Jy blaai in die argief vir christopher.

STRIKDAS EN PERELS

Mei 11, 2018 in Uncategorized

Oupa het vanoggend sy rooi strikdassie uit die mottegif gehaal en ouma het ‘n dubbelstring perels uit die kluis opgediep. Ons het ons uitgevat vir Welgemoed-laerskool se stylvolle oupa- en oumatee met die tema Strikdasse en Perels.

Die skoolsaal was ‘n feestelike toneel: meer as 30 pragtig gedekte tafels met swierige versiersels en swaar gelaai met verkwiklike eetgoed. Talentvolle kinders het die gaste vergas. Daarna is ons deur ons kleinkinders kom haal. Ons is saam na hul klasse toe, aan menere en juffrouens voorgestel en trots rondgewys.

By die skoolhoof het ons gehoor Welgemoed word as een van die top-10 laerskole in die Wes-Kaap geag. Die kwaliteit van die tee het die skool se stoffasie weerspieel. Enigste wanklank van die oggend was ‘n ander oupa wat my “omie” genoem het.

Op die foto’s is ek en Tokkie by die keurige tafel 23 – die eerste foto wat van ons geneem is na my viervat-hartomleiding. Na die drie weke in die hospital (twee in die waakeenheid) en ses weke se herstelperiode tuis is alles vir my mooier – die see, die berg, die lug, die sonsondergang en – natuurlik – my vrou, Tokkie (72).

TYD VAN KOM EN TYD VAN GAAN

Julie 15, 2017 in Uncategorized

Braai vir oulaas.

Wederom, wederom -so groet ons vrolik by die tyd van kom; maar dan kom weer die tyd van gaan, blink in die oog ‘n hartseeertraan; ja, kom en gaan en kom en gaan, so rol ‘n mense se lewe aan …

Die Claassense is vanoggend om 06:OO hier weg na ‘n heuglike twee weke. Gisteraand is vir oulaas by Tarlehoet groot vuurgemaak vir ‘n goed gesinchroniseerde driestasie-braai: Jacob by die tjops. Thomas by die brood en Christopher by die wors.

Afskeid beteken ook tyd vir die “amptelike foto” by Tarlehoet se naambord, vars vernis deur die vlytige seuns. Om te dink toe hulle die eerste keer in Sabiepark gekom het (in doeke nog) het die naambord hulle verdwerg. Nou is Thomas langer as ouma!

By die vuur wou Marisa by elkeen weet: Wat was die aller-hoogtepunt en die een ding van die vakansie wat jy nooit weer wil beleef nie.

Die gesellig saamkuier om ‘n kampvuur het in die eerste kategorie sterk steun geniet – ook Brent se eerste blik op swartwitpense in die wildtuin, die besoek van ‘n leeu in Sabiepark en die herbesoek aan Napi, danksy die Presslys van Skukuza.

Wat nie so lekker was nie, was die groot skrik met die opwagting van ‘n Mosambioekse spoegkobta by die vuur ‘n paar aande tevore. Liewer nie weer nie!

Wat vir Oupa ‘n gedenkwaardigheid van die vakansie was, was om die seuns se groei in kundigheid, vernuf en selfvertroue waar te neem: hoe hulle die voortou neem met die vuurmakery (die hout vlieg nogal!), braaiery, ens. Elkeen het sy eie verantwoordelikhede. Jacob hanteer bv. die nagkamera. Daarop was party oggende niks. Twee keer is wel hiënas gekiek en ‘n paar keer dors bokkies wat nader staan watergat toe. Jacob adviseer Oupa ook oor tegnologie.

Ook lekker gewees om te sien hoe heg die bosbroederskap met Sabiepark se personeel voortleef. Patson Nommer Een (Christopher) en Patson Nommer Twee (die regte Patson) bly ‘n gedugte span. Christopher is slegs oortuig dat dit beter is om huis toe te gaan as om in Sabiepark agter te bly en vir almal takies te help verrig met die argument dat hy dan graad twee sal moet herhaal.
Wat in die Amarok saam Kaap toe is, is lang stapstokke wat glad geskuur, kreatief uitgekerf en met toue versier is. Natuurlik ook die herinnering aan sowat die 20ste besoek van die13-jarige tweeling (volgens Thomas se sorgsame rekords) en die dosyn of wat van Christopher(8).
Onthou om die krane in die Kaap toe te hou, julle!

WILD EN WOES OP STEMDAG

Mei 8, 2014 in Uncategorized

IMG_2109-001Op stemdag, gister 7 Mei 2014, het ek en die gade ons kruisies op Onder-Sabie vir die kleiner partytjie van ons keuse getrek – ‘n gedenkwaardige dag in vele opsigte.

Dit was ‘n japtrap-besigheid. Binne vyf minute was ons in en uit – Tokkie boonop met die komplikasie dat haar ID-boek al langerig gelede in Walvisbaai gesteel is. Ons ontdek toe by die stembus ‘n rybewys is ewe geldig. Niemand het dit vooraf vir ons gesê nie.

Dit was ook ‘n op-die-nippertjie-besigheid. Die Van D’s was die laaste twee wat op Onder-Sabie deur die worsmasjien is. Toe die pak die vriendelike OVK-spannetjie om 11:30 sy skandeerders, stembriewe, stempels en wat nog en laat vat Krokodilbrug toe vir die middagskof daar.

‘n Spesiale bonus van stemdag was die stortvloed olifante wat ons in en om die Sabie raakgeloop het – honderde dalk? Ek en Tokkie het oor die raming van getalle verskil, maar saamgestem dit was die meeste op een dag in ons ervaring. Vir die jeugdige Christopher Claassens (5), ons kuiergas vir die vakansie, was soveel Grootvoete (en klein Grootvoetjies tussenin) allesins merkwaardig. Natuurlik. Glo hy het verlede nag van olifante gedroom.
IMG_2088

 

Op een kol langs die Sabierivier, enkele kilometer suid van die laagwaterbrug, was twee troppe op ‘n hoop: die een hoofsaaklik in die water, die ander al weer beurend teen die wal op na ‘n koel verfrissing op ’n warm Meidag in die wildtuin.

IMG_2097

Net daar kry ons skeef in die pad ‘n polsiebakkie. Sy voorkant is voos geslaan. Lang sleepmerke getuig dat daar vinnig gery is. Lyk of hy teen ‘n muur vasgejaag het, waag Tokkie.

‘n Stewige polisievrou op die toneel verskaf geselserig die ontbrekende inligting. Die botsing was teen ‘n olifant.

En die olifant? Sy wys met ‘n gulle armswaai rivier se kant toe. “He’s there” – klaarblyklik dus ongedeerd tussen sy makkers!

Nadat ons klaar gestem het, is ‘n polisievragmotor by ons verby, waarskynlik om die stukkende bakkie vinnig te gaan verwyder voordat die verleentheid te groot raak.

Op die terugsit op die Onder-Sabiepad, naby die piekniekplek Nkuhlu, beleef ons ‘n ander olifant-insident waaroor ‘n mens kan bespiegel en wonder. Ons sien ‘n trop vinnig oor die pad beweeg soos kenmerkend van olifante is as hulle ‘n pad oorsteek. Toe, asof ‘n swerm bye op hulle losgelaat is, swaai hulle om en peuel weer terug op hul spore by die bosse uit.

Hulle bondel senuweeagtig in die teerpad. Die slurpe swaai in die lug. Die trompetter kom diep uit die keel. Voertuie aan weerskante skakel versigtigheidshalwe oor na trurat.

Hulle het klaarblyklik vir iets geskrik. Sou dit gewees het oor die baie kleintjies in die trop? Sou dit leeus daar in die bos gewees het? En toe hulle na ‘n rukkie op dieselfde plek weer die bos in is: het die leeus toe gewyk? Hoe sal ons ooit weet?

Nietemin, Woensdag 7 Mei sou al alleen om daardie episodetjie kon uitstaan as ‘n spesiale wildtuin-dag.

Amper vergeet so tussen die olifantstories deur. Ja, ek, Tokkie en Christopher het toe ook by die Mugg & Bean op Onder Sabie gaan eet – waarskynlik die skilderagtigste ene wat bestaan, so op die oewer van die Sabie met seekoeie wat brom, voels wat in die lug draai en olifante wat nat uit die water stap.

Ons oordeel: Vyf sterre vir die die voorkoms, diens, spyskaarte en kwaliteit van kos. Ons hamburtgers was in ‘n ander klas as wat Sanparke se eie spyseniering ooit opgetower het. Net vier sterre egter vir waarde vir geld – want de pryse is styf (R50 vir ‘n kinder-burger!).

Maar wees gerus mense, ‘n Mugg & Bean in die wildtuin tas nie die karakter aan nie. Dit bedreig niks. Dis wel ‘n lekker nuwe “afsaal” as jy honger en dors opdaag na ure se wild soek.

(Hoe dit gekom het dat ons op Onder-Sabie gestem het? Wel, dis ‘n ander storie. Skukuza se stembus was in die visier. Daar was die tou so lank – vriend het drie uur moes staan – dat dadelik besluit is om liewer later terug te kom. Toe val die Onder-Sabie-gelukkie in ons skote.)