Jy blaai in die argief vir christopher claassens.

KLASKAMER IN DIE BOS

Mei 29, 2014 in Uncategorized

IMG_2216-001

In sy 23 dae in die “klaskamer van die natuur” het Christopher in Sabiepark  o.m. kennis gemaak met versamelwurms*, tentwurms**, broekmannetjies***, mierleeus**** en die vars vel van ‘n vermeende geelpensslangetjie ***** wat dit in die groewe van ons klinker-boshuis afgeskud het.

Die flukse vyfjarige het sy spore verdien deur “goeie stokke” te versamel vir elke aand se vuurtjie; self vuurtjies te pak om ‘n broodjie of malvalekkers te braai;  miljuisende dwarrelende herfsblare (hoofsaaklikl maroela) uit die swembadjie te skep; fakkels aan te steek; te hark, vee en mop; met sy panga te skoffel; as uit te krap, en douvoordag, as die eerste goue gloed van die son bo die boomtoppe uitloer, met ‘n mandjie wasgoed saam met Ouma na die waskamer te verkas.

IMG_2187

Eerste eie vuurtjie.

Hy het Tarlehoet se veld van ‘n kant verken – plus-minus elke boom, bossie, blaar en hopie mis – en ver ente gestap, amper elke dag minstens een keer piekniekplek toe en een keer selfs van die groot swembad af die hele ent tot by die huis.  By elke spoor in die sand is gebuk en ‘n uitkenning gedoen. in Wildevy is hy by die duidelike spore van ‘n dwalende hiëna afgeneem.

Hy het ervaar hoe die wag-‘n—bietjie-boom se sekels ‘n mens vasgryp en dwing om ‘n bietjie te wag; by 267 aanskou hoe ‘n spokende spinnekop heen en weer skarrel om sy hardnekkige prooi in sy maag te kry; hard probeer om een van die “blitsvinnige” akkedissies te vang, snuifkalbassies opgetel en ‘n verskeidenheid veldblommetjies gepluk. (Voor ons vertrek het hy, baie bedagsaam, vir die nimlike akkedissies gerieflike stokke gaan soek om hulle uit die gladde wastrog te help klouter.)

Hy het die lastige bobbejane van die voorstoep verjaag met ‘n kettie en ‘n luide trom wat bestaan uit ‘n braaipan en lepel, “konferensie gehou” met die vlakvarke wat gretig nader staan vir ‘n afvalkossie, die sebras in “sebraland” oorkant ons motorpad in die oog gehou en saans vir die strome nagapies piesang gekerf.

Hy is in Sabiepark, die piekniekplek en die Wildtuin afgeneem by ‘n olifant, ‘n buffel, ‘n seekoei, ‘n kameelperd, sebras, vlakvarke en  nagapies.  (Hy is nie by renosters afgeneem nie, maar twee was teenaan die motor; ook nie by leeus nie, maar het sewe goed gesien waar hulle op die rotse son soek.)

Hy is voorgekeer in “padversperrings” van troppe olifante soos mure oor die pad, renosters, buffels, kameelperde, koedoes en hiënas. Drie keer moes ons op sy aandrang vinnig in trurat padgee as ‘n olifant, renoster of buffel te naby kom.

Hy het hom onderskei as bobaas-verspieder met wakker ogies – o.m. eerste buffels by die piekniekplek, die hiëna by Tarlehoet se stoep, sebras in die steeds ruie veld en menige vlakvark gewaar.

Hy het ‘n brekfis-piekniek gehou saam met Manie Steyn-hulle van Krugersdorp in Nhlanguleni (die krom hardekoolstomp waarby ons soveel foto’s geneem het, is nie meer daar nie) en elke Sondag stroopsoet saam met ons in die kerkbanke van Skukuza se karaktervol kerkie gesit.

Aan kulinêre kant het hy kennis gemaak met stywe pap en kaiings (‘n geskenk van die Pressleys van Skukuza), sy Ouma se renostermelk (melk, kondensmelk en gerasperde sjokolade), Witrivier-mochachos (geurige skaaprepies op die rooster gebraai), asook ‘n verskeidenheid koek en ander lekkernye by ‘n volmaanfees op die stoep.

Hy was onafskeidbaar van sy “braaiklere”, bergklimskoene en Sabiepark-pet (eintlik boetie Jacob s’n wat hy geskaai het), en het net slaaptyd regtig tot stilstand gekom.  Vroeg-vroeg – gereeld teen 4:30 en een keer selfs 02:00 –  is ‘n opgewekte “more Ouma, more Oupa” van sy bedjie af gehoor.   ‘n Nuwe dag om te ontdek en te verower …

Waar ‘n rondloper-olifant op ons werf geloop het, het hom soos ‘n magneet gelok. ‘n Geknakte raasblaar was sy en Ouma se “geheime plek”.  Groot geselse is daar gesels tussen Ouma en haar “steenbokkie” (so genoem omdat sy elke keer opgewonde is as sy ‘n steenbokkie sien.)  Oupa is die laaste middag eers saamgenooi.

Niks was vir ons lekkerder nie as om telkens uit Christopher se mond  die versekering te hoor: “Ek is so gelukkig” terwyl hy dan ingenome sy hande vryf.  Sy breë glimlag, vrolikheid, kommentare en dankbaarheid het baie harte verower, onder ander Sabieparkers en onder die personeel.  Alles wat hom interesseeer, wou hy vir Solly gaan wys.  Hy het die naam Patson vir homself aangeneem.

Trane? Kan amper net die een keer onthou toe die trapleer sy vinger vasgeknyp het. Maar sy avontuurlustigheid het ‘n mens telkens laat ys ….

In ons Sabiepark-huis is waarskynlik meer boeke as in baie ander in die bos.  Christopher het Oupa se hart warm laat klop met sy entoesiasme vir die boekrak, en ook vir die stapel foto-albums waarin die dosyne vorige besoeke aan ons bos-paradysie uitvoerig geboekstaaf is.

IMG_2243

 

Sy slangvel.

 

In sy koffer  huis toe was, by die trofees wat hy self versamel het, ook sy eie fotoboek van Sabiepark, met voorin geskryf: “Vir Christopher. Omdat hy so lief is om na Sabieparkfoto’s te kyk en fluks is by vuurmaak, hark, vee en als.)

* Versamelwurms, ook bekend as treinwurms of sommer gat-neuswurms . Hulle versamel in digte bondels en kies dan in treintjie-formaat koers. Letterlik honderde word op hul oortogte op die pad doodgery.

** Tentwurms. Hulle spin wit “tenthuisies”, veral teen gwarriebosbome.         Christopher het een teen ‘n heiningpaaltjie ondek.

*** Broekmannetjies (ook bekend as grasslangetjies). Dit is ruspes van motte wat van kleins af sysakkies spin en vir versterking van bondeltjies gras of stokkies vir hulle kokertjies bou. Twee broekmannetjies het teen ons gasbottels ‘n heenkome gevind.

**** Mierleeus  of toktokkies – een van die sogenaamde “Klein Vyf” van die diereryk.

***** Geelpensslangetjies – gelukkig onskadelik.