Jy blaai in die argief vir die bos.

MOEDERLIEFDE VAN ‘N LEEU

Januarie 24, 2015 in Uncategorized

1-aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaOp ons eerste oggend in die wildtuin kom ‘n leeumamma na die Honda aangestap met ‘n welpie in haar bek. Agter haar drentel twee kleintjies op waggelbene.  Hulle lyk nie juis borrelend gelukkig nie.  Ek kon sweer hulle kerm omdat hulle moet loop terwyl boetie/sussie die luukse van ‘n “ma-taxi” het. Dalk was dit is dit sommer romantisering van ‘n gryse ou natuurliefhebber.
Dis die kleinste klein welpies wat ek in al die jare in die wildtuin gesien het.  Selfs iemand wat al 19 jaar  in Skukuza woon, Lida Pressly, het nog nie sulke klein welpies gesien nie. Hoe oud sou hulle wees?
Op ons laaste rit soek ons met ‘n seer hart ‘n luiperd. Luiperd se kind bly egter weg. Maar net verby die Orpendam sien ons aasvoëls en ‘n aktiwiteit op die grond wat aanvanklik vir Tokkie soos die swaai van ‘n leeu se stert lyk –  dis toe vier jagluiperds onder ‘n boom.   Ek sit aan die verkeerde kant, verwyder van die opwinding. Gelukkig is kleinseun Jacob (10) ‘n bedrewe fotograaf.  Ek prop na ‘n rukkie se gesukkel die nuwe klein Canon in sy hand en hy laat waai.  Besonderse foto’s, reken oupa.
Wat ek nie waardeer het nie, is die klein rakker se opmerking dat oupa alles rondom die jagluiperds afgeneem het – net nie vir hulle nie!
IMG_0357LINKS: Een van Jacob se jagluiperdfoto’s
Een hoogtepunt op die eerste dag – nog een op die laaste.  Al hoogtepunte was dit nie.  Ons het weer ‘n keer leeus gesien, troppe olifante, mooi buffels en naby Onder-Sabie vier renosters in ‘n groep.  Die olifant wat ons die langste sal onthou, het teen sonsondergang by Granokoppie rondgeloop en vir ‘n besoeker luidrugtig ore geflap.
Ons was op Granokoppie nie om dowe neute nie – wel vir ‘n uitsonderlike piekniek saam met die Presslys van Skukuza. Om van daar bo af die son in die weste te sien sak, was ‘n skouspel van kleur.  Wonderlike voorreg.  Jimmy en Lida het hulle onderskei met ‘n piekniektafel soos min.  Die Van Deventers en die Claassens-seuns kon smul – en het hulle nie! – aan o.m.  skaapwors (nogal uit Bultfontein), frikkadelle, gerookte hoender, salamiwors, spanspek, waatlemoen, lietsjies, ‘n eiervrug-pate, agurkies, olywe en tamaties.  Jimmy het gesorg vir die heerlike eiervrug gereg en ons verder getrakteer met geurige broodvingers wat met allerlei soute en olyfolie besprinkel is.
Te drinke was daar gemmerbier (met baie rosyntjies, soos Thomas daarvan hou), vrugtesap en wyn met ‘n historiese kinkel. Die naam is Boer and Brit. Die produsente is glo afstammelinge van Paul Kruger en Lord Kitchener.  Hoe ook al, om agteroor op Granokoppie met ‘n glasie wyn die sonsondergang te geniet, was ‘n yslike bederf. Dankie, Jimmy en Lida.
Somer 20151
LINKS Spesiale oomblik met ‘n spesiale houtjie.   
By Sabiepark was die treffertafels van Jacob se  tweelingboet Thomas  telkens ‘n hoogtepunt, soos ek in die vorige blog vertel.  Die seuns het om die beurt vuur gemaak, met Christopher (vandag ‘n ronde 6) altyd op die voorpunt.  ‘n Spesiale oomblik was toe Jacob die houtjie in die vuur steek wat hy twee jaar gelede versigtig in kleefplastiek vir oupa en ouma se toekomstige gebruik toegedraai het.   Ons het dit gerade geag om dit tvir die regte oomblik te hou. ‘n Beter oomblik kon daar nie wees nie.
Jacob, die fotograaf, het ook verskeie spanfoto’s geneem danksy sy vernuf met tydopnames en dinge waarvan oupa min snap: in die swembad, by die naambord (Tarlehoet) en ingeryg op ons dubbelbed.
Ongetwyfeld die bedrywigste kolletjie in die ganse Sabiepark daardie twee weke was Tarlehoet se bos-swembadjie.  Daar was elke aand  tot  laataand omtrent verkeersknope soos entoesiasties en masse afgekoel is.  Die eerste dag toe ons die seil afhaal, kom ons ‘n fris skerpioen tee wat blykbaar ook kom lafenis soek het.  Ongelukkig vir hom was sy ontsnaproete versper.  Die swembad het sy watergraf geword.  Elke seun het ‘n beurt gekry om met “vreesloos” met die dooie skerpioen in die hand afgeneem te word.
Die watergat was vreemd stil, maar het darem ‘n enorme liefdesnessie van ‘n romantiese  paartjie skuimpaddas opgelewer.  Lyk mos nes ‘n bol skeerskuim – en is altyd bokant water sodat vir die paddavissie-kroos by geboorte darem  ‘n sagte landing wag.  By die piekniekplek het ons ‘n groterige stokinsek lomp sien aansukkel.
Maar waar was die nagapies?  Die eerste keer in al die jare het die piesang-aanbod by Tarlehoet se pendoringboompie nie aftrek gekry nie.  Wel, die bos was ook so geil en lowergroen dat die veld seker genoeg van sy eie lekkernye vir elke dier of diertjie opgelewer het.
In Junie./Julie maak ons weer so. Te vroeg om slapies te begin tel. Maar die Kululakaartjies bos toe is klaar gekoop.