrymoedig geantwoord: “Natuurlik wil ek redakteur word.”  Hoe rof die rit sou wees, het ek nie toe besef nie; ook nie die 39-jarige in 1980 nie.

Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was reeds op die horison. Swart nasionalisme het soos ‘n donderstorm losgebars. Die bosoorlog oorkant die grens en die terreuroorlog tot in die hart van ons stede het uitmergelend gewoed.  Sanksies en boikotte het gewurg.

Toekomstwyfel het wyd ingeskop. Die magtige Nasionale Party het gewankel en in 1982 geskeur. In ‘n vurige “familietwis” het broer teen broer opgestaan. Die Konserwatiewe Party het elke verkiesing veld gewen. Dr. Andries Treurnicht is as redder omarm – ook deur persoonlike vriende. Die Volksblad was die NP se Vrystaatse spreekbuis.  Hy moes moue oprol en baklei vir ‘n vale om ‘n stembus-ramp af te weer.

Uiteindelik is P.W. Botha se ystervuis deur ‘n beroerte verlam. Die meer pragmatiese F.W. de Klerk oorgevat (lekker Volksblad-scoop gewees danksy die wakker Alf Ries in die persgalery van die parlement).    Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap – ‘n monumentale dag wat die “nuwe Suid-Afrika” ingelui het.

Hierdie politieke aardverskuiwing het nie gebeur sonder geweldige uitdagings aan Afrikaanse koerante nie. Hedendaagse kritici is vol verwyte. Kon ons nie harder gedruk het vir vinniger en ingrypender hervormings nie? Hulle onderskat, verstaan nie en vergeet gerieflik die weerstand uit eie lesersgemeenskappe wat stukkie vir stukkie afgebreek moes word.  Hope witmense het vir dood bly vasklou aan die baasskap wat hulle as hul goeie reg beskou het.

In daardie weerstand is ook die redakteur as persoon ingesuig; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” politiek gehoon, getreiter en met die dood gedreig. Oor van die kommentare kon ek lag, soos my regse Tukkietydgenoot Daan van der Merwe se opmerking dat ek ‘n “swaargewig liggewig” is. Maar laat ek bely: in ‘n stadium was die “swaargewig liggewig” erg benoud, veral nadat ‘n aktiewe saboteur, wat homself die “wit terroris” genoem het, sy intrek in ‘n woonstel oorkant die koerantgebou geneem het om op ons te spioeneer. Die redakteur het veral op donker winteroggende maar omkyk-omkyk kantoor toe gedrafstap. Teer en veer deur die AWB  –  soos die arme prof. Floors van Jaarsveld te beurt geval het – was die minste wat hy gevrees het.

Terwyl bittere kritiek uit wit geledere op die koerant gereën het, is van die perskommentator James McClurg van die Cape Times die volgende pluimpie ontvang: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksblad has shown consistent courage. Its present editor, JH van Deventer, resolutely dispenses reformism to one of South Africa’s more conservative communities.”

Onlangs is ‘n boek onder my aandag gebring met die titel South Africa’s Resistance Press: Alternative Voices in the Last Generation under Apartheid deur Les Switzer en Mohamed Adhikari (Ohio University Press, 2000). “Real opposition in Afrikaner press circles against grand apartheid, however, stems from the 1980s, and it came from newspapers in the Transvaal and Orange Free State,” sê die skrywers. “Ton Vosloo, editor of Beeld, and Hennie van Deventer, editor of Die Volksblad, for example, were critical of the government’s ban on the ANC and other opposition groups.”

Oor die “courage” en “real opposition” is meermale ook van Indiërs en bruinmense dankies ontvang vir die vars stem teen diskriminasie uit Bloemfontein. (Op Harrismith was die pikante situasie dat die beheerraad van die skool waar my dierbare swaer, Fanie van Wyk, hoof was, ‘n Chinesie toegang geweier het. Die Volksblad het aggressief haar saak opgeneem … en die stryd gewen. Vir my moeite is ek na die Republiek van China genooi!)

‘n Mooi afronding in die pylvak van my redakteursdae was die Vrystaatse stemmery in die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte ingepalm. Amper 55% van die stemme was ten gunste van magsdeling in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Die lang, verbete stryd van Die Volksblad was nie vrugteloos  nie! (Die loodplaat van daardie voorblad hang in my Sabieparkhuis.)

As ek terugkyk op my 12 jaar in die stoel, is dit nie sonder selfkritiek nie.  Ook in die politiek, en veral die hantering van regse vrese, was die oordeel in die redakteurskantoor nie altyd suiwer nie. Met konfrontasies, probleme, teleurstellings, foute en al was dit tog ‘n fassinerende en vervullende era.

Vandag is ek dankbaar dat my koerant weldeeglik sy rol gespeel het om oë vir werklikhede te help oop maak. Al voldoen die Suid-Afrika van 2014 dan nie naastenby aan die idealistiese verwagtinge van ‘n kwarteeu gelede  nie, glo ek onwrikbaar: ons het by die kruispad reg gekies.  Hoeveel erger kon ons voorland nie gewees het nie?

Maar van politiek alleen kan ‘n redakteur nie leef nie. Later vertel ek oor ander uitskiet-aspekte van daardie tydvak – en van ‘n paar karakters.